1PETRUS 5:1-2a

EK IS GEVRA OM LERING TE GEE OOR DIE BYBELSE OPENBARING OOR DIE OUDERLINGE EN HULLE ROL IN DIE GEMEENTE. Kom ons gebruik 1Pt 5:1-2 as vertrekpunt. Ons werk dan deur hierdie twee verse en vul dit aan vanuit die res van die Skrif.

VERS 1

Hoewel Petrus met Apostoliese gesag praat, kom sy oproep tot die ouderlinge in nederigheid. Hy beskryf homself op drie maniere:

Hy is ‘n “mede-ouderling” (vgl. 2Jh 1 en 3Jh 1). Hoewel die apostels ‘n uiters gewigtige en gesagvolle opdrag gehad het  –  die vaslegging van die Nuwe Testamentiese kanon as fondament vir die kerk van alle eeue  –  maak die Nuwe Testament geen voorsiening vir ‘n hiërargiese gesagstelsel wat die kerk regeer nie. Christus is die Hoof van die kerk  –  en Hy werk deur die liggaam van ouderlinge.

Hy is ‘n “getuie van die lyding van Christus”. Om te getuig kan op twee maniere verstaan word: om iets te sien, of om daarvan te vertel.

As Petrus dit op eersgenoemde manier gebruik, bedoel hy dat hy ‘n ooggetuie was van Christus se kruisiging en wat daarmee saamgehang het  –  in welke geval dit ‘n onderstreping sou wees van sy apostoliese gesag om hierdie opdragte te gee.

Om te getuig beteken egter amper altyd om te vertel. Só aanvaar ons dit hier. Dan bedoel Petrus dat hy ‘n verkondiger is van Christus die Gekruisigde  –  soos ook die ouderlinge vir wie hy skryf.

Hy is ‘n “deelgenoot … van die heerlikheid wat geopenbaar sal word”  –  soos ook sy lesers.

As Petrus sy opdragte tot die “ouderlinge” rig, gebruik hy ‘n belangrike begrip (Gr.presbuteros) (Hd 14:23; 20:17; 1Tm 5:17; Tit 1:5).

Die woord dui op ‘n ouer man. Terwyl ouderdom in jare sekerlik hier ter sprake is, kan dit op sigself tog nie die kwalifiserende wees nie. Ek meen dus dat dit in die eerste instansie gaan oor wysheid en lewenservaring, asook rypheid in die kennis van die Here, Sy Woord en Sy weë.

Die Nuwe Testament gebruik verskeie begrippe om die ouderlinge van ‘n gemeente te benaam. As die woord “ouderling” die klem laat val op wat hierdie mense moet wees, wil die onderstaande begrippe hulle taak na vore bring. Saam skets dit ‘n baie goeie prentjie van hulle werk.

“Opsiener” (Gr. episkopos) (Hd 20:28; Fl 1:1; 1Tm 3:2; Tit 1:7). In die antieke wêreld verwys dit na ‘n regeerder in die stadsraad of die sanhedrin. Die klem is dus op bestuur, regering, toesig en die handhawing van orde en dissipline.

“Herder” (Gr. poimen) (Hd 20:28; Ef 4:11). Die woord wat Petrus ook hier in v.2 gebruik, dui gewoon op ‘n skaapwagter. Die klem is dus op leiding, versorging en beskerming.

“Voorganger” (die Gr. deelwoord van proïstemi) (Rm 12:8; 1Ts 5:12; 1Tm 5:17). Letterlik beteken dit om voor te staan; dus om leiding te neem  –  om ‘n voorganger te wees.

“Voorganger” (die Gr. deelwoord van hegeomai) (Hb 13:7, 17, 24). Elders in die Nuwe Testament word hierdie woord vertaal met “goewerneur” (Hd 7:10) en met “woordvoerder” (Hd 14:12). Dit dui dus steeds op leiding neem, op regeer, op rigting gee.

“Regeringe”(OAV) of “om leiding te gee” (NAV) (Gr. kubernesis) (1Kor 12:28). Eintlik dui die woord op ‘n stuurman  –  van byvoorbeeld ‘n skip (Hd 27:11; Op 18:17). Nogeens dra dit dus die betekenis van iemand wat leiding en rigting gee.

Die ouderlinge behoort dus die mees ervare, ryp, volwasse en godvrugtige manne in die gemeente te wees (vgl. ook 1Tm 3:1-7 en Tit 1:6-9).

En hulle taak is, eerstens, om die gemeente te lei en te regeer, en tweedens, om die kudde pastoraal te versorg.

VERS 2 A

Hierdie eerste gedeelte van die vers gee die opdrag aan die ouderlinge kernagtig. Letterlik: “Herder (werkwoord) God se kudde onder julle (sorg).” Met ander woorde, wees herders vir die kudde wat die Here aan julle toevertrou het.

Betekenisvol is die verkleinwoordjie wat Petrus hier (en in v.3) gebruik as hy van die kudde praat (Gr. poimnion). Kennelik beleef hy dieselfde  vertedering as die Here Jesus in Lk 12:32: “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.”

Hier word gepraat van die kuddetjie “van God”. Hulle behoort dus aan God; trouens, Hy het ten duurste vir hulle betaal (Hd 20:28: met die bloed van Sy Seun!). Toe het Hy hulle aan die Seun as Opperherder (v.4) toevertrou (Vgl. Jh 10:1-16 & 27-30). En na die Here Jesus se hemelvaart het Hy die kudde in die sorg van Sy onderherders gelaat. Hulle word deur Sy Gees daartoe geroep en toegerus (Hd 20:28). So word hulle dan oppassers van God se heel kosbaarste skat (is iets ooit duurder gekoop?). En as sodanig sal hulle eendag aan die Opperherder verantwoording moet doen (v.4; Hb 13:17).

In die Grieks beklemtoon die vorm waarin die bevel gegiet is, dringendheid, erns en toewyding.

Eintlik stuur Petrus hier bloot die pastorale opdrag verder wat hy persoonlik van die Here ontvang het toe hy destyds in sy gebrokenheid herstel is (Jh 21:15-17). Daar is hy geroep tot ‘n grootse, maar skrikwekkend-verantwoordelike taak. En so het hy die verteenwoordiger geword van alle ware herders van die Here se kudde deur die eeue.

Die opdrag wat die Here Jesus destyds aan Petrus gegee het, toon dat voeding  –  oftewel Woordbediening  –  aan die hart van herderskap lê, hoewel dit uiteraard wyer strek.

Ook Paulus beklemtoon die wesentlike rol van Woordverkondiging as hy afskeidsbevele gee aan die ouderlinge van Efese (Hd 20:26-27; 29-32).

Daarom moet alle ouderlinge “bekwaam wees om te onderrig” (1Tm 3:2) en om “met die gesonde leer aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê” (Tit 1:9). Terwyl ons erns moet maak met hierdie kwalifikasie, moet ons egter nie hoër standaarde as die Skrif stel nie. Hoeveel teologie het die ouderlinge van Hd 14:23 agter die blad gehad, so kort na hulle bekering? Wat egter wel waar is, is dat sommige mense meer gawes van verstand, insig, kommunikasie en leierskap het as meeste. Uiteindelik gaan dit oor godsvrug, en oor wysheid in die Woord en weë van die Here. Dít, meer as ‘n blote klomp kopkennis, is wat nodig is.

Sekere ouderlinge is oënskynlik in Nuwe Testamentiese tye afgesonder vir voltydse lering en prediking (1Tm 5:17). Waarskynlik is dit diesulkes na wie Op 1-3 verwys as die gemeentes se “Engele” (OAV) (Gr. angellos, wat boodskapper beteken). En die feit dat die briewe konsekwent aan hulle gerig word, dui feitlik vir seker daarop dat elkeen deur die Here Jesus as die betrokke gemeente se voorganger beskou is. Dit beteken nie dat hy ‘n hoër rang as die ander ouderlinge in die gemeente gehad het nie, maar hy was die eerste onder gelykes (Latyn: primus inter pares).

Benewens die ouderlinge se lerende rol, mag ons nie hulle ander verantwoordelikhede vergeet nie. Hopelik is dit nie simplisties om dit met ses begrippe op te som nie: hulle moet die gemeente voed met die Woord, lei in die voetspore van die Here Jesus, geestelikversorg, dissiplineer waar nodig, beskerm teen dwaalleraars en hulle dwalinge, en toerusvir hul dienswerk.

Waarlik, elke Christen het die genademiddel van herderlike leiding en versorging nodig! Kyk maar wat gebeur soos klokslag met die onordelikes wat hulle nie aan ‘n ware gemeente wil toewy en onder die sorg van godvrugtige herders wil plaas nie! Mens kry die indruk dat die Here ernstig aanstoot neem aan sulke eiesinnigheid, want Hy gee dié mense oor aan ‘n geestelike uitdroging  –  wat só subtiel kom dat hulle dit beswaarlik agterkom, en gewoonlik te laat.

Om hulle veeleisende taak uit te voer, gee die Here aan die onderherders drie, en nét drie, stukke toerusting: die Woord, gebed (Hd 6:4) en hulle voorbeeld (v.3). Is dit nie ironies nie dat hulle  –  swakke en feilbare mense  –  hul lewensbelangrike werk moet doen met gereedskap wat op die oog af nie hond haaraf sal maak nie? Maar as mens goed nadink oor presies wát bereik moet word, besef jy dat geen menslike tegniek of formule daartoe in staat is nie. Daarenteen is die Woord magtig om op te bou en in die seëninge te laat deel wat God aan die gelowiges as erfdeel belowe het (Hd 20:32). Voorts, watter skanse is op die lang duur teen gebed bestand? En leer ons nie die heel beste aan die hand van dievoorbeeld nie? Les bes, getroue en biddende herders kan peil trek op die Heilige Gees se toerustende krag, wysheid en vrug.

Ten slotte moet ons sê dat ouderlinge se verantwoordelikheid nie onbeperk is nie. Hulle is net verantwoordelik vir die kudde “onder julle sorg gestel”. Die grense is dus díé van die plaaslike gemeente. Dit beteken nie dat dit ‘n ligtelike roeping is nie. Selfs in die beperkte kring van die gemeente word bo-menslike eise soms aan die herders gestel. En nóóit is hulle werk afgehandel nie.

TER BEMOEDIGING EN AANSPORING

Ten slotte: ons teks onderstreep vier wonderlike en fundamentele waarhede oor die gemeente:

As ons dan waarlik gemeente van Christus is, is ons die geliefde kuddetjie van God  –  baie duur gekoop en intens bemind deur die Here.

In die gemeente is almal gelyk. Selfs die Apostel Petrus is net ‘n ouderling. Ons is bloot ‘n klomp broers en susters met, ja, ‘n verskeidenheid van gawes en roepinge. Maar een is nie belangriker vir die Here as ‘n ander nie. Christus is die belangrike Een  –  en net in Hóm word sondaars gered.

Die apostels was in ‘n primêre sin getuies van die lyding van Christus. Hulle is egter nie meer met ons nie  –  daarom rus die taak nou op ons (5b).

Ons is deelgenote van die heerlikheid wat geopenbaar sal word  –  dis ons salige hoop (5c).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00