JOHANNES 1:14
Die enigste Seun van die Vader

DIE GRIEKSE WOORD WAT DIE NAV MET “ENIGSTE SEUN” VERTAAL, het vir baie drama in die geskiedenis gesorg.

Vroeg in die 4de eeu was ‘n sekere Alexander biskop van Alexandria, die leidende gemeente in Egipte. Op ‘n keer was Alexander besig met ‘n lesing oor die leerstuk van die Drie-eenheid. Skielik is hy in die rede geval deur een van die jong ouderlinge, Arius. Hy het die ouer man daarvan beskuldig dat hy die onderskeid tussen die drie Persone van die Godheid onderspeel, en het aangevoer dat die Seun deur die Vader geskep is  –  weliswaar voor die begin van die tyd. Maar ewig is Hy nie. Arius was heeltemal bereid om toe te gee dat die Seun ver verhewe bo die mens is, maar hy het daarop aangedring dat Hy van ‘n mindere orde as die Vader is (soos die Jehowa Getuies).

Arius het onmiddellik sy standpunt begin versprei, en spoedig het hy ‘n sterk gevolg gehad.

DIE ENIGGEBORENE?

Elke ketter het sy letter!

Sentraal in Arius se beskouing was die begrip waarna ons kyk, die Griekse woordmonogenes. In baie Bybels, tot vandag toe, word dit vertaal met “Eniggeborene” (OAV), of “only begotten” (KJV; NKJ; NASB; Ampl ens.). Dis ‘n goeie voorbeeld van hoe mens verkeerd kan loop as jy jou primêr deur ‘n woord se etimologie laat lei, en nie deur die gebruik daarvan in die res van die Bybel nie. Mono beteken, heeltemal korrek, “enig”. Maar die probleem het ingesluip by die res van die woord. Dis aangeneem dat dit teruggevoer moet word na gennao (voortbring of verwek)  –  vandaar “eniggeborene”. Maar in werklikheid het dit ontwikkel uit genos (tipe of soort). Johannes wil dus sê dat Jesus die enigste van Sy klas of soort is  –  en nie dat Hy deur die Vader verwek is nie.

Gaan kyk mens hoe die begrip elders in die Skrif gebruik word, bevestig dit bg. verstaan daarvan.

Die woord word 4 keer gebruik vir gewone mense. Dit werp lig op die Here Jesus se unieke seunskap. Elke keer word dit gebruik om die innige liefdesverhouding tussen ‘n ouer en ‘n bepaalde kind te beklemtoon  –  ‘n oogappel-verhouding. Die weduwee van Nain is op pad om haar enigste seun te gaan begrawe as Jesus hom opwek (Lk 7:12). Jesus maak Jaïrus se enigste dogtertjie lewend uit die dood (Lk 8:42). ‘n Man pleit by Jesus om sy enigste seun van ‘n demoon te bevry (Lk 9:38). Les bes, Abraham moes sy enigste offer (Hb 11:17).

Laasgenoemde gebruik van die woord wys dat dit nie noodwendig praat van ‘n enigste kind nie, aangesien Abraham nóg ‘n seun gehad het  –  Ismael. Maar Ísak was die appel van sy oog.

Dit laat mens dink aan Gn 22:2 waar Abraham beveel word om sy seun, “sy enigste” te gaan offer (vgl. v.12). Die Hebreeuse woord, yachid, dra die idee van innige vertedering en gehegtheid (vgl. Spr 4:3; Jer 6:26; Amos 8:10; Sag 12:10). Dis kennelik die Hebreeuse ekwiwalent van monogenes. Dus was hierdie kinders nie noodwendig die enigste nie, maar hulle was die mees geliefde.

Die woord word 5 keer vir die Here Jesus gebruik, elke keer deur Johannes (Jh 1:14, 18; 3:16, 18; 1Jh 4:9). Veral in Jh 3:16 en 1Jh 4:9, waar gepraat word oor God se liefde vir sondaars, maak bg. verstaan van die woord ‘n wonderlike nuwe perspektief oop: só lief het God sondaars, só belangrik is hulle redding vir Hom, dat Hy bereid was om Sy monogenes  –  die innig-geliefde appel van Sy oog  –  vir hulle as losprys op te offer.

Hierdie woord beklemtoon dus Christus se unieke seunskap. Baie ander mag ook kinders van God word, maar Jesus se seunskap is wesentlik anders. Die Seun, hoewel waarlik mens, bly ook waarlik God. Hy bly Skepper en die res van God se kinders skepsele. Dis net híér waar Arius die bal misgeslaan het.

GOD SE MAN VIR DIE OOMBLIK

Algaande het die Arianisme soveel onrus in die kerk veroorsaak  –  en gedreig om dit uitmekaar te ruk  –  dat Keiser Konstantyn in 325 ‘n sinode in Nicea (naby Konstantinopel) byeengeroep het om eens en vir altyd klarigheid oor die kwessie te kry.

Alexander het ‘n briljante jong diaken, Atanasius, as sekretaris saamgeneem  –  iemand wat ‘n reus in die kerkgeskiedenis sou word. Hoewel sonder spreekreg op die sinode, was hy eintlik die denker agter Alexander se kragtige vertoë.

Uiteindelik is ‘n sterk besluit teen Arius se beskouing geneem. In hierdie eerste formulering van die belydenis van Nicea word die godheid van Christus sterk beklemtoon. Later sou die Sinode van Konstantinopel die belydenis finaliseer (in 381).

‘N ENKELE LETTERTJIE

‘n Sleutelbeklemtoning in die belydenis is dat die Seun “van dieselfde wese” as die Vader is. Agter dit sit ‘n hele stuk intrige. Die stryd met Arius het gegaan oor 2 Griekse woorde wat beroemd geraak het in die dogmageskiedenis: homoousios (van dieselfde natuur) enhomoiousios (van ‘n soortgelyke natuur). Die verskil sit in die twee voorvoegsels: homo-(dieselfde) en homoi- (soortgelyk). Al verskil tussen die twee woorde is die Griekse letter, iota, oftewel ‘n enkele vertikale strepie  –  die kleinste lettertjie in die Griekse alfabet. 

Arius was heeltemal bereid om te sê dat die Seun homoiousios aan die Vader is (soortgelyk), maar nie dat Hy homoousios is nie (van dieselfde natuur). Maar die sinode het begryp hoe belangrik die verskil tussen die twee standpunte is. As Christus nie presies van dieselfde natuur as die Vader is nie, is Hy nie waarlik God nie. Maar homoousios is aanvaar  –  van dieselfde natuur.

‘N MEEDOËNLOSE STRYD

Dit was helaas nie die einde van Arianisme nie.

Drie jaar later, in 328, word Atanasius die nuwe biskop van Alexandrië  –  en so word hy die speerpunt in die felle stryd teen die Arianisme. Trouens, dit sou sy lewe grootliks oorheers.  Die stryd van die volgende amper 5 dekades lees soos ‘n riller. Verskeie kere lyk dit asof Arianisme die oorhand kry. Maar steeds stry Atanasius onvermoeid vir die waarheid. Daarvoor betaal hy ‘n duur prys. Hy is etlike kere in ballingskap, en een keer moet hy vir 5 jaar in die woestyn voor die keiser se soldate vlug. Maar steeds verkondig hy die ware evangelie tydig en ontydig.

Uiteindelik, 8 jaar na Atanasius se dood in 373, word Arianisme finaal die nek ingeslaan deur die Sinode van Konstantinopel. Daarin het niemand ‘n groter rol gespeel as die Biskop van Alexandrië nie. Trouens, dit word algemeen aanvaar dat Arianisme die botoon sou gevoer het as dit nie vir hom was nie.

LEWENSBELANGRIK

Waarom is hierdie so ‘n belangrike saak? Waarom gee Atanasius sy alles om iets te verdedig wat in elk geval vir ons ‘n geheimenis is? Hy het verstaan wat op die spel was  –  die suiwerheid van die evangelie en die realiteit van ons redding! Presies wie en wat Christus is, is lewensbelangrik. Slegs iemand wat waarlik en in die volste sin van die woord én God én mens is, kan ‘n Verlosser van sondaars wees! Arius se Christus is nie waarlik God nie, maar ‘n skepsel. As sodanig kan Hy nie ons sondeskuld dra sonder om self onder te gaan nie.

Dwarsdeur sy lewe het dit vir Atanasius oor een saak gegaan: die eer en die heerlikheid van Christus. En hy het geweet die evangelie staan en val by die goddelikheid van Jesus Christus.

TOEPASSING

‘n Suiwer en eksakte formulering van waarheid is belangrik. Te dikwels het mense die standpunt dat jy ‘n volwasse Christen kan wees sonder doktrine. As ‘n organisasie of kerk vir my sê dat hulle hul nie besig hou met doktrine nie, sê hulle vir my hulle het nie ‘n benul waaroor dit regtig gaan nie.

Geloof het inhoud, en ware geloof het waarheid as inhoud. En soms kan ‘n klein vertikale strepie die verskil tussen lewe en dood beteken. Dan is dit nie onheilig om hand en tand vir die waarheid te veg nie; inteendeel. Nicea gaan oor die ware leer van die Drie-eenheid  –  teenoor ‘n sielsvernietigende verwatering. Atanasius het dit verstaan.

Dis oor dinge soos hierdie dat die Nuwe Testament so oor en oor teen dwaalleraars waarsku.

As ons teks leer dat Christus God se hoogste openbaring aan ons is, het ons nie ‘n dowwe openbaring in Hom nie. Die Woord wat mens geword het, was in die volste sin die ewige Seun van God, sélf God. Wat ons in Hom sien, is presies hoe God is. Weliswaar het Hy nie alles aan ons geopenbaar nie, maar wat Hy wel geopenbaar het, is absoluut suiwer en betroubaar.

Dink vir ‘n oomblik na oor hoe die Bybel Christus vir ons teken. Wie sien jy? Was daar ooit iemand so aangenaam, so bekoorlik, so beminlik? Was daar ooit ‘n liefde soos Syne? Wie was ooit so volmaak? Presies só is God! Presies só tot in ewigheid!

Duidelik sien ons in die Here Jesus se lewe die liefdesverhouding tussen Hom en die Vader!

Mens kan nie die Evangelies lees nie, veral Johannes, sonder om onder die indruk te kom dat niks in Jesus se lewe ‘n groter rol gespeel het as Sy verhouding met Sy Vader nie.

Die Vader praat twee keer uit die hemel met Sy Seun. En elke keer is dit ‘n liefdesverklaring. As Jesus gedoop word, kom ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My” (Mk 1:11; Mt 3:17; Lk 3:22). En op die berg van verheerliking kry ons ‘n soortgelyke uitspraak (Mt 17:5; Mk 9:7; Lk 9:35).

Hierdie liefde tussen Vader en Seun is ‘n ewige en onbeskryflik intieme liefde. Die slotvers van Johannes se proloog sê dat die Seun “in die boesem van die Vader is” (Jh 1:18). In Spr 8, wat algemeen aanvaar word as ‘n poëtiese beskrywing van die Seun in Sy ewige bestaan, word dit aangrypend mooi gestel: “Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag Sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet” (30).

Ten slotte, in die Vader se liefdesverklaring op die berg van verheerliking, sê Hy uitdruklik vir ons wat ons moet doen om Hóm te behaag: ons moet die appel van Sy oog gehoorsaam. En dis hoe ware liefde is: dit soek altyd weer die eer van die een wat jy liefhet. Selfs die Vader beleef Sy liefde so. Niks bevredig Hom méér nie, as dat Sy Seun voortdurend die middelpunt van ons lewens is.

Laat ons weer en weer vir só ‘n liefde bid!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00