OPENBARING 1:9-20 INLEIDING EN OORSIG

JY SAL SAAMSTEM: OOR DIE KERK BESTAAN DAAR ‘N DUISEND OPINIES. Wie is reg?

In hierdie briewe het ons glasheldere riglyne uit die hemel self. Sekerlik het die Hoof van die kerk die finale sê. Wat wil Hý dus in ‘n gemeente sien? En wat keur Hy af? Hier word die finale woord vir alle tye en alle situasies gespreek!

Vandag kyk ons inleidend en oorsigtelik na die sewe briewe; vorentoe vat ons dit brief vir brief.

DATUM EN OMSTANDIGHEDE

Vervolging was deel van die lewe van die vroeë kerk. Benewens Joodse aanslae  –  waarvan die Nuwe Testament vol is  –  is daar in die eerste eeu twee golwe van Romeinse vervolging. In die middel van die sestigerjare is daar ‘n felle vervolging onder Keiser Nero. Dis wanneer Paulus en Petrus tereggestel word. En in die negentigs is daar ‘n tweede golf onder Keiser Domitianus. Hy wil keiseraanbidding afdwing, die Christene weier, en talle van hulle word vermoor, onteien, of verban.

Tydens watter van hierdie twee vervolgings Johannes as balling op Patmos was, word oor verskil in teologiese kringe. Maar dis my oortuiging dat dit tydens die eerste periode was  –  dus kort voor Nero se dood in 68 n.C. So ontstaan die Openbaringboek dus op die klein eilandjie, Patmos (6kmx12km)  –  in die Egeïese See tussen die moderne Turkye en Griekeland.

Dis die dag van die Here. Johannes is diep in aanbidding. Dan verskyn die opgestane en verheerlikte Jesus Christus aan hom. Die apostel hoor ‘n harde stem. As hy omdraai, sien hy sewe goue lampstaanders, met die verheerlikte Jesus Christus daartussen (10-16). Die apostel val soos ‘n dooie aan Sy voete (1:17). Hy kry opdrag om wat hy sien en hoor akkuraat op te teken  –  die dinge wat reeds ‘n werklikheid is, asook dit wat nog gaan gebeur (1:19). En so ontstaan die Openbaringboek.

Anders as ander Bybelboeke, wat deur mense geskryf is  –  weliswaar geïnspireerde mense  –  het ons dus in hierdie briewe die Here se gedikteerde woorde. En soos in die evangelies, vind ons weer dat dit reguit, kernagtig en op die man af is.

DIE BRIEWE IN BREË TREKKE

Al die briewe is in dieselfde vorm gegiet.

Die Afsender 

In al sewe briewe is dit die verheerlikte Jesus Christus wat Homself elke keer op ‘n ander manier tipeer  –  aan die hand van een van die beskrywings in hoofstuk 1. Elke keer belig dit ‘n faset van Sy persoonlikheid, karakter of werk.

Die geadresseerdes 

Die gemeentes is almal in Klein-Asië (die westekant van moderne Turkye)  –  binne ‘n straal van 160km van Efese, die moedergemeente.

Elke brief word gerig aan “die engel” (lett.) van elke gemeente. Die woord beteken boodskapper  –  wat sonder twyfel slaan op die betrokke leraar.

Die leraars verteenwoordig hulle gemeentes. Tog kan niemand in die groep wegkruip nie, want elke individu word ook soos klokslag aangespreek: “wie ‘n oor het, laat hom hoor” (OAV).

Die inhoud

Sonder uitsondering begin die briewe met die woorde: “Ek ken jou werke …” (OAV). Die Here weet presies wat in elke gemeente aangaan.

Wat dan volg, wissel na gelang van elke gemeente se karakter en omstandighede. Tipies vind ons bemoediging, bestraffing en beoordeling.

Elke brief het ‘n oproep om goed ag te slaan op wat die Gees vir die gemeente sê.

Elke brief dra ‘n belofte. Belangrik is dat dit net gegee word vir diegene wat “die oorwinning behaal”. Die beloftes is in sterk simboliese taal. Om die betekenis te verstaan, verg dus deeglike mynwerk. Maar só kosbaar is hierdie beloftes dat die inspanning oor en oor die moeite werd is.

VERTOLKING VAN DIE SEWE BRIEWE

Een baie algemene vertolking moet spesiaal vermeld word. Hiervolgens word aan elke gemeente ‘n bepaalde profetiese betekenis gegee. Dit word dan aangevoer dat hulle opeenvolgende tydvakke in die geskiedenis van die kerk beskryf.

Afgesien daarvan dat daar geen aanduiding in die Openbaringboek is dat ons die briewe só moet vertolk nie, slaag dit ook nie die toets van historiese beoordeling nie. Die kerkgeskiedenis het gewoon nie só verloop nie. Dit is nie korrekte Skrifuitleg nie.

Die briewe het kennelik ‘n tweeledige doel:

Elke brief het ‘n spesifieke boodskap aan ‘n spesifieke gemeente. Al sewe was immers regtige gemeentes wat uit lewende mense bestaan het. En hierdie Christene het, soos ons, ook hulle vreugdes en hartseer, hulle suksesse en mislukkings geken.

Daarbenewens bevat elke brief ewige waarhede aan die kerk as geheel, ongeag plek of tyd. Daar is nie verniet 7 briewe nie. Dis ‘n volheidsgetal en spreek tot die kerk van al die eeue.

Kyk mens na elke brief se sentrale tema, word dit duidelik hoe relevant hierdie briewe steeds is.

Efese se tema is liefde; Smirna s’n lyding; Pergamum s’n waarheid en kompromie; Tiatires’n heiligheid; Sardis s’n egtheid; Filadelfia s’n sending; Laodicea s’n heelhartigheid en ywer.

TOEPASSING

Hier word nogeens in die Nuwe Testament bevestig dat elke plaaslike gemeente selfstandig en volledig kerk is. 

Denominasionalisme en sinodokrasie is vreemd aan die Nuwe Testament. Om kragte bymekaar te gooi, is sekerlik nie verkeerd nie; trouens, dis goed, nodig en Bybels. Maar as die denominasie die plaaslike gemeente begin insluk  –  soos so dikwels  –  dan gaan die essensie van ware kerkwees verlore.

Die beheptheid met, en naarstigtelike gesoek na strukturele eenheid, is nie die eenheid waarvoor Jesus gebid het nie. Waarvoor Hy gebid het, is die eenheid van onderlinge liefde en diensbaarheid en lewensneerlegging. Dít is wat die wêreld beïndruk, want dít kan hulle nooit, maar nooit namaak nie.

Let op hoe uiters belangrik die plaaslike gemeente in Jesus Christus se oë is. 

Elke Christen behoort deel-wees van ‘n ware en lewende plaaslike gemeente as van die allergrootste belang te beskou. Om bloot los rond te dryf, is strydig met die Here se ordes. So ‘n persoon ontsê hom- of haarself van die uiters belangrike korporatiewe of publieke genademiddele. Om ‘n lidmaat te word van, en om te bedank uit ‘n plaaslike gemeente, is geen geringe saak nie.

Die Here meet nie met dubbelstandaarde nie; Hy skeer al Sy gemeentes oor dieselfde kam. 

Die feit dat elkeen van hierdie briewe op presies dieselfde manier gebou word, impliseer dit baie duidelik. God het nie witbroodjies nie.

Let op hoe ineengeweef die lewens van die gemeente, die individu en die voorganger is. 

Hierdie briewe is aan al drie gerig. Elkeen beïnvloed die ander, en is vir die ander twee verantwoordelik. Elke nuwe lidmaat, en elkeen wat vertrek, raak op ‘n manier die karakter van die gemeente.

Hierdie onderlinge wisselwerking geld veral ook vir die verhouding tussen die leraar en die gemeente. As ‘n gemeente nie in genade groei nie, of koud en wêrelds is, kan jy die rede maar by die kansel gaan soek. En die rykdom of armoede van die preekstoel, hang grootliks daarvan af of dit die harte van edelmanne of bedelaars bedien. In menslike terme maak of breek die een die ander.

Twee simbole word hier vir die leraars gebruik: hulle is die sterre en dieengele van die gemeentes (1:20). Die twee beelde spreek van leierskap endienskneg-wees  –  die een so ‘n sware las soos die ander. En hierdie twee bedieninge is innig verweefd  –  want by uitnemendheid regeer die leraar as hy preek.

Hier is ook groot troos vir die leraars. Die Here hou die sterre in Sy regterhand vas (1:16). Soos iemand gesê het: “Vir Sy werk in die res van die heelal, het die Here net Sy linkerhand vry.”

Net soos die Here dáárdie gemeentes geken het, ken Hy óns gemeente. 

Wat is Sy beoordeling van ons gemeente? Ek wonder en bid dikwels daaroor. Hoe graag sou ek nie wou dat ook óns so ‘n brief kry nie. En hoe verskrik sou ek nie wees by die vooruitsig nie!

Wat sou in so ‘n brief staan? Wat sou die kommentaar wees oor die voorgangers en hulle werk en hulle huise? Wat sou dit sê oor elke huis en elke lidmaat? Watter kommentaar sou ons dienste, en ons liefde vir die Here en vir mekaar, en ons uitreiking, en ons hantering van finansies ontlok?

Elkeen van ons kan oor elkeen van hierdie dinge ‘n opinie hê. Maar óns beoordeling sal nie net uiteenlopend wees nie; dit sal grootliks spekulatief wees. Maar die Here ken ons  –  onfeilbaar tot in ons diepste wese. Hy wéét. En Sy evaluering is finaal.

Natuurlik stuur die Here nie meer sulke briewe uit nie. Ons moet onsself in híérdie briewe spieël  –  en in die res van die Woord. Maar eendag  –  as die boeke geopen word  –  sal daar tóg vir elkeen van ons ‘n “brief” van beoordeling uitgehaal word. Ek dink nie die Skrif sê veel oor so ‘n finale beoordelingsbrief vir elke gemeente nie, maar dat elke individu geoordeel gaan word volgens sy werke in hierdie lewe, daarvan is God se Woord vol.

En, ek is bevrees, so ‘n brief gaan verdoemend wees. Want wie van ons kan hoegenaamd aan God se standaarde begin voldoen? En teen daardie uitspraak en vonnis sal nie geappelleer kan word nie. Dit sal finaal wees.

Maar sommige van hierdie “skuldbriewe” (Kol 2:14), met hulle diskwalifiserende kommentaar, sal gekanselleer wees. Twee dik, parallelle skuinsstrepe sal oor hierdie briewe getrek wees. En tussen die lyne sal ‘n enkele woord geskryf staan: “Tetelestai”, oftewel, “dit is volbring”  –  “die rekening is ten volle opbetaal” (Jh 19:30).

Kan iets in hierdie lewe belangriker wees as om seker te maak dat ook jóú brief só gekanselleer word? Dat dit moontlik is om dit in hierdie lewe te verseker, is ‘n sentrale boodskap van God se Woord. Dis tog waaroor die evangelie gaan.

Laat ek jou dus vra: is jou skuldbrief al gekanselleer? Weet jy hoe dit gebeur? Dís waaroor die goeie nuus van die evangelie gaan: vlug in Christus in, en jou skuld sal uitgewis wees!

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00