NUM 22-24: 'N VALS PROFEET EN SY WAARHEIDSPROFESIE
KAN ‘N WAARHEIDSPROFEET VALS PROFETEER? KAN ‘N VALS PROFEET WAARHEID PROFETEER?
‘N KORT HISTORIESE OORSIG
Na vier dekades is die Israeliete gereed om die beloofde land binne te trek. Hulle staan oos van die Jordaanrivier regoor Jerigo.
Die Moabiete, en hulle koning, Balak, wat in daardie gebied woon, is baie beangs. Hulle weet dat niemand voor die volk van God kan staande bly nie.
Balak besluit toe om vir Bileam, ‘n profeet te laat haal, om die Israeliete te vervloek. Vir seker het Bileam ‘n groot reputasie gehad, want hy bly meer as 600 kilometer weg langs die Eufraatrivier, en tog weet ook hierdie mense van hom.
Aanvanklik weier Bileam in opdrag van die Here om saam met Balak se mense te gaan. Maar Balak stuur weer ‘n afvaardiging. Bileam sê steeds die regte ding, maar dis duidelik dat hy begin twyfel. Balak se groot beloning raak vir hom baie aantreklik. As hy dan weer oor die saak bid, gee die Here hom toestemming om saam met die afvaardiging te gaan.
Maar die volgende verse impliseer baie duidelik dat die Here besig is om die profeet aan sy eie sondige begeertes oor te gee (Num 22:22-35).
Die Engel van die Here (feitlik altyd in die Ou Testament ‘n voor-vleeswordingsmanifestasie van God die Seun) kom staan meer as een keer in Bileam se pad. Die donkie sien die Engel dadelik, maar nie sy ruiter nie (waarskynlik is dit nie sonder betekenis nie). In sy ongeduld slaan Bileam die donkie op ‘n onredelike wyse. Uiteindelik sien hy egter ook die engel. Dié waarsku dan vir die profeet: … “jy is op ‘n gevaarlike pad.” Ewe vroom onderneem Bileam om om te draai as die Engel dit beveel. Sy hart is egter nie in hierdie oorgawe nie; hy bak bloot mooi broodjies. Die Engel sien dit en gee vir Bileam nog meer tou – maar waarsku tog: “… jy moet net sê wat Ek vir jou sê.” Dis waarskynlik dan ook die rede waarom die profeet heel regsinnig profeteer as hy by Balak kom.
By Balak aangekom, seën Bileam egter die Israeliete – uiteraard tot Balak se groot frustrasie. Die koning neem dan die profeet na nog twee uitkykpunte toe, in die hoop dat hy die godsvolk sal vervloek. Maar elke keer seën Bileam hulle.
In sy woede jaag Balak vir Bileam terug na sy land toe. Maar voordat hy vertrek, profeteer die profeet nog ‘n vierde keer (Num 24:15-19). Dit behels ‘n wonderlike Messiaanse profesie, asook beloftes oor God se toekomstige seën oor Sy volk: “Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie, ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie, daar kom ‘n ster uit Jakob, daar staan ‘n heerser in Israel op. Hy verpletter die voorkop van Moab, hy vernietig al die opstandiges …. Een uit Jakob sal heers en hy sal dié vernietig wat uit Edom se hoofstad wegvlug.”
Maar dan, onverwags, doen die profeet iets wat uitwys wie hy waarlik is. Hy is vals. Hy gee vir Balak raad oor hoe hy tóg daarin sal slaag om die Israeliete te skade te berokken. Die mooi Moabitiese vrouens moet die jongmanne van Israel verlei – tot onsedelikheid en afgodery. Dit gebeur presies so en uiteindelik lei dit tot die dood van 24 000 Israeliete onder die toorn van die Here (Num 25; 31:8, 16).
Die plaag word eers gestop as Pinehas, seun van die hoëpriester en kleinseun van Aaron, op ‘n heroïese wyse ‘n jong Israelitiese man en ‘n heidense meisie binne in die laer van die godsvolk tereg stel terwyl hulle besig is met die seksdaad.
Uiteindelik, om die hele drama af te sluit, word ‘n ekspedisie gestuur om die heidene te straf. Hulle word van ‘n kant af doodgemaak – onder meer die vals profeet, Bileam (Num 31:1-54).
WAT SÊ HIERDIE GESKIEDENIS VIR ONS?
Is dit moontlik dat die heiden, Bileam, die lewende God kon geken het?
Die antwoord is heel eenvoudig: Ja – weliswaar nie reddend nie, maar hy het goed genoeg van Jahweh geweet. Trouens, die Here gebruik hom selfs om ‘n aangrypende stuk Messiaanse profesie deur te gee.
Oënskynlik het daar veral in die vroeë geskiedenis nog orals brokke Godskennis oorgebly buite die kring van Abraham en sy nageslag.
Bekendste onder diegene wat buite die verbondslyn die lewende God geken het, is seker “Melgisedek, koning van Salem en priester van God die Allerhoogste” (Gn 14:18-24). Nie alleen lees ons van hom in die tyd van Abraham nie, maar die Hebreërskrywer maak baie van sy belangrike rol in die openbaringsgeskiedenis (Hb 5, 6, 7).
Dit is so dat die Ou Testament feitlik deur die bank handel oor God se verhouding met Sy verbondsvolk, maar tog skemer die waarheid kort-kort deur dat die tweede been van die Here se belofte aan Abraham – Sy reddende seën oor alle nasies – toe alreeds in posisie was (Gn 12:1-3).
Natuurlik is die Nuwe Testamentiese openbaring soos ‘n damwal wat breek. Uiteindelik fokus God se handele hier op aarde voluit op die redding van Sy uitverkorenes vanuit alle nasies, volke en tale.
Wat moet jy van Bileam se profesieë maak?
Al was hy ‘n vals profeet, kan ons aanvaar dat die Heilige Gees deur hom gespreek het – veral wat die vierde profesie betref, die Christusprofesie. Eintlik sê die Bybel dit in soveel woorde (Num 23:5, 16). Dit is simplisties om te dink dat die Gees net deur iemand kan werk wat gered is. Kyk hoe het Saul onder die krag van die Heilige Gees geprofeteer. En het die Here nie deur die donkie gepraat nie? (Num 22:28).
Wat Bileam betref, kan ons aanvaar dat hy die Israeliete waarskynlik sou vervloek het as die Heilige Gees hom nie anders gedwing het nie.
Laat díé van ons wat vir die Here werk nooit die les van Bileam vergeet nie.
Alle Christene werk vir die Here, maar hierdie les het veral betrekking op diegene wat op een of ander wyse die Woord van God moet verkondig. Bileam toon vir ons dat dit skrikwekkend maklik is om voor te gee dat jy vir die Here werk – jy mag selfs opreg glo dat jy volgens die Here se wil optree – maar deur ‘n vleeslike en selfsugtige motief gedryf word.
Elkeen wat in ‘n publieke bediening staan, sal weet hoe maklik dit is om vir die pawiljoene te speel. En as eersug voortdurend van dié kant af vir jou lê en loer, wag hebsug net aan die ander kant om jou te bespring as jy nie op jou hoede is nie.
Laat ons vir niks banger wees nie as om ‘n wonderlike en gewilde geestelike werker te wees, maar tog verlore, omdat dit vir my oor myself gaan.
Dit is moontlik om moreel te wees sonder om geestelik te wees; en dit is moontlik om geestelik te wees sonder om moreel te wees.
Ons verstaan die eerste deel van die stelling. Almal van ons ken mense wat nie in God glo nie, maar tog wonderlike morele lewens lei. Maar wat moeiliker is om te verstaan, is die tweede stelling. Tog, ‘n oomblik se nadenke oortuig ons dat dit waar is. Want almal van ons het al te doen gehad met mense wat hulleself vreeslik geestelik kan gedra, maar dan net by ‘n volgende geleentheid skokkend optree.
Is die kerkgeskiedenis nie vol van sulke huigelaars nie? Wat is nie al alles in die naam van Christus aangevang nie!
Laat ons dus vlymskerp eerlik met onsself wees. Word jou belydenis bevestig deur ‘n heilige lewe? Onthou, sonder ‘n heilige lewe sal niemand die Here sien nie (Hb 12:14). Onthou, geen sonde is strenger deur Christus veroordeel as skynheiligheid nie.
Dis futiel om te droom van die saligheid eendag, as jy nie hier en nou bereid is om ‘n lewe van geregtigheid na te jaag nie.
In Num 23:11 roep Bileam vroom uit: “Mag ek ook eendag as opregte sterwe …” Hy begeer om die dood van ‘n regverdige te sterf, maar sien nie kans om die lewe van ‘n regverdige te leef nie.
Waarlik, sy sentimentele begeerte is niks meer as ‘n lugspieëling in die woestyn nie. Deur die eeue het dermiljoene drome gedroom oor die ewige saligheid en hulleself wysgemaak dat dit vir hulle wag. Maar uit die kloue van wêreldgelykvormigheid kon hulle nooit ontsnap nie. Saam met Bileam sal hulle tot in ewigheid treur omdat hulle nooit wou aanvaar nie dat geloof en bekering en gehoorsaamheid hier en nou die ononderhandelbare voorwaarde is vir die erfenis van die ewige saligheid.
DIE NUWE TESTAMENTIESE KOMMENTAAR
Op drie plekke hou die Nuwe Testament Bileam voor as die tipiese misleier en vals profeet (2Pt 2:15; Jud v.11; Op 2:14).
Dit bly eenvoudig verstommend dat die Nuwe Testament, as dit oor die tipiese dwaalleraar en vals profeet praat, Bileam voorhou as die klassieke voorbeeld. Per slot van rekening kan mens nie ‘n enkele van sy profesieë as vals bewys nie. Hy het selfs ‘n Christusprofesie deurgegee. En hy het geweier om toe te gee aan die druk wat op hom geplaas is om die godsvolk te vervloek.
Veral word egter teen hom gehou dat hy Balak geleer het om die Israeliete te verlei tot afgodery en hoerery (Op 2:14). Waarom sou hy dit gedoen het? Want die Israeliete se sondes as sodanig kon vir hom geen voordeel inhou nie. Vir seker moes dit vir hom gegaan het oor Balak en sy mense se aanvaarding. En dan natuurlik was daar die loongeld wat Balak sou betaal.
Nie vals profesie dus nie, maar hebsug en gewildheidsug – dit was die sondes wat hom gediskwalifiseer en strafbaar gemaak het.
GESEËND IS DIE VOLK VAN DIE HERE
Stel jou voor: Israel wat rustig in hulle laer wag op die Here se opdrag om verder te trek – totaal onbewus van die drama en bedreiging in die berge bokant hulle. Maar die Here is nie onbewus daarvan nie. En Hy staan tussen onheil en Sy volk.
Waarlik, solank Hy dit nie toelaat nie, sal nie ‘n haar van hulle koppe afval nie. So was dit nog altyd. So is dit vandag nog. So is dit ook in jou en my geval. En moenie dink ons weet van alles nie.
En kyk mooi na hierdie vals profeet se waarheidsprofesie: “… daar kom ‘n ster uit Jakob, daar staan ‘n heerser in Israel op …”
Ten diepste is dít waarom Israel onaantasbaar is. Want in eie hoedanigheid is hulle net so doemwaardig soos die heidene rondom hulle. Maar hulle het ‘n unieke rol in God se raadsplan – hulle is draers van die saad van die Messias.
Dis hierdie komende “ster” en “heerser” se middelaarskap wat Israel se beskerming moontlik maak – selfs ook hier, honderde jare voor Sy koms.
Laat die heidendom tot vandag toe weet, as Bileam oor en oor ‘n seën in plaas van ‘n vloek oor Israel uitspreek, is dit net so in hulle belang as ter wille van Israel. Want die Messias wat uit Israel sou voortkom, sou die Verlosser word van uitverkorenes vanuit elke nasie, stam, volk en taal.