ESEGIËL 3:22-27

ESEGIËL MOET NA ‘N VALLEI TOE GAAN WAAR HY MEER VOORSKRIFTE SAL KRY. Dáár wag die heerlikheid van die Here weer op hom. Soos voorheen val hy op sy gesig, maar nogeens versterk die Gees hom om regop te staan sodat hy die Here se woord kan aanhoor (22-24a).

Die eksentrieke bediening wat vir Esegiël voorlê (tot en met die val van Jerusalem), word nou vir hom geskets. In die voorafgaande verse word hy op die hart gedruk dat hy met sy lewe sal boet indien hy sy roeping om die mense te waarsku, sou nalaat; maar nou eers word hy die swye opgelê.

Eerstens moet hy homself in sy huis toesluit. Wat meer is, hy sal vasgebind word  –  sodat hy nie tussen die mense kan kom nie (24b-25). Hy sou nie, soos ander profete, vrylik tussen die volk kon beweeg nie. Tog kon mense wel na hom toe kom om die woord van die Here te hoor (8:1; 14:1; 20:1).

Tweedens sal hy stom word, sodat hy nie die halstarrige volk na goeddunke kan bestraf of waarsku nie. Slegs as die Here ‘n spesifieke woord vir die volk het, sal sy tong losgemaak word. Hy sal net God se woord kan deurgee (26-27a).

INDIVIDUELE VERANTWOORDELIKHEID

Só word Esegiël se roeping dan afgesluit: “Laat dan luister wie wil en laat skouers optrek wie wil: hulle is ‘n weerbarstige volk” (3:27b). Die onus rus dus volledig op elke individu.

Die organiese en korporatiewe karakter van God se roeping is besig om verby te gaan. Die oorblyfsel vanuit die ballingskap gaan kop vir kop saamgestel word  –  soos uiteindelik ook die Nuwe Testamentiese gemeente.

In Eseg18 ontwikkel Esegiël hierdie waarheid in besonderhede  –  sodat dit tereg genoem kan word die Ou Testamentiese locus classicus oor elke mens se persoonlike verantwoordelikheid voor God.

ESEGIËL SE STOMHEID

Hoe moet ons Esegiël se stomheid verstaan?

‘n Groot deel van Esegiël se aanvanklike profesieë het deur simboliese handelinge en tekens gekom. Sy stomheid was die eerste, en ‘n stuk of tien meer sou volg – tot en met die dood van sy vrou in Eseg 24.

Die dag as sy vrou sterf en Jerusalem finaal beleër word, 42 jaar na sy eerste roeping, ontvang Esegiël ‘n belofte. Sy stomheid gaan tot ‘n einde kom wanneer ‘n vlugteling berig bring dat Jerusalem vernietig is (24:25-27). Presies so het dit 3 jaar later gebeur (Eseg 33:21-22).

Dit is betekenisvol dat Esegiël se sporadiese spreke tot sy volk  –  deur sowel simboliese handeling as profetiese woord  –  heeltemal ophou die oomblik as Jerusalem beleër word. Vir die volgende 3 jaar, totdat die boodskapper opdaag met die nuus oor Jerusalem se vernietiging, rig hy hom uitsluitlik tot die heidennasies. Teenoor sy volksgenote is hy doodstil.

Esegiël se toenemende swye het sonder twyfel te doen met die volk se voortgaande selfvoldaanheid. Ten spyte daarvan dat sommige van hulle reeds in ballingskap is, en dat die res bedreig word met uitwissing, is daar steeds bloedweinig verootmoediging en bekering by hulle.

Voor die val van Jerusalem het die Jode hulleself wysgemaak dat die Here uitkoms sal gee en nooit sou toelaat dat Sý stad en Sý tempel vernietig word nie.

Die klomp wat in Jerusalem agter gebly het na die wegvoering van die 10 000 in 597 v.C., het hulleself wysgemaak dat hulle God se goedkeuring wegdra en daarom gespaar is. Maar presies die teenoorgestelde was waar. Nee, in Sy genade het die Here die weggevoerdes eenkant toe gevat voordat Sy toorn oor Jerusalem sou spoel.

In plaas daarvan om hulle onder God se hand te verneder, glo Jerusalem dus die stad is gesuiwer van sy “Jonas” en dat die Babeloniërs nie sal terugkeer nie. Tot hierdie selfvoldane mentaliteit dra ‘n klomp vals profete by  –  met hulle vrede-vrede-boodskappe. Om mense te laat goed voel, eerder as om waarheid te verkondig, was nog altyd ‘n kenmerk van dwaalpredikers.

Onder die ballinge geld, ironies, ‘n soortgelyke gesindheid. Afgesien daarvan dat hulle aanhou sondig (14:4vv; 33:32), glo hulle dat hulle gevangeneskap gou tot ‘n einde sal kom en dat God nóóit sal toelaat dat Jerusalem val nie. Ook onder hulle, soos te wagte kan wees, was ‘n klomp vals profete met hulle bluftaal bedrywig (Eseg 13).

Om hierdie misleiding te besweer, skryf Jeremia ‘n brief aan die ballinge. Hy veroordeel die vals profete en druk die mense op die hart om in Babilon te vestig met die oog op langtermynverblyf (Jer 29).

As Jerusalem finaal val en die tempel vernietig word, skud dit die ballinge egter tot hulle sinne. Nou weet hulle Esegiël en Jeremia is ware profete van God (2:5; 33:33). Platgeslaan en nederig is hulle op laas gereed om met oop harte na God te luister. Esegiël se stomheid word opgehef, sy roeping word herbevestig (33:1-20) en in die tweede helfte van die boek word hy ‘n herout van die heerlikste heilsprofesieë.

WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS

Soos dié van Esegiël, het ook óns getuienisroeping ‘n paradoksale karakter.

Daar is steeds ‘n delikate balans om te handhaaf. Enersyds leef ons onder Christus se groot opdrag. Ons is nie gebonde nie, nie stom nie, nie in huisarres nie  –  ons mág trouens nie swyg nie! Tydig en ontydig moet ons die evangelie uitdra (2Tim 4:1-5). Andersyds leef ons, soos Esegiël, in ‘n selfvoldane, arrogante en siniese samelewing. Gou-gou na ons bekering moet ons leer jy kan nie soos ‘n bul in ‘n blomtuin te kere gaan nie. Getuienis sonder diskresie het maklik die teenoorgestelde effek as wat mens verlang. As jy nie oppas nie, gooi jy jou pêrels voor die swyne. In ‘n sekere sin is ons dus steeds in huisarres  –  moet ons die Gees vertrou om ons wysheid te gee en ons tonge op die regte tyd los te maak.

Party Christene praat so baie dat niemand hulle ernstig opneem nie  –  en die dag as hulle regtig moet praat, word hulle nie gehoor nie. Nee, daar moet ‘n wag voor ons mond wees: “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is … Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord” (Kol 4:5-6, OAV).

Dis soms belangrik om stil te bly. En allermins moet ons stryerige mense wees. Ja, ‘n Christen leef ononderhandelbaar vanuit Skrifbeginsels  –  en daarby staan hy kompromieloos. Maar oor dinge wat die Bybel nie aanspreek nie  –  en daar is baie daarvan  –  is hy soepel, tolerant, akkommoderend. Eintlik moet ons as Christene die ruimste van alle mense wees. Ook hierin gaan Paulus ons voor met sy lewensbenadering om ter wille van die evangelie vir die Jode soos ‘n Jood te word en vir die Grieke soos ‘n Griek (vgl. 1Kor 9:19-23).

Tot die mate wat mense onbekeerlik in hulle selfvoldaanheid weier om op God se Woord ag te slaan en hulle ore uitleen vir die vleitaal van vals profete  –  tot daardie mate raak die Here al hoe swygsamer teenoor hulle.

Baie jare vantevore het Amos reeds vir Israel gewaarsku dat hulle ongehoorsaamheid gaan uitloop op ‘n geestelike hongersnood (8:11-12).

Die Seun van God het in hierdie wêreld grootliks geleef en gewerk tussen mense wat godsdienstig gearriveerd en selfvoldaan was. En dikwels het Hy, soos Esegiël, van aanskouingsboodskappe (Sy tekens en wonders) en gelykenisse gebruik gemaak.

Matt 13:10-17 is baie sprekend in hierdie verband. Jesus se gelykenisse het nie net ten doel gehad om die diepsinnige waarhede van die Koninkryk op ‘n bevatlike manier oor te dra nie; Hy het dit ook gebruik om lotsbepalende inligting vir die selfvoldanes te versluier. Trouens, sonder ‘n genadewerk van die Gees kon mense nie die gelykenisse begryp nie. As Jesus dan mense wat Sy boodskap hóór (13:9), oproep om ag te slaan, roep Hy eintlik die begenadigdes uit die massa geestelike blindes uit (13:16-17). Hy maak hulle as ‘t ware stil-stil bymekaar sonder dat die res dit agterkom. Ongeag hoe skreiend die geloofsafval ook al, God het altyd Sy oorblyfsel! (Eseg 5:1-4).

So was Sy gelykenisse dus tweesnydend. Dit was die byl waarmee Hy die bome sonder vrug uit Sy boord gekap het, die skop waarmee Hy die koring en die kaf geskei het (Matt 3:10, 12).

In tye van geloofsafval red die Here weliswaar nie en masse nie, maar Hy red wél  –  kop vir kop, hier en daar. En dat dit God se genadewerk in sulke mense is  –  dat Hý vir hulle siende oë en horende ore gee  –  kan niemand met onderskeidingsvermoë betwyfel nie. Ja, in herlewingstye verheerlik die Here Homself op ‘n besondere manier, maar in tye van afval óók. ‘n Watervloed maak ‘n oorweldigende indruk op ‘n mens, maar ‘n druppel wat presies val waar hy moet, laat jou óók in stille verwondering voor God kniel.

Een van die uitstaande kenmerke van geestelike eb-getye is, enersyds, die skaarsheid aan predikers wat God se waarheid getrou verkondig en, andersyds, die oorvloed misleidinge wat deur vals profete versprei word. In Esegiël se roeping vind ons die verklaring hiervoor: as die Here begin weier om Sy pêrels voor swyne te gooi, en dus swygsaam raak, hou Hy gewoon op om predikers te gee (vgl. Ef 4:8-11). En geen mens kan hulle fabriseer nie. Daar is net een pad: gebed, verootmoediging, bekering, wag op die Here.

In hierdie verband het Luk 2 wonderlike troos vir die van ons wat gebroke is oor die skaarste aan Bybelgetroue evangeliepredikers in ons land, asook die gepaardgaande geestelike verval: voor Jesus se geboorte was daar midde-in die godsdienstige selftevredenheid en blindheid wel begenadigde mense wat presies geweet het waarom dit gaan  –  soos Simeon en Anna (2:25-35, 36-38).

As God se genadedruppels selfs tydens die 400 jaar van profetiese stilte voor die koms van die Messias nie ophou val het nie, hoeveel te minder sal dit nou ophou val  –  op ons wat ná kruis, opstanding en Pinkster leef. En hierdie vertroosting word deur die geskiedenis bevestig: nooit, selfs in die 1000 jaar van duisternis voor die Reformasie, was Christus sonder ‘n bruidskerk nie. Ja, hulle was min, maar hulle was daar!

Mag ons as gemeente nooit vergeet nie – selfvoldane trots en wêreldgelykvormige ontrou is fataal. Daar is maar één pad van behoud: nederige afhanklikheid van en toegewyde gehoorsaamheid aan die Here. Dan sal Sy Woord nooit, maar nooit stil word onder ons nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00