GENESIS 2:9; 16-17
Uiters belangrike sleutels vir die verstaan van die res van die Bybelboodskap is reeds in Gen 1-3 te vind. Een daarvan is die werkverbond tussen God en mens (Gn 2:9, 16-17).
‘N OORSIG OOR DIE WERKVERBOND
Definisie: Die werkverbond is die verbond tussen God en Adam, as verteenwoordiger van sy ganse nageslag, wat belowe het dat gehoorsaamheid, deur nié te eet van die boom nie, beloon sou word met die ewige lewe, en dat ongehoorsaamheid gestraf sou word met die ewige dood. Laasgenoemde het helaas gebeur, soos ons maar te goed weet.
Die woord “verbond” word nie in Gn 1-3 gebruik nie, maar Hos 6:7 noem Adam se sonde verbondsverbreking.
Voorts is al die elemente van ‘n verbond teenwoordig in die verstandhouding tussen God en Adam: een, die twee partye (God en mens); twee, die voorwaarde vir verbondsinstandhouding (onthouding van die boom van kennis van goed en kwaad); drie, die straf vir ongehoorsaamheid; vier, die belofte en loon vir gehoorsaamheid.
DIE STRAF VIR ONGEHOORSAAMHEID
Die res van God se Woord maak vir ons duidelik dat die dood wat as straf vir verbondsontrou sou intree, 3 komponente het: die fisiese dood wat oor ‘n tydperk sou intree soos die liggaam verouder en uiteindelik sterf; die geestelike dood wat onmiddellik sou intree; en die ewige doodwat permanente geskeidenheid van God en smarte sou meebring.
Die Skriftuurlike idee oor die dood is ten diepste nie bestaansbeëindiging nie, maar geskeidenheid van die bron van die lewe, en die ellende wat daaruit voortvloei. Dit beteken dus om van God afgesny te word – en presies so het Adam en Eva dit ervaar.
DIE LOON VIR GEHOORSAAMHEID
Dit is so dat dat hierdie loon (die ewige en onsterflike lewe in volkome gemeenskap met God) nie eksplisiet genoem word nie, maar dit word duidelik geïmpliseer deur die alternatief van die dood wat in die geval van ongehoorsaamheid sou intree. As die mens nie sou eet nie, sou hy nie sterf nie, maar bly lewe. Maar dit kon nie bloot die lewe wees wat hy tot op daardie stadium geniet het nie. Dit sou beswaarlik as loon kon dien. Nee, dit moes iets méér wees. En so bevestig die res van die Skrif dit vir ons.
Dit lê voor hande dat die proefgebod nie ‘n permanente reëling was nie, maar net vir ‘n bepaalde tydperk sou gegeld het. Daar moes immers ‘n punt kom waar gesê kon word dat die mens homself as gehoorsaam bewys het, en dus uiteindelik vir die loon kwalifiseer. Hoe lank die proefgebod in plek sou wees, weet ons egter nie.
Die geheimenisvolle “boom van die lewe” in ons teks is sekerlik ‘n sleutel om iets meer van die loon te verstaan. Alles dui daarop dat die eet van hierdie boom die ewige lewe sou verwerklik.
Dit is waarom Adam en Eva ná hulle sonde uit die paradys gesit is. As hulle nóú van hierdie boom sou eet, sou hulle wel tot in ewigheid lewe – maar in hul gevalle toestand (Gn 3:22-24).
Hierdie boom van die lewe word uiteindelik weer in Openbaring genoem (2:7; 22:1-2; vgl. ook Eseg 47:7, 12). Dit dra elke maand vrugte en is tot genesing van die nasies. Sonder twyfel is dit een van Openbaring se wonderlike simbole van die ewige lewe wat aan herskepte oorwinnaars in Christus belowe word.
DIE VERHOUDING TUSSEN GOD EN MENS
Nadat God die verbond ingestel het, was daar ‘n tweeledige verhouding tussen Hom en die mens.
Eerstens was daar hulle natuurlike verhouding – die tussen Skepper en skepsel. En omdat die mens sy hele wese en alles waartoe hy in staat was, van God ontvang het, kon daar geen sprake wees van enige aanspraak op loon vir sogenaamde verdienste nie. As hy iets goed of reg sou gedoen het, sou hy bloot kon sê: ek is ‘n onverdienstelike slaaf; ek het net my plig gedoen.
Maar met bloot só ‘n verhouding wou God nooit volstaan nie. Daar was dus, in die tweede plek, ook hulle verbondsverhouding. God wou ook ‘n liefdevolle Vader wees; Hy wou ‘n vriendskapverhouding hê; Hy wou Hom verheug in die welsyn en geluk van Sy afhanklike skepsel. Presies dit is waarom Hy die werkverbond instel – dit moes uitloop op die heerlikste loon.
Hier in Genesis lyk dit egter of God se plan klaelik misluk het.
DIE PROEFGEBOD
Nooit sou die mens God kan verwyt dat die proefgebod onmoontlik moeilik was nie. Dit was ‘n perfekte toets vir die mens se gehoorsaamheid. Dit was eenvoudig en maklik verstaanbaar. Dit was vlymskerp gedefinieer, sodat geen twyfel oor gehoorsaamheid, al dan nie, kon ontstaan nie. Dit was maklik onderhoubaar – onthouding was ál vereiste. Gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid, sou ‘n besliste wilsbesluit vereis.
Die enigste vraag was: sou Adam hierdie gebod, wat op die oog af so onsinnig gelyk het, gehoorsaam omdat God so gesê het, of sou hy sy eie kop volg. Die vraag was dus wie die botoon in Adam se hart sou voer – God of self. En inderdaad is dit bo alle twyfel uitgewys.
Die proefgebod het die geregtigheid van God in Sy oordele bo alle twyfel gestel. Wie durf Hom van onregverdigheid aankla? Adam is uitdruklik gewaarsku. Die toets was eenvoudig, duidelik en maklik. En die oortreding daarvan was die gevolg van sy eie besluit. Op geen wyse is hy geforseer om te sondig nie.
DIE TWEEDE MENS, DIE LAASTE ADAM
Is die werkverbond na die sondeval steeds geldig? Die antwoord is ja en nee.
Dis noodsaaklik om te onthou dat, soos wat Adam namens sy hele nageslag opgetree het, Christus later namens al die mense opgetree het wat deur die Vader aan Hom toevertrou is.
Dit word onmiskenbaar duidelik in Rm 5:12-21, waar Adam en Christus aan ons voorgehou word as hoofde van die onderskeie menshede wat hulle verteenwoordig (sien ook 1Kor 15:45-47).
Dus, ja, die werkverbond is steeds in plek.
Eerstens verkeer die gevalle mensheid steeds onder God se toorn. Daarom moes die Here Jesus, ten einde my te red, elkeen van my sondes op Homself neem en elke krieseltjie straf daarvoor verduur. Hierdie werk van Hom staan in die teologie bekend as Sypassiewe gehoorsaamheid.
Tweedens moes Christus as verbondshoof van die nuwe mensheid absoluut gehoorsaam wees aan God. En hierdie aktiewe gehoorsaamheid van Hom – soos die teologie dit noem – word dan toegereken (Gr. gekrediteer) aan elkeen wat glo. As sodanig is dit dan die grond van my redding. God vereis immers steeds volmaakte gehoorsaamheid – die oorspronklike voorwaarde vir ewige geluksaligheid. Dus, nie mý gehoorsaamheid nie, maar Christus s’n – dít verleen aan my die ewige lewe.
Maar in ‘n ander sin geld die werkverbond nie meer nie. Daar is nie meer ‘n boom waarvan ons nie mag eet nie. En niemand kan meer op grond van eie gehoorsaamheid gered word nie. Afgesien daarvan dat ons nie daartoe in staat is nie, sit elke mens van nature met die erfskuld wat aan Adam se nageslag toegereken is. Daarom was ‘n verdere verbond, die sogenaamde genadeverbond nodig.
WAT SÊ DIT VIR ONS?
Ons redding geskied volgens onkreukbare geregtigheidsbeginsels.
God het geen baantjies vir boeties nie. Sy heilige standaarde word nie vir die uitverkorenes opgehef nie. Ons sonde word nie bloot oorgesien nie.
Kom ek herhaal wat ek gesê het toe ons na die verlossingsverbond gekyk het: my redding is nie ‘n bloot arbitrêre, naïewe guns wat uit jammerte aan my betoon word nie. Nee, dis ‘n hoogs ordelike, logiese, formele, juridies-korrekte gebeurtenis. Waarlik, God is ‘n God van onkreukbare geregtigheid. Wie sal Hom beskuldig van dubbele standaarde en inkonsekwentheid?
Let op God se wonderlike goedheid: Hy het geweier om op te gee met die mens.
Nie alleen het Hy die werkverbond ingestel waardeur die mens sy geluksalige toestand in die tuin verder kon verbeter nie, maar selfs nadat hy hierin misluk het, kom God vorendag met ‘n nóg beter verbond – die genadeverbond! Waarom beter? Dit is “op uitnemender beloftes gegrond” (Hb 8:6). Nou is dit onomkeerbaar begrond in wat God self en alleen doen. Soos Petrus dit stel: ons word “deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word” (1Pt 1:5).
Let op die skrikwekkend-tragiese toestand van die ongelowiges.
Hulle bly steeds in Adam, is steeds in die ewige dood en bly onder die vloek van die werkverbond.
Hoe diep die sondeval gesny het, blyk uit hulle halstarrige weiering om na Christus toe te kom. Dis omdat hulle hierdie dinge nie glo nie. Maar die realiteit van ons tema is onmiskenbaar duidelik vir enigeen wat wil dink. Wie kan die feit van die gevalle mens se ongeneeslike sondegeneigdheid en die fisiese dood ontken? En hoe radikaal verander mense nie wanneer hulle werklik die oorgang uit Adam in Christus in maak nie?
Mag ek diegene van julle wat nog nie in Christus is nie oproep om dadelik in Hom in te vlug. Erken jou gevallenheid, glo die goeie nuus van die evangelie, omhels die Here Jesus as enigste Saligmaker, en bewys jou geloof deur jou van harte te bekeer.
Let op die tevergeefsheid van godsdiens.
As die mens in sy volmaakte toestand voor die sondeval nie eers die eenvoudige proefgebod kon onderhou nie, watter kans staan ‘n gevalle mens om met moraliteit só uit te styg dat God nie anders kan as om hom te red nie! As daar ooit ‘n oefening in futuliteit was, dan is dit die miljoene godsdienstiges van dié wêreld se pogings om met goeie werke en religieuse seremonies God te beïndruk.
Nee, die toegang na die boom van die lewe word steeds deur gerubs bewaak. Daar is maar één manier om die vrug van die ewige lewe te geniet – deur “die deur van die skape” (Jh 10:7, 9).
Let op wat op ons wat in Christus is, wag.
Dink aan wat die mens voor die sondeval geniet het. Die mooiste van alle tuine was sy tuiste, en hy kon van bykans al die bome eet. Hy was volkome heilig en draer van God se beeld. En hy het die mees intieme gemeenskap met die lewende God geniet.
Dit, en baie, baie meer wag op ons. En omdat ons vrylik sal kan eet van die boom van die lewe wat voortdurend vrug dra, sal ons die welgeluksalige lewe nooit meer kan verloor nie – want ons sal nie meer kán sondig nie, tot in ewigheid.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier