EKSODUS 20:13; DEUTERONOMIUM 5:17

OP DIE OOG AF LYK DIE SESDE GEBOD NA OMTRENT DIE MAKLIKSTE VAN DIE GEBOOIE. Die betekenis, sou mens sê, is voor die hand liggend. En beste van alles, is jy geneig om te dink, is die feit dat hierdie die één gebod is wat min mense oortree. Maar so eenvoudig is dit nie. Soos elkeen van die ander gebooie het ook hierdie een wyd-uitkringende implikasies.

Die Hebreeuse woord wat met “moord pleeg” of “doodslaan” vertaal word, kom nie baie dikwels in die Ou Testament voor nie. Dit word slegs gebruik wanneer ‘n menseleweverlore gaan  –  wat beteken dat diere uitgesluit is. Verder word dit nooit anders gebruik as vir die dood van ‘n mede-Israeliet nie.

In sommige gevalle word dit gebruik vir doelbewuste moord.

In enkele gevalle word dit gebruik vir die doodmaak van ‘n ander sonder voorbedagte rade.

Dit is betekenisvol dat die woord bykans sonder uitsondering slegs gebruik word waar die inisiatief uitgaan van ‘n enkeling, en nie van die gemeenskap nie.

Nooit word dit gebruik vir formele, juridiese en ordelike teregstelling nie.

Nooit word dit gebruik vir die doodmaak van mense tydens ‘n oorlog nie.

Die een moontlike uitsondering (die vertolking is alles behalwe seker), is die wraak van ‘n bloedverwant op iemand wat sy familielid onopsetlik doodgemaak het – voordat die ongelukkige vlugteling een van die ses asielstede kon bereik (Num 35:9-29; Dt 4:41-43; 19:1-12).

Bes moontlik het so ‘n “bloedwreker” (OAV) namens die familie of gemeenskap opgetree. Dan sou dit natuurlik iets van ‘n korporatiewe, selfs amptelike karakter gehad het. Maar dalk slaan dit gewoon op die wraak van ‘n woedende familielid  – wat die gebruik van die woord in lyn sou plaas met die gebruik daarvan in die res van die Ou Testament.

Dit is bykans onmoontlik om ‘n enkele Afrikaanse woord te vind wat reg laat geskied aan die Hebreeus.

Gebruik mens “doodmaak” of “doodslaan” (OAV), is die begrip te ruim en skep dit die indruk dat die verbod wyer strek as wat dit wil  –  omdat dit dan per implikasie ook die doodstraf sou verbied.

Gebruik mens “moord pleeg” (NAV; NIV), is die begrip weer te eng, omdat dit dan per implikasie nie betrekking het op die onopsetlike doodmaak van mense nie. Maar die Hebreeuse woord, soos gesê, word wel in die Ou Testament daarvoor gebruik.

Om saam te vat: Die Sesde Gebod adem ‘n diep respek vir ‘n menselewe. Dit staan lynreg teenoor enige voortydige beëindiging daarvan.

Eerstens word doelbewuste moord verbied  –  ‘n handeling met voorbedagte rade. Dit kan op twee maniere tot uitdrukking kom.

Dis intensioneel en oor ‘n tydperk vooraf bedink en beplan. Voorafgaande haat vir en vyandskap teenoor die vermoorde was ‘n baie sterk aanduiding hiervan  –  en as sodanig ernstig verswarend (Num 35:20-21; vgl. Dt 19:4).

Dis intensioneel, maar nie vooraf beplan nie. ‘n Voorbeeld hiervan sou wees wanneer ‘n persoon in ‘n oomblik van woede ‘n ander slaan en skop  –  met die doel om dood te maak (vgl. Eks 21:18-19). Dit sou tipies kon gebeur wanneer ‘n man sy vrou in ontrou betrap  –  of omgekeerd.

Tweedens word die onopsetlike doodmaak van ‘n ander verbied  –  sonder voorbedagte rade. Hier is nóg enige intensie, nóg enige beplanning. Weereens kan dit op verskillende maniere gebeur.

Iemand sterf as gevolg van ‘n ander se roekeloosheid. Soos in ou Israel, gebeur dit steeds  –  soos wanneer iemand oor ‘n rooi verkeerslig jaag en ‘n ongeluk veroorsaak waarin ‘n ander sterf.

Iemand sterf as gevolg van ‘n ander se nalatigheid. Dit kan byvoorbeeld vandag gebeur as ‘n verpleegster ‘n doktersvoorskrif verkeerd lees en ‘n pasiënt ‘n dodelike pil ingee. (As mens na dokters se handskrifte kyk, besef jy dat húlle vir die helfte van sulke afsterwes verantwoordelik is!).  ‘n Ou Testamentiese voorbeeld hiervan word in Eks 21 gegee: ‘n boer se bees maak iemand dood  –  terwyl die eienaar geweet het die bees is “stoterig” (v.29). Indien soiets uit die bloute sou gebeur, was die eienaar egter skotvry. Om hierdie soort oortreding van die Sesde Gebod te voorkom, was daar allerlei voorskrifte. Iemand wat ‘n huis gebou het, moes byvoorbeeld ‘n reling rondom die dakstoep aanbring om te verhoed dat mense daar afval (Dt 22:8).

Iemand sterf as gevolg van ‘n blote ongeluk. ‘n Ou Testamentiese voorbeeld hiervan word in Dt 19:5 gegee: iemand swaai ‘n byl, die ysterkop glip van die steel af  –  en iemand word noodlottig getref. Uiteraard sou hier ook sprake kon wees van nalatigheid, maar dikwels is soiets net ‘n ongeluk.

As ons die vraag sou vra watter van bogenoemde is ‘n oortreding van die Sesde Gebod, is die antwoord dat dit van almal geld. Maar die erns van elke oortreding word deur die Ou Testament in ag geneem wanneer dit strawwe daarvoor uitmeet.

Op mense wat skuldig bevind is aan doelbewuste moord het ‘n verpligte doodsvonnis gerus (Eks 21:12, 14). So is Joab  –  lojale, maar wrede generaal onder Dawid  –  deur Salomo tereggestel vir die moorde wat hy sonder Dawid se medewete gepleeg het.

Betekenisvol is Salomo se vertroue dat sulke regspleging die Here se vrede op die Dawidshuis sou meebring (1Kon 2:28-35).

Die feit dat die onopsetlike doodmaak van ‘n ander  –  sonder voorbedagte rade –  óók as ‘n oortreding vandie Sesde Gebod beskou word, dui op die hoë premie wat God op ‘n menselewe plaas. Dit beklemtoon ons verantwoordelikheid om alles in ons vermoë te doen om te voorkom dat ‘n medemens sy lewe verloor.

Tog maak die Here ook voorsiening vir ons swakheid en die gebrokenheid van ons aardse bestaan. Dit blyk uit die voorsiening van asielstede vir diegene wat op hierdie manier dood gemaak het. Dit was moontlik om in een van hierdie ses stede te gaan skuil teen die bloedwreker.

So ‘n skuldige aan manslag het egter nie skotvry weggekom nie. In ‘n sin moes hy ‘n vorm van tronkstraf verduur, aangesien hy ingeperk was in die asielstad  –  tensy hy natuurlik die lewensgevaar van bloedwraak wou trotseer. Maar dit was nie ‘n lewenslange vonnis nie  –  dit was slegs geldig tot en met die betrokke hoëpriester se dood (Num 35:28).

Die feit dat die Sesde Gebod se sleutelbegrip nêrens in die Ou Testament gebruik word vir die doodmaak van iemand búite die verbondskring nie, moenie die idee laat posvat dat die Israeliete ‘n vrypas gehad het om buitestaanders links en regs te vermoor nie. Ewe min moet mens die idee hê dat die gebod nie universeel van toepassing is nie. Nee, die Sesde Gebod formaliseer bloot ‘n morele beginsel wat van die vroegste tye af reeds in plek was.

Die eerste sonde ná die sondeval  –  Kain se moord op sy broer, Abel  –  is insiggewend (Gen 4). Die oordeel wat oor Kain uitgespreek word, toon onmiskenbaar dat God sy daad as ‘n gruwel beskou het (v.10-12). Net so betekenisvol is God se verbod op weerwraak: “Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word” (v.15). Reg van die begin af dus verbied die Here oor-en-weer moord en weerwraak.

God se verbond met Noag werp ook baie lig op ons tema (Gen 9:5-7). Ondermeer sê die Here: “… van ‘n mens sal Ek rekenskap eis (lett.: ‘n kompensasie) oor die lewe van sy medemens. Wie die bloed van ‘n mens vergiet, deur ‘n mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger (lett.: God het die mens na Sy beeld gemaak)”.

Embrionaal vind ons waarskynlik hier die eerste mandaat vir ‘n gemeenskap se ordelike toepassing van die doodstraf vir moord.

Hierdie opdrag is begrond in die feit dat die mens na God se beeld geskape is. Elke mens se lewe het dus ‘n onberekenbare waarde  –  en hy wat ‘n lewe neem, tas iets aan wat daargestel is om die Skeppergod hier op aarde te verteenwoordig, iets van Hom te openbaar, en Hom te verheerlik. Wie die eer en wil van God só geweld aandoen, moet die hoogste tol betaal.

Selfs konings was (en is) nie kwytgeskeld van hierdie gebod en die beginsel van genoegdoening nie. Nadat Dawid vir Urija laat vermoor het, kom die vonnis baie duidelik: “Jy het Urija … met die swaard doodgemaak … jy het hom vermoor … Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie …” (2Sam 12:9-10). En nadat Koning Agab vir Nabot vermoor het, kom die beginsel van ‘n oog vir ‘n oog weer weer in aksie: “Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek” (1Kon 21:19).

Ook die res van die Ou Testament bevestig die voortgaande geldigheid van hierdie morele absolute. Veral die profete veroordeel op talle plekke oortreding van die Sesde Gebod in sy verskillende vorms (vgl. Jes 1:21; Jer 7:9-10; Hos 6:9).

Teenoor bogenoemde is dit ook so dat die Ou Testament vol is van juridiese teregstelling en oorlogsdoodslag. Mens se eerste gedagte is dat dit skreiende morele inkonsekwentheid is. Maar nêrens is daar enige sprake dat amptelike teregstelling en gedissiplineerde oorlogvoering as ‘n oortreding van die Sesde Gebod beskou word nie.Tewens  –  soos reeds gesien  –  die Skrif vermy versigtig die gebruik van die woord vir moord om hierdie dinge te beskryf.

Die Mosaïese wette skryf die doodstraf voor vir talle oortredings (vgl. ondermeer Eks 21). Dit het byvoorbeeld ingesluit: verleiding tot afgodery (Dt 13:10); vervloeking van God (Lev 24:13-15); die vloek of slaan van ouers (Eks 21:15, 17); sabbatsontheiliging (Num 15:35); egbreuk (Lev 20:10; Dt 22:23-24)); ontvoering (Eks 21:16). Maar daar was streng voorskrifte dat oortreders behoorlik en regverdig verhoor moes word. Dit was ‘n amptelike en ordelike gemeenskapsproses. En teregstelling deur steniging was eweneens iets waarby die hele volk betrokke was.

Tydens oorlogvoering is derduisende  –  indien nie miljoene nie  –  van Israel se vyande doodgemaak. Dikwels het dit ook vrouens en kinders ingesluit. En meermale het dit in direkte opdrag van God geskied (vgl. bv. Jos 6:21; 1Sam 15:1-3). Gewis skep dit vir die moderne gemoed ‘n morele dilemma. Trouens, ons sukkel om dit te rym met die sterk Nuwe Testamentiese beklemtoning van God se liefde vir sondaars. Maar in ons nadenke oor God is dit kardinaal belangrik dat ons rekening hou met die volle Skrifopenbaring oor Hom.

Volgende keer gaan ons DV verder.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00