JOB 14 [5]
AS MENS JOU PROBEER INDINK IN JOB SE SMARTE, GAAN STAAN JOU DENKE STIL. Beswaarlik kan daar iets erger wees as om gelyktydig al jou besittings te verloor, en tien kinders op een dag, en dan nog jou gesondheid ook? Baie, baie min mense ervaar iets vergelykbaars.
Maar dis nie al nie. Hy is tot die dood toe siek. En hy het geen verwagting op ‘n salige hiernamaals nie. Wat hom betref, wag ‘n onbekende, amper spookagtige ewigheid op hom. Hy het nog nie óns kennis oor die toekomstige dinge nie.
Maar kom ons kyk eers na sy amper wanhopige pogings in sy gesprekke met sy vriende om emosioneel sy kop bo die stormwaters van benoudheid te hou.
MISPLAASTE YWER VIR DIE HERE
Onthou, Satan se doel is om Job so ver te kry om ontnugter en verbitter sy rug finaal in ongeloof op God te draai. En gewetenloos sal hy geen slinksheid ontsien om dit te bereik nie. Laas keer het ons gesien dat Job se vriende in hulle misplaaste en onkundige ywer vir die Here presies die teenoorgestelde bereik van wat hulle wil. Omdat hulle kennis van God en Sy weë so gebrekkig is, trap hulle Job al hoe dieper in die grond in, hoe harder hulle probeer om hom te help en God se eer te verdedig. Hulle argumenteer dat God, omdat Hy regverdig is, nooit iemand só sal straf nie, tensy daardie persoon skuldig is aan vreeslike sonde en dit gevolglik verdien. Job, daarenteen, weet dat hy oor die jare die Here absoluut toegewyd met ‘n opregte hart gedien het. Daar is dus niks, maar niks in sy lewe wat naastenby só ‘n straf verdien nie. Logies bly daar dus slegs één gevolgtrekking oor: God is onregverdig, wreed, meedoënloos. Hy was toe nooit die Algoeie nie. In die jare wat verby is, het hy wat Job is op ‘n hersenskim gebou.
Toenemend, soos die gesprekke tussen Job en sy vriende vorder, is hy al hoe minder oor hulle en hulle argumente begaan. Sy worstelinge is met die Here – en oor Sy weë. Want die situasie dreig om sy God van die jare wat verby is by hom te steel. En wat bly dán vir hom oor. Sy enigste bron van troos is, soos die argumente vorder, besig om al hoe dowwer te word. En wat kan erger wees as om geen hoop meer te hê nie! Dan bly daar niks meer oor nie.
DIE HOOGSTE GELOOF
Lees mens deur Job se antwoorde aan sy vriende, sien jy hoe sy geloof op en af fluktueer. Dis ‘n geweldige stryd tussen menslike logika aan die een kant, en afhanklikheids- en liefdesgeloof aan die ander kant.
Hy kan eenvoudig nie die waterdigte logika van sy vriende ontkom nie. As God regverdig is, moet daar ‘n presiese verband wees tussen sonde en straf (natuurlik is dit nie waar nie, maar dis hoe hulle redeneer – asook baie mense tot vandag toe). Hy word gestraf, maar hy weet hy het nie naastenby gesondig om só ‘n straf te regverdig nie. Dus is God onregverdig.
Aan die ander kant, vir baie jare was die Here vir hom oneindig goed. En hoe lief het hy God nie! En uiteindelik, waar gaan hy heen as hy die Here laat los. Wat bly dán oor. Die gedagte is ondraaglik.
Elke keer as Job sy ore uitleen vir sy vriende, sink hy soos ‘n klip. Maar as hy dan weer in kinderlike geloof hom net aan die Here toevertrou, skiet hy boontoe soos ‘n kurkprop: “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom …” (13:15, OAV).
As Job die Here in liefdesoorgawe vertrou – al verstaan hy nie – geskied dit nie strydig met redelikheid nie. Vandag weet ons immers, aan die hand van God se volle openbaring, dat die vriende se vertrekpunt verkeerd is. Dis eenvoudig nie so dat ons lyding konsekwent ‘n akkurate weerspieëling van ons persoonlike sonde is nie. Nee, mense ly nie net omdat hulle sondaars is nie, maar dikwels júís ook omdat hulle heilig is – en heiliger moet word.
Dít is egter openbaring wat die Ou Testamentiese Job nog nie, soos ons, ontvang het nie (Hb 12: 5-11). Hierin sit nou vir ons ‘n groot les: daar is eweneens ‘n duisend verdere waarhede wat ook ons vandag nie kan bedink nie – gewoon omdat die openbaring daarvan nog toekomstig is. Daar staan immers geskryf: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir díé wat Hom liefhet (1Kor 2:9).
Laat ons dus ons Vader soos Job vertrou, ongeag hóé donker ons pad ook al mag wees.
Laat ons verstaan: dit behaag die Here as ons voortdurend in die geloof drink uit Sy fonteine van heil. Maar nooit is geloof suiwerder, en nooit behaag dit God meer nie, as wanneer mens aan Hom vashou ter wille van Homself – ongeag of daar iets by Hom te kry is. Tewens, in sy oomblikke van geloofstriomf gee Job nie eers om as die Here hom dalk sou ombring nie, want om Hóm te hê, is kosbaarder as gesondheid, trouens, as die lewe self.
Die Here vat baie van Sy kinders – en talle van ons gaan dit nog ervaar – tot op hierdie punt. Dis die suiwerste uiting van vertroue en die kosbaarste liefdesverklaring wat ‘n sterfling aan sy Here kan maak: “hou al U gawes, Here; gee my net Uself!” Maar natuurlik, só liefdevol is God, as Hy Homself gee, gee Hy ook Sy gawes.
Net ‘n laaste opmerking hieroor: hierdie kwaliteit geloof ontwikkel net in die uiterste beproewings.
DIE LEWE NA DIE DOOD
Niks is erger vir Job nie as sy worstelinge oor die realiteit en aard van die lewe ná die dood. Want dit lyk asof hy binnekort gaan sterf.
Só wipplank sy wroeginge: As ‘n boom afgekap word, het hy ten minste ‘n toekomshoop, want weldra loop daar weer ‘n loot uit. Maar as ‘n mens sterf? Hy staan nie weer op nie; nooit weer nie! “As ‘n mens sterf, sal hy weer lewe?” Het ek dit tog net met sekerheid geweet, sou ek hierdie beproewing met moed en hoop kon deurstaan (14:7, 12, 14).
Job slinger heen en weer tussen wanhoop en hoop – tussen ‘n duistere doderyk en ‘n ewige lewe vol lig.
Die aartsvaders het waarskynlik geweet dat daar iets van ‘n bewustelike staat wag na die dood. Maar hulle verwagtinge was dof en skaduagtig. Eksplisiete openbaring daaroor het hulle nog nie ontvang nie. Hulle het afgekyk in die doderyk; hulle het nie opgekyk na die hemel as die woonplek van God en Sy verheerliktes nie. Daarom praat Job in 10:21-22 van die hiernamaals as die stikdonker land, waar selfs die lig donker is en niks georden is nie, en van waar mens nooit weer terugkeer nie.
Dink jou in: Job weet hy is op die drumpel van hierdie land. Wat ‘n benoudheid; wat ‘n paniek! Maar presies op hierdie punt is hy ‘n halftree weg van die grootste ontdekking van sy lewe. Meer nog, hy is op die punt om ontvanger te word van ‘n stuk sewe-myl vooruitgang in Ou Testamentiese openbaring.
DIE ANTWOORD: ‘N TUSSENGANGER
Tot en met sy rampspoed is sy vroom lewe – só uitnemend dat selfs God teenoor satan daaroor roem (1:8; 2:3) – in Job se gemoed die basis vir sy geloofsekerheid en vrymoedigheid voor God. Maar van selfvoldaanheid is daar nou in sy verskriklik afgetakelde toestand geen sprake meer nie. Job is van alle menswaardigheid gestroop. Hy weet: al het hy voor die tyd vroom voor God geleef, het hy nóú nie meer, in sy vertwyfeling en woede, enige verdienste voor die Here nie. En dit vererger sy uitsigloosheid net nóg meer.
Maar iewers, iewers in Job se verwarde en wanhopige gemoed begin ‘n idee dan uitkristalliseer. Dis ‘n eienaardige aanvoeling, algaande ‘n oortuiging. Vir hom is die gedagte totaal nuut: As hyself dan geen stand voor God meer het nie, bly daar net een oplossing oor – ‘n tussenganger tussen hom en God, ‘n middelaar.
Die gedagte neem algaande gestalte aan, totdat dit in sy triomfkreet van 19:25 oopbars:”Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!”
Hier is Job se oorwinningsmoment. Van nou af sal sy voete met elke gesprek op hoër grond staan.
Hierdie wonderlike geloofsoomblik het nie maar vanuit die bloute op Job gedaag nie. Dit het geleidelik in hom gegroei. In 9:34 lees ons: “as daar maar iemand was wat God se straf van my kon wegneem”; en in 16:19 (OAV): “kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes.”
Job is steeds nie seker oor wat presies op hom in die hiernamaals wag nie, maar dít weet hy: as sy Verlosser leef, sal ook hý leef. En as God dan so goed is om vir hom ‘n Plaasvervanger te gee, sal daardie lewe goed wees.
In elk geval is Job se gemoed nou nie meer op homself en sý toekoms ingestel nie; dis volledig gevestig op sy Verlosser. Om by Hom te wees, ongeag wat wag, is op sigself die hoogste goed!
En so word sy selfgesentreerde kwellinge met die opwinding van Christus-gefassineerdheid vervang.
Belangrik is dit om raak te sien dat hierdie verlossingsinsig in Job se denke saamhang met ‘n besef van onwaardigheid voor God. Dit loop hand aan hand met sondebesef. Let op sy bekende vrae: “Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God en sonder blaam voor sy Maker staan?” (4:17), en “hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?” (9:2, OAV). En in 14:17, in sy versugting na lewe na die dood, is een van die dinge waarna hy verlang, dat die Here nie sal ag slaan op sy sonde nie, maar dit sal bedek en in ‘n sak verseël (14:16-17).
Onmiskenbaar het ons hier ‘n stuk Messiaanse verlossingsmusiek in die Ou Testament. Trouens, nie alleen Job nie, maar alle verlostes in die Ou Testament, is op grond van Christus se middelaarskap gered. By elkeen van hulle was daar ten minste ‘n stukkie geloof in ‘n komende Plaasvervanger en Verlosser wat deur God voorsien sou word.
Tot vandag toe is dit so: meeste van ons, indien nie almal nie, moet eers gestroop word van ons selfvertroue voor die heilige God voordat ons gered kan word. Per slot van rekening is ware saligmakende geloof om in algehele afhanklikheid in Jesus Christus as enigste Plaasvervanger en Middelaar in te vlug en by Hom te bly skuil.
Maar helaas klou baie van ons só aan ons eie godsdienstige verdienste vas, dat dit ‘n diep-ingrypende lewenskrisis verg om ons na die Plaasvervanger toe te dryf.
Waar staan jy met betrekking tot die Middelaar?
Hoe bevoorreg is ons nie om in die helder lig van Nuwe Testamentiese openbaring te leef nie! “Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring” (2Tm 1:10).