GENESIS 3:14-19

SOOS IN V.15, VIND ONS OOK IN V.16-19 VAN DIE MEES FUNDAMENTELE UITSPRAKE IN DIE GANSE BYBEL. Dit beheers die mense se bestaan in elke eeu en op elke vasteland tot vandag toe.

GOD SE WOORDE AAN DIE VROU (GN 3:16)

God se seën. 

Die vrou sal kinders hê, en ‘n nageslag. Natuurlik is vrugbaarheid altyd ‘n seën. Maar hier gaan dit oor meer. Háár nageslag gaan die slang vermorsel.

Die smarte van ma-wees. 

Om kinders in die wêreld te bring, gaan nie ‘n grap wees nie. Nege maande van naarheid en ongemak sal gevolg word deur ‘n uiters pynlike bevalling. En deur die eeue  –  veral natuurlik voor vandag se mediese sofistikasie  –  het tallose vrouens in die proses gesterf.

Maar waarskynlik sinspeel hierdie uitspraak ook op die swaar las van ouer-wees (en as ‘n reël ervaar ma’s dit pynliker as pa’s). Oseane trane is al gestort oor kinders wat hulle skeie breek, wat nie die mas opkom nie, wat die huis uitgaan en in die niet verdwyn. Vir wie bid gelowige ouers meer as vir kinders en kleinkinders?

Die magstryd in die huis. 

As v.16 praat van die vrou wat na haar man sal hunker, word dit tradisioneel verstaan as seksuele- en koesteringsverlange. Maar dis waarskynlik nie die regte vertolking nie. In net die volgende hoofstuk (4:7) word presies dieselfde Hebreeuse woord gebruik: “begeerte” (OAV). Híér egter is dit ‘n hunkering na oorheersing  –  dié van die sonde oor Kain. Dit lyk dus of God in Sy woorde aan die vrou bedoel dat sy oor haar man sal wil baasspeel. In haar sondegevalle staat sal sy nie kan vrede maak met die ondersteuningsrol wat Hy aan haar in die huwelik toeken nie. Sy sal nie rus of duurte hê voordat sy nie die broek in die huis dra nie.

Maar die man sal oor haar heers. Die Hebreeuse woord vereis dit nie, maar dit lyk asof hierdie uitspraak wil sê dat die man haar  –  desnoods met geweld  –  onder sy duim sal hou. En is onredelike, en selfs wrede manlike dominering van die vrou nie deur die eeue tipies in ‘n gevalle wêreld nie?

GOD SE WOORDE AAN DIE MAN (GN 3:17-19)

Die aarde sal steeds sy kant bring. 

Daar sal kos wees. En tot vandag toe is dit een van die uitstaande karaktertrekke van God se algemene genade, dat Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen (Mt 5:45).

Maar dit sal sweet kos.

Die straf lê nie in die feit dat die mens sal moet werk nie. Dit was al ‘n skeppingsverordening voor die sondeval. Nee, dit lê in die moeite en inspanning waarmee alles sou geskied. Dit sou ‘n rugbreek-stryd wees om die wolf van die deur af weg te hou.

Van stof tot stof. 

Ergste van alles in die mens se bestaan, gaan die wagtende graf wees. Die smarte van geliefdes wat heengaan sal kort-kort op hom toeslaan, en uiteindelik sal ook hy die verskrikking van die fisiese dood moet aandurf. Afgesien van twee uitsonderlike wonderwerke, is die mortaliteitskoers van die biljoene wat al geleef het  –  eenhonderd persent!

HET JY AL SÓ DAARAAN GEDINK?

Ongeloofsteoloë voer dikwels aan dat ons hier in Gn 3 ‘n volkslegende het. Dit sou vertel word om vir kinders te verduidelik waarom slange nie pote het nie, of iets soortgelyks. Maar die eerste verteller van hierdie storie moes dan meer as geniaal gewees het. Want, ten spyte van ons gesofistikeerde samelewing vandag, oorheers die beginsels wat in hierdie paar verse uitgespel word steeds elke dag van ons lewens. Is almal van ons nie maar tot ‘n mindere of meerdere mate besig om te stoei met die vraagstukke van broodvoorsiening, pynverligting, werksinspanning, kinderopvoeding en die dood nie?

ADAM SE GELOOF

Onmiddellik na die uitsprake van v.16-19, reageer Adam in die geloof op God se belofte (20). Hy noem sy vrou “Eva”:  lewegewer (Hb). Daarmee bely hy sy geloof dat sy vrou die moeder sou word van die lewendes. Meer nog, hy glo dié Lewegewer (15) gaan uit haar nageslag voorsien word.

Adam reageer in eenvoud op God se woord. Maar dis genoeg vir redding. Terwyl ‘n ton vals geloof nie kan red nie, was selfs net ‘n greintjie ware geloof nog altyd genoeg vir redding. Nie groot geloof is nodig nie, maar egte geloof.

God aanvaar Adam se geloofshandeling. Daarom maak Hy vir hulle velklere (21). Daarvoor moes Hy diere slag, en ons kan aanvaar dat hier ‘n vooruitwysing is na die komende offerstelsel, wat op sy beurt weer vooruit gewys het na Christus se groot offer. Die Hebreeuse woord “versoening” beteken immers om te bedek.

Wat ‘n ironie! Die man wat vir die sondeval verantwoordelik was, die man na wie die gevalle mensheid vernoem word, is die heel eerste persoon wat met geloof en redding begenadig word. En die vrou wat hom verlei het, stap saam met hom die ewige saligheid binne! Het God nie reeds gesê sy gaan die grootmoeder wees van die Saad wat die kop van die slang gaan vermorsel nie?

Dis hoe God se genade soos klokslag werk. Die mees onverwagse en onverdienstelike mense ontvang dit. Maar juis dít onderstreep dat redding van God is en nie uit die gevalle mens kom nie.

WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?

Laat ons nie net die vreugde van ouerskap gelowig omhels nie, maar ook die smarte wat dikwels daarmee saamhang. 

In Sy groot genade seën die Here baie van ons met die heerlikheid van ouerskap en grootouerskap. Maar helaas is die kosbaarste dinge in ons lewens meermale ook die bron van ons diepste hartseer. Want die smarte wat kinders ouers kan aandoen, word deur min dinge in hierdie lewe geëwenaar. So vermoor Adam en Eva se oudste dan ook sy jonger broer. Kan daar ‘n erger hartseer vir ouers wees?

Laat ons nie net dankbaar wees oor die Here se goedheid nie, maar ook in stille verootmoediging voor Hom buig wanneer van Sy oordele oor ‘n sondegevalle mensheid ons eie wêreld binnespoel. Onthou, die Hoë en Verhewene woon nie net in die hoogte en heilige plek nie, maar ook by die verbryselde en nederige van gees (Jes 57:15, OAV; vgl ook 66:2; Miga 6:8; Mt 5:3-12).

Ons kan aanvaar dat Adam en Eva se trane nie net dié van verlies was nie, maar ook dié van selfverwyt en verootmoediging. En gewis sou hierdie trane ‘n welriekende offer voor die Here gewees het.

As ons steeds die gevolge van voorbekering-sonde moet dra, beteken dit nie dat ons nie vergewe en gered is nie. 

Soos Adam en Eva, het baie van ons (eintlik almal van ons) onkruid en wilde hawer voor ons bekering gesaai. En dikwels bring dit steeds bitter vrug in ons lewens voort  –  vrug wat pyn en verleentheid veroorsaak. Ons sou wát wou gee om daarvan ontslae te wees. Maar die aalwynsmaak bly. Mens kry dit nie uit jou mond gespoel nie.

Alles dui daarop dat Adam en Eva vergiffenis ontvang het, maar kennelik het hulle sonde in die tuin steeds uitgekring. Ná Batseba is Dawid vergewe, maar tog het smarte op sy huis bly rus.

Wat staan mens in so ‘n situasie te doen? Jy moet ‘n offer bring  –  ‘n offer wat God innig behaag: die offer van verootmoediging en aanvaarding.

Ek is gered, maar ek moet ook nog gered word. 

Iemand mag vra, is dit reg dat ons wat uit Adam uitgehaal is en met Christus verenig is, nog steeds die gevolge van die sondeval moet verduur? Waarom is ons steeds onderworpe aan die gebrokenheid van ‘n gevalle wêreld? Waarom moet ons nog deur die verskrikking van die dood gaan?

Die rede lê in die feit dat ons redding in die volste sin van die woord nie ‘n enkele gebeurtenis is nie, maar ‘n proses. Die Nuwe Testament praat van ons redding in die verlede tyd, maar ook in die teenwoordige, sowel as in die toekomende. Ons is gered, ons word gered, en ons sal gered word.

Dis soos ‘n minderjarige kind wat ‘n fortuin erf. Wetlik is dit onvervreembaar syne, maar die volle gebruik daarvan kan hy eers kry as hy mondig is. Tot tyd en wyl word hy weliswaar uit die boedel versorg. Hy kry alles wat hy nodig het.  Maar dis al. Die fortuin kom eers eendag.

In beginsel staan ons redding so vas soos die berge. Maar baie van die realiteite daarvan moet nog gestalte kry in ons lewens. Heerlikmaking is nog toekomstig. So ook lê die finale afskud van ons gevallenheid, en wat daarmee saamhang, nog voor.

Nêrens behoort die werklikheid van ons herskepping duideliker tot uitdrukking te kom as in die verhouding tussen man en vrou nie. 

As ons verlossing in Christus dan die omkeer is van die effekte van die sondeval, móét dit mos in ons huwelike wys  –  die plek wat volgens ons Skrifgedeelte in die eerste instansie deur die sondeval geraak is. Daarom mag ons nie swig voor die wêreldse aandrange dat die vrou die man na die kroon moet steek nie. En ons as mans moet ons vrouens koester en versorg. Ons móét eenvoudig die realiteite van ons herskepping demonstreer. Beswaarlik kan ons ‘n kragtiger getuienis teenoor die wêreld lewer as om die Bybelse rolle van mans en vrouens te handhaaf. Laat ons mans dus mans wees, en ons vrouens, vrouens.

Dis waarom die Nuwe Testament soveel maak van godsvrug in die Christelike huwelik en gesin. Dis waarom Ef 5 sê dat Geesvervuldheid by uitnemendheid in die huis tot uitdrukking kom.

Laat ons vreugde en vervulling put uit die verordening van arbeid – dis waarskynlik hier om tot in ewigheid te bly – en geduldig wees as die juk daarvan tans nog baie swaar kan raak.

Sinvolle, vreugdevolle en vervullende arbeid was ‘n sentrale werklikheid reeds voor die sondeval. En die huidige verlossingsproses is méér, maar ten minste ook ‘n herstel van daardie staat. Ons gaan vir seker nie verveeld leeglê op die nuwe aarde nie.

Duidelik is hier dus nog ‘n lewensarea waarin die getuienis van ons verlossing helder moet skyn.

Eers in die hiernamaals sal ons die skrikwekkende implikasies van die sondeval behoorlik verstaan – met ingrypende gevolge. 

In die saligheid hierna sal ons eerste emosie aanbiddingsverwondering wees. Maar tweedens sal ons oorheersende belewing liefdesdankbaarheid wees. En niemand sal dit  intenser ervaar as Adam en Eva nie. Want wie se sonde het groter en meer omvangryke ellende veroorsaak? Die Bybel sê mos: die wat die meeste vergewe is, het die meeste lief.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00