ESEGIËL 3:16-21
ESEGIËL SE WEEKLANGE STRYD IS UITGEWOED. Hy is ingebreek en gereed om die Here se volgende opdrag aan te hoor (3:16).
In v.17 word sy profetiese opdrag in ‘n neutedop opgesom: hy is ‘n nietige mensekind, maar tóg moet hy die Here se wag word om die volk namens Hom te waarsku.
Die taak van ‘n wag was destyds om vanaf die stadsmure op die uitkyk te wees vir naderende vyande en om dadelik alarm te maak indien hy iets sou gewaar. In h.33, waar Esegiël se roeping herbevestig word, word die verantwoordelike taak van ‘n militêre wag aangrypend uitgespel (33:2-6).
En Esegiël, waarteen moet hý die volk waarsku? Hy moet hulle waarsku dat elkeen wat in sonde volhard gewis onder God se oordele sal sterf. Hy moet hulle dus waarsku teen God se toorn oor sonde, en veral teen die vloek van die verbond.
Só aan die hart van Esegiël se lewensroeping lê hierdie saak dat die opdrag amper woordeliks in hoofstuk 33 herhaal word – wanneer hy op die drumpel van ‘n totaal nuwe fase in sy profetiese loopbaan staan.
Soos in die geval van ‘n militêre wag rus daar ook op Esegiël ‘n gewigtige verantwoordelikheid. Die erns hiervan word in die volgende verse met 2 illustrasies onderstreep (18-19; 20-21). Daar mag geen misverstand oor sy werksopdrag wees nie.
V.18-19: Goddeloses moet deur hom gewaarsku word dat hulle onder God se oordele sal sterf indien hulle hul nie bekeer nie.
V.20-21: Regverdiges moet eweneens gewaarsku word. Want as hulle sou ophou om God te gehoorsaam en weer in sonde begin leef, sal ook hulle uiteindelik onder Sy toorn sterf.
Maar Esegiël ontvang nie net ‘n opdrag nie. In uitdruklike taal word dit op sy hart gedruk dat dit ook vir homself skrikwekkende implikasies inhou. Nie alleen is sy taak vergelykbaar met die van ‘n militêre wag nie; hy is net so aanspreeklik. ‘n Nalatige wag kan nie teregstelling vryspring nie; ewemin sal ‘n ontroue profeet God se oordele ontkom.
Sou Esegiël sy opdrag versuim, sal die sondaar a.g.v. sy eie sonde sterf, maar sy bloed sal van die profeet se hand geëis word (3:18, 20; 33:6, 8, OAV). Deur egter die goddelose te waarsku – of dié gehoor gee of nie – sal Esegiël sy eie lewe red (3:19, 21; 33:9).
PRAKTIESE IMPLIKASIES VIR ONS VANDAG
Twee kardinaal belangrike kwalifikasies.
Eers is twee kwalifikasies baie noodsaaklik:
Wat is die verband tussen ons as Nuwe Testamentiese gelowiges en Esegiël?
Die Ou Testamentiese profetiese bediening was ‘n voorafskaduing van Christus se werk as God se Groot Profeet. Dit is in Hom vervul en vervolmaak. Na Sy hemelvaart val die profetiese mantel egter op die skouers van die kerk – besonderlik die plaaslike gemeente as uitdrukking van Sy liggaam.
Elke gemeente bestaan egter uit individue. As lid van die liggaam moet elkeen dan sy rol volgens sy gawes en roeping speel sodat die gemeente sy profetiese roeping kan vervul. ‘n Gemeente se lidmate is dus gesamentlik en afsonderlik verantwoordelik vir hierdie gewigtige roeping.
Elke lidmaat is tot ‘n mindere of meerdere mate mede-verantwoordelik vir alles wat in die gemeente gebeur of nie gebeur nie. Solank hy lidmaat is, kan hy dus nooit sy hande in onskuld was nie.
Geen gemeente is volmaak nie. Daarom sal daar in elke gemeente so iets wees soos gewig ingooi om deel te wees van die oplossing. Daar sal van tyd tot tyd so iets wees soos individuele profetiese protes. En in gevalle van onomkeerbare kerklike verval sal daar helaas so iets wees soos afskeiding en hergroepering.
Individuele verantwoordelikheid wissel van persoon tot persoon. Veral ouderlinge, en in die besonder voorgangers en predikers, sal in samehang met hulle meerdere gesag en invloed strenger geoordeel word (Hb 13:17; Jk 3:1).
Bybelse profete en apostels was direkte mondstukke vir God se besondere openbaring. Hierdie openbaring het in Jesus Christus se persoon, prediking en werk tot voltooiing, afronding en vervolmaking gekom. Die profete het vooruitgewys na Christus; die apostels het terugskouend van Hom getuig.
In hierdie enger, meer tegniese sin is daar gevolglik sedert die afsluiting van die Nuwe Testamentiese kanon nie meer profesie nie. Die gemeente se profetiese roeping kom dus tot uitdrukking in die verkondiging van die profetiese en apostoliese openbaring in die afgeslote en genoegsame Woord van God, waarvan die Evangelie van Christus die Gekruisigde die hart is.
Soos Esegiël, het ons as gemeente ‘n onontkombare profetiese roeping om God se Woord te verkondig – getrou, volledig en so wyd as moontlik. Dit is nie ‘n saak van willekeur nie, want ons staan onder die soewereine gesag en bevel van God se Groot Profeet en Koning.
Onmiddellik voor Sy hemelvaart gee Jesus Christus Sy finale opdragte aan Sy dissipels – Sy gemeente in embrio (Mt 28:18-20; Mk 16:15-16; Lk 24:46-49; Hd 1:8). Dit word voorafgegaan deur Sy verklaring: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde.” Wie kan dus die swaargelaaide betekenis van hierdie historiese moment ontkom?Hiermee móét ons besig wees totdat Hy terugkom!
Na afhandeling van Sy volmaakte werk aan die kruis, het die Vader vir Christus met koninklike gesag beloon. Só stel Paulus dit in Fl 2:8-11: “Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van God die Vader.”
Gevolglik is Ef 1:22 waar: “Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.”
Geen gemeente het dus ooit die reg om hierdie fundamentele bevel van die Here Jesus Christus te bevraagteken of te ignoreer nie. Die gemeente wat nie puntenerige uitlewing van die groot opdrag as die hart van sy bestaan het nie, is in flagrante rebellie teen God se hoogste en soewereine gesag. So ‘n gemeente het geen reg om homself as deel van die ware kerk van Christus te beskou nie. Hy het sy bestaansreg verbeur!
Soos op Esegiël, rus daar ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid op ons as gemeente – aangesien ons profetiese roeping te doen het met die ewige lot van diegene om ons.
Esegiël se boodskap was ‘n saak van lewe en dood vir sy hoorders. Ook ons evangelieboodskap is ‘n dringende oproep tot sondaars om te vlug vir God se toorn wat aan die kom is.
Paulus begin sy klassieke uiteensetting van die evangelie in Romeine met die stelling dat hy onder verpligting staan om God se reddingsboodskap aan Grieke en nie-Grieke, aan ontwikkeldes en ongeleerdes te verkondig – vandaar sy begeerte om ook in Rome te gaan preek. Waarom? Want hy is nie skaam vir die evangelie nie – wat sy manier is om te sê dat daar min is waarop hy só trots is. Waarom so trots? Want dis die krag van God tot redding! Waarom so vol lotsveranderende krag? Daarin word geopenbaar dat God geregtigheid gee aan mense wat glo. En waarom is dít so belangrik? Die ganse sondige mensheid verkeer onder God se toorn! (Rm 1:14-18. Vgl. die OAV om die 4 redegewende voegwoorde, ‘want’ – en dus die redenasielyn – te sien).
Verkondiging van die evangelie is God se manier om sondaars vanuit ‘n gevalle mensheid onder Sy toorn te red! Kyk hoe onderstreep Paulus dit: “… want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? … Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” (Rm 10:13-17).
Soos Esegiël, sal ook óns eendag voor die Here verantwoording moet doen oor die uitlewing van ons profetiese roeping.
In 1Kor 4:1 skryf Paulus dat die apostels rentmeesters of bestuurders van God se geheimenisse is. Op talle plekke in die Nuwe Testament word hierdie rentmeesterskap van die evangelie dan na die kerk van Christus oorgedra.
In vers 2 stel die apostel die altydgeldende beginsel: van ‘n bestuurder word vereis dat hy betroubaar moet wees. Dit impliseer verantwoording en aanspreeklikheid en inderdaad ontwikkel hy dan ook hierdie versoberende waarheid in die volgende verse (1Kor 4:1-5).
2Kor 5:10 leer – soos talle ander plekke in die Skrif – dat elkeen van ons voor die regterstoel van Christus sal verskyn om verantwoording te doen oor hierdie lewe. Wat ons tema betref, is die volgende vers dan baie bekenisvol: “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig …” (OAV). En dan gaan Paulus voort om die profetiese roeping van die kerk, oftewel die bediening van versoening uiteen te sit.
ELKEEN PERSOONLIK IS AANSPREEKLIK
Ons het die klem sterk laat val daarop dat die gemeente korporatief ‘n profetiese roeping het – en dis reg so. Maar dit beteken nie dat ek en jy in die bondel kan wegkruip nie. Ons sal as individue aan die Here moet verantwoording doen.
Kyk net hoe direk trek Paulus die lyn vanaf Esegiël na homself toe deur. As hy die ouderlinge van Efese finaal groet, sê hy dit vir hulle: “Daarom betuig ek aan julle … dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.” (Hd 20:26-27, OAV. Vgl. ook 18:5-6). En aan die Korintiërs skryf hy: “As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!” (1Kor 9:16).
Ja, Paulus was weliswaar ‘n apostel met ‘n unieke roeping. Maar dit help ons nie om ons plig te ontduik nie. Daarom skryf hy vir Timoteus: “Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.” (1Tm 4:16).
Elkeen van ons het sy eie gawes en roeping en omstandighede. Maar dít staan vas: op een of ander manier is elkeen van ons ‘n draer van Esegiël se roeping en verantwoordelikheid. Mag die Here ons help sodat geeneen van ons eendag beskaamd voor Sy regterstoel sal staan nie.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier