EFESIËRS 6:17a
Afskeidspreek; Antipas; 13-1-08
PRESIES 10 JAAR GELEDE HET EK EN SONIAH 26 000 PAMFLETTE HIER IN PRETORIA VERSPREI. Daarin het ons mense genooi na dienste toe by die Nuwe Hoop Skool in Ashlea Gardens. Daar sou ek begin om elke Sondagaand die Woord te verkondig.
Nou, na honderde preke, verkondig ek vir die laaste keer die Woord hier as voorganger van die gemeente wat ontstaan het. Dit het tyd geword om aan te skuif.
Wat sê mens by so ‘n geleentheid? Iets núút het ek nie meer om vir julle te sê nie. Eerder sal ek poog om vir julle iets wesentlik belangrik te sê. Ja, ek het dit al oor en oor in die verlede gesê, maar ek sal ‘n vars teks gebruik. As julle in die Here se genade daarin kan slaag om hierdie Skrifopdrag uit te leef, sal julle tot in ewigheid dankbaar wees daarvoor. Ek wil dus met julle praat oor ‘n fundamentele lewensbeginsel – een wat vir julle ‘n seëvierende toegang tot die ewige heerlikheid van ons Here Jesus Christus sal verseker.
Wat wil ek vir julle sê? In ‘n neutedop kom dit hierop neer: leef in die lig van die ewigheid! Laat dit ‘n beheersende beginsel in jou lewe wees dat jy hier op aarde net ‘n pelgrim is, dat jy ‘n vreemdeling en bywoner is, dat jy net onderweg deur is. Stel jou hele lewe daarop in dat jou eintlike woning die nuwe hemel en die nuwe aarde is. Hou dit altyd voor oë dat die paar dekades hier in die gevalle wêreld net ‘n spikkeltjie is aan die begin van ‘n oneindige lang lyn. Vergeet dus nooit nie, om Totius aan te haal, dat hierdie wêreld nie jou woning is nie.
DIE HELM VAN VERLOSSING
Wat ek wil sê, sê die apostel Paulus kort en kragtig in Ef 6:17: dra die helm van verlossing!Hierdie helm, is die vyfde deel van die bekende ses-delige wapenrusting van die geloof in Ef 6.
Wat presies is hierdie helm? As verlossing op sigself die helm sou wees, het elkeen wat verlos is dit mos vanself op, sou mens dink. Dan is dit mos nie nodig dat die apostel ons oproep om dit te dra nie. Hoe kry ons die kloutjie by die oor?
Die sleutel is in 1Ts 5:8. Die apostel gebruik soortgelyke beeldspraak as hier, maar sê dan uitdruklik dat die helm ons hoop op verlossing is.
Die idee van verlossing word op drie maniere in die Nuwe Testament gebruik. Dit is iets wat in ‘n ware Christen se geval in die verlede gebeur het (“ons is verlos”), maar dis ook ‘n voortgaande proses (“ons word verlos”), en dis iets wat in die toekoms sal gebeur (“ons sal verlos word”).
Hier dink die apostel dus aan sy lesers se toekomstige verlossing – die afronding van hulle redding wanneer hulle verheerlik word.
Die helm waarvan Paulus hier praat, is daarom die Christelike hoop. Dis die vaste sekerheid oor ons toekomstige saligheid, die opgewonde afwagting op die afronding van ons uiteindelike verlossing!
Mens dra dus hierdie helm van verlossing as jou hele lewe ingestel is op die opstanding, die heerlikmaking en die ewige lewe saam met Christus.
DIE HELM VAN DIE HOOP IS IS BELANGRIK!
‘n Helm beskerm mens se kop – daarom jou brein. Die geestelike helm waarvan die apostel hier praat, beskerm dus jou manier van dink, jou oortuigings en jou lewensinstelling. Om die helm te dra, is dus om oor jou gedagtewêreld en oortuigings te waak, en om in die lig van die ewigheid te leef.
Ons kan dus sê dat as ‘n mens die regte helm dra, dink jy reg en het jy God se perspektief op die lewe, die wêreld om jou, die toekoms en die ewigheid. En almal van ons weet hoe belangrik uitkyk en gesindheid in die lewe is. Dit bepaal hoe jy dinge sien en beoordeel en benader. Die bril waardeur jy na jou eie menswees, en die wêreld kyk, en die lens waardeur jy die toekoms sien, het ‘n bepalende invloed op hoe jy leef. Waarlik, my instelling, gerigtheid, fokus, waardes en prioriteite is kardinaal belangrik. Dit speel ‘n deurslaggewende rol in hoe ek leef. Dit bepaal my bestemming.
Dis soos die Comradesmaraton. Die helfte van die wedloop word in jou kop gehardloop.
Maar Paulus het nie bloot ‘n optimistiese lewensinstelling en toekomsverwagting in gedagte nie. Spesifiek moet ek my oë vasnael op die afronding en vervolmaking van my uiteindelike verlossing in Christus!
Dit gaan dus oor ‘n suiwer begrip van die waarheid oor die toekoms. Dit gaan spesifiek oor my gesindheid en instelling ten opsigte van God se uiteindelike plan met Sy kinders – en daarom ook met my. Dit gaan oor ‘n afwagting en ‘n uitsien na dit wat God belowe het vir almal in Christus.
EK MOET HIERDIE HELM OPSIT EN DRA
Die werkwoord wat Paulus gebruik, “Sit … op”, praat van ‘n besliste en gretige aanneem van iets wat aangebied word (daarom vertaal die OAV met “neem aan”). En laat ons verstaan dat God nie vir spek en boontjies so baie oor die toekoms aan ons geopenbaar het nie. Ons moet die dinge wat Hy daaroor vir ons sê, omhels, weer en weer bedink – en ons lewens daarvolgens inrig.
Voorts beklemtoon die werkwoordsvorm: Doen dit vir, of ter wille van jouself! Laat ons verstaan en onthou hoe belangrik hierdie saak is – dat dit waarlik in eiebelang is om dit ernstig op te neem.
Terwyl die hoop te doen het met die toekoms, het dit egter ook nou alreeds baie waarde. Dit bemoedig en versterk en oriënteer my in my lewe hier en nou. Daarenteen lê niks mens so lam soos uitsigloosheid nie. Sonder verwagting oor die toekoms, het mens geen krag om nóú te leef nie. Maar ‘n opgewonde afwagting oor die toekoms verleen nou reeds ‘n veerkrag aan my tred.
SLOTSOM
Ek dra die helm van verlossing wanneer my begrip, oortuigings, denke en lewensinstelling op ‘n volgehoue en gekonsentreerde wyse beheers word deur die wete dat die afronding en vervolmaking van my verlossing, hoewel toekomstig, absoluut seker is.
WAT SÊ DIT VIR ONS?
Die helm van verlossing is wesentlik belangrik vir my ewige saligheid.
Die vyand van ons siele wil ons verblind vir die waarheid waarna ons kyk. Hy wil ons geheel-en-al laat opgaan in die hier en nou. Onthou, hierdie helm is deel van die wapenrusting wat ons in staat stel om staande te bly teen die liste van die duiwel (11-13).
Natúúrlik is daar korttermyn verpligtinge wat my aandag vereis. En daar is korttermyn verwagtinge wat ‘n integrale deel van hierdie lewe is – ook van ons geloofslewe. Maar die deurslaggewende van my lewe moet die langtermyn, die groter prentjie, die permanente, die ewige wees.
Van die belangrikste dinge wat die Here vir ons wil leer, is so ‘n langtermyn-visie en geduld om dit te bereik. Volharding tot die einde toe, is waaroor dit gaan. Trouens, volgens God se Woord is dit ‘n voorwaarde vir beërwing van die ewige lewe.
Dis waarom die duiwel ons só dikwels wil moedeloos maak deur in ons ore te fluister: “Dis tevergeefs! Gooi maar tou op!” Dis waarom hy ons om elke hoek en draai wil laat struikel en neerslaan. Dis waarom hy ons weer en weer in sonde wil inlok, want dit lê jou lam in die wedloop.
Waarlik, min dinge in die Christelike lewe is belangriker as ‘n ingesteldheid op die wenpaal!
Die helm van verlossing is die geheim van ‘n lewe van triomf en Godsverheerliking.
As iemand die helm van verlossing dra, bepaal dit hoe hy die lewe sien en hoe hy diedood sien.
In Fl 1:21 skryf die apostel: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (OAV).
As die apostel sê dat die lewe vir hom Christus is, sê hy dat Christus sy lewe is. Die Here is sy vreugde en lewensin. Stroop iemand van wie dit geld van alles – dan bly hy of sy steeds skatryk.
Vir so ‘n persoon is Christus die Bron van sy lewe. Dít waarvan die Here Jesus in Jh 15 praat, het vir hom ‘n werklikheid geword: soos ‘n loot kry hy al sy lewenssap van die wynstok.
Christus is die gerigtheid van sy lewe – sy dryfveer, sy motief, sy ambisie! Hy verstaan al hoe meer Paulus se begeerte in Fl 3:10: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lydingte deur aan Hom gelyk te word in sy dood.”
Sý Evangelie, Sý koninkryk, Sý eer is dus die alfa en omega van my lewe.
Voorts sê die apostel dat die sterwe vir hom wins is. En twee verse verder brei hy hierop uit: ” … ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste …” (Fl1:23). Dis asof hy geen vrees vir die dood het nie. Dit mag ‘n oomblik van benoudheid wees, ja. Maar dis bloot ‘n oorgang. Dis die drumpelvereiste vir ‘n onuitspreeklike heerlikheid saam met die Here.
Iemand met so ‘n instelling is onoorwinlik. Daar is niks wat hom kan intimideer nie. Die moeder van alle vrese hou vir hom geen bedreiging in niel.
Dit laat mens ook dink aan wat Paulus in Rm 14:8 skryf: “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”
Nou kan mens dink dat Paulus maar net grootmond was. Woorde is immers goedkoop. Maar gaan lees hoe hy geleef het, en hoe hy gesterf het. Waarlik, hy het end-uit die helm gedra.
En gaan lees die groot biografieë van die geskiedenis. Keer op keer sien jy hierdie gesindheid in die lewe van patriarg en profeet, van apostel en martelaar. Duisende sendelinge het dit presies so ervaar, en miljoene der miljoene gewone gelowiges – mans en vrouens in elke eeu, in elke laag van die samelewing, in elke ouderdomsgroep, in elke nasie.
As vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld het hulle geleef. Hulle was in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Hulle het die dinge van daarbo bedink. Hulle het ‘n beter vaderland gesoek. Hulle het die beloftes in die verte gesien en geglo en begroet. Hulle het volgehou omdat hulle die Onsienlike gesien het. Hulle het gelewe vir die ewigheid – en hulle getuienis vir ons nagelaat!
Daar is egter nog iets wat ons nie moet miskyk nie. Niemand het méér sinvolle lewens gelei as hierdie mense nie. Niemand het méér vir hulle medemens beteken nie. En niemand was méér vervuld en gelukkig as hulle nie.
Wil jy dus ‘n saakmaak-lewe leef – dra die helm van verlossing! Wil jy vreesloos vir die dood leef – dra die helm van verlossing! Wil jy ‘n feestelike toetrede van onuitspreeklike blydskap hê tot die lewe hierna – dra die helm van verlossing!
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier