Verwagting
Ek sien daar in die verte
Iets wat lyk soos water blink
My tong is droog, geswel en seer
Maar ek kan net aan water dink
Die dae word al jare – en my hoop verdwyn
Sodat my siel so stadigaan wegkwyn
Ek het ‘n Woord waar ek op hoop
Van goeie goed word ek gestroop
Dis reg, my Heer, ek soek nie meer
Die goeie wat die beste keer
Hy neem my langs die weg van lyding
Dan weer na grasgroen weiding
Hoe dikwels staan ons by die dood
Die skadu’s lyk dan ekstra groot
En skielik draai Hy die gety
Hy het Sy woord gespreek tot My
Hoe kan ek anders om te weet
Sy goedheid lê in donkerheid versteek
Eensaam staan hy daar en staar
Of hy dalk ‘n teken sal gewaar
Van water in die rivier se bed
Dit sou sy lewe red
Maar net die holle stilte om hom heen
En oral waar hy kyk – ‘n dorre been
Sy lot is seker en gewis
Hier sal ook sy bene rus
Dan hoor hy die geruis – daar ver
Maar nader as die naaste ster
Droom hy ? Hy staar verstom
‘n Massa water aan die kom
Die droë bed bruis nou in vloed
Ineens kry al die diere moed
Nie meer ‘n oog wat hooploos kyk
Dis moed en lewe wat daar pryk
Het Hy dan nie gesweer vir my
Dat ek wat glo nie skaam sal kry?
Is dit dan ek wat self moet sorg
Of is My Hemelvader Borg?
Hoe onuitputlik is Sy bron
Hoe lieflik is die Hemelson
Hoe groot Sy krag wat werk in my
Die krag wat uit die dood bevry!
Sal ek dan sug en kla en kreun
As reenwolke al om my dreun
Soos God sy plan in orde bring –
Want Hy sit bo die wolkekring
Die Woord waarop jy hoop staan vas
Hy weet waar elke woord inpas
Wees nou maar stil my siel – en weet
Jou God het jou nog nooit vergeet.
( Februarie 2005)