JOHANNES 1:14
"... het vlees geword ..." [2]

ONS HET GESIEN DAT JOHANNES, AS HY JESUS DIE LOGOS NOEM, op die mees treffende wyse vir sy lesers van destyds sê dat sy Hoofkarakter waarlik en in elke opsig die ewige en allerhoogste God van hemel en aarde is. Maar dan, as hy dit oor en oor tuisgebring het, laat hy in v.14 ‘n bom val op sowel die Grieks-filosofiese wêreld, as die Joods-godsdienstige wêreld:hierdie Woord het mens geword en onder ons kom woon!

Met hierdie v.14 is ons besig  –  spesifiek op die oomblik met die feit dat die Woord vlees geword het. Laas het ons seker gemaak ons verstaan Johannes se woorde reg. Ons het ook gelet op die Skrif se aandrange op ‘n suiwer Christologie.

Nou moet ons bietjie meer infokus op hierdie menswording van die Seun. Sekerlik is dit een van die mees verbysterende dinge in die ganse Skrif. Nooit sal ons dit volledig kan deurgrond nie. Maar tot die mate wat jy dié Bybelse openbaring begryp en omhels, tot daardie mate help dit jou met ander Skrifwaarhede.

VERWEKKING EN GEBOORTE

Ons praat van die maagdelike geboorte. Dis in orde so, maar laat ons onthou dat net die Seun se verwekking bonatuurlik was  –  nie die swangerskap of geboorte self nie. Die Kind is gebore toe Maria se tyd gekom het (Lk 2:6)  –  waarskynlik na ‘n swangerskap van 40 weke.

Die bo-natuurlike van die maagdelike geboorte sit in 3 waarhede  –  en daarin alleen:

Die verwekking was bonatuurlik. Geen manlike saad is in Maria se moederskoot gestort nie. Die Heilige Gees het die lewe verwek (Mt 1:20; Lk 1:35). Maar, ewe belangrik, Maria was in elke opsig Sy biologiese moeder. Háár eiersel is bevrug.

Die Baba wat verwek is, was bonatuurlik. Dit was nie bloot ‘n gewone baba wat net bonatuurlik verwek is nie. Dit was die ewige Seun van God, die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid, die Woord  –  reg van die eerste oomblik van swangerskap af. Die fetus wat ontwikkel het, was waarlik God die Seun  –  vandat Hy net mikroskopies klein was, soos Hy deur al die ontwikkelingsfases gegaan het, en soos Hy bebloed, weerloos en doodnatuurlik gebore is.

Die baba is bonatuurlik bewaar van enige sondebesoedeling vanaf die baarmoeder. Of hierdie bewaring volledig tydens verwekking plaasgevind het, en of dit dwarsdeur die 40 weke van swangerskap geduur het, weet ons nie. Maar dat dit bonatuurlik en volkome was, staan vas.

JESUS SE MENSLIKE NATUUR

Talle van die stuk of 300 Ou Testamentiese profesieë oor die komende Messias maak dit duidelik dat Hy ‘n mens sou wees.

Hy sou ‘n menslike geboorte hê (Jes 7:14; 9:6), vanuit die stam van Juda en die familie van Dawid (Jer 23:5-6). Hy sou onderworpe wees aan God se wet en dit volmaak gehoorsaam (Ps 40:7-11). Hy sou sterf, begrawe word en vir ‘n tyd lank in die greep van die dood verkeer (Jes 53; Ps 16:9-11; 22; 118:17-23). Hy sou geslaan, gemartel en bespuug word (Jes 50:6). Ensovoorts.

Nooit moet ons toelaat dat die bonatuurlike aard van Christus se ontvangenis in die moederskoot ons verlei om te dink dat Hy nie ‘n ware menslike natuur gehad het nie. Uitgesonderd die sonde, het Hy waarlik een van ons geword. Die Hebreërskrywer stel dit só: “Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. …Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word …” (2:14-17).

Oor en oor maak die Nuwe Testament dit duidelik dat Jesus in elke opsig mens was. Ja, Hy was meer as mens, maar ook volkome mens. Hy het ‘n menslike liggaam gehad, ‘n menslike innerlike, ‘n menslike verstand.

Ons sien Sy menslikheid veral in vier areas:

Sy fisies-liggaamlike lewe. Hy is normaal uit ‘n normale vrou gebore. Op agt dae is Hy soos enige Joodse seuntjie besny. Hy het op ‘n normale wyse gegroei en ontwikkel (Lk 2:40, 52). In sy tweede hoofstuk beskryf Lukas Jesus agtereenvolgens as ‘n baba (16), ‘n kind (40) en ‘n seun (43) (vgl. NIV). Hy het honger geword en geëet; Hy het moeg geword en geslaap.

Dis omdat Hy volkome mens was dat die inwoners van Nasaret, tussen wie Hy groot geword het, in verbasing oor Sy gesag en wonders gesê het: “Is hy dan nie ‘n timmerman, ‘n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?” (Mk 6:3).

Sy emosionele lewe. Jesus het nie net ‘n menslike liggaam gehad nie, maar ook ‘n menslike siel en gees. As sodanig het Hy tipiese menslike emosies beleef. Hy het lief gehad (Jh 11:3, 5). Hy het kwaad geword (Mk 3:5; Jh 11:33). Hy het hartseer geword (Jh 11:35; Lk 19:41). Hy het vreugde ervaar (Lk 10:21). Oor en oor word Sy diep empatie met mense in nood beskryf. En in Getsemane het Hy skok, vrees, verwarring en emosionele pyn ervaar.

Sy natuurlike lewe. Hoewel Hy nie ons sondegeneigdheid gehad het nie, was Hy onderworpe aan al ons natuurlike beperkinge. Toe Hy gebore is kon Hy nie staan nie. Hy kon nie 3m hoog spring nie. Sy vel was nie teen spykers bestand nie. Daar was dinge wat Hy nie geweet het nie: “Wie het aan my klere geraak?” (Mk 5:30); “Hoeveel brood het julle?” (Mk 6:38).

In Jh 11:34 vra Hy vir Marta en Maria: “Waar het julle hom begrawe?” Tog wek Hy Lasarus kort daarna uit die dood op! Hy was dus gelyktydig beperk en onbeperk, onkundig en alwetend, kragteloos en almagtig. 

Dit is die beginsel: wanneer Jesus bonatuurlik opgetree het, was dit in die krag van die Gees, en net as dit die Vader se wil was  –  en dan altyd om tot eer van die Vader Sy goddelike sending en mandaat te bevestig, nooit in eiebelang nie.

Sy geestelike lewe. Hy is versoek. Hy het gebid, die Skrif bestudeer, gevas, God vertrou.

Die Here het dikwels na Homself as “die Seun van die mens” verwys (dis ‘n stuk of 80 keer so opgeteken). Wat het Hy daarmee bedoel? Die antwoord is in die Ou Testament. In Ps 8:5 en 146:3 onderstreep die uitdrukking menslike nietigheid. In Esegiël word die profeet oor en oor so aangespreek  –  waarmee God hom aan sy geringheid herinner. En in Dn 7:13 verskyn iemand “soos die Seun van die mens” voor “die Oue van dae” (OAV). Dis ‘n Messiaanse profesie wat vooruit kyk na Christus se ontvangs van alle gesag in die hemel en op aarde  –  maar wat beklemtoon dat dit in Sy hoedanigheid as die mens Christus Jesus is wat dit met Hom gebeur.

‘N VOLKOME VERLOSSER

In Rm 8:3 maak Paulus ‘n skokkende stelling. Dit vat hom tot op die rand van godslastering. Christus het in die gelykheid van die sondige vlees gekom (OAV). Sekerlik kan die apostel dit sagter stel, maar hy wil nie. Hy wil ‘n punt tuisbring.

Die woord “gelykheid” impliseer ‘n kwalifikasie: Hy het nie met sondige vlees gekom nie, dit het net so gelyk. Die Seun se menswording het dus perke gehad  –  maar eintlik net op een punt: Hy het geen sonde gehad nie.

Maar waarom gebruik Paulus dan hoegenaamd die woorde, “sondige vlees”? Omdat hy wil beklemtoon dat Jesus op ‘n manier gekom het wat van Hom ‘n volkome mens gemaak het. Sy identifisering en solidariteit met ons is amper absoluut. Hy het so na aan die sondige mensheid gekom soos wat moontlik was  –  sonder om self ‘n sondaar te wees. Dis soos die Hebreërskrywer sê: “Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Hb 4:15).

Hier is nou vier dinge wat ons moet verstaan:

Ten einde ons volkome Plaasvervanger te wees, moes Jesus Christus in elke opsig word wat ons is. Was daar elemente van ons mens-wees nie in Hom teenwoordig nie, was dit uitgesluit van Sy verlossingswerk. Maar God wil ons volkome red  –  die héle mens. Niks, maar niks, van ons mag agterweë bly nie.

Maar wat dan van ons sonde? Dis so ‘n integrale deel van ons! Nee, nee! Sonde is ten diepste níé deel van ons mens-wees nie. Ons was nie oorspronklik so nie. Dit het later bygekom. Dis in werklikheid heeltemal onnatuurlik. En dis die oorspronklike (prys die Here!) wat Jesus kom verlos en herstel het  –  volkome!

Wat dan van ons sonde? Dis juis om ons van hierdie vreemde en onnatuurlike kanker te genees, dat Hy dit op Homself geneem het om dit volkome, finaal en vir ewig uit die weg te ruim en te vernietig.

Les bes, onthou dat Jesus ten diepste as Adam se Plaasvervanger en Opvolger gekom het  –  maar dan die sondelose Adam soos hy destyds voor die sondeval was, die kroon van God se skepping. Trouens, ná Sy opstanding was die Here Jesus  –  wat Sy mensheid betref  –  wat die oorspronklike Adam sou geword het as hy getrou aan God gebly het en dus die ewige en onomkeerbare loon sou ontvang het. En dis presies waarheen diegene van ons wat in Christus is, op pad is. Want die vloek van die sondeval is enersyds vir ons opgeskort (nou al in beginsel en eendag volkome), en die ewige loon vir volkome gehoorsaamheid (Sý gehoorsaamheid wat aan ons toegereken is) wag vir ons met groter sekerheid as wat nag op dag volg en dag op nag.

Waarlik, 1Jh 3:2 moet op die tafels van ons harte geskryf staan: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1Jh 3:2, OAV).

Hoe meer ‘n mens nadink en navors oor die verlossing wat Christus bewerkstellig het vir diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het, hoe meer staan jy verbyster daaroor. Dis ewig, onomkeerbaar en veel heerliker as wat woorde kan uitdruk.

O, wat ‘n Verlosser is Jesus Christus nie! Volkome, volkome in die volste sin van die woord!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00