JOHANNES 1:14
Vol genade en waarheid [2]

ONS HET GESIEN DAT DIE WOORD, oftewel God die Seun, as God se hoogste en finale selfopenbaring na ons as mense toe gekom het. En wat is die hart van wat Hy aan ons kom wys het? Hy was vol genade en waarheid! Nader aan wie en wat God in Sy diepste wese is, kan ons nie kom nie.

Ons het gesien dat Johannes waarskynlik sinspeel op die Ou Testamentiese woordpaar wat oor en oor gebruik word om God te beskryf, chesed en emeth. Ons het toe in hierdie lig na die eerste van hierdie twee begrippe gekyk en gesien dat die Here se chesed Syontfermingsgenade is. 

Waarop dui Sy “waarheid” dan  –  Sy emeth?

“WAARHEID” IN DIE OU TESTAMENT

In die Griekse denke was waarheid (Gr. aletheia) ‘n intellektuele kwaliteit wat dui op werklikheid teenoor valsheid, onrealiteit of blote skyn. Die Hebreeuse idee van waarheid, soos vervat in die begrip emeth, is egter baie ryker.

Sekerlik sluit dit die Griekse idee van die feitelike in. In die regspleging van Israel was dit byvoorbeeld kardinaal belangrik om seker te maak van die waarheid (dieemeth) voordat ‘n oordeel gefel is (Dt 13:14; 22:20; ens.).

Maar meestal het die woord ook ‘n morele betekenis gedra  –  die van betroubaarheiden lojaliteit. So kon dit byvoorbeeld gebruik word vir ‘n getuie, ‘n vriend, ‘n slaaf, ‘n eggenoot. Iemand wat met emeth optree, was iemand wat vertrou kon word. Hy was eerlik en lojaal; jy kon op hom staat maak (Gen 24:49; 42:16; Jos 2:14). Op ‘n emeth-getuie kon jy peil trek (Spr 14:25). Wat hy te vertel gehad het, kon jy as die waarheid aanvaar.

Veral gebruik die Ou Testament die begrip oor en oor vir God. Hy kan vertrou word. Sy optrede is nie onvoorspelbaar nie. Hy handel altyd in ooreenstemming met Sy karakter en beloftes. Mens kan absoluut op Hom staat maak. Sy ondernemings is vaster as die berge!

Emeth praat van God se volkome integriteit. Hy hou Sy woord; jy kan absoluut daarop peil trek. Hy is algeheel betroubaar  –  ‘n God van verbondstrou!

“WAARHEID” IN DIE NUWE TESTAMENT (Gr. aletheia)

In die eerste instansie, sê Johannes hier in hoofstuk 1, moet ons na Jesus Christus kyk as ons wil sien wat God se wesensaard is. Per slot van rekening het Hy as God se selfopenbaring aan ons na hierdie wêreld toe gekom. En wat sien ons dan as ons goed kyk? Ontfermingsgenade, soos laas gesien, en absolute betroubaarheid  –  verbondstrou!

En hoe duideliker ons hierdie twee karaktertrekke van God sien, hoe meer fassineer dit ons. En hoe meer dit jou aanspreek, hoe meer kry jy Hom lief. Ja, die Bybel praat oor ‘n geweldige verskeidenheid van sake, maar algaande lees jy alles al hoe meer in die lig van hierdie wesenstrekke van God. Preke waarvan dit nie die hart is nie, bevredig jou net nie behoorlik nie. En as jy self ‘n prediker is, is dít wat jy meer as enigiets anders wil preek  –  op ‘n duisend maniere, oor en oor. So het ook die apostels dit beleef. Dis waarom Paulus sê dat hy niks anders as Christus wil preek nie (1Kor 2:2).

Moet dit ons verbaas? Hoegenaamd nie! As ons met God se ontfermingsgenade enverbondstrou besig is, is ons besig met die hart van wie en wat Hy is. En het die essensie van ons heiligmaking nie te doen met ‘n steeds dieper kennis van God nie? Is dit nie ons hoogste roeping nie? En is dit nie die wese van die ewige lewe nie (Jh 17:3)?

In die tweede instansie sê Johannes vir ons dat God hierdie eie aard vanontfermingsgenade en verbondstrou, wat in die Ou Testament al so voorop was, in die sending van Sy Seun dieper en meer vervullend uitleef as in enigiets anders.

Elkeen van ons het ‘n persoonlikheid en gawes wat ons eenvoudig móét bevredig en tot uitdrukking bring. Skrywers skryf, vrouens druk babatjies vas, seuntjies klim boom.

So het God ook ‘n wesensaard wat eie aan Hom is, en wat Hy tot uitdrukking móét bring. Die Seun se koms in ontfermingsgenade en verbondstrou na hierdie wêreld toe was so ‘n stuk uitlewing. En die voortgaande uitwerk van die implikasies daarvan  –  deur die eeue en tot in ewigheid  –  is ‘n voortsetting daarvan. In respek gestel: God kan Homself as ‘t ware nie help nie  –  Hy móét eenvoudig in ontfermingsgenade en verbondstrou optree. Niks is meer eie aan Sy aard nie. Niks gee Hom groter vreugde en vervulling nie. En nooit kom dit heerliker tot uitdrukking as in Christus se sending en Sy voortgaande werk nie.

Natuurlik moet dit ons nie verlei om die gestrenge kant van God se karakter te vergeet nie. Die Bybel is vol daarvan dat die Here ook die vloek van die verbond oor Sy volk bring indien hulle volhardend bly sondig. Ook dit is verbondstrou en ontfermingsgenade. Want dit het die bekering, en dus uiteindelike redding van Sy mense ten doel.

Nou kan ons verstaan waarom Johannes die begrip “waarheid” so oor en oor gebruik. Sy Hoofkarakter is Jesus Christus  –  en hoe kan hy oor Hom praat sonder om aanmekaar te wys op die verbondstrou wat in Hom te vinde is. In Hóm sien ons immers wie en wat God ten diepste is.

Luister na Johannes: Hy is “die ware lig” (1:9). Hy is “die ware brood uit die hemel” (6:32).

En luister na die Here Jesus self:  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (14:6). “Ek is die ware wingerdstok” (15:1).

Waarlik, broers en susters, as ons oor hierdie dinge praat, staan ons op heilige grond!

ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING

God het vreugde in die versorging en bewaring van diegene aan wie Hy genade betoon  –  in die waarmaking van Sy beloftes in hulle lewens. 

Dit volg noodwendig uit wat ons hierbo gesien het. Hierin sit die wonderlikste troos en aanmoediging vir ons, Sy kinders. Om die Here aan te roep in tye van nood, is nie om lastig en opdringerig te wees nie. Dis om Sy beloftes en selfopenbaring aan ons ernstig op te neem. Té dikwels is ons bang om die Here te vertrou, omdat ons voel ons verdien nie Sy goedheid nie. Maar as die Here se verbondstrou van ons verdienste moes afhang, sou nie een van ons ooit ‘n kriesel van Hom ontvang het nie. En té maklik dink ons ons pla Hom met nietighede. Maar of ‘n saak groot of klein is, is totaal irrelevant vir die Almagtige. Dis ons hartsgesteldheid wat vir Hom belangrik is.

Daarom, al wat vir ons hemelse Vader saak maak, is dat ons Hom aanbid en liefhet en vertrou. Dit is die wese van wat Hy van ons vereis. En diegene wie se lewens hierdeur beheers word, ervaar weer en weer Sy goedheid en getrouheid.

Laat ons nie moeg word om mekaar daaraan te herinner nie: ons hemelse Vader het ‘n vreugde daarin as ons op grond van Sy Seun se verdienste onsself weer en weer knuppeldik drink uit Sy fonteine van heil. Hy is immers ‘n God van ontfermingsgenade en verbondstrou!

Nou kan ons dalk beter as ooit verstaan waarom die Here kompromieloos daarop aandring dat ons verlossing van A tot Z van Hom moet kom, sonder enige menslike verdienste hoegenaamd.

Kan jy dus sien: vrees vir die toekoms, benoudheid oor jou versorging, en angs vir die dood, is mosies van wantroue in die Here. Dis om Sy selfopenbaring in Christus te bevraagteken. Dis ten minste kleingeloof, en baie dikwels rou ongeloof. Waarlik, almal van ons het rede om ons hieroor voor die Here te verootmoedig, nie waar nie!

Hoe dieper die feit van God se verbondstrou in ons harte wortel skiet, hoe meer vrymakend is dit. 

Hou mens in gedagte wat ons so pas gesien het, word Jh 8:31-32 des te meer fassinerend. Die Here Jesus sê: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” In beide gevalle is “waarheid” hier die vertaling van die woord waarna ons kyk (Gr. aletheia = verbondstrou).

Om aan Christus se woorde getrou te bly, is om Hom te gehoorsaam. Dit lei dan tot ‘n toenemende ervaringskennis van Sy verbondstrou, want dit is gehoorsame dissipels wat dit ervaar. En tot die mate wat ons Sy verbondstrou beleef, tot daardie mate maak dit ons vry van allerlei vrese en die houvas van hierdie wêreld. Ons leer immers al hoe meer dat ons algeheel op Hom kan peil trek.

Baie predikers dink hulle moet moets en moenies preek as hulle ‘n gemeente wil laat groei in heiligheid. Nee! Die teendeel is waar! Niks het die opheffende effekte van Godgesentreerde en Christusgefokusde prediking nie. Niks laat gelowiges so groei soos verkondiging wat uitbundig jubel oor God se groot verlossingsdade in Christus nie. Niks bring soveel standvastigheid nie. Want niks voed ons geloof soveel nie.

Só sluit die apostel die eerste helfte van die Romeinebrief af, die wonderlike gedeelte wat oor God se verlossingsheil in Christus praat soos geen ander gedeelte van die Skrif nie: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”

Sag 8:3 is ‘n wonderlike vers. As God na Sion terugkeer om in die midde van Sy mense te woon, sal Jerusalem genoem word: “Stad van Trou (Hb. emeth), Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg.”

As ons Vader ‘n God van verbondstrou is, rus daar op ons ‘n onontkombare verantwoordelikheid om self ook mense van trou te wees. Ons moet emeth (Hb), oftewel aletheia (Gr) beoefen. 

In die eerste instansie moet dit ons verhouding met ons hemelse Vader en die Here Jesus Christus kenmerk. Talle kere word Israel opgeroep om in verbondstrou te leef. Mense wat God vrees, is mense van emeth (Eks 18:21; Neh 7:2). In Jos 24:14 maak die Here hierdie appél op die volk wat pas in die Beloofde Land gevestig het: “Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou (Hb. Emeth).”

In die tweede instansie rus die onontkombare verantwoordelikheid op ons om in ons verhouding met ons naaste aletheia uit te leef. Laat ons dus standvastige en betroubare mense wees; mense op wie staat gemaak kan word; mense van onkreukbare integriteit; mense wie se “ja” inderdaad “ja” is, wie se “nee” vir seker “nee” is.

O Here, maak U gemeente tog meer en meer ‘n “stad van trou” (Sag 8:3)  –  mense wat in onkreukbare integriteit voor U aangesig en in verhouding met hulle naaste leef, mense wat getrou aan hulle belydenis leef, mense van verbondstrou!

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00