JOB 1:6-2:10 [2]

OMDAT ONS AS CHRISTENE TOT ‘N GROOT MATE GESWIG HET VOOR DIE HEERSENDE FILOSOFIEË VAN ONS DAG, vind ons dit moeilik om die Bybelse openbaring oor ‘n persoonlike Satan te aanvaar. Tot daardie mate is ons denke minder as Christelik en Bybels  –  want die Woord voorveronderstel nie net die realiteit van sy bestaan nie, maar gee ook verstommend baie openbaring oor hom.

Dis interessant dat hierdie slegs ‘n probleem in die westerse wêreld is. In die res van die wêreld sukkel niemand om sy bestaan te aanvaar nie. Waarom nie? Hulle ken sy vernietigende en meer overte aktiwiteite proefondervindelik. In die gesofistikeerde eerste wêreld het hy egter sy aanslag verander en werk hy subtiel en ondergronds. En dan verg dit dikwels ‘n direkte konfrontasie met hom  –  soos wanneer iemand van gedemoniseerdheid verlos moet word  –  om jou tot nugtere oortuigings oor sy bestaan te skok.

SATAN IN DIE HEMEL?

Hier in Job verskyn Satan saam met die ander hemelwesens voor God (1:6; 2:1). Vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges klink dit vreemd, maar dis omdat ons ná die tyd leef dat die duiwel uit die hemel gewerp is  –  toe Jesus hom hier op aarde oorwin het.

Die 70 dissipels wat Jesus uitgestuur het, het opgewonde vertel dat selfs die duiwels aan hulle onderworpe was. Hierop antwoord Jesus toe: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val” (Lk 10:17-18).

Net voor Sy kruisiging sê Jesus: “Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe” (Jh 12:31).

JOB SE ONKUNDE

Om die boek, Job, en sy lesse na waarde te skat, moet ons onthou dat Job geen idee gehad het van die gebeure in die hemel nie. Hy het met ander woorde nie geweet wat agter sy rampspoed sit nie.

Ook ons weet dikwels nie wat die oorspronge van ons swaarkry is nie. Sekerlik wil hierdie boek nie vir ons sê dat dit altyd direk aan die duiwel toe te skryf is nie. Maar dat dit soms wel die geval is, is ewe waar. Trouens, ons moderne gelowiges is waarskynlik heeltemal té geneig om van die duiwel te vergeet. Lees mens die Skrif met oop oë, verstom dit jou watter groot rol aan hom toegeken word met betrekking tot die ellendes van hierdie lewe.

Die duiwel werk in hierdie wêreld met groot woede omdat hy weet sy tyd is min (Op 12:12). Hy loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na mense om te verslind (1Pt 5:8). Hy is aan ‘t werk in die mense wat aan God ongehoorsaam is (Ef 2:2). Hy is die god van hierdie wêreld wat die verstand van die ongelowiges verblind, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie (2Kor 4:4). Hy verlei mense om in onsedelikheid, luiheid en skindery te verval (1Tm 5:11-15). Hy verstrik mense in ‘n vangnet om sý wil te doen (2Tm 2:26). Hy verlei nasies (Op 12:9; 20:3, 7); hy saai onkruid tussen ons koring (Mt 13:25); hy verhinder sendingwerk (1Ts 2:18); hy doen hom voor as ‘n engel van die lig (2Kor 11:14). Hy maak oorlog teen die heiliges (Op 12:17) en gooi Christene in die tronk (Op 2:10). Hy tref mense met fisiese en geestesongesteldheid (Hd 10:38). Hy is ‘n leuenaar en ‘n moordenaar (Jh 8:44). Hy het selfs  –  onder God se soewereine regering  –  mag oor die dood (Hb 2:14).

Dit is Satan wat ‘n vrou vir agtien jaar inmekaar getrek en vermank het (Lk 13:11, 16), en wat Petrus laat poog het om Jesus van die kruis te laat afsien (Mt 16:23). Dit is hy wat toestemming gevra het om Petrus soos koring te sif (Lk 22:31). Dit is hy wat in Judas se hart gewerk het om Jesus te verraai (Jh 13:2), en wat toe van hom besit geneem het (Jh 13:27). Dit is hy wat Ananias vervul het om vir die Heilige Gees te lieg (Hd 5:3). Dit is hy wat Paulus met ‘n doring in sy vlees gemartel het (2Kor 12:7).

Waarlik, die vyand van ons siele en sy bose engele het geen morele beginsels nie, geen erekode nie, geen gewete of gevoelens nie. In hierdie oorlog respekteer hulle geen Geneefse Konvensie nie.

En kennelik het ons baie meer met hom te kampe as wat ons besef. G’n wonder nie dat Ef 6:11-12 sê: “Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug”.

In hierdie oorlog moet die gelowige weet hy leef op die snykant van ‘n mes.

Satan sal alles in sy vermoë doen om mense te oortuig dat hy nie bestaan nie. Dit gee hom enersyds beweegruimte vir sy vuil werk, en andersyds steel dit van Christus se eer deur die oorwinning wat Hy oor Satan behaal het te versluier.

Maar as mense wel met sy bestaan begin rekening hou, probeer hy hulle verlei tot ‘n gefassineerdheid met hom. So skep hy óf ‘n morbiede en verlammende vrees vir die bose (soos in die middeleeue en selfs nog vandag in talle kulture), óf hy bewerkstellig ‘n duiwel-agter-elke-bos-beheptheid. Dan word bykans alles aan demone toegeskryf. So word die sondaar se verantwoordelikheid om hom te bekeer en gedissiplineerd te leef, verwaarloos. En, ewe erg, mense se oë word van Christus afgetrek.

J.I. Packer sê iewers dat die Christelike lewe soos klavierspeel is: As jy die verkeerde note speel, misluk jy. Maar jy kan ook misluk deur die regte note op die verkeerde manier te speel  –  teen die verkeerde tempo of ritme. Satan probeer ons verlei om die verkeerde te doen. Maar as hy nie daarin kan slaag nie, probeer hy ons mislei om die regte ding op die verkeerde manier te doen. Dit kom gewoonlik in allerlei eensydige beklemtonings tot uitdrukking. Dink maar aan hierdie tipiese skeeftrekkings: denke sonder uitlewing; liefde sonder wysheid; liefde vir die waarheid sonder liefde vir mense (of omgekeerd); ywer sonder kennis; regsinnigheid sonder heiligheid; kinderlike geloof, wat i.p.v. nugter, eerder naïef is.

SLEGS BINNE DIE GRENSE DEUR GOD GESTEL

Die eerste ding wat ons moet onthou, is dat Satan ‘n skepsel is wat steeds tot in die fynste besonderhede onder God se soewereine regering verkeer. Hy kon nie ‘n haar van Job uittrek sonder God se toestemming nie. Aanvanklik kon hy net sy hand slaan aan Job se eiendom en kinders (1:12). Sy gesondheid kon hy net aantas nadat hy verdere verlof daartoe gekry het (2:6). Maar, sy mag ten spyt, aan Job se lewe kon hy onmoontlik sy hand slaan. Dit wou God nie toelaat nie.

Die duiwel is nie die bose ekwiwalent van die Heilige Gees nie; hy is ‘n skepsel  –  ‘n gevalle engel. Hy kan God nie bedreig nie. En hy kan nie net doen wat hy wil nie. As dit reeds waar was in Job se tyd, hoeveel te meer nie ná Golgota nie.

Die tweede ding wat ons moet onthou, is dat alles wat onder God se regering bestaan en funksioneer (en dit is alles), die Here se doelwitte en eer dien. Dit geld in die besonder ook die Satan se boosheid, woede en amok. God het soewerein bepaal dat ook Sy kinders nooit in hierdie lewe geheel-en-al vry sal wees van versoekinge en aanslae nie. Die Skrif sê immers: “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom” (Hd 14:22). Maar as troos sê Jakobus: “Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet” (1:12).

Wat bereik die Here deur Satan nie nou al te vernietig nie? Waarom stel Hy sy kinders bloot aan hierdie mensemoordenaar? Daar is verskeie redes.

Satan se aanslae dwing ons om weer en weer ons toevlug tot die Here te neem. 

Net by die Here kan ons krag kry om in hierdie stryd staande te bly. Die aantrek en dra van die wapenrusting is niks anders nie as om die verskillende aspekte van ons erfenis in Christus in die geloof te omhels en vas te hou. Helaas sou almal van ons dit ernstig verwaarloos het as dit nie was dat ons daartoe gedwing is deur die stryd waarin ons verkeer nie.

En laat ons weet, hierdie oorlog is lewenslank. Moenie verbaas wees as dit op die walle van die rivier sonder ‘n brug op sy hewigste gaan wees nie.

Satan se aanslae laat ons geestelike spiere ontwikkel. 

Ons kan slegs toeneem in vaardigheid in hierdie oorlog, en in nederige afhanklikheid van ons Aanvoerder, as ons gereeld daarin geoefen word. Spiere wat nie gereeld werk nie, word slap en swak.

Satan se aanslae laat ons toeneem in ons haat van sonde. 

Dis waar van alle mense dat hulle gevare eers sien vir wat dit is nadat hulle die slegte asem daarvan geruik het. Ons begin sonde eers regtig haat nadat ons die aalwyn-bitter daarvan in die mond geproe het. Daarom boemerang ons vyand se verleidinge in die lewens van gelowiges soos klokslag op hom.

Satan se aanslae nou, sal ons ons ewige heerlikheid des te meer laat waardeer. 

Dis ‘n noodwendigheid, hoe swaarder jy kry, hoe meer vreugde en dankbaarheid het jy as die uitkoms op jou daag. Daarbenewens sal ons ewige loon in verhouding wees tot ons swaarkry, volharding en getrouheid hier en nou.

SLOT

God is alwys. In plaas daarvan om die Satan en sy demone met ‘n enkele woord uit te wis, span Hy vir eers hulle negatiewe en bose energie in om Sy doel met Sy kinders te dien. Soos die duiwel se verskriklike aanslag uiteindelik wonderlike vrug in Job se lewe gedra het, en die Here dienooreenkomstig verheerlik het, so is dit nog altyd. Min van ons gaan deur Job se beproewinge, maar die beginsel geld steeds. Daarom, soos Satan keer op keer in sy dwaasheid en Godshaat sy hand oorspeel in die lewens van Christene, so staan ook hy in diens van God se heerlike eindbestemming met Sy kinders  –  so word ook hy God se kneg.

Laat ons ten slotte onthou, niks is so ‘n effektiewe sif om huigelaars en ware gelowiges te skei, as Satan se aanslae nie. Niks wys die egtheid van jou geloof, al dan nie, duideliker uit nie as ‘n Jobservaring. Job se geloof is tot op breekpunt beproef, maar as daar voor die tyd dalk nog twyfel was oor die kwaliteit daarvan, kon niemand dit teen die einde bevraagteken nie  –  selfs nie Satan nie.

Hoe vaar jy as die teëspoed jou tref? Vloek jy, verwyt jy, gooi jy handoek in, is jy ontnugter? Of skuil jy net dieper in Christus? Wikkel jy jouself net stewiger in die wapenrusting toe?

Waarlik, hier het ons ‘n lakmoestoets vir geloofsegtheid!

Laat ons Job se les nooit vergeet nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00