{PS 2:7-9 (OAV); HD 13:32-33}; {PS 40:7-9; HB 10:5-10}

AS ONS BESIN OOR WAT DIE DRIE-ENIGE GOD OOR HOMSELF AAN ONS OPENBAAR, kom ons baie spoedig daarby uit dat Hy ‘n God van verbond is. Dis ‘n tema wat soos ‘n ruggraat dwarsdeur die Bybel loop  –  van begin tot end. Waarlik, mens ken God nie soos jy moet, tensy Sy verbondskarakter voorop in jou denke oor Hom is nie.

Dit is nuttig, en ook gebruiklik, om te dink in terme van drie onderling samehangende en onskeibare verbonde in die Bybel. Eerstens, die Verlossingsverbond tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid, toe Hulle ooreengekom het om hulleself te verheerlik deur die genadige redding van die mens. Tweedens, die Werkverbond tussen God en die mens waarvolgens die mens aan God se verbondsvoorskrifte moet voldoen ten einde die finale loon te verkry wat aan hom voorgehou word. Derdens, die Genadeverbond tussen God en die gevalle mens wat in terme van die werkverbond misluk het. Hiervolgens word mense gered  –  uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur hulle geloof alleen sonder enige verdienste aan hulle kant.

DIE VERLOSSINGSVERBOND

Soos reeds gesê, is hierdie verbond gesluit tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid. En dit gaan oor iets wat hulle ter wille van Hulleself doen.

Tradisioneel word soms na hierdie verbond verwys as die vredesraad van God (Lat.Pactum Salutis). 1

Baie duidelik leer God se Woord dat die verlossingsplan inbegrepe is in God se ewige raadsplan. Ons volstaan met twee verwysings.

Ef 1:3-6 (OAV): “Geseënd is die God en Vader … wat ons geseën het … in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde”.

En 2Tm 1:9 sê dat God op grond van Sy eie besluit van ewigheid af genade aan ons geskenk het in Christus Jesus  –  nie op grond van ons dade nie.

Voorts is daar onmiskenbare Skrifuitsprake oor ‘n taak wat deur die Vader op die Seun gelê is voor Sy menswording, sowel as beloftes wat aan Hom gemaak is. In Jh 6 sê die Here Jesus dat Hy nie ter wille van Homself gekom het nie, maar om die Vader se wil te doen  –  naamlik om elkeen wat die Vader aan Hom toevertrou het uiteindelik op die laaste dag te laat opstaan (Jh 6:37-40).

In Sy hoëpriesterlike gebed verwys die Here oor en oor na Sy taak om die ewige lewe te gee aan die mense wat aan die Vader behoort het, en toe vir Hom gegee is (Jh 17:2, 6, 9, 24; ook Jh 5:30, 43; 10:26-30).

In Rm 5:12-21 en 1Kor 15:22 word dit uitdruklik gestel dat Christus as verteenwoordigende Hoof optree van diegene wat gered word.

Waar daar partye is wat ooreenkom om sekere dinge vir mekaar te wees en te doen, waar beloftes van beloning gemaak word, en waar voorwaardes geld vir die vervulling van die beloftes  –  daar is ‘n verbond.

In Ps 2:7-9, wat deur die Nuwe Testament as Messiaans verklaar word (Hd 13:33; Hb 1:5; 5:5), is daar ‘n besluit (NIV: “the decree”), partye (die Vader en die Seun), sowel as ‘n belofte (die nasies as erfdeel en die eindes van die aarde as besitting).

In Ps 40:7-9, wat nogeens deur die Nuwe Testament as Messiaans verklaar word (Hb 10:5-10), is daar weer ‘n baie formele besluit (dis in ‘n boekrol opgeteken). Hiervolgens belowe die Seun om die wil van die Vader te doen  –  om Homself as vervanging van al die Ou Testamentiese offers, waarin die Vader in elk geval geen behae het nie, te offer. Ter wille waarvan doen Hy dit? Sodat ons eens en vir altyd vir God afgesonder kan word deurdat Hy werk maak van ons sondeskuld.

En wat is die loon wat die Seun sal ontvang vir suksesvolle afhandeling van die taak? Die Vader “bemaak” aan Hom ‘n koninkryk (Lk 22:29). Hierdie werkwoord (Gr. diatithemi) is betekenisvol. Dis na verwant aan die woord vir verbond (Gr. diatheke), en beteken om in ‘n testament of verbond iets aan iemand te bemaak. En wat is hierdie koninkryk? Die mense wat die Vader vir Hom gegee het!

Volgens die Nuwe Testament het Jesus Christus veral twee funksies in die uitwerk van die verlossingsverbond.

Eerstens is Hy die “Borg” (Hb 7:22). ‘n Borg staan daarvoor in dat ‘n ander se wetlike verantwoordelikhede nagekom word. In die verlossingsverbond het die Seun vir die sonde van Sy mense versoening gedoen, en só het Hy die vereistes van God se wet namens hulle vervul.

Tweedens word Hy die Verbondshoof van die mense wat Hy verlos. Soos wat Adam die hoof is van die oorspronklike mensheid en hy hulle verteenwoordig, so verteenwoordig Christus die nuwe mensheid. Hy tree namens hulle op. Daarom word Hy in 1Kor 15:45-47 genoem “die tweede mens”, “die laaste Adam” (vgl. ook Rm 5:12-21).

Ons kan die rol en taak van die Seun in die verlossingsverbond dus só opsom: As Borg en Hoof van Sy mense moes Hy namens hulle, eerstens, hulle sondeskuld kom vereffen, en, tweedens, kom doen wat hulle nie kon nie, naamlik om God se wet volmaak te onderhou  –  sodat hulle kan kwalifiseer vir die ewige saligheid.

Dit het ‘n paar dinge behels:

Die Seun moes volkome mens word. Daarom was dit nodig dat Hy uit ‘n vrou gebore word en Homself onderwerp aan al die beperkthede van menswees  –  uitgesonder die sonde (Gl 4:4-5; Hb 2:10-11, 14-15; 4:15).

Hy, wat as Seun van God verhewe was bo die wet, moes Homself onder die wet kom plaas  –  sodat Hy die straf vir Sy mense se oortredinge kon betaal (Mt 5:17-18; Fl 2:6-8).

Hy moet die vrug op Sy werk in Sy mense se lewens tot vergestalting bring. Dit doen Hy deur die werk van die Heilige Gees. Só verheerlik Hy die Vader en Homself. Dit bring mee dat die realiteit van redding duidelik sigbaar word in mense lewens (Jh 10:16; 17:19-22; Hb 2:10-13; 7:25).

Volgens die verlossingsverbond het die Vader uiteraard ook ‘n rol om te speel. Hy het immers sekere beloftes aan die Seun gemaak.

Hy het ‘n liggaam vir die Seun berei  –  sodat Hy (die Seun) as volkome mens onder ons kon leef en namens ons kon sterf, maar onbesoedel deur enige sonde (Lk 1:35; Hb 10:5).

Hy het die Seun toegerus met al die nodige gawes om Sy taak te volvoer. Spesifiek het Hy die Heilige Gees sonder maat aan Hom gegee  –  ‘n belofte wat in die besonder tydens die Here Jesus se doop vervul is (Jes 42:1; 61:1; Jh 3:31).

Hy het die Seun verlos van die krag van die dood, en Hom sodoende in staat gestel om die mag van die Satan te verbreek en die Koninkryk van God te vestig (Ps 16:8-11; Jes 42:1-7; 49:8; Hd 2:25-28).

Hy het die Seun beloon vir Sy afgehandelde werk. Daarom het Hy die Heilige Gees gestuur om die mense te versamel vir wie Hy Sy lewe neergelê het, en om die kerk te vorm en te bewaar (Hd 2:33).

Wat is hierdie loon? ‘n Bruid uit alle nasies, stamme, volke en tale  –  so talryk dat hulle nie getel kan word nie (Ps 22:28; Ps 72:17-19).

Hy gee aan Sy Seun krag en gesag om die wêreld en Sy kerk te regeer (Ef 1:20-23; Fl 2:9-11). Uiteindelik sal Hy Hom beklee met die heerlikheid wat Hy van ewigheid af gehad het (Jh 17:5).

Hoewel die verlossingsverbond die ewige basis vir die genadeverbond is, en ons gevolglik deur genade alleen gered kan word sonder enige werke, is die verlossingsverbond vir Christus ‘n werkverbond en nie ‘n genadeverbond nie. Net soos wat Adam oorspronklik deur gehoorsaamheid en werke die beloofde loon moes verdien, so moes Christus deur volmaakte gehoorsaamheid getrou bly aan Sy sending. Die eerste Adam was die eerste mens; Christus was die tweede mens en die laaste Adam (1Kor 15:45-47).

Die eerste Adam het misluk; die tweede Adam het geslaag.

God bly dus ‘n God van onkreukbare geregtigheid. Nie ‘n enkele sonde van enige mens word bloot oorgesien of onder die mat ingevee nie. Nee, elke sonde word gestraf  –  óf aan die sondaar self, óf aan Christus. En niemand, maar niemand word ánders gered as op grond van volmaakte gehoorsaamheid aan God se wet nie. Dit is egter Christus se gehoorsaamheid. As ek en jy dan deur ‘n ware geloof met Christus verenig is, word Sý volmaakte gehoorsaamheid aan ons toegereken  –  oftewel gekrediteer. Dit is die essensie van regverdiging deur die geloof alleen.

My redding is dus nie ‘n bloot arbitrêre, naïewe guns wat uit jammerte aan my betoon word nie. Nee, dis ‘n hoogs ordelike, logiese, formele, juridies-korrekte gebeurtenis.

En dit geskied nie op die ingewing van die oomblik nie. Nee, dis reeds voor die grondlegging van die aarde vasgemaak. Die redes waarom spesifiek ék begenadig word, ken ek nie. Al wat ek weet, is dat God my liefgehad het en besluit het dat ook ék vir die Seun gegee sou word.

SLOT

Terwyl ons nooit ons roeping tot ‘n heilige lewe mag geringskat nie, moet ons leer om ons sekerheid van redding en ons vrymoedigheid voor ons hemelse Vader nie te laat rus op hoe ons vaar as Christene nie. Ons moet ons weer en weer daarin oefen om vanuit die verlossingsverbond te leef.

Die enigste vraag wat ek weer en weer moet vra, is dit: Is ek in Christus? En dit geskied deur geloof alleen. Maar hoe weet ek ek het ware geloof? Dit word deur my werke uitgewys  –  werke wat beantwoord aan God se standaarde: dis wat Hy voorgeskryf het, en dit kom uit ‘n opregte hart wat verlang dat die Drie-enige God verheerlik word. 

My kindskap van God het dus nie ten diepste te doen met die feit dat ek Christus aangeneem het nie. Nee, dít was net nog een van die stappe in my proses van redding. Die wortels van my redding lê baie dieper en verder terug. En die inisiatief was vir seker nie myne nie. Laat ons vreugde op vreugde put uit Christus se uitspraak: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”

VOETNOTAS

1.  Dis ‘n ongelukkige benaming wat berus op Sag 6:13. Sommige het gemeen dat hier ‘n verwysing is na ‘n onderlinge ooreenkoms tussen die Vader en die Seun. Maar in werklikheid praat dit van die eenheid tussen die koninklike en die priesterlike ampte in die Messias.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00