HANDELINGE 1:9-11

AS MENS NET DIE VIER EVANGELIES LEES, sou jy die afleiding kon maak dat die Bybel amper niks oor die hemelvaart van Christus sê nie. Net Markus en Lukas noem dit in hulle laaste verse  –  amper terloops (Mk 16:19; Lk 24:50-52).

Die volledigste beskrywing van die hemelvaart tref ons in Hd 1:9-11 aan. Dit het volgens Hd 1:3 veertig dae ná die opstanding plaasgevind.

DIE BESONDERHEDE VAN DIE HEMELVAART

Dit vind net buite Jerusalem plaas, by Betanië, teen die oostelike hange van die Olyfberg. Die groot opdrag is dus vroeër aan die dissipels gegee, aangesien dit in Galilea gebeur het (Mt 28:16-20). Maar hier op die Olyfberg beveel die Here Sy dissipels om in Jerusalem te gaan wag op die uitstorting van die Heilige Gees  –  wat hulle sou toerus om die groot opdrag uit te voer (Hd 1:4-8).

Dan, terwyl die Here Sy dissipels met uitgestrekte arms seën (Lk 24:50), word Hy in ‘n wolk in die lug opgeneem (Hd 1:9).

Terwyl die dissipels nog die lug instaar, staan daar skielik twee manne in wit klere by hulle  –  kennelik engele. Waarskynlik het die apostels dit onmiddellik begryp. Dis nie snaaks vir die apostels nie, aangesien engele reeds vantevore tydens gewigtige oomblikke in die lewe van die Here Jesus só verskyn het: Sy geboorte-aankondiging (Lk 1:26vv; 2:9-10, 13-15); in Getsemane (Lk 22:43); die aankondiging van Sy opstanding aan vrouens (Lk 24:4vv, 23).

Die engele vra dan ‘n indringende vraag: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk?” (11a). Dis duidelik ‘n ligte vermaning. Dit blyk nie net uit die vraag self nie, maar ook uit die beklemtoning dat die Here weg is na die hemel toe (die engele herhaal die begrip “hemel” drie keer).

Duidelik wil die engele die apostels se koppe draai. Die Here Jesus is nou weg. Nou wag daar groot werk op hulle. Hulle moet doelgerig vir die koms van die Heilige Gees gaan wag. En daarna, moet hulle besef, wag daar ‘n enorme taak. Die evangelie moet die hele wêreld ingedra word! Die oes moet ingesamel word!

Hoewel die res van die Nuwe Testament nie eintlik terugverwys na die gebeure daar op die Olyfberg nie, maak dit besonder baie van die feit dat Jesus Christus nou in die hemel is.

Reeds op die Pinksterdag verwys Petrus daarna (2:33). Die uitstorting van die Heilige Gees is te danke aan die feit dat Christus aan die regterhand van die Vader gaan sit het  –  die posisie van uitvoerende volmag.

Ook in die res van Handelinge is dit duidelik dat Christus se verhewe posisie in die hemel ‘n belangrike plek ingeneem het in die apostels se verstaan van die koms van die koninkryk (Hd 3:21; 5:31). In die laaste oomblikke voor sy marteldood put Stefanus krag uit die visioen van die verheerlikte Christus in die hemel. En vir seker kan die onvermoeide ywer van Paulus in die jare wat op sy bekering gevolg het, grootliks teruggevoer word na sy ontmoeting met die verheerlikte Jesus op die Damaskuspad.

In Paulus se briewe kom sy intense bewustheid van die verhoogde Christus se betrokkenheid by die verbreiding van die evangelie en die welsyn van die kerk weer en weer na vore (vgl. o.a. Rm 10:6-7; Ef 1:20; 4:9-10; Fl 2:6-11; 3:20; Kol 3:1; 1Ts 1:10; 2Ts 1:7; 1Tm 3:16).

Nêrens in die Nuwe Testament neem die hemelvaart en troonsbestyging van die Here Jesus so ‘n fundamentele plek in, as in die Hebreërbrief nie. Reg aan die begin word Hy voorgehou as die Een wat “gaan sit het aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel” (1:3). Oor en oor daarna word gewerk met die feit dat Hy verhoog is bo die hemele en aan die regterhand van God in die hemel gaan sit het (4:14; 7:26; 8:1; 9:24; 10:12; 12:2).

Dan, uiteindelik, het die hele Openbaringboek as uitgangspunt die Here Jesus se verhoogde en verheerlikte status.

DIE BETEKENIS VAN DIE HEMELVAART IN ‘N NEUTEDOP

As oorwinnaar oor die dood is die Here Jesus die Eersteling onder baie broeders. Maar as Hy dan opvaar na die hemel, voer Hy die triomf van die opstanding verder. Nou betree Hy ‘n nuwe fase van Sy middelaarswerk namens die mense wat die Vader aan Hom toevertrou het. Nou word Hy die verheerlikte Profeet, Priester en Koning wat oor die volgende eeue die koms van die koninkryk van God sal oorsien en bestuur.

As groot Profeet sal Hy die verkondiging van die evangeliewoord voortstu  –  sodat die nasies die evangelie kan hoor, en Sy gemeente opgebou kan word in die allerheiligste geloof.

As groot Priester sal Hy voortdurend voorspraak by die Vader doen vir Sy gemeente op aarde.

As groot Koning sal Hy die harte van dermiljoene oorrompel, sodat hulle Hom liefhet en dien met elke greintjie krag waaroor hulle beskik. En so sal Hy, met Sy dissipels as instrumente, die koninkryk van die Satan stelselmatig plunder en terugdryf.

TWEE NOODSAAKLIKE AKSENTE

Die herhaling van die feit dat Jesus na die hemel opgevaar het (4 maal in Hd 1:10-11)  –  veral die geïmpliseerde vermaning in die engele se vraag  –  beklemtoon ‘n belangrike beginsel: Apostels (en navolgers van die Here Jesus) moenie bloot hemelkykers word nie!

Waarom nie? Daar is twee redes voor.

Jesus gaan weer terugkom (11b)

Opkyk in die hemel sal Jesus nie terugbring nie. Nee, hulle moet Hom laat gaan. Een hoofstuk in die uitwerk van God se raadsplan is nou afgesluit; ‘n volgende een begin nou. Wat agter is, moet hulle nou agter laat.

Dit beteken nie hulle hoef te wanhoop nie. Hulle sal Hom weer sien. Hy sal wel weer netso terugkom.

Let op die beklemtonings: “hierdie Jesus” en “sal net so terukom”.

Dit sal dus presies dieselfde Jesus wees  –  wat onmiskenbaar impliseer dat Sy wederkoms persoonlik sal wees. Hy sal steeds die mens Christus Jesus wees, met dieselfde verheerlikte liggaam as waarmee Hy vertrek het.

Dit sal ook weer sigbaar gebeur. Menslike oë sal dit kan sien. Meermale word dit in die Skrif beklemtoon.

En dit sal weereens in heerlikheid geskied. Die wolk wat die Here bedek, is waarskynlik simbolies van God se heerlikheid (so is dit oor en oor in die Ou Testament).

Maar ons moenie die ooreenstemmings tussen hemelvaart en wederkoms oorspan nie. Ons moenie dink aan ‘n film-opname van die hemelvaart wat bloot agteruit gespeel word nie. As ons Skrif met Skrif vergelyk, is dit duidelik dat daar ook verskille sal wees.

Hoewel Christus persoonlik sal terugkom, beteken dit nie dat dit, soos destyds, privaat sal wees nie. Die hele wêreld sal op een of ander manier Hom sien kom (Op 1:7).

En hoewel Hy alleen vertrek het, sal Hy deur miljoene vergesel word as Hy terugkom  –  sowel mense as engele (Lk 9:26: met al Sy heilige engele; 1Ts 4:14vv: met al die ontslape heiliges; 2Ts 1:7: saam met Sy magtige engele).

Daar lê enorm baie werk voor

Die Nuwe Testament beklemtoon dat die Here Jesus die Groot Opdrag gee kort voor die hemelvaart. Daarom, om na die hemel te staan en opkyk, sal nie die nasies laat hoor nie! Die aarde, en nie die hemel nie, moet die dissipels se fokuspunt word. Hulle moenie nostalgies opwaarts staan en kyk nie, maar hartstogtelik en liefdevol uitwaarts.

Presies dieselfde geld vir ons. Ja, ons moet die dinge bedink wat daarbo is (Kol 3:2). Maar ‘n ongesonde en eensydige beheptheid met die hemel lê ons lam in die uitvoering van ons roeping. Sommige is so besig met onvervulde profesieë, dat hulle nie by die uitdra van die evangelie uitkom nie. Christus sál kom  –  vir seker  –  maar intussen het ons groot werk om te doen. Tewens, voordat ons nie hierdie werk afhandel nie, sal Hy nie terugkom nie (Mt 24:14).

Die engele se woorde kom dus hierop neer: Julle het Hom sien gaan. En julle sal Hom sien terugkom. Maar tussen Sy vertrek en Sy koms moet daar baie gebeur: die Gees moet kom en julle moet gaan  –  die hele wêreld in.

Sê ons dan nie dikwels nie: “ons moet leef in die lig ewigheid”? Inderdaad. Maar, let wel, ons moet lééf in die lig van die ewigheid. Daar is geen beter manier om vir die ewigheid voor te berei as gehoorsaamheid aan die Here Jesus, hier en nou nie. En watter opdrag van Jesus dra meer gewig as die Groot Opdrag?

Lees mens Hd 1, lyk dit of die apostels twee denkfoute begaan het  –  eintlik twee teenoormekaarstaande foute.

Eerstens was hulle steeds ingestel op politieke mag (die herstel van die koninkryk van Israel, v.6).

Tweedens word hulle in ons teks gewaarsku teen ‘n ongesonde en ongebalanseerde beheptheid met die hemelse Jesus.

Beide is eensydige en valse aksente.

Die een het te doen met ‘n ongesonde piëtisme, wat beswaarlik verder kom as drome oor die hemelse heerlikheid wat op ons wag. So ‘n aksent is te hemels. “We can be so heavenly-minded, that we are no earthly good!”

Die ander het te doen met ‘n verpolitisering van die evangelie. Dit droom oor die daarstelling van ‘n aardse Utopia. Dis te aards. “We can be so earthly minded, that we are no heavenly good!”

Net soos die Here Jesus aan die begin van Sy werk hier op aarde in die woestyn Sy rug moes draai op valse bedieningsgerigthede (Lk 4:1-13), moes die apostels (en daarna deur die eeue wat sou kom die gemeente van Christus) hulle rug draai op sowel ‘n wêreldgelykvormige aktivisme én op wêreldvreemde piëtisme.

Nee, laat ons as burgers van die hemelse koninkryk binne-in hierdie wêreld ons roeping uitleef, terwyl ons steeds voor oë hou: daar is ‘n aardse taak; en daar is ‘n hemelse bekragtiging. Daar is ‘n wêreldse roeping, en daar is ‘n hemelse loon. Daar is ‘n inspanning en swaarkry hier en nou, en daar is ‘n salige heerlikheid in die eeue wat kom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00