GENESIS 3:14-19

DAAR IS BESWAARLIK ‘N MEER FUNDAMENTELE PARAGRAAF IN DIE BYBEL as hierdie verse. Die sondeval het pas plaasgevind. Nou spel God die gevolge daarvan uit. In die proses praat Hy agtereenvolgens met die slang (14-15), met die vrou (16), en met die man (17-19). Hy volg die orde waarin hulle gesondig het.

‘n Kosmiese drama speel hom hier af. Wat God hier afkondig, het geweldige implikasies vir mens en skepping deur die millennia wat sou volg. En selfs nog meer versoberend, is die feit dat ‘n ewigheidsvonnis implisiet hier uitgespreek word oor miljoene der miljoene mense wat uit die eerste mens se lendene sou voortkom. Maar terselfdertyd hoor ons ook hier die eerste note van die genadeverbond se wonderskone verlossingsmusiek.

GOD SE WOORDE AAN SATAN (GN 3:14-15)

Is dit ‘n slang of die duiwel? 

Vroeër in die hoofstuk praat die slang. En hier word hy aangespreek. Net ‘n rasionele wese kan praat; net ‘n verantwoordelike wese kan geoordeel word. Dit sê onmiddellik dat ons met meer as ‘n slang te doen het. Slange is nóg rasioneel, nóg aanspreeklik.

Ons kan nie met dogmatiese sekerheid sê of Satan hier deur ‘n slang gesimboliseer word, en of hy die slang beset het en deur hom werk nie. Dit maak waarskynlik nie werklik saak nie. Maar vir seker moet ons die duiwel agter die slang sien.

God se vloek (3:14). 

Die slang het die vrou verlei (2Kor 11:3; 1Tm 2:14) deur haar te oortuig dat die Skepper se opdragte onbelangrik is en dus geïgnoreer kan word. Daarom word hy vervloek. Hy sal op sy pens in die stof seil en stof vreet. Dis die taal van diep vernedering. Teen God se kinders sal hy nooit ‘n finale oorwinning behaal nie. En vir hom bestaan geen vergiffenis en ontkoming van ewige oordeel nie.

Die protevangelium, die moederbelofte (3:15). 

Hier is die eerste stuk evangelieverkondiging in die Bybel  –  uit die mond van God self  –  gerig tot niemand minder as die duiwel self nie.

Luther het dit so gestel: “Hierdie teks bevat reeds alles wat edel en heerlik in die res van die Bybel is.” Luther bedoel natuurlik dat die hele evangelie embrionaal reeds hier teenwoordig is.

Voorop en beklemtoon in die Hebreeus is die vyandskap en stryd wat voorlê. Die regstel van die sondeval gaan nie maklik en gou-gou wees nie. Dit gaan ‘n ontsaglike konflik wees. En ons weet vandag hoe waar dit is en dat dit oor baie eeue sou strek.

Laat ons onthou dat die ware geloofslewe nie ‘n ruggraatlose liefde vir alles en almal is nie. Dit behels ook intense vyandskap en stryd. Daarom is egte dissipelskap nooit ‘n Sondagskoolpiekniek nie. Wil jy só ‘n Christenskap hê, moet jy noodwendig in iets minder as die waarheid opgaan. Nee, die ware Jakob vereis ‘n baie besliste en permanente kwaliteitsbesluit. Daarsonder hou jy nie lank nie.

Hierdie konflik, wat die geskiedenis sou beheers, is deur God self daargestel. Dit is Sy inisiatief. Satan se aanslag op die mens is dus nie vir Hom ‘n verrassing nie. Hy is en bly soewerein in beheer.

Ewemin het ons hier ‘n bevel aan die mens. Dis ‘n feitestelling. So sal dit wees. Ons hoef nie konfrontasie met die duiwel te soek nie. Gehoorsaam God, en konflik met die bose is onafwendbaar.

Die stryd wat hier voorsien word, vind plaas op drie fronte: daar sal vyandskap wees tussen Satan en die vrou; tussen sy saad en haar saad; en uiteindelik tussen Satan self en ‘n geheimenisvolle “hy” (manlik, enkelvoud) (vgl. OAV; NIV).

Waarom word die vróú hier in vyandskap met Satan geplaas, en nie die man nie? Die vrou is eerste verlei. Voorts sou die vrou deur die eeue ‘n groot rol speel in hierdie geweldige stryd. Maar sekerlik is daar ‘n dieper rede. Miskien moet ons só hieroor dink: Christus is uit ‘n vrou (‘n maagd) sonder manlike betrokkenheid gebore. Sy menslike natuur sou Hy van haar kry  –  en dis in Sy menslike hoedanigheid wat Hy die oorwinning sou behaal.

Tweedens sal daar konflik wees tussen die duiwel se saad of nageslag, en die vrou s’n.

Wie of wat is die vrou se saad? Die voor die hand liggende antwoord sou die hele mensheid wees. Maar dit lyk nie of dit is hoe die Bybel dit beskou nie. Want net in die volgende hoofstuk vermoor Kain sy broer, Abel  –  en volgens 1Jh 3:12 het Kain aan die Bose behoort. Dit lyk dus asof die Skrif hom as deel van die Satan se saad beskou.

Praat die Skrif van Satan se saad? Daar is wel ‘n paar sulke aanduidings. Neem byvoorbeeld Jh 8:44 waar die Here van die vyandiggesinde Jode sê dat hulle “kinders van die duiwel” is (Jh 8:44).

Ons kan dus hier in Gn 3:15 aanvaar dat die saad van die vrou die ware gelowiges deur die eeue is, en die saad van die duiwel die ongelowiges wat God se genadeverbond sou verwerp.

Derdens is die finale konflik tussen die geheimenisvolle individu en die slang self. Hierdie Hebreeuse voornaamwoord is manlik en enkelvoud.

Ook die “saad” van die vrou in die vorige konfliksfront is manlik en enkelvoud. Mens sou dus kon sê dat die gelowiges deur die eeue, beskou as ‘n eenheid, die kop van die slang sal verbrysel. En dit het inderdaad Nuwe Testamentiese ondersteuning. Rm 16:20 sê: “God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter.” Ook Ps 91:13 verseker die gelowige dat hy “die slang (sal) vertrap” (OAV). 1 

Tog voel mens met ‘n stok aan dat bogenoemde nie die regte betekenis is nie. Ons kan aanvaar dat die vernouing van ‘n groep na ‘n individu S soos van Satan se saad na die Satan self S in beide bene van hierdie uitdrukking moet geld. Dit beteken dat die “hy” in hierdie geval ‘n enkele persoon moet wees. Dit is sekerlik die voor die hand liggende verstaan van die teks. En hiervoor is daar dan ook ‘n sterk Skrifmandaat. Die hele strekking van die Bybel bevestig immers dat hier van die Messias gepraat word. Só aanvaar regsinnige Skrifverklaarders deur die eeue dit soos een man  –  naamlik dat dit “die moederbelofte” is wat na Christus verwys.

Maar selfs vir Christus sou dit nie maklik wees nie. Die slang sou sy tande in Sy hakskeen slaan, met die doel om Hom te vernietig. Hiervan sou ‘n bebloede kruis uiteindelik getuig. Maar God se Gesalfde sou in die proses die slang se kop finaal vermorsel. Ou Testamentiese mense kon hierdie belofte net in die geloof vasgryp. Óns kan egter terugkyk na die historiese vervulling  –  en ons kan die wonderlike gevolge daarvan aan eie lyf ervaar.

WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?

‘n Radikale lewenskeuse en standpuntinname is noodsaaklik. 

Niemand kan in hierdie oorlog neutraal bly nie. Dis ‘n integrale deel van menswees dat jy daarby betrokke is. Dis deel van die skering en inslag van ons bestaan. Want een en elkeen van ons se bloedlyn begin by Adam en Eva. Nog meer, die woorde van die Here Jesus is onontkombaar: “Wie nie vir My is nie, is teen My.”

Ware Christenskap en geestelike konflik loop altyd hand aan hand. 

As jou Christenskap vol geestelike konflik is, moenie verbaas wees nie. Ons praat nie van konflik wat die gevolg van jou sonde is nie. Ons praat van konflik wat duidelik die gevolg is van jou gehoorsaamheid aan Christus  –  konflik wat jy dadelik kan vermy deur die pad van dissipelskap te los en ontrou aan die Here te raak.

Só onontkombaar is hierdie soort stryd vir die ware Christen, dat jou Christenskap onder verdenking is as jy nie baie goed verstaan waarvan ons praat nie.

Net in Christus is daar oorwinning. 

Dit geld nie net vir ons finale oorwinning nie, maar vir elke dag se stryd. Beswaarlik is daar ‘n belangriker lewensles om te leer, as om ons oë in geloof op Christus, ons groot Oorwinnaarkoning, vas te nael. Natuurlik is dit die sleutel tot die ewige saligheid, maar vir seker ook vir oorwinning in die lewensaanslae van elke dag  –  stryd wat elke ware gelowige maar té goed ken.

Dit kan maklik aangetoon word dat elkeen van die ses stukke wapenrusting in Ef 6 op ‘n aspek van ons erfenis in Christus dui. Trouens, dis die enigste manier om daardie gedeelte reg te verstaan.

Daar is geen twyfel oor die uiteindelike uitkoms van die stryd nie. 

Aangesien die oorwinning oor Satan reeds in beginsel deur Christus behaal is, is daar geen twyfel oor die uiteindelike uitkoms van die konflik nie. ‘n Hele aantal uitsprake in die Nuwe Testament beklemtoon dat Christus se oorwinning reeds 2000 jaar gelede die duiwel uit die hemel laat tuimel het. Daarom sê Jesus in Lk 10:17-18 dat Hy die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het (vgl. ook Jh 12:31; 16:11; Hb 2:14; 1Jh 3:8; Op 12:7-17).

Maar, natuurlik, nou loop hy soos ‘n brullende leeu op die aarde rond  –  en vandaar ons stryd.

‘n Welbekende illustrasie om die huidige situasie te verduidelik, kom uit die Tweede Wêreldoorlog. Duitse magte het die hele Europa beheer. Op D-dag, 6 Junie 1944, het die geallieerdes egter met ‘n magtige poging die Normandiese strande van Frankryk aangeval en weer ‘n vastrapplek op Europese bodem verkry. Toe dit gebeur, het oorlogstrateë geweet wie die oorlog gaan wen. Duitsland was finaal op die agtervoet, en dit was net ‘n kwessie van tyd voordat sy magte finaal die knie sou moes buig. Wat oorgebly het, was vir alle praktiese doeleindes ‘n opruimingsproses. Maar tog het dit nog elf maande geduur voordat die oorlog finaal teen middernag, 8 Mei 1945, verby was.

Net so met Christus en Sy kerk se oorlog teen Satan. D-dag was tweeduisend jaar gelede. En daar is geen twyfel wie die oorlog finaal gaan wen nie. 

Vir ons illustrasie is dit egter van belang dat die bloedigste gevegte van die oorlog tydens daardie laaste elf maande plaasgevind het. Dit was letterlik ‘n skoonmaakproses van straatblok tot straatblok. Maar deurgaans was die geallieerdes op die voorvoet.

Al is ons geestelike stryd dus baie dae so fel dat ons moedeloos wil raak, laat ons ons oë vasnael op ons Oorwinnaarkoning. Oor die finale uitslag is daar nie die minste twyfel nie.

VOETNOTAS

1.  Ironies genoeg haal Satan die voorafgaande verse in Mt 4:6 en Lk 4:10-11 aan as hy die Here probeer oorreed om van die tempel af te spring (“Hy sal sy engele opdrag gee … Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.”). Maar kennelik het die duiwel nie die hele Psalm gelees nie!

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00