JOHANNES 1:14 Vol genade en waarheid [1]
GOD HET SY GELIEFDE SEUN GESTUUR OM SY HOOGSTE EN FINALE OPENBARING AAN ONS TE WEES. En in hierdie openbaring sien ons die essensie van wie en wat God is.
Wat sien ons as ons na die Seun kyk? Ons sien dat Hy “vol genade en waarheid” is. En daarom kan ons met sekerheid weet dat ook die Vader vol genade en waarheid is. Trouens, ons kan aanvaar dis die wesenstrekke van wie en wat die Vader is, aangesien Johannes van al die karaktertrekke van God wat hy sou kon gebruik, híérdie twee kies.
Dit is betekenisvol dat die woord “genade” (Gr. charis) – ten spyte daarvan dat dit aan die hart van die Nuwe Testamentiese boodskap lê – slegs 4 maal in die hele evangelie van Johannes voorkom, en wel hier in verse 14, 16 en 17. Presies wat Johannes bedoel moet ons dus eerstens hieruit aflei, en tweedens uit die res van die Skrif.
Die woord “waarheid” daarenteen is een van die uitstaande begrippe in hierdie evangelie. Johannes gebruik dit 25 keer – swaar gelaai met betekenis.
Tog moet ons hierdie twee begrippe, “genade” en “waarheid” nie los van mekaar probeer verklaar nie. Hulle loop as ‘t ware hand-om-die-lyf, en dra saam-saam één onuitspreeklik kosbare boodskap.
OU TESTAMENTIESE WORTELS
Soos ons gesien het (toe ons gekyk het na die feit dat Johannes in hierdie vers sê dat die Woord onder ons “getabernakel” het), gaan dit in ons teks oor God se selfopenbaring aan ons in die Persoon van die Woord, en spesifiek oor die vertoning van Sy heerlikheid in wonderlike liefde, nederigheid en diensbaarheid. Dit laat onontkombaar mens se gedagtes loop na een van die mees uitstaande momente in die ganse Ou Testament: Eks 33-34.
Ná die tragedie van die goue kalf begeer Moses om God beter te leer ken (33:13). In die besonder wil hy God se heerlikheid sien (33:18). Uiteindelik lei dit daartoe dat die Here afkom na Moses toe en oor Homself uitroep: ” Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag” (34:6-7).
Hoewel die Here ook oor Sy toorn teen sonde praat, is dit Sy onbeskryflike liefde wat voorop is in hierdie aangrypende stuk selfopenbaring. En uitstaande is die feit dat Hy “vol liefde en trou” is.
Hier is ons by twee begrippe wat óók saam-saam weer en weer in die Ou Testament gebruik word (Hb. chesed en emeth). Vergelyk mens nou hierdie twee Hebreeuse begrippe met die twee woorde in ons teks – “genade” en “waarheid” – sien jy dat ons vir alle praktiese doeleindes twee uitdrukkings het wat baie dieselfde beteken. Dit word dan ook deur talle Skrifverklaarders aanvaar dat Johannes in 1:14 op Eks 34:6 sinspeel.
Wat beteken hierdie twee Ou Testamentiese woorde? Nou het ons net tyd vir die eerste een (chesed). Volgende keer is dit dan die tweede Hebreeuse begrip, emeth, se beurt.
GOD SE CHESED IN DIE OU TESTAMENT (UITGESPREEK: GÊSED)
Hierdie is een van die skitter-begrippe in die Ou Testament (240x). Dit word as ‘n eienskap van menslike godsvrug genoem, maar veral is dit een van Gód se uitstaande karaktertrekke. Ps 136, wat as sentrale tema het dat daar aan Jahweh se liefde geen einde is nie, sê in elkeen van sy 26 verse dat die Here se chesed tot in ewigheid is.
Die OAV vertaal die woord met “goedertierenheid”, en die NAV en NIV gewoon met “liefde”. Maar hierdie is ‘n baie spesifieke soort liefde.
Hierdie is nie maar ‘n onpersoonlike soort liefde nie – liefde op ‘n afstand. Dis verhoudingsliefde. Dit word ten nouste geassosiëer met die idee van verbond. In die geval van God is dit dus Sy verbondsliefde vir Sy geroepe volk – en vir diegene daarin wat erns maak met die verbondsbepalinge.
Die begrip impliseer persoonlike betrokkenheid en toewyding wat bo die eise van plig, konvensie of wet uitstyg. Een woordeboek beklemtoon dat dit ‘n liefde is wat gepaard gaan met krag en volharding 1 – krag om die aandrange van die liefde te gehoorsaam; volharding om ten spyte van watter struikelblokke ook al, daarmee vol te hou.
Verder toon ‘n studie van hierdie begrip dat dit veral ook die idee van God se genadedra. 2 Vandaar, waarskynlik, dat Johannes die Griekse woord vir “genade” in ons teks gebruik. En wie kan ontken dat die begrip “genade” aan die hart lê van die res van die Nuwe Testament? Tewens, haal genade uit die evangelie uit, en alles stort in duie.
Chesed dui dus op God se onwankelbare en vasbeslote toewyding aan die mense met wie Hy in ‘n verbondsverhouding staan. J.I. Packer stel dit só: “it is essentially a matter of faithfulness to the covenant promise whereby He bound Himself to be Israel’s God and to use all the resources of deity to bless them.” 3 Waarskynlik is die beste vertaling dus “verbondsliefde” of “ontfermingsgenade”.
DIE BEGRIP GENADE IN ONS TEKS
Ons kan God se genade só definieer:
God se genade is Sy vrye, onverdiende en ongedwonge liefdesguns in die gawe van die ewige lewe aan skuldige sondaars – wat nie alleen dit nié verdien nie, maar wat presies die teenoorgestelde daarvan verdien, nl. die ewige oordeel.
God se genade is dus Sy soewereine, spontane goedheid en reddende guns teenoor sondaars, wat daarin tot uitdrukking kom dat Hy (op grond van die versoeningsdood van Christus) hulle red van Sy toorn – en wel só dat Hy afstootlikes liefhet, hulle sondes vergewe, hulle aanneem as Sy kinders, Homself aan hulle openbaar, hulle in Sy volheid inlei, en alle struikelblokke oorkom om dit te bereik. 4
GENADE OP GENADE
Nou moet ons terugkeer na Jh 1. In v.15 val Johannes homself as ‘t ware in die rede. Die verbysterende stellings wat hy in v.14 maak, is nie oordrewe nie. Die gerespekteerde Johannes die Doper het soortgelyke dinge oor die mensgeworde Woord gesê: Hy was van ewigheid af waarlik God!
En indien die lesers steeds wonder of hulle nie dalk te doen het met wilde stellings van twee eksentrieke mans nie, herinner Johannes hulle in v.16 dat alle ware gelowiges proefondervindelik verstaan waarvan hy praat. Want (Gr.) uit hierdie volheid drink hulle almal gedurig. En dis nie ‘n soebatstroompie nie. Hulle kry “genade op genade”.
Hierdie uitdrukking is vol betekenis. Letterlik beteken dit genade in die plek van genade. Dis soos branders wat onophoudelik een na die ander uitrol op ‘n strand. Nooit hou dit op nie – jaar in, jaar uit.
ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING
Niks is méér eie aan God se karakter as om chesed, oftewel genade te betoon nie.
Van alles wat waar is oor God, kies Hy twee karaktertrekke om by uitnemendheid oor Homself aan ons te openbaar – eers aan Moses, en dan deur Sy Seun. En die eerste daarvan is Sy chesed-genade. Hierin moet ek en jy onsself weer en weer verbly. Ons hele wandel met die Here moet hiervan deurweek wees. Laat ons nie tevrede wees met ‘n afgewaterde en derderangse Christenskap nie, maar die Here in gebed bly vasgryp sodat Sy verbondsliefde elke dag soos branders oor ons rol.
Niks behaag Hom meer nie, as dat Sy kinders weer en weer met die grootste vrymoedigheid uit Sy fonteine van heil drink. Niks verheerlik Hom meer nie. Niks versier die evangelie meer nie. Niks maak die kerk meer aantreklik nie. Bly dus ten alle koste van die trapmeul van godsdienstige verdienste af!
Nog meer, ‘n lewe in die volle stroming van God se genade is ‘n lewe van weergalose avontuur. Dit beteken ‘n steeds dieper-wordende belewing van die teenwoordigheid en seën van die Here.
Laat ons in tye van swaarkry soos drenkelinge aan God se chesed-genade hang.
Laat ons nie paniekerig van God se verbondstrou vergeet nie. Onthou die verlede tyd in v.16 – ons het dit reeds ontvang! Die Here sál Sy kinders deurdra. Male sonder tal het Hy dit reeds gedoen; Hy sal dit weer en weer doen.
Selfs as ons hande dan tóg gly, sal Hy ons nie in die steek laat nie. Want die Here se verbondstrou is nie afhanklik van mý getrouheid nie. Dis van niks afhanklik nie! Hy het belowe, en daarby staan Hy. Mý ontrou kan Hom nie van hierdie wesenskaraktertrek beroof nie. Daarom kan Paulus vir Timoteus verseker: “as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie” (2Tm 2:13).
Ons moet die Here navolg in die betoning van chesed-genade.
Hoewel in die eerste instansie ‘n karaktertrek van God in die Skrif, is dit nie tot Hom beperk nie. Ons oor wie Sy troue guns soos branders spoel, moet dit deurgaans aan andere betoon (vgl. 2Sam 9:1, 7).
En soos Hy, moet ook ons die menslik-onmoontlike beoefen: ook my trou moenie afhang van andere se prestasie nie. Hoe sal ek dit regkry? Die Here se chesed-genade sal my daarvoor toerus – as ek Hom waarlik daarvoor vertrou.
Les bes, hoeveel aanmoediging sit daar nie vir sondaars in hierdie karaktertrek van God nie.
Laat diesulkes weet dat die God van genade ‘n vreugde daarin het om mense te red. Sy Woord leer uitdruklik dat Hy geen behae in die dood van sondaars het nie. Hy wil hê dat hulle hul moet bekeer en lewe (Eseg 18:23, 30-32, OAV).
Daarom kan ek met volle Skrifmandaat elke sondaar oproep om hom of haar op grond van die Here se verbondsbeloftes op Hom te werp. Erken dat jy ‘n sondaar is wat die ewige verdoemenis verdien. Neem standpunt in teen jou sonde, bely dit teenoor die Here en pleit by Hom om jou op grond van Christus se middelaarswerk te vergewe – en om jou te verlos van die krag en gevolge daarvan.
Niks gee die Here méér vreugde, en verheerlik Hom méér, as om die vuilste sondaars te red nie! Kom dus na Hom toe en weet vir seker: Sy chesed-genade sal jou soos die verlore seun se pa omhels!
VOETNOTAS
1. Nelson’s Expository Dictionary of the Old Testament (Ed’s. Unger & White), Thomas Nelson, 1980, p.232.
2. D.A. Carson, The Gospel according to John, Eerdmans, 1991, p.129.
3. J.I. Packer, God’s Words, IVP, 1981, p.97.
4. N.a.v. J.I. Packer, God’s Words, IVP, 1981, p.97.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier