DANIËL 9:24-27

DIE EERSTE HELFTE VAN HIERDIE PROFESIE HANDEL OOR DIE KOMS EN DOOD VAN ‘N GESALFDE VORS. Daarna het ons laas keer gekyk. Nou kyk ons na die tweede deel (26b-27). Dit handel oor die vernietiging van die stad en sy heilgdom.

‘N VERSKRIKLIKE KONFLIK

Die volk van ‘n regeerder sal verantwoordelik wees vir die vernietigingswerk. En die einde van die stad en tempel sal soos ‘n vloed wees. Dit dui op totale oorweldiging en uitdelging.

Maar dit sal nie sonder weerstand geskied nie. Dit is verordineer dat daar oorlog tot die einde toe sal wees  –  met die gevolg dat baie ‘n geweldadige en bloedige einde sal hê. ‘n Stad kan ook vernietig word nadat sy mense gevlug of oorgegee het, maar in hierdie geval sal dit nie so maklik geskied nie.

VERBONDSBEKRAGTIGING

Vers 27 bevat 3 groot gedagtes. Die eerste hiervan is dat daar met baie ‘n verbond gesluit sal word vir “een week lank”  –  dus die volle duur van die laaste sewetal.

Die eerste vraag is wie hierdie verbond met baie sal sluit? Is dit die regeerder wie se volk die stad verwoes? Of is dit die Gesalfde?

Volgens v. 26 sou dit op sigwaarde enigeen van die twee kon wees. E.J. Young wys egter daarop dat die heiden-regeerder grammatikaal ‘n ondergeskikte plek in die vers beklee, terwyl die Gesalfde steeds die hoofkarakter is. Hy het dus geen twyfel dat dit Hý is wat die verbond sluit nie. Daarenteen kies die NAV vir die ander opsie.

Die deurslag word eksegeties gegee deur die presiese betekenis van die Hebreeuse woord wat met “sluit” vertaal word. Die NIV is korrek: “He will confirm a covenant …”. ‘n Woordstudie maak duidelik dat dit niks anders as bekragtig of bevestig kan beteken nie. 1Hier word dus gesinspeel op ‘n bestaande verbond wat vervul en vasgemaak word. En dit kan net op die genadeverbond dui, wat so keer op keer in die Ou Testament bevestigend belowe word. So ‘n vertolking hou dan by dit wat sentraal is in die Woord, eerder as om ‘n obskure sy-gedagte in te trek. En les bes bly dit heerlik Messiaans, aangesien Christus presies dit kom doen het  –  Hy het al die Ou Testamentiese verbondsbeloftes kom vervul en bekragtig.

Matt 26:28: “… want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.”

Mens kan beswaarlik tot ‘n ander gevolgtrekking kom as dat hier van ‘n bewaringsverbond gepraat word. Hier word dus ‘n belofte gegee dat die Gesalfde tydens hierdie verskriklike laaste sewetal baie in terme van die genadeverbond sal bewaar.

BEËINDIGING VAN DIE OFFERDIENS

Die tweede groot gedagte van v.27 is dat diere- en graanoffers teen die helfte van die laaste sewetal beëindig sal word.

Weereens ontstaan die vraag: Wie gaan dit doen? Uit die verband moet ons aflei dis dieselfde persoon as die een wat die verbond bekragtig. Kan dit van die Messias gesê word? Vir seker! Dit word oor en oor in die Nuwe Testament beklemtoon. Het die voorhangsel van die tempel nie dramaties van bo na onder geskeur toe ons Verlosser gesterf het nie  –  om sodoende die einde van die ou bedeling te simboliseer? (Matt 27:51).

En hoe sterk werk die Hebreërskrywer nie hiermee nie! Hb 10:8-9: “Eers sê Hy: ‘Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,’ hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: ‘Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.’ Hy skaf dus die eerste offers af om ‘n ander offer in die plek daarvan te stel.”

DIE GRUWELIKE VERWOESTER

Die derde groot gedagte van v.27 is dat daar ‘n gruwelike verwoester sal kom. Hierdie laaste gedeelte van die vers is uiters moeilik  –  hoofsaaklik vanwee die kriptiese aard van die oorspronklike taal. Om dit verder te kompliseer, is die verskillende eksegetiese opsies taalkundig ewe legitiem. Vergelyk mens verskillende vertalings, sien jy dan ook hoe hulle uiteenloop.

Dit lê sekerlik nie op ons weg om op al hierdie kompleksiteite in te sak nie. Kom ons beweeg dus direk na ‘n slotsom toe.

In die Nuwe Testament voorspel Christus die val van Jerusalem in grafiese terme, en haal dan ook uitdruklik en by name hierdie profesie van Daniël aan (Mt 24:15; Mk 13:14). Dit bring vir ons meer lig.

Wanneer die gruwel van verwoesting (Gr. die gruwel gekenmerk deur verwoesting, of wat verwoesting veroorsaak) in die heilige plek staan (Mt 24:15, OAV; NIV), waar dit nie hoort nie (Mk 13:14), is dit die finale teken vir die Christene om na die berge toe te vlug.

“Heilige plek” dui dikwels op die tempel, maar is ook soms vir die stad, Jerusalem, gebruik  –  soos heel moontlik hier (D.A. Carson, Matthew, in The Expositor’s Bible Commentary, p.500).

Wie of wat is hierdie gruwel? Ons moet verder soek.

Lukas se weergawe van Christus se profetiese rede sê in soveel woorde dat die Christene moet vlug as hulle sien dat leërs Jerusalem omsingel (Lk 21:20). Die gruwel is dus die Romeinse leërs wat Jerusalem omsingel!

Hierdie Nuwe Testamentiese lig stel ons nou in staat om ons eksegetiese keuses met betrekking tot Dn 9: 27 te maak.

Die gruwelike verwoester dui op die Romeinse leërs wat Jerusalem en sy tempel sou kom vernietig.

Hierdie leër sou op die vleuels van gruwels kom  –  vinnig, onontkombaar en al verwoestende.

Die Bybel is deurgaans duidelik dat Christus ‘n finale einde kom maak het aan alle Joodse seremonies. So het God dit bestem. So sal dit bly!

‘N PAAR SLOTGEDAGTES

Mens staan verstom oor die akkuraatheid van hierdie woorde in Dan 9 as dit gebeure van 600 jaar later beskryf. Vers 26 sê nie gewoonweg dat ‘n regeerder die stad sal verwoes nie, maar onderstreep spesifiek dat dit die regeerder se volk sal wees.

Beskrywings van die gebeure in 70 n.C. bevestig dit. Toe die Romeine uiteindelik deur die stad se laaste skanse bars, het die steeds vegtende Jode teruggeval tot in die tempel as laaste vesting. Josefus beweer dan dat Titus, die generaal, die wonderskone tempel wou spaar, maar dat die troepe so woedend was dat hulle die oorblywende Jode meedoënloos afgemaai het, die tempel verbrand het, en die bouvalle gelykgemaak het met die grond.

Nog meer, inderdaad het die oorlog reg tot die einde toe gewoed.

In Mt 24:21-22 profeteer die Here Jesus oor die verskriklike ellende wat sal heers as Jerusalem vernietig word: “… in daardie tyd sal daar so ‘n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie. En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.”

Josefus, die Joodse historikus, se beskrywings van hierdie gebeure in 70n.C., bevestig dat Christus nie oordryf het nie  –  allermins.

Hierdie profesie van Daniël eindig op ‘n donker, morbiede noot. Maar dis nodig om te onthou dat dit eintlik ‘n Messiaanse profesie is  –  heerlik positief. Die doel van die dramatiese gebeure wat hier beskryf word, word in v.24 uiteengesit. Die tragedies wat hier voorspel word, sou bloot die slopings wees van instellings wat in die pad sou staan van die vervulling van die volle heil in Christus. En in elk geval sou die mense wat daaronder sou ly, dit oor hulleself bring.

Vir die Jood wat sy Messias sou aanneem, spel hierdie profesie nie die einde van alles uit nie, maar juis die begin van alles! (Rm 11:1-10). En vir die nasies  –  ook vir hulle spreek dit van ‘n onbeskryflik heerlike aanvang!

Ook die bewaringsverbond wat die Gesalfde met baie sou sluit, is wonderlik vervul. Die Here Jesus het Sy dissipels duidelik in Sy profetiese rede beveel om te vlug wanneer die leërs Jerusalem omsingel. En inderdaad is daar redelik betroubare oorleweringe dat die laaste Christene Jerusalem teen 68 n.C. verlaat het, so ongeveer teen die helfte van die beleg (Carson, p.501). Oorleweringe wil dit dan ook hê dat geen Christene in die beleg van Jerusalem gesterf het nie.

Laat ons nooit ophou nie om ons te verlustig in die feit dat Christus vrymaking van honderde Ou Testamentiese seremonies gebring het  –  seremonies wat ‘n swaar las op die mense was.

En nie alleen moet ons vasstaan in die vryheid wat Christus vir ons gebring het nie, ons moet onthou dat ‘n teruggryp na allerlei Ou Testamentiese, wettiese en uiterlike seremonies ‘n belediging vir Christus is. Trouens, veral die brief aan die Galasiërs waarsku ons baie ernstig dat dit ons die saligheid kan kos  –  want dit kom neer op ‘n miskenning van en ongeloof oor die volkome werk van die Verlosser.

Laat ons  –  gelowiges uit die heidene  –  nooit vergeet nie dat hierdie verharding en oordeel oor die Jode gekom het ter wille van óns redding (Rm 11:11-12; 17-21). Om jou dus te verlekker in die leed van die Jode  –  soos helaas al meermale in “die kerk” gebeur het, is gewoon om te toon dat jy min begryp van die grootse verlossingsdrama waarmee God in Christus besig is.

Les bes, en wonderliker as wat woorde kan uitdruk: God is nie klaar met die Jode nie! (Rm 11:11-16; 25-32). Wanneer die volheid van die heidene ingekom het, sal Hy weer Sy verlossingshand na hulle uitsteek. En hoe helder sal Sy liefdesgenade dan nie skitter nie  –  as Hy tóg hierdie eiesinnige, balhorige en wederstrewige klomp verbondsbrekers op ‘n ongekende skaal red  –  nie omdat hulle dit verdien nie (allermins!), maar omdat Een van hulle tog namens almal die verbond volmaak onderhou het.

VOETNOTAS

1.    Gabar in die Hifil: Om krag te gee; bekragtig; bevestig.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00