ROMEINE 16:1-16

IN HIERDIE VERSE STUUR PAULUS GROETE AAN ‘N STUK OF TWEE DOSYN BROERS EN SUSTERS. In die meeste gevalle voeg hy ook ‘n waarderende opmerking by. Kennelik het hy sy broers en susters in die Here lief. Duidelik is hy ook deeglik bewus van die verskeidenheid gawes en persoonlikhede in die gemeente. Hy weet dat niemand meer- of minderwaardig is in die liggaam van Christus nie.

Hierdie eenheid, ten spyte van verskeidenheid, beleef mens op ‘n merkwaardige wyse in elke ware gemeente van Christus. Maak nie saak waar of wanneer nie, ware gelowiges raak eenvoudig gou-gou verknog aan mekaar.

Maar dit geld nie net in die plaaslike gemeente nie. Anders as hierdie wêreld se groot godsdienste, wat almal tot ‘n mate kultuur- en streekgebonde is, bestaan die kerk van die Here uit mense van elke nasie, stam, volk en taal. Tog ervaar jy ‘n onmiskenbare eenheidsband as jy kontak maak met Christene van ander kulture.

VERSKEIDENHEID IN DIE KERK IN ROME

RASSEVERSKEIDENHEID

In hierdie gemeente het Jood en nie-Jood saam aanbid. Ons weet dat Akwila, en dalk ook Priscilla, Joodse Christene was (3). Dan praat Paulus ook van Andronikus en Junias as stamgenote (7), asook van Herodion (11). En na alle waarskynlikheid was meer as een van die res ook Jode.

Uiteraard was die meerderheid in die gemeente sekerlik Romeine, Grieke en van ander nasies.

Watter taal het hulle gepraat? Gewis het die Jode soms Aramees met mekaar gepraat. En daar is seker dikwels Latyn gepraat. Maar die lingua franca van die Romeinse Ryk was Grieks  –  die taal waarin Paulus  hier skryf. Op die dag van die Here het dit seker daar soos die toring van Babel geklink.

STATUSVERSKEIDENHEID

Ampliatus (8), Urbanus (9), Hermes (14), Filologus en Julias (15) was algemene name in die slawegemeenskap.

Maar hier word ook name genoem van mense wat moontlik in hoë kringe beweeg het. Baie kommentatore reken dat Aristobulus (10) dalk die kleinseun van Herodus en ‘n vriend van keiser Claudius was. Sommige dink ook dat Narsissus (11) die bekende, ryk en invloedryke man was wat baie inspraak in Claudius se lewe gehad het.

Weliswaar sê die teks nie uitdruklik dat hierdie twee mans Christene was nie. Die uitdrukking wat Paulus in beide gevalle gebruik, “van die huis van”, kan óf beteken dat huisgemeentes in hulle huise bymekaar gekom het, óf dat die betrokke mense slawe in hulle huishoudings was.

Miskien moet ons hier ook die interessante geval van Rufus (13) noem. Baie moontlik was hy die seun van Simon van Sirene, die man wat die Here Jesus se kruis help dra het na Golgota toe (Mk 15:21). Markus, wie se evangelie óf in óf vir Rome geskryf is, is die enigste evangelis wat noem dat Simon twee seuns gehad het, Aleksander en Rufus. Hy doen dit op so ‘n wyse dat dit duidelik is dat hierdie twee seuns baie bekend was onder die Christene. Hy bied hulle nie aan as Simon se seuns nie, maar hy bied Simon aan as hulle pa.

Paulus het hierdie gesin duidelik goed geken. Hy noem Rufus se ma ook sý ma.

GESLAGSVERSKEIDENHEID

Wat sommige van die name betref, is dit onseker of dit dié van mans of vrouens was.

Bes moontlik was agt van die vier-en-twintig mense wat Paulus in v.5-16 noem, vrouens. Kennelik het die apostel ‘n hoë dunk van hulle almal gehad.

Vier van hulle word uitgesonder as harde werkers vir die Here  –  Maria (7), Trifena, Trifosa en Persis (12). Elke keer gebruik hy ‘n sterk werkwoord (Gr. kopiao) wat dui op harde, inspannende arbeid. Presies wat die aard van hulle dienswerk was, noem hy egter nie.

Duidelik was die apostel nie die manlike chauvinis waarvoor hy so dikwels uitgekryt word nie.

Andronikus en Junias (7) was waarskynlik ‘n egpaar. Oor hulle sê Paulus 4 dinge.

Een, hulle was volksgenote, dus Jode.

Twee, hulle was op ‘n stadium saam met hom in die tronk, en het kennelik geweet wat dit beteken om vir jou geloof te ly. Mens kan dink hoe dit Paulus en hierdie twee saamgebind het.

Drie, hulle het voor hom Christene geword.

Vier, hulle was hoog aangeskrewe by die apostels. Die OAV vertaal letterlik: “wat in aansien is onder die apostels”. Hierdie uitdrukking kan op verskillende maniere vertolk word. Vanselfsprekend beteken dit nie dat hulle self apostels was nie. Dan bly daar nog twee moontlikhede oor. Dit kan beteken dat hulle hoog geag is deur die apostels (NAV). Taalkundiges reken egter dat so ‘n vertaling die Grieks ietwat onder spanning plaas. Die ander en meer waarskynlike moontlikheid is dat hulle baie gerespekteerde sendelinge was. Die betrokke woord (Gr. apostolos) wat meestal in die Nuwe Testament die tegniese betekenis het van ‘n apostel van die Here Jesus, kan ook gewoon net dui op iemand wat as sendeling uitgestuur is om die evangelie aan die onbereiktes te gaan verkondig (of om ‘n ander taak te verrig). So was Epafroditus ‘n apostolos van die gemeente in Filippi (Fl 2:25).

DIE EENHEID VAN DIE KERK IN ROME

In hierdie verse is daar verskeie aanduidings dat die Christene in Rome se eenheid bo hulle verskeidenheid uitgestyg het. In hierdie kosmopolitiese hoofstad van die Romeinse ryk was Paulus se uitspraak in Gl 3:28 waarskynlik meer van ‘n realiteit as op baie ander plekke: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”

In v.1-16 beskryf Paulus sy vriende 4 maal as “in Christus” (3, 7, 9, 10; OAV); 5 keer as “in die Here” (8, 11, 12, 12, 13; OAV). Hierdie uitdrukking het vir die apostel in die hart gelê van wat dit beteken om gered te wees. As sodanig kan hy geen sterker woorde gebruik om aan te toon dat hy die Christene in Rome as medegelowiges aanvaar nie.

Daarbenewens het ons hier die fundamentele beginsel van Christelike eenheid. Die ononderhandelbare voorvereiste daarvoor is dat die betrokke mense deur ‘n ware geloof met Christus verenig sal wees. As mense nie in Christus is nie, kan hulle oor baie dinge roerend eens wees  –  maar dis nie Christelike eenheid nie. Maar as hulle waarlik in Christus is, sal hulle, verskille ten spyt, ‘n onmiskenbare aangetrokkenheid tot mekaar ervaar.

Twee keer gebruik Paulus die intieme gesinstaal van “broer” en “suster” (1, 14). Dis ‘n belydenis dat God hulle almal se Vader is, en daar dus geen statusverskil tussen hulle is nie.

Voorts val dit op dat hy nie skaam is om die Christene in Rome “geliefdes” te noem nie (5, 8, 9, 12; OAV). Dis ‘n beskrywing van intimiteit, van verknogtheid en van toewyding.

Twee keer noem hy van hulle sy “medewerkers” (3, 9). Twee keer verwys hy na diegene wat saam met hom gely het (4, 7).

As daar twee dinge is wat mense se harte saambind, dan is dit hierdie twee dinge  –  om saam te werk en saam te ly, veral as dit vir die Here is.

Van Epenetus word gesê dat hy “die eerste bekeerling vir Christus in Asië” was (5).

Heel moontlik is hy deur Paulus self na die Here gelei. Paulus sê hy is die “eersteling” (OAV) (Gr. aparche). Dis ‘n begrip vanuit die Ou Testament en dui op die eerstelinggerf van die oes wat aan die Here geoffer is. Paulus het sy bekeerlinge as offers vir die Here gesien; nie as trofeë nie. Vir hom was God se eer altyd voorop.

Hoe het die eenheid van die ryklik geskakeerde kerk in Rome prakties tot uitdrukking gekom? Ons weet uiteraard nie presies nie. Dit lyk wel of hulle in huisgemeentes bymekaar gekom het  –  in elk geval soms (5). Dit was immers die dae voor kerkgeboue.

Miskien was sommige groepe meer Joods as ander, en omgekeerd. Dalk het sommige meer vooraanstaande lede gehad as ander, afhangende van die buurt waar hulle gewoon het.

Indien daar sulke huisgemeentes was, was hulle sekerlik oor die stad versprei  –  waar hulle ook al gewoon het en waar daar plek was om bymekaar te kom. Elke huisgemeente sou gewis op sy eie tyd en manier vergader het. Elke gemeentetjie sou spontaan soos ‘n kudde hulle eie herders gevolg het. Tog was daar duidelik onderlinge kontak en gemeenskap. Dis waarom Paulus net een brief stuur. Enige huisgemeente wat dit sou kry, sou dit sekerlik met almal deel.

DIE HEILIGE SOEN

“Groet mekaar met ‘n heilige kus” (OAV), is Paulus se slotwoorde (16).

Van die stuk of drie dosyn “mekaar”-tekste in die Nuwe Testament, is hierdie die mees algemene een (Rm 16:16; 2Kor 13:12; 1Ts 5:26; 1Pt 5:14).

Ons vind dit ook by die kerkvaders. Justinus die Martelaar skryf: “As ons klaar gebid het, groet ons mekaar met ‘n heilige kus.” Tertulianus noem dit “die soen van vrede”.

Wat was dit? Dit was waarskynlik ‘n soen op die wang of voorkop  –  ook tussen mense van die dieselfde geslag. Sekerlik hoef ons dit nie slaafs na te volg nie. Waarom dit gaan, is ‘n sigbare en tasbare uitdrukking van wedersydse waardering en liefde. En so iets wissel uiteraard van tydvak tot tydvak en kultuur tot kultuur. Laat ons dus met vrymoedigheid mekaar soen, maar ‘n handdruk, of ‘n druk om die skouers sou ewe goed kon wees.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

Die Woord van God bevat dosyne opdragte vir ons as gemeente, maar wat hier in Rm 16 na vore kom, moet ons altyd as van die grootste belang ag.

Die Here word wonderlik verheerlik deur ons verskeidenheid. Wys my enige groepering in die wêreld wat daarmee kan vergelyk. Dwarsdeur die ongelowige samelewing geld die beginsel:soort soek soort. Maar in die gemeente het ryk en arm, oud en jonk, geleerd en ongeleerd, wit en swart mekaar lief. En ons is grootliks onbewus van ons verskille  –  want dit maak nie saak nie. Immers is Jesus Christus in die middelpunt van ons aandag. Waarlik, net die Here kan so ‘n eenheid ten spyte van verskeidenheid bewerkstellig!

Laat die geleerdes onder ons dus soos kinders wees in die geloof, en die ongeleerdes verstandig in die waarheid van die Here. Laat die rykes nie te veel hê nie  –  omdat hulle so ryk is in uitdeling  –  en die armes gevolglik nie te min nie. Laat diegene wat ryp is in die weë van die Here verstaan dat godsvrug uitnemend tot uitdrukking kom in diensbaarheid, en laat die onervare dissipels weet dat selfs húlle die gedagtes van die Here ken (1Kor 2:16).

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00