JOB 28:20-28; JOB 31

LAAS HET ONS GEKYK NA JOB SE GELOOFSDEURBRAAK (19:25-27). Sy ergste krisis is dus nou verby. Ja, sy liggaam is nog in ‘n bedenklike toestand. En alles behalwe verstaan hy wat met hom aan die gang is. Maar dít weet hy: sy Losser leef, en hy gaan opstaan uit die dood, en hy het wis en seker die ewige lewe. En as dít vas is in ‘n mens se gemoed, kan jy enigiets hanteer.

JOB SE OORHAND OOR SY VRIENDE [H.21]

Tot nou toe het die drie vriende net een snaar getokkel: dis omdat Job ernstig gesondig het, dat so ‘n verskriklike rampspoed hom getref het, sê hulle.

Van so ‘n simplistiese argument verskil Job heftig. En ná sy geloofsdeurbraak (19:25-27) is sy voete op vaste grond. Hy is steeds in die duister oor wat agter sy beproewing sit, maar nou is hy in staat om met beslistheid sy opponente te weerlê (h.21).

“Waarom bly die goddeloses aan die lewe, word hulle oud en ryk en vernaam? Hulle kinders raak gevestig rondom hulle, hulle sien hulle nageslagte. Daar is vrede in hulle huise, geen vrees nie, die straf van God tref hulle nie. … hulle koeie kalf en het geen misgeboorte nie. … hulle kleintjies baljaar vrolik rond. Hulle … is vrolik by die geluid van die fluit. Hulle slyt hulle lewens in voorspoed, hulle gaan in vrede die doderyk binne” (21:7-13). Tog is hulle in opstand teen God. Hulle sê vir Hom: “Laat staan ons, ons weier om u wil te ken. Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? Watter nut het dit om Hom te aanbid?” (21:14-15).

In h.18 het Bildad selfversekerd gesê: “… die lig van die goddelose gaan dood … die onheil wag hom gretig in” (5, 12). Maar, sê Job, dis net eenvoudig nie altyd die geval nie: “Hoe dikwels  …  kom ‘n ramp oor hulle, laat God in sy toorn onheil oor hulle kom?” (21:17). Nee, die teendeel is dikwels waar.

Goed, sê die vriende dan, maar die sondaar se straf sal vir seker kom  –  al moet dit sy kinders tref (vgl. 5:4; 18:19; 20:10). Nee, nee, sê Job, dit kan tog nie! “Spaar God dan sy rampe op vir die goddelose se kinders? God moet hóm tog straf dat hy dit self weet … hy moet sélf die toorn van die Almagtige ondervind. Wat kan sy familie hom skeel na sy dood …?” (21:19-21). Nee, sê Job, só onregverdig is God nie. Dis ondenkbaar! (vgl. Eseg 18).

Die vriende voer aan dat die goddeloses se woonplekke gelyk gemaak word met die aarde: “Julle sê: ‘Wat word van die huis van ‘n belangrike man, van die wonings van goddeloses?'” (28). Maar, sê Job, luister wat sê die ingeligtes wat al ‘n bietjie gereis het. “Hulle sê ‘n slegte man word op die dag van onheil gered … ” (21:29-30).

Die vriende se simplistiese argumente is dus nie in lyn met die werklikheid nie, sê Job. En hy is reg: daar is gewoon nie ‘n onfeilbare verband tussen ‘n mens se lewe en jou uiteindelike lot nie.

DIE VRIENDE SE SWANESANG [H.22, 25]

Dis duidelik dat die 3 vriende begin besef hulle argumente hou nie water nie. Want nog net Elifas wend ‘n laaste poging aan om Job finaal te oortuig (h.22). Bildad het nie meer veel te sê nie (slegs die 6 verse van h.25). En Sofar bly heeltemal stil.

Elifas se eindpoging is venynig en persoonlik. Al sou die vriende se argument nie in álle gevalle geld nie, vir Job is dit beslis waar, voer hy aan: “Daar is geen einde aan al jou sondes nie. Sonder regverdiging het jy van jou eie familie goed in pand gevat, jy het die klere van dié wat niks het nie, van hulle afgestroop. Jy het vir dié wat uitgeput was, nie water gegee nie … vir dié wat honger was, (nie) kos (nie) … jy het weduwees met leë hande … weggestuur en weeskinders sonder heenkome … Daarom is dit so donker dat jy nie kan sien nie en verswelg vloedwaters jou. … Jy dink dalk: wat weet God? … Hy kan nie sien … nie” (22:5-14). “Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê. … As jy terugkom na die Almagtige toe, sal jy herstel word” (22:21-23).

Uiteindelik kom alles dus neer op die eenvoudige vraag: Is Job skuldig, of is hy nie?

Nee, sê Job vir Elifas, vir seker is ek nie só skuldig soos jy maak nie. Die Here weet dit: “… as Hy my toets, is ek suiwer soos goud. Ek hou op sy pad en draai nie af nie. Ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes” (23:10-12).

Dan is dit Bildad se beurt. Maar sy stoom is op. Hy weet dat Job nie naastenby so goddeloos gelewe het soos Elifas maak nie. Daarom val hy terug op die feit dat geen mens volmaak voor God is nie: “Hoe kan ‘n mens reg hê voor God? Hoe kan iemand wat uit ‘n vrou gebore is, onskuldig wees? As vir God selfs die maan nie helder is nie … hoeveel te minder ‘n mens, ‘n blote wurm, ‘n mensekind, wat maar net ‘n ruspe is?” (25:4-6).

Dis waar, maar verklaar dit Job se ellende?

JOB SE WYSHEID ÉN ARROGANSIE [H.26-31]

H.26 word hoofsaaklik gewy aan Job se versekeringe dat ook hy ‘n ontsag het vir God se grootheid en mag.

In h.27 verdedig hy egter weer sy onskuld. In die tweede helfte van die hoofstuk kwalifiseer hy egter: allermins ontken hy dat God onreg straf.

Maar, sê hy in h.28, dit verduidelik nog nie sý geval nie, aangesien hy regverdig is. Mens kan tot net een slotsom kom: dat God se wysheid ver verhewe is bo óns insig. Ons kan dit nie soos goud of silwer uitmyn nie. Tensy die Here Sy waarheid aan ons openbaar, sal ons dit nooit ken nie. Net God “ken die woonplek van die wysheid …” (28:23-26). En daarom weet net Hy wat agter Job se lyding sit. Laat ons dus nie ons koppe breek oor wat ons nooit in hierdie lewe sal weet nie, is Job se punt. Nee, ons moet ons besig hou met wat die Here wel aan ons geopenbaar het. En wat hét Hy vir ons gesê? Dit kan afgekook word tot ‘n enkele sin: “Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand” (28:28; OAV).

Dit laat Job terugdink aan die tyd voor sy rampe, toe hý so geleef het (h.29). Omdat hy so ‘n goeie lewe gely het dat mense hom gerespekteer het, het hy gedink dat hy sonder sorge sou sterf (18).

Helaas het dit nie so uitgewerk nie. Nou is daar geen hoop meer nie. Net ‘n treurlied bly oor (h30).

In h.31 dring Job weer aan op sy onskuld  –  met meer drif as ooit. Hy noem ‘n lang lys sondes. Elke keer sê hy dat hy onskuldig is aan elkeen daarvan. Hy daag as ‘t ware die Here uit om hom te straf indien hy wel aan een daarvan skuldig sou wees.

Uiteindelik, na sy tirade, sê Job selfvoldaan: “My saak het ek gestel: nou moet die Almagtige my antwoord” (31:35). En dan sluit die hoofstuk  –  en die hele gedeelte oor sy konfrontasie met die 3 vriende  –  só af: “Dit is die einde van Job se woorde” (40). Vandag sal ons sê: “Ek het klaar gepraat!”

TOEPASSING

Arrogansie voor die Here bly ‘n gevaar  –  juis ook vir die mees toegewyde gelowiges. 

Dat Job ‘n ware gelowige is, hoef ons nie te betwyfel nie. En hy is reg: ergerlike sondes sit nie agter sy rampspoed nie. Maar in h.31 gaan hy te ver  –  as hy die Here as ‘t ware uitdaag om hom te straf indien hy ernstig sou gesondig het. Sy verwaandheid is skokkend.

Job het hom so pas in verhewe terme uitgespreek oor die vrese van die Here (28:28), maar hier openbaar hy dit allermins. Skokkend is dit voorwaar as mens besef tot watter mate regsinnige waarhede een na die ander uit jou mond kan rol, terwyl jy net daarna die teendeel doen. En almal van ons het al onsself male sonder tal só betrap, nie waar nie!

Waarskynlik raak Job so opgeblase as hy besef dat hy die oorhand oor sy vriende het. En ook dit is helaas ons ervaring: dis in tye van trots en selftevredenheid dat mens die maklikste sondig.

Job is reg as hy sê dat ons ons moet hou by dit wat God geopenbaar het. 

Deuteronomium 29:29 (OAV) sê: “Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.”        

God se openbaring aan ons is sodanig dat ‘n leeftyd nie genoeg is om dit te deurgrond nie  –  om van bemeestering nie eers te praat nie. Laat ons altyd onthou dat hierdie openbaring genoegsaam is  –  om vir ons al die lig te gee wat ons nodig het om godvrugtig te lewe en salig te sterwe. Die Here verwag van ons niks méér nie. Tewens, om meer te soek, is uiters voorbarig, des te meer omdat nie een van ons naastenby daarin slaag om dit wat die Here wel vir ons in Sy Woord gegee het, uit te leef nie.

Nog meer, die kerkgeskiedenis  –  in die besonder ons kontemporêre geskiedenis  –  leer oor en oor dat mens soos klokslag die spoor byster raak as jy in die skaduwêreld van buite-bybelse openbaringe gaan soek na méér as wat God se Woord ons bied.

Job is reg as hy sê dat die vrese van die Here en die gepaardgaande vermyding van sonde, die essensie is van wat die Here van ons verg. 

Nie net Job het hierdie beklemtoning nie. Dit is waar ware wysheid begin, volgens die Psalmdigter (111:10), sowel as die Spreukeleraar (1:7; 9:10). En in sy Predikerboek  –  nadat hy elke najaging van hierdie wêreld as dwaasheid afgewys het  –  kom Salomo tot die hoofsaak van alles in hierdie lewe: “Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (12:13-14, OAV).

Wat is die vrese van die Here? Dis ‘n geheimenisvolle en paradoksale simbiose van belewinge: ‘n respek en ontsag vir God, selfs soms ‘n verskrikking wat van Hom af wil wegvlug, enersyds; en ‘n intense aangetrokkenheid tot Hom wat nooit ophou verlang om nader aan Hom te leef nie, andersyds. Vir hom wat God enigsins ken, is Hy dus terselfdertyd angswekkend in Sy verhewe heiligheid én onweerstaanbaar aantreklik in Sy glansende heerlikheid.

“Die vrese van die Here” is ‘n begrip wat oor en oor in sowel Ou Testament as Nuwe Testament voorkom. Miskien sou “liefdesontsag” ‘n beter vertaling wees. Dalk is daar nie ‘n enkele begrip wat dit beter uitdruk as die Engelse woord, “awe”, nie.

Wat kan ék doen om te groei in die vrese van die Here? Gebed! ‘n Steeds dieper omgang met Sy Woord! ‘n Lewe van volgehoue en kompromielose gehoorsaamheid aan die Here Jesus as Koning!

Mal 3:16-4:2 (OAV): “Toe het die wat die Here vrees, met mekaar gespreek; en die Here het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die Here vrees en sy Naam eer. En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie. … Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.”

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00