JOB 1:20-3:19 [3]
MIN DINGE WYS SO DUIDELIK UIT VAN WATTER STOFFASIE IEMAND GEMAAK IS, as óf uitsonderlike voorspoed, óf uitsonderlike teëspoed.
Baie mense kan welvaart nie hanteer nie; dit laat hulle op een of ander manier as ‘t ware verrot. Maar nie Job nie. Het hy nie oor jare heen die Here intens lief nie, midde in sy welvaart?
Maar selfs as voorspoed, toets teëspoed jou soos niks anders nie. Kom die mees skokkende meer dekadensie en verval nie dikwels voor onder die heel armste en mees uitsiglose mense nie?
Hoe sou Job vaar onder die aanslag van onbeskryflike armoede en ellende?
DIE ESSENSIE VAN DIE BOEK
Waaroor gaan dit in hierdie boek? Satan beweer twee keer dat Job – en per implikasie alle mense – die Here net dien ter wille van die voordele wat dit vir hom inhou (1:9-11; 2:4-5). Dit gaan dus, sê Satan, vir mense bloot oor wat hulle uit die Here kan kry. Dat dit nie waar is nie, wys God nou vir die duiwel aan die hand van Job se voortgaande toewyding, ten spyte van skrikwekkende beproewing.
Presies hier is ons by die hart van hierdie Bybelboek. Wat dit vir ons sê, is dat daar baie, baie mense is wat die Here in opregtheid vanuit hulle harte dien ter wille van Homself – omdat Hy onbeskryflik lieflik en loflik is. Diegene wat eenmaal iets gesien het van Hom, en wat Sy wonderlike goedheid begin ervaar het, kan nooit weer van Hom afstand doen nie – maak nie saak wat dit hulle kos nie. En nog meer, die innerlike herskepping van God se genade in ‘n sondaar se lewe is eg en blywend. Wat Hy in ‘n mensehart doen, is onvernietigbaar. Waarlik, die wedergeboorte is ‘n werklikheid!
Dat ons hier by die essensie van Job se boodskap is, word verder bevestig deur die ontknoping van die drama aan die einde van die boek. In die duisternis van sy lyding het die aartsvader baie vrae gevra C diepsinnige vrae wat daarna weer en weer deur tallose lydende gelowiges gevra is. Maar, as die Here God uiteindelik in Sy majesteit aan Job verskyn, antwoord Hy nie een van hierdie vrae nie. Tog laat dit Job totaal tevrede en vergenoegd. Waarom? Dit wat hy van God se soewereine heerlikheid sien, vervul hom met soveel gefassineerde aanbidding, dat sy lyding en vrae tot nietighede vervaag.
ENKELE GEDAGTES OOR JOB SE LYDING
Hoewel God baie duidelike grense stel vir Satan se aanslag (1:12; 2:6), moet ons nie Job se lyding onderskat nie. Dit neem verskriklike afmetings aan.
Baie, baie min mense ervaar wat in hierdie hoofstukke beskryf word. Geweldige en onsigbare kragte word teen God se gunsgenoot losgelaat. En laat ons onthou, hy weet gladnie wat agter dit sit nie. Wat in die hemel gebeur het, is vir hom totaal onbekend. En, dalk ergste van alles, hy het nie ons Nuwe Testamentiese troos nie. Hoeveel kennis hy naas die algemene openbaring gehad het, weet ons nie. Maar vir seker weet hy bloedweinig van die heilswaarhede waaruit ons elke dag troos put.
Hoeveel beteken ons kennis van Christus se afgehandelde en voortgaande middelaarswerk nie vir ons nie – veral in tye van swaarkry!
En wat van die troos wat ons put uit Skrifbeloftes wat ons verseker dat lyding tóg sin het in die gelowige se lewe – dat die Here diegene tug wat Hy liefhet (Hb 12:6), en dat ons ontberinge in hierdie lewe altyd bydra tot die vorming van Christus se beeld in ons (Rm 8:28-30; Rm 5:3; 2Kor 12:10).
Daarenteen het die wêreld waarin Job gelewe het nog simplisties geredeneer dat jy voorspoed sal geniet as jy God behaag, en dat teëspoed ‘n sekere teken is van Sy mishae. Job weet nog nie wat ons weet nie: dat lyding vir die kind van God >n genademiddel is. Nee, hy beleef homself as totaal van God verlate!
Meeste van ons is helaas tot ‘n groot mate vreemdelinge vir die robuuste geloofsvertroue wat Job deur sy beproewinge sleep. Tog is dit wonderlike goedheid van die Here dat sy verhaal vir ons opgeteken is. Want was sy ervaringe nie tot heerlike troos en bemoediging vir alle geloofsreisigers deur die eeue nie – veral vir diegene wat baie gely het. As die storms van Sataniese aanval begin loei, weet die Here se gunsgenote wat al taai geraak het in die klowe van swaarkry, dat hulle met dankbare konsentrasie moet bly op die bergpad wat hierdie godvrugtige ou aartsvader vir hulle oopgetrap het.
Soos dikwels in ons lewens ook die geval, was die begin van Job se smarte onverwags. Die dag het pragtig gedaag. Job se enorme boerdery loop klopdisselboom. En sy kinders het mekaar lief. Maar voor die son daardie aand sak, jaag die boodskappers van rampspoed mekaar na sy voordeur toe. En as hy homself aan die slaap huil, is hy so besittingloos soos ‘n pasgebore baba (1:21).
As die rampe net nie so op mekaar gekom het nie! Al het hy alles verloor, as hy net sy kinders behou het! Maar nee, hy verloor tien op ‘n slag!
Maar: “Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie” (1:22).
‘n Ruk later het nog ‘n dag vir Job gedaag. Douvoordag reeds het hy die Here onder trane gedank dat hy ten minste sy gesondheid behou het. Maar as die son draai, voel hy ‘n knop op sy voorarm. En skemertyd is sy lyf oortrek van jeukende, etterende swere.
Dit laat Job se vrou knak. Ook sy het haar oënskynlik onderwerp aan die soewereine God van hemel en aarde se wil toe haar kinders dood is. En die armoede daarna het sy met stille waardigheid gedra. Maar nou oorspoel bitterheid haar: “Vervloek God en sterf!” (2:9). Dit maak dit vir seker nie makliker vir haar man nie.
Maar steeds sondig Job nie: sal ons die goeie van God aanvaar, en nie ook die slegte nie? (2:10).
WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?
Die feit dat ons Nuwe Testamentiese gelowiges is, vrywaar ons nie van lyding en beproewing nie.
Terwyl ‘n lewe in die ordes van die Here mens bewaar van ‘n duisend smartes, is daar terselfdertyd nie ‘n enkele katastrofe in hierdie wêreld waarteen ‘n kind van God immuun is nie. Voeg daarby die feit dat mens, die oomblik as jy die in voetspore van Jesus begin volg, onderworpe raak aan swaarkry wat eie is aan die dissipels van Jesus – vervolging in al sy geskakeerdheid; die vormende tugtiginge van die Vader (Hb 12); die felle stryd teen die vlees, die wêreld en die Satan; en die ontberinge van selfaflegging in gehoorsaamheid aan jou Meester. Dan besef jy dat hierdie lewe dikwels ook vir God se uitverkorenes meer trane inhou as uitbundige gelag.
As ons begryp waaroor dit ten diepste in Job se swaarkry gaan, begin ons verstaan dat daar groot waardigheid in beproewing sit.
Ons weet wat Job nie weet nie: hy is onderworpe aan die mees intensiewe swigtoetse. In ‘n sin hang God se eer van hom af. Gaan dit blyk dat Satan tog reg was; of gaan die Here se herskeppingswerk onvernietig anderkant uitkom? Gaan die tydlose en universele waarheid van die volharding van die heiliges ongeskonde bly? Gaan dit wat die Romeineskrywer soveel eeue later sou skryf, wáár blyk te wees: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (8:38-39)?
Job hóú nie net nie; hy kom sterker anderkant uit! O, as die Here ‘n genadewerk gedoen het, is dit vir ewig onvernietigbaar!
Maak dit nou van toepassing op jóú redding. En beskou jou beproewinge in die lig van hierdie les. Sien jy, jy kan beswaarlik ‘n groter eer aangedoen word as om ter wille van God se verheerliking aan swigtoetse onderwerp te word.
Twee afgronde bedreig ‘n gelowige tydens beproewing.
‘n Christen tydens lyding beweeg op die snykant van ‘n mes. Aan die een kant is daar die afgrond van opstandige murmurering teen dit wat die Here in Sy alwetende en soewereine voorsienigheid vir jou uitmeet. Aan die ander kant is daar die afgrond vanskoueroptrekkende onverskilligheid – ‘n fatalistiese kniebuig voor die noodlot.
Job vermy beide hierdie gevare. Hy het geleer wat die Hebreërskrywer meer as ‘n duisend jaar later sou skryf: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moeniemismoedig word as Hy jou teregwys nie” (Hb 12:5). As dinge vir hom te veel word, weeklaag Job in sy wroeginge; hy doen alles wat mense destyds gedoen het om uitdrukking aan smarte te gee. Hy huil, hy treur, hy rou. Maar, tog is daar geen vloekende verwyte hemelwaarts nie.
Wat doen hy? Hy dink! “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem” (1:21). En: “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (2:10). Kyk hoe argumenteer hy. Elke smarte herlei hy terug na ‘n goeie gawe van God in die verlede. Eintlik is sy pyn bloot dié van afstanddoening van dit wat van God af gekom het – van dit wat hy in elk geval nooit verdien het nie. Elke hartverskeurende verlies word vir hom ‘n herinnering aan en bewys van God se onuitputlike sorg en trou en goedheid in die verlede. En uiteindelik buig hy – nie voor die onvermydelike noodlot, of selfs voor die almagtige regering van ‘n veraf en soewereine Allerhoogste nie – maar voor die liefdessorg van sy hemelse Vader.
In Job se lyding sien ons ‘n voorafskaduing van sy en ons Verlosser se lyding.
Terwyl Job voor die goedheid van God in die algemeen gebuig het, beteken dit nie dat hy verstaan het dat sy beproewinge op sigself God se goedheid was nie. Hy het nog nie verstaan dat die besoekinge van die Here eintlik ‘n genademiddel is nie. Dis ‘n insig wat God se kinders eers later sou ontwikkel: “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer … Dat U my laat swaarkry, is ‘n teken van u trou” (Ps 119:71, 75). Tewens, om hierdie waarheid vir ons te begin ontvou, is juis die rede waarom hierdie boek in God se Woord is. En so word die ou aartsvader ‘n bron van onbeskryflike inspirasie en troos vir ontelbaar baie godsmanne en -vroue ná hom.
Gaan ons dan te ver as ons sê dat hy so verskriklik beproef is ter wille van ons – en dat hy sodoende ‘n voorafskaduing geword het van die Een van wie Jesaja later sou profeteer: “deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes 53:5)? Hoor ons reeds in Job die eerste dowwe note van die heerlikste en grootste simfonie van alle tye – toe die Seun van God Homself ter wille van ons verneder het en óns lyding op hom geneem het, óns siektes gedra het, oor óns oortredings deurboor is, oor óns sondes verbrysel is, en die straf wat vir ons vrede moes bring, op hom geneem het? (Jes 53:4-5).
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier