DIE HEL ;LUK.16:19-31

INLEIDING:

Daar is ‘n paar belangrike feite wat ons moet weet. Indien iemand op reis gaan na ‘n vreemde land is dit altyd raadsaam om so veel moontlik inligting in te win aangaande daardie plek alvorens ons gaan. Net so is dit van uiterste belang dat ons, ons vergewis van die lewe na die dood, wat dit behels, vir wie dit bedoel is, en wat die staat is waarin die mens hom daar bevind.

Aangaande die lewe na die dood is die Bybel die enigste aanvaarbare outoriteit wat ons meer hieromtrent kan inlig. Ons moet glo wat Jesus rondom die Hel beskrywe, anders kan ons nie glo in enige iets wat die Here Jesus sê nie aangaande die Here, die Hemel, sonde, en Verlossing nie.

Eerstens sal ons sien dat daar meer mense is wat Hel toe gaan as wat daar is wat hemel toe gaan. Matt.7:13-14. “Gaan is deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die pad is smal en die poort is nou wat na die lewe lei.” Wees versigtig dat u nie met die skare weggelei word nie. Dit is so maklik om mislei te word soos die Fariseers, wat twee maal ‘n week gevas het, wat kerkgangers was, wat hulle tiendes betaal het van al hulle besittings, en wat tog verlore was.

Die gordyn word nie dikwles vir ons gelig aangaande die lewe na die dood nie, maar wanneer dit gedoen word, moet ons diep dankbaar wees, en moet ons die inligting met groot sorg en respek hanteer.

Sommige mag reken dat dit wreed en onsensitief is om oor hierdie onderwerp te preek, nl. die Hel, maar daar is niemand wat meer begripvol, teer en medelydend was as die Here Jesus nie en die dissipel van liefde nl. Johannes nie. Juis weens hulle liefdevolle begrip en erns, en met die wete dat daar ‘n vreeslike plek vir die mens te wagte is wat sy lewe nie met die Here Jesus regmaak nie, het hulle nie gehuiwer om die mens in te lig aangaande die vreeslikheid van die Hel nie en om daarvan weg te vlug nie.

Een van die grootste tragedies in die tyd waarin ons leef is die gebrek aan liefde van predikers wat hulle monde eerder snoer aangaande die vreeslike plek en dus met bloed op hulle hande sit.

Iemand het eens gese:  “As ek weet dat daar ‘n Hel is wat voorlê, sal ek gewillig wees  om oor die hele land op my hande en kniee te kruip – oor dorings en stukke glas, om mense te waarsku van hierdie vreeslike plek en hulle na die Here Jesus toe te lei.”

“Ek glo dat daar nooit ‘n tyd aangebreek het soos vandag waarin die mens juis die boodskap nodig het nie. Die preekstoel is feitlik stil oor hierdie vreeslike feite en mens hanteer hierdie vreeslike waarhede as middele om die spot mee te dryf.

Die Hel is ‘n plek van ewige lyding, waar verdoemde siele verniet om water skreeu, te midde van die vreeslike vlamme, wat vir ewig sal brand, waarvan daar nie gevlug of een oomblik verligting sal kom nie. Dit is die vreeslikste feit in die heelal. Net die vreeslike gedagte dat so ‘n oordeel oor my lewe eendag moet wag. Om te dink dat daar net nooit en vir ewig en altyd ‘n pyniging en smarte op die mans wag, net omdat hy nie sy saak met die Here reg gemaak het nie. Daarom die pleitdooi aan u dat u dit ernstig sal oorweeg wat die vreeslikheid sal wees van die lewe na die dood as u nie gereed is nie.

Ons vergeet dat ons ewige wesens is en dat ons moet leef met die wete dat die lewe hier op aarde gou verby sal gaan, maar dat die lewe na die dood die eintlike is wat vir ons gaan tel, en daarom die noodsaaklikhied dat ons, ons lewens met die Here moet regkry.

Openb.21:8 Sê die Woord van die Here vir ons: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en die gruwelikes en die moordenaars en die hoerreerders en die towernaars en die afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel van vuur wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood”.

Die wat weier om hulle afgode en hulle weeluste en hulle selfsugtigheid te bely en te laat staan, sal in die Hel brand vir hulle sondes. Hulle sal ‘n ander dood sterwe na die dood hier op aarde. Hulle verdien regverdiglik die straf van hulle sonde en sal in hierdie staat vir alle ewigheid verkeer.

In die Katadraal van Milan is daar die volgende opskrifte. Een is gedekoreer met pragtige rose en daarop staan: ” ALLES WAT PLESIER BRING IS VIR ‘N OOMBLIK” By ‘n volgende opskrif by ‘n kruis staan die volgende woorde: ” ALMAL WAT BEKOMMER  IS VIR ‘N OOMBLIK BEKOMMERD” In die groot sentrale ingang staan die woorde:    ” ALLEEN DIT IS BELANGRIK WAT EWIG IS”.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00