2TESSALONISENSE 2:13-17
STANDVASTIGHEID EN BESTENDIGHEID IS VAN DIE MEES GESOGTE KARAKTERTREKKE IN ‘N MENS. Tog is dit so skaars soos hoendertande. Ons samelewing word veel eerder gekenmerk deur ‘n gebrek aan stabiliteit en betroubaarheid.
Christenwees – op die regte manier – bring egter ‘n wonderlike vastigheid in ‘n mens se lewe.
Helaas moet mens dadelik byvoeg dat baie mense wat hulleself vandag Christene noem, eerder gekenmerk word deur onbestendigheid. Sovele is kort-kort op loop met ‘n volgende beheptheid. Dit maak Christenskap meermale bespotlik in die oë van die wêreld – en dien God se eer alles behalwe.
Hierdie vyf verse spreek die belangrike saak van standvastigheid in die gelowige se lewe aan.
CHRISTENE LEEF ONDER AANSLAG
Die Nuwe Testament praat dikwels oor Christelike standvastigheid – ook Paulus se briewe aan die Tessalonisense. In 1Ts 3:8 skryf hy: “Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik.” En in die tweede brief, nadat hy hulle versoek het om nie gou verward te raak of van stryk gebring te word nie, roep hy hulle in 2:15 op om standvastig te wees.
Kyk mens na die Nuwe Testament, sowel as die kerkgeskiedenis, sien jy veral drie dinge wat neig om Christene van balans af te ruk. Een, vervolging (1Ts 3:2-3); twee, vals leer (2Ts 2:2-3); drie, versoeking tot sonde (1Ts 3:13). Dis ‘n drievoudige aanslag – fisies, intellektueel en moreel.
Let mens op die vloei van Paulus se gedagtes, val dit op dat hy onmiddellik vóór hierdie gedeelte praat oor die komende antichris wat voor Christus se wederkoms op die toneel sal verskyn. Waarskynlik dink die apostel dan aan die verskriklike aanslae van vervolging, vals leer en versoeking wat in daardie dae aan die orde sal wees. Gevolglik skerp hy sy lesers sonder verwyl oor hierdie dinge op.
Ons teks val uiteen in drie gedeeltes. V13-14 is ‘n danksegging; v.15 ‘n oproep; en v.16-17 ‘n gebed.
DIE DANKSEGGING (13-14)
Paulus is baie dankbaar oor wat die Here in die Tessalonisense gedoen het. Twee keer sê hy, “Ons moet God altyd vir julle dank, broers” (1:3; 2:13).
En as hy kyk na wat God in hulle gedoen het, het hy geen twyfel nie: die Here het hulle innig lief! Wat het die Here gedoen? Die antwoord is in twee parallelle stellings wat op dieselfde manier gestruktureer is.
Eerstens v.13b: Hulle is verkies tot saligheid deur die heiligmaking van die Gees en deur geloof in die waarheid (OAV).
Tweedens v.14: Hulle is daartoe geroep deur die apostels se evangelie, om te deel in die heerlikheid van die Here Jesus Christus.
Hierin lê in die eerste instansie Paulus se sekerheid oor die Tessalonisense se standvastigheid. Die Here het ‘n werk in hulle begin, en Hy sal dit end-uit voer. Hy begin nie met iets en los dit halfpad nie.
Paulus sny in beide stellings drie dinge aan:
Eerstens noem hy die oorsprong van die Tessalonisense se redding: God het hulleverkies, en God het hulle geroep. En hierdie twee dinge loop altyd saam. Nooit sal Hy iemand roep wat nie verkies is nie; en nooit sal Hy iemand verkies sonder om hom of haar uiteindelik te roep nie. Ons herken uitverkiesing aan roeping, en waar roeping ‘n werklikheid is, sal geloof in die waarheid volg, asook standvastige volharding tot die einde toe.
Tweedens sê hy hoe die Here redding bewerkstellig: Hy roep deur die apostels se evangelie, en Hy vervolmaak deur geloof in die waarheid en deur die Gees se heiligmakende werk. En weereens kan ons sê dat die Here in normale gevalle altyd so werk. Waar Hy begin het, daar maak Hy sonder uitsondering klaar. As ek dus weet dat ek inderdaad geroep is, dat ek waarlik glo, en dat die heiligmaking in my aan ‘t werk is, bring dit wonderlike sekuriteit en bestendigheid.
Derdens noem Paulus die Tessalonisense se eindbestemming: hulle gaan uiteindelik deel in die saligheid (OAV) en heerlikheid van die Here Jesus Christus; dis waarop redding altyd uitloop. En hou mens hierdie bestemming voor oë, bring dit onwankelbare standvastigheid.
Paulus was nie ‘n pypiekyker nie. Sy denke bestryk die ganse geskiedenis vanaf die ewige verlede tot die ewige toekoms. En dit wil hy by sy lesers tuisbring, want hy weet daar is niks wat soveel vastigheid in jou inbou nie as die wete dat jou lewe ingeweef is in God se ewige raadsplan.
As pastor weet Paulus dat dit nodig is om hierdie mense, wat maar kort vantevore tot bekering gekom het, aan hierdie dinge te herinner – des te meer nadat hy met hulle gepraat het oor die komende antichris en die gepaardgaande misleiding en afval.
Die apostel sê dus vir hulle: laat die antichris en sy magte maar kom. Ons is van ewigheid af God se kinders en ons is bestem vir die ewige heerlikheid. Niks, maar niks kan ons uit die Here se hand ruk nie. Soos Paulus dit in 3:3 stel: “Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar.”
DIE OPROEP (15)
Paulus se logika hier is betekenisvol. Mens sou verwag dat hy nou vir die Tessalonisense gaan sê: ontspan dus; daar is niks om oor te kwel nie; vertrou die Here. Maar dis nie wat hy vir hulle sê nie. Hy kom met ‘n sterk oproep: staan vas en hou vas; die lang pad van dissipelskap wat op julle wag, gaan nie ‘n piekniek wees nie! Die rukwinde en aanslae van hierdie wêreld gaan julle tot die uiterste toe beproef!
Dit is van die allergrootste belang dat ons sal raaksien hoe Paulus voortgaan. Ons moenie bloot ons voete stewig plant en op ons tande kners nie – ons moet aan iets baie spesifiek vashou: die leer wat die apostels aan hulle oorgedra het!
Paulus gebruik ‘n interessante woord vir “leer” of “voorskrifte” (OAV) (Gr. paradosis). Die woord praat van tradisie – iets wat van geslag tot geslag oorgedra word. 1
In 3:6 gebruik Paulus weer die woord. En daar is dit duidelik dat Paulus nie maar van enige tradisie praat nie. Hy praat spesifiek van die apostoliese tradisie (vgl. ook 1Kor 11:2). Die apostels het, volgens hulle eenstemmige getuienis dit van die Here Jesus self gekry, en dit toe aangegee aan die eerste gelowiges. En so moet die proses voortgaan – van geslag tot geslag (2Tm 2:2).
Waarom is dit so belangrik vir stabiliteit en koersvastheid om vas te hou aan die apostoliese getuienis – die Nuwe Testamentiese waarheid, besonderlik die Nuwe Testamentiese leer? Omdat dit tydlose, universele en algeheel betroubare waarheid is. Wie kinderlik gelowig daarvolgens glo en lewe, is koersvas op pad na die ewige saligheid. Wie se voete vierkantig daarop geplant is, kan deur niks van balans gestoot word nie. Skryf Paulus nie in Ef 2:20 dat die leer van die apostels die fondament van die kerk is nie. En, let op, van hierdie fondament is Jesus Christus die hoeksteen – nooit, maar nooit iets of iemand anders nie.
DIE GEBED (16-17)
Paulus is van harte oortuig dat die Tessalonisense deur God verkies is tot die ewige saligheid. Hy roep hulle op om te hou aan die apostoliese voorskrifte wat hulle soos ‘n padkaart na die hemel toe sal lei. Maar selfs daarmee is hy nie tevrede nie. Nou bid hy ook nog dat die Here hulle sal bemoedig en versterk op hulle moeilike pad.
Wat die gebed betref, net twee opmerkings:
Dit is merkwaardig dat die feit van God se drie-enigheid reeds op hierdie vroeë stadium vas lê in die apostel se gemoed. Hy bid dat die Here Jesus en die Vader sáám in die Tessalonisense sal werk. Tog gaan hy voort om, ten spyte van die meervoudigheid van die subjek, tog enkelvoud-werkwoorde te gebruik: liefhê en gee (16, OAV).
Twee dinge is nodig om standvastig te volhard: ‘n moedige hart en innerlike krag (17). En dit kan nie anders as om sigbaar te word nie. Hoe? In goeie woorde en dade (17). Jy bely reg en jy doen reg: suiwerheid van leer en heiligheid van lewe.
ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING
God werk middellik.
Hoewel Paulus oortuig is dat God die Tessalonisense uitverkies het, argumenteer hy nie dat alles sommer vanself sal regkom nie. Daar wag op sy lesers ‘n steil en moeilike pad van vervolging en wrede teenkanting. Daarvoor sal hulle baie moed nodig hê. Daarom bemoedig hy hulle. En daarvoor sal hulle elke dag die Here se verbondstrou nodig hê – daarom bid hy vir hulle. En daarvoor sal hulle presies moet weet wat hulle glo – en daarom dring hy by hulle daarop aan om aan die evangelie vas te hou.
Uitverkore soos die Tessalonisense was, moes die evangelie steeds aan hulle verkondig word om hulle tot die geloof te bring (14). Talle onkundige mense redeneer dat die uitverkiesingsleer impliseer dat prediking en die evangelistiese appél onnodig is. Verre daarvandaan. Presies dit is hoe die Here as ‘n reël Sy uitverkorenes tot geloof bring en toerus om te volhard (Jh 17:17, 20; Rm 10:14-17; 1Kor 1:21; Jk 1:18; 1Pt 1:23).
Die feit dat God belowe om iets te doen, is nie ‘n verskoning om nie te bid nie. Die teendeel is waar. Dis juis ons grootste aansporing om wel te bid. Daarbenewens is die Here se beloftes die riglyne waarvolgens ons moet bid.
Kennis is ‘n voorvereiste vir standvastigheid
Daar is beswaarlik iets wat belangriker is vir geloofstandvastigheid as kennis van en geloof in die fundamentele waarhede van die Skrifopenbaring. Waar dit verwaarloos word, is daar altyd onstabiliteit – ‘n gehardloop agter elke wolhaarstorie aan. Daarenteen, tot die mate wat hierdie waarhede vasgemaak is in my gemoed, tot daardie mate maak dit van my ‘n eikeboom in die kerk van die Here.
God se liefde vir my moet sentraal wees in my geloofsbelewing.
Niks maak my meer vasberade op my pelgrimstog deur hierdie wêreld nie, as die wete dat die Here die liefdesinisiatief geneem het in my redding. Niks bemoedig méér nie, as die wete dat ek een van God se bemindes is. Dis waarom Paulus twee keer in hierdie kort paragraaf oor die Here se liefde praat (13, 16). Met só ‘n Verbondsvader en met só ‘n volmaakte Verlosser kan dit nie anders nie – ons sál kloekmoedig, doelgerig, en Godsverheerlikend tot die einde toe volhard!
VOETNOTAS
1. Die woord is nou verwant aan die werkwoord, paradidomi: aangee of aflewer. In Jud 3 word dit gebruik vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier