ESEGIËL 2:1 - 3:15

SOOS MET JESAJA EN JEREMIA, GEE DIE WOORD VAN GOD BAIE AANDAG AAN ESEGIËL SE ROEPING. Ook in sý geval is dit die basis van sy bediening vorentoe.

Aan die einde van hoofstuk 1 lees ons hoe Esegiël ineenstort voor die verskyning van God se heerlikheid. Maar nou moet hy opstaan om die Here se opdragte aan te hoor. Hy is egter so oorweldig deur die visioen, dat hy deur die Gees opgetel moet word (2:2).

Die Here stuur hom  –  hy moet Sy bode wees! (2:3; 3:4; 3:11). Op die oog af is dit ‘n eenvoudige opdrag. Hy moet bloot aflewer wat God vir hom gee. Maar in werklikheid is die teendeel waar  –  hy kan beswaarlik ‘n moeiliker opdrag ontvang. Dit sal die volgende hoofstukke duidelik uitwys.

Esegiël word “mensekind” (OAV) genoem. Dit onderstreep sy swakheid en sterflikheid, asook die oneindige afstand tussen hom en sy Sender. En dit mag die profeet nooit vergeet nie, want hy word 93 keer so genoem in die boek.

Waarheen moet hy gaan? Sy opdrag is baie spesifiek: hy moet na die “die huis van Israel”, na sy eie volksgenote toe (2:3; 3:4).

Dit word sterk beklemtoon dat dit sy eie mense is, dat hulle dieselfde afkoms, taal, kultuur, godsdiens en lyding as hy het (3:5-6). Anders as wat eerste indrukke wil te kenne gee, gaan dit nie sy taak vergemaklik nie; inteendeel. Die heidene sou dalk na hom geluister het (3:6), maar wat sy eie mense betref, gaan hy swaar kry. ‘n Profeet was nog nooit geëerd in sy eie land nie (vgl. Lk 4:24).

Mens sou verwag dat dit na die oorblywende Israeliete in Jerusalem sou wees waarheen God hom stuur. Meer as die helfte van die boek bevat immers oordeelsprofesieë  –  en miskien was daar nog ‘n kans dat hulle bekering God se naderende oordele kon afwend. Maar die verrassende is dat hy sy profesieë moet rig tot die verslane en verslae ballinge tussen wie hy woon (3:11).

Wat moet Esegiël vir die ballinge vat? Weereens is die antwoord op die man af: die woord van die Here Here (2:4; 3:4, 10-11).

Die inhoud van sy boodskap word nog nie op hierdie stadium aan hom meegedeel nie. In ‘n sin maak dit nie saak nie. Hy moet bloot aflewer wat hy ontvang  –  ongeag die inhoud. So geld dit mos vir alle koeriers.

Dis die woord van ‘die Here here’, van Adonai Jahweh. Laasgenoemde is God se verbondsnaam, maar dit word gekwalifiseer met die naam wat Sy gesag en almag beklemtoon. Esegiël verkondig die woord van die Verbondsgod, ja. Maar dis ook die woord van die gestrenge God, die Een wat sonde haat, die Een wie se toorn teen sondaars brand.

Esegiël se roeping, aanvanklik, is om die vloek van die verbond af te kondig! (Dt 27-28).

Die sentrale aspek van die profeet se roeping is die boekrol wat hy moet eet (2:8b-3:3). Dit sinspeel op die woord wat hy moet gaan verkondig (vergelyk ook Jer 15:16; Op 10:8-10).

Hieruit volg ‘n paar betekenisvolle waarhede:

Wat hy moet verkondig, is rééds opgeteken. Die komende oordele is onafwendbaar.

Meer word egter hier gesuggereer  –  soos die boekrol van Op 5 dit so onmiskenbaar onderstreep: God se raadsplan gaan alle gebeure vooraf.

Dit mag mens natuurlik nie tot fatalisme verlei nie. Die volk bly steeds verantwoordelik; Esegiël moet steeds preek  –  maar dis geheimenisvol ingeweef by die uitwerk van God se soewereine wil.

Voordat die profeet God se woord kan bedien, moet hy dit eet  –  dit moet deel van hom word. Nooit mag hy dit bloot formeel en onbetrokke verkondig nie. Dit moet vooraf deur sy eie hart brand. Sy boodskap moet sy hartstog wees. En allermins mag hy twyfel dat dit van die Here af kom.

Die boekrol is weerskante  –  dus propvol  – beskryf met “klaagliedere, treurliedere en smartroepe”. Tot en met die val van Jerusalem (7 jaar later) sou Esegiël se profesieë deur oordeelsaankondiging en waarskuwings oorheers word.

Sekerlik is dit nie die enigste boodskap van God se segsmanne nie. Die tweede helfte van Esegiël is vol van die heerlikste heilsbeloftes. En dit geld al die Ou Testamentiese profete. Dit sou voorts korrek wees om te sê dat Woordverkondiging onder die Nuwe Verbond primêr gekenmerk word deur die goeie nuus van die evangelie. Tog kan geen prediker, tot vandag toe, die verantwoordelikheid ontkom om óók die skrikwekkende gestrengheid van God te preek nie.

As Esegiël die boekrol eet, is dit heuningsoet in sy mond. Vir elke ware profeet is God se woord die verlustiging van sy siel (Ps 19:10-11; 119:103; Spr 24:13-14).

Maar dit dui voorts daarop dat Esegiël se smartprofesieë na die val van Jerusalem sal oorgaan in heilsaankondiging  –  en geen profeet het groter vreugde as dit nie. Só dramaties verander sy verkondiging dán, dat hy as ‘t ware ‘n nuwe roeping van die Here daarvoor ontvang (vgl. 3:16-27 en 33:1-20).

Die mense sal helaas nie na hom luister nie (3:7).

Niks kry in hierdie gedeelte meer aandag as die volk se verdorwenheid nie. Oor en oor word dit beklemtoon. Hulle is opstandig en in verset (2:3), moedswillig en hardkoppig (2:4), koppig en onversetlik (3:7). Veral is dit hulle weerbarstigheid, wederstrewigheid, rebellie wat voorop staan (die bepaalde Hebreeuse stamwoord word 8 keer in hierdie gedeelte gebruik).

Daarom sal hulle verhard wees en  Esegiël met venyn weerstaan (2:6; 3:7-9).

Aan die hart van hulle rebellie is hulle onwilligheid om na God te luister (3:7). Hulle is “styf van gesig” en “hard van hart” (2:4, lett.); “sterk van voorkop” en “gevoelloos van hart” (3:7, lett.). Dis nie ‘n nuwe probleem nie (Jes 48:4; Jer 5:3). Dis maar hoe die sondaarmens deur die eeue is.

Maar die Here sal Esegiël versterk (3:8-9). Hy sal hom meer onversetlik as hulle maak. Sy gesig en voorkop sal “sterker” as hulle s’n wees  –  soos diamant. [Sy naam beteken “God maak sterk”].

So doen die Here dit altyd met Sy profete. Om God se woord getrou te verkondig, is nie maklik nie (Jer 1:18). Maar die Almagtige bekragtig Sy gestuurdes.

Daar is darem troos: al luister die volk nie nou nie, later sal hulle wéét dat hy ‘n profeet was (2:5; 33:33).

Esegiël word dus nie tot sukses geroep nie; wel tot getrouheid. Hy moet aanhou verkondig  –  of hulle luister of nie (2:5, 7; 3:11). So werk dit met ‘n profeet.

Daarom moet hy nie bang wees nie (2:6; 3:9).

Heelwat aandag word aan die afloop van hierdie gedeelte bestee (3:12-15).

Hy word deur die Gees weggeneem (3:12, 14) en hoor 2 dinge agter hom:

Uit ‘n magtige gedreun kom ‘n stem wat uitroep waaroor dit alles gaan: Die heerlikheid van die Here moet geloof word uit die hemel! (3:12).

Dan ruis die gerubs se vlerke en die wiele dreun as God vertrek (3:13).

Esegiël het die Here nie teengespreek nie, maar hy is bitter en kwaad oor sy roeping (3:14). Sy mede-ballinge is in ‘n toestand van uiterste ellende –  en nou moet hy nog oordeelsprofesieë ook op hulle stapel. Wat meer is, as hulle in elk geval nie na hom gaan luister nie, wat is die sin van dit alles?

God laat hom egter nie wegkom nie  –  Sy hand is sterk op Esegiël (3:14).

Na 7 dae is Esegiël se storm en drang uitgewoed. Op laas is hy gereed om te luister as die besonderhede van sy taak vir hom uitgespel word (3:16vv). Daarna moet egter by ‘n volgende geleentheid gekyk word.

TOEPASSING

As Esegiël die boekrol eet, sien ons weereens iets van die geheimenisvolle kombinasie van die Goddelike en die menslike in die deurgee van die Here se Woord. Inspirasie is nie meganies nie, maar organies; nie on-middellik nie, maar middellik.

As Nuwe Testamentiese gemeente is ons “profete, priesters en konings”  –  een en elkeen. Ek en jy moet dus iets van ons eie roeping in dié van Esegiël sien.

God gebruik deur die eeue “mensekinders”  –  so swak dat, as hulle voor Hom ineenstort, die Gees hulle moet optel. Maar steeds werk Hy deur Gees en Woord ín hulle  –  en daarna déúr hulle.

Soos met Esegiël, lê ook ons gesag in ons roeping, die toerusting van die Gees, en die algeheel betroubare en lewensveranderende Waarheidswoord.

Ons word tot dieselfde getrouheid as Esegiël geroep. Vir jare het hy volhard in ‘n uiters moeilike taak. Hy moes teen sy hoorders se weerstand inbeur. Meer nog, dit was sy eie mense, en hulle verwerping moes des te seerder gemaak het. En om alles te kroon, was dit sy roeping om op hulle hartverskeurende lyding ‘n verdere klomp oordeelsprofesieë te stapel.

As mens net by hierdie gedeelte bly, lyk dit asof Esegiël se bediening geen veranderende effek op sy onmiddellike hoorders gehad het nie. Maar daar is ‘n wonderlike stukkie troosprofesie in Jer 24: die gesig van die 2 mandjies vye. Volgens v.4-7 sou die Here ‘n oorblyfsel vanuit die ballinge roep en bewaar. En, let op, Hy sou vir hulle harte (!) gee om Hom te ken. Hulle sou waarlik met Hom wandel. Esegiël se werk, selfs in sy eie tyd en onder sy eie mense, sou tog nie heeltemal vrugteloos wees nie!

Soos die Here toe gewerk het, werk Hy steeds. Jer 24:7 klink immers op ‘n haar na net soos Jeremia en Esegiël se beloftes m.b.t. die Nuwe Verbond (Jer 31:31-34; Eseg 11:19-20; 36:22-28). Selfs in ons gesofistikeerde wêreld verander God mense steeds soos altyd  –  Hy verander hulle harte, en die res volg asof vanself. Waarom sou Hy ‘n werkswyse aanpas wat geslag na geslag onfeilbaar effektief is? Dis trouens die enigste manier om ‘n sondaar régtig te verander. Redding begin met wedergeboorte!

Hoe bewerkstellig die Here so ‘n “hartoorplanting”? Die Gees werk deur die verkondigde Woord. Die belangrikste instrument in die lewendmakende roeping van die oorblyfsel onder die ballinge, was sekerlik Esegiël se oordeelsprofesieë.

Steeds doen God alles t.w.v. Sy eie eer. Dis ten diepste waarom Hy “mensekinders” roep, herskep, in stand hou, stuur en gebruik. Nie in die eerste plek ter wille van ons nie, maar ter wille van Homself  –  altyd, altyd, altyd!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00