JOB 19:23-27 [6]
LAAS HET ONS NA JOB SE GELOOFSDEURBRAAK GEKYK. Nou moet ons in meer besonderhede kyk na een van die mees uitstaande Messiaanse profesieë in die Ou Testament.
‘N MERKWAARDIGE UITSPRAAK
Wat Job in die teksverse sê, is rewolusionêr nuut. Dis ‘n sewemyl tree vooruit wat God se besondere openbaring betref. Daarom wil hy hê dit moet permanent opgeteken word, ingegrafeer op ‘n monument, uitgekap in rots en met lood gevul. Dis waarheid wat sy uitsiglose wroeginge in ‘n oogwink laat omswaai het in ekstatiese geloofstriomf. Almal moet dit weet – vir altyd.
Dis ‘n versugting wat wonderlik deur die Here verhoor is. Dit is onverganklik opgeteken in die Boek van boeke. En dit is oor eeue heen in derduisende grafstene oor die ganse wêreld uitgebytel.
Wat is hierdie woorde; wat is hierdie waarheid? Daar is ‘n Verlosser wat leef, wat vir ewig leef!
DIE LOSSER (HB GO’EL) (25)
Hierdie begrip is die sleutel om die rykdomme van Job se uitroep te waardeer.
Die losser-instelling het ‘n groot rol gespeel in antieke Israel. Die go’el was ‘n naaste familielid wat veral 3 dinge vir jou moes wees en doen. Eerstens, indien jy tot sterwe sou kom, moes hy sorg dat jou grond in die familie bly. Ook moes hy in sommige gevalle met jou weduwee trou (die swaershuwelik), en haar namens jou versorg en desnoods kinders by haar hê sodat jou familielyn kon voortgaan (Dt 25:5-10).Tweedens, indien jy só in die skuld sou beland dat slawerny jou in die gesig staar, moes hy jou reputasie red deur jou skuld af te los (Lev 25:25-26; 47-49). Derdens, indien iemand jou sou vermoor, moes hy as bloedwreker so ‘n moordenaar opspoor en teregstel om jou dood te wreek (Num 35: 12, 21, 24-25, 27).
Wat eersgenoemde betref, het ons ‘n goeie voorbeeld in die boek Rut, as Boas as losser só met die weduwee van ‘n familielid trou en by haar kinders het (Rut 2:20; 4:13-16).
Dikwels praat die Ou Testament van God as die Losser van mense in nood (Ps 19:15; 78:35; 103:4). Niemand doen dit meer as Jesaja nie (13x).
Die eerste geval is in Gn 48:16, as Jakob die Here so noem. Maar chronologies was Job – wat waarskynlik vóór Jakob geleef het – die eerste.
Hier het ons die wortels van die Nuwe Testamentiese begrip “Verlosser”, soos dit van die Here Jesus gebruik word.
Wat dus in ons teks gebeur, is dat Job in sy diepste nood God in ‘n helder geloofsoomblik vasgryp as sy Losser – as die Een wat volledig verantwoordelikheid aanvaar vir hom, vir sy toekoms (ook sy ewige toekoms), sy skuld en sy goeie naam. En hierdie Losser is nie soos die klomp dooie afgode wat niks beteken vir hulle volgelinge nie; nee, nee, Hy lewe!En hierdie Losser sal Job se regstryd voer – Hy wat wéét dat Sy dienskneg nie die smarte deur erge sonde oor homself gehaal het nie.
DIE LOSSER SE TRIOMF
Met verstommende profetiese helderheid besef Job dat hierdie lewe nie al is wat daar is nie. Daar wag ‘n wonderlike hiernamaals. En dis te danke aan ‘n volmaakte Losser wat uiteindelik triomferend op die aarde sal staan.
Maar Job sien nie net sy Losser nie; hy sien ook die ewige heerlikheid wat op hóm wag.
Die ou aartsvader aanvaar dat hy gaan sterf en dat sy liggaam sal vergaan (26a). Maar wat daarvan? Hy gaan liggaamlik opstaan uit die dood (26b, NIV: “in my flesh”): Hy sal lewe! Hy sal God sien – met sy eie oë! O, hy weet dit, hy weet dit!
Troosryker vir Job as wat woorde kan uitdruk, is die intiem-persoonlike aard van hierdie openbaring. Hierdie Losser is nie net vir mense in die algemeen nie; Hy is Job se eie Losser. En met sy eie oë gaan hy Hom sien (27a). Hierdie man wat alles verloor het, besef nou dat hy steeds die kosbaarste van alle kosbaarhede het – ‘n volmaakte Go’el!
Wat Job in hierdie oomblikke besef, is dat ook sy liggaam sy erfenis uit God se hand is – ten spyte van die verskriklike aftakeling waaraan dit nou onderworpe is. En sy Losser gaan dit teruggee, al probeer die dood dit steel. Dis wat die laaste boek van die Bybel baie eeue later sou sê: Hy het “die sleutels van die dood en die doderyk” (Op 1:18).
WAT SÊ DIT VIR ONS?
Die Christelike lewe is ‘n marathon, veel meer veeleisend as waardeur enige atleet ooit gaan.
Job se beproewing het geweldige eise aan sy geloof gestel. Dit was ‘n uitmergelende toets vir sy toewyding. Laat ons verstaan, die Here pamperlang nie Sy kinders nie. Anders as wat dikwels gedink word, is rasegte Christenskap nie vir sissies nie. En die Here Jesus het dit reg van die begin af uitgespel, sodat voornemende dissipels kan weet waarvoor hulle hulself inlaat. Die wedloop is dikwels skrikwekkend veeleisend. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom” (Hd 14:22).
In Sy goedheid het God vir Job die oorwinning laat behaal. Daarna het hy nog vir 140 jaar onder die seënende hand van die Here geleef. Maar dikwels werk dit nie so nie. Meermale is die laaste peilvlak, soos in baie wedlope, die heel moeilikste.
Job se ervaringe gee vir ons ‘n besondere insig in die aard van die Christelike wedloop. Terwyl dit gewis God is wat ons deurdra, doen Hy dit op so ‘n wyse dat ons intens daarby betrokke is. Ons is verantwoordelik, moet dink, moet besluite neem, moet ons inspan. Ons wag nie bloot soos buspassasiers totdat die wenpaal op ons daag nie. Nee, die Christelike lewe is dinamies en dit kan soms baie rof gaan. Die koninkryk van die hemele moet bestorm word, en diegene wat dit met geweld gryp, sal dit in besit kry (Mt 11:12, OAV).
Ten diepste wil die boek Job egter nie in die ou aartsvader se wonderlike volharding roem nie. Dit wil die onvernietigbaarheid van God se genadewerkinge in die lewens van Sy kinders onderstreep. Dit wil juig oor die onverganklikheid van daardie geloof wat die Here vir Sy uitverkorenes gee. Dit wil ons verwonderd laat oor die die krag van die liefde wat Hy in ons harte uitstort. Dit wil die Here se bemoeienis met Sy kinders verheerlik. Dit wil ons oorstelp laat oor die wysheid waarmee Hy Sy gunsgenote vir die ewigheid voorberei.
As Job uiteindelik geloofsekerheid kon geniet, hoeveel te meer nie ons nie.
As Job lewe, het die verloop van God se raadsplan skaars begin. Ons leef daarenteen in die heel laaste fases daarvan. Hoeveel het nie sedert Job se lewe gebeur nie! Bowenal het die Losser reeds gekom – histories en persoonlik – en die onwankelbare fondament gelê vir die verlossing van miljoene.
Ons weet waarom Hy dit gedoen het. En ons ken die voorwaardes vir toetrede tot Sy koninkryk. Dit is so, dit kan maar rof gaan met ‘n Christen, maar die ingaan is so eenvoudig dat ‘n kind dit kan verstaan. En elkeen wat kans sien om homself te verneder, kan dit regkry.
Daarom behoort elke Christen geloofsekerheid te hê. Ja, talle sukkel daarmee, maar dit hoort nie so nie. As jy sukkel, rus nie voordat dit vas in jou hart geanker is nie. Rus nie voordat ook jý kan sê: “Ek wéét dat my Losser leef!”
Laat ons ons verlustig in Jesus Christus se Losserskap.
Sekerlik was dit wonderlik vir Rut om ‘n go’el te hê, maar hare was maar ‘n flou afskynsel van die groot Losser wat sou kom.
Ja, die Losser destyds was familie. Maar Jesus is nog baie nader aan ons: “… ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Ef 5:30).
Sy Losserskap is nie gedwonge nie – iets vanuit ‘n geboorte waaroor Hy geen beheer gehad het nie. Nee, Hy het dit vrywillig op Homself geneem – gedring deur liefde vir diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het. Hy is nie skaam om ons Sy broers en susters te noem nie (Hb 2:11).
Sy losserskap is ewig. Hy gaan nie dood soos ander lossers nie. Oor tienduisend miljoen jaar sal Hy nog na jou belange omsien. Die Nuwe Testament noem dit Sy hemelse Hoëpriesterskap.
Deel van Job se stryd tot nou toe het oor sy reputasie gegaan. Hy het geweet dat sy vriende se beskouing sou seëvier na sy dood – naamlik dat hy oor groot sondes onder God se toorn gesterf het. En hy het geweet dis nie waar nie. Maar dit sou die nageslag nie weet nie.
Job vind egter groot troos in sy Losser. Want een van sy take was om ‘n mens se reputasie te herstel. Hierdie nuutgevonde Losser wat hy in die geloof ontdek het, sou volledig na sy belange en goeie naam omsien.
Inderdaad is dit een van die wonderlike dinge wat Jesus Christus vir ons doen. Maak nie saak nie of jou goeie naam deur jouself deur die modder gesleep is, en of dit deur misverstande, onkunde of kwaadwillige skindertonge gedoen is nie. In Christus is jy witter as sneeu gewas (Jes 1:18). Voor die Regterstoel, as jy bewend aan jou rebellie tydens hierdie lewe dink, en as jy jou tienduisende mislukkings onthou, sal Hy soos klokslag verklaar: “Daar is mee gehandel; dis in die diepsee gegooi” (Miga 7:19). En jou status sal tot in alle ewigheid die van ‘n man of vrou wees wat nooit gesondig het nie, wat God se wet volmaak onderhou het.
Ons het ewige en onwankelbare sekuriteit in ons Losser.
Rampspoed is steeds met ons. Maar die groot en ewige Losser se deur staan dag en nag oop vir mense wat as bloedfamilie by Hom wil aansluit. Dan kan hulle maar alles verloor, selfs sterf – maar as Hy na hulle belange omsien, is hulle ‘n duisend maal beter af as selfs die rykstes van hierdie wêreld.
Is dit nie verspot nie dat ons wat Hóm as Go’el het, nog steeds so bang is vir die dood? Ja, ja, ons moet almal binnekort sterf. Maar kom ons dink reg daaroor. Ons gaan net heengaan, net ontslaap. En dink net, wat gaan ek sien as ek wakker word? Duisternis? ‘n Doodskisdeksel drie sentimeter bokant my neus? Nee, ‘n duisendmaal nee! Dit gaan lig wees. En ek sal die heerlikste verlossingsmusiek hoor. En ek sal ‘n gesig sien, die mooiste en vriendelikste gesig wat ek ooit gesien het. En as ek dalk nog wonder wie dit is – ondenkbare gedagte! – sal Hy Sy hande vir my wys en vir my sê: “Kyk na My sy.” En ek sal met blydskap uitroep: “My Losser! My Here en my God!”