Prediker 12:1A

Ons kyk net na die eerste gedeelte van Pre 12:1: “Dink aan jou Skepper …”

Hiér is dit woorde wat spesifiek tot jongmense gerig is – voor “die swaar dae” van die ouderdom kom, die jare waarvan mens sê: “Ek het daar niks aan nie.”

  Hierdie is egter ‘n algemene beginsel wat vir alle mense geld (maar bloot hier op die jeug van toepassing gemaak word). Kom ons kyk dus sódaarna. Álmal van ons het immers ons bestaan en instandhouding aan God die Skepper te danke.

OPMERKINGS OOR DIE BEGRIP “SKEPPER”

Die Bybelse idee, om te skep, is van fundamentele teologiese betekenis. Dwarsdeur die Bybel het die werkwoord slegs God as onderwerp want net Hý kan skep. Reeds in die eerste vers van God se Woord kry ons die werkwoord: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”

   Die begrip beteken om iets daar te stel – uit niks uit nie. Dit dra dus die implikasie dat die soewereine God oorsprong, eienaar, regeerder en onderhouer is van alles wat bestaan.

Die woord kom veral voor in die tweede gedeelte van die profesie van Jesaja (h.40-66) – 20 maal uit 49 keer in die Ou Testament. Hierdie gedeelte van Jesaja is van die troosrykste gedeeltes in die ganse Ou Testament. As mens hierdie twee waarhede saam in ag neem, onderstreep dit ‘n baie belangrike beginsel: dat God ons soewereine Skepper is, moet ons nie bedreig nie, maar ‘n wonderlike bron van troos vir ons wees!

   Aangrypend stel Jes 45:17-18 dit: “… Israel word deur die Here gered met ‘n blywende redding. Hulle sal nie verleë staan nie en nooit teleurgestel word nie. So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het, Hy wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm, gemaak het, dit gereed gemaak, geskep het, dit gevorm het, nie om leeg te wees nie, maar om bewoon te word: Ek is die Here; daar is geen ander nie” (NAV).

Hier in Prediker is die woord “Skepper” in die meervoud. Die Ou Testament praat meermale so (Job 35:10; Psm 149:2; Jes 54:5). Dit herinner dadelik aan Gen 1:26: “Laat Ons mense maak …” (OAV). Sonder twyfel is hierdie ‘n sinspeling op die drieenigheid van God. En inderdaad was en is al drie Persone van die goddelike Drie-eenheid betrokke by die skepping en instandhouding van alles.

Die begrip “Skepper” beklemtoon die mees basiese verhouding waarin enige mens tot God staan. Is Hy nie almal se Skepper nie?

As die Prediker skryf, dink aan “jou” Skepper, wil hy nie daarmee suggereer dat elke mens sy eie skepper het nie. Daar is geen ander skeppers nie! Nee, wat hy wil beklemtoon, is dat elke mens self en persoonlik aan die één Skepper van alles moet dink. Hy sê dus aan elkeen van sy lesers: ook jý is ‘n geskapene van dié Skepper!

OPMERKINGS OOR DIE BEGRIP “DINK”

Die woord wil méér sê as gewoon: dink aan, herinner jouself aan, onthou. Dis ‘n veel sterker en voller begrip. Ja, ons moet God in gedagtenis hou en in ag neem – maar nog méér: ons moet ons verhouding met Hom kosbaar ag en vertroetel.

  Dit hou selfs nóg meer in: om in lojaliteit en getrouheid die implikasies en verantwoordelikhede van ‘n verhouding uit te leef.

Dit spreek dus veeleerder van ‘n hartsgesindheid, as van ‘n verstandsoefening.

Aanmekaar het die Here Sy volk opgeroep om Hom te onthou. Maar hulle het voortdurend misluk. Daarom verwyt en veroordeel Hy hulle dat hulle Hom vergeet.

   In Deut 32 verwyt God Sy volk oor hulle afgodery, en sê dan: “Jy het jou Rots, jou Skepper, nie in ag geneem nie, die God wat jou in die wêreld gebring het, vergeet” (18).

   En in Jes 51 vertroos en bemoedig die Here Sy mense (met so ‘n ligte verwyt): “Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle. Hoe is dit dan dat jy bang is vir ‘n sterflike mens, vir ‘n mens wat so maklik vergaan soos gras? Jy vergeet die Here wat jou gemaak het …”

HOE DINK EK EN JY AAN ONS SKEPPER?

Dit kom tot uitdrukking in ten minste vyf hartsgesindhede en lewenspraktyke:

Erkenning.

In Hom, en in Hom alleen, lê my en jou oorsprong.

   Hy “het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep” (Psm 139:14). Hy het nie alleen my gees gevorm nie (Sag 12:1), maar my liggaam met groot sorg “aanmekaar geweef in die skoot van my moeder” (Psm 139:13).

   Dit moet ons weer en weer oordink en bepeins. Kyk byvoorbeeld na jou hande en jou voete. In hierdie vier ledemate is meer as die helfte van jou liggaam se bene. Die hand het ‘n bykans oneindige verskeidenheid van funksies. Daarmee kan ‘n meester-pianis soveel soos 120 note per minuut druk, en ‘n chirurg die sensitiefste operasies verrig. ‘n Strelende hand kan innige emosie en vertedering kommunikeer. En daardie selfde hand kan ‘n swaar byl diep in ‘n boomstomp indryf. En wat dan nog van die brein wat agter dit alles sit!

   Verwonder jou oor die vermoëns van jou Skepper – en aanbid Hom daarvoor!

  En as jy dan waarlik ‘n Christen is, moet jy nooit aan Hom as jou Skepper dink, sonder om ook te onthou dat Hy jou Herskepper is nie. Is die grootste van alle wonders nie die hartoorplanting wat jy tydens jou wedergeboorte ondergaan het nie? In elk geval is dit die heerlikste, nie waar nie!

Onderwerping.

   As Skepper is God jou onbetwisbare en soewereine Eienaar. Hy het absolute gesag en seggenskap in jou lewe. Hy is die Pottebakker en jy die klei (Rom 9:20-21). Hy kan met my en jou doen net wat Hy wil – en Hy mág!

   Daar is eenvoudig geen ander keuse as om dit te aanvaar nie – geduldig en in onderwerping tesame met al die teologiese en praktiese implikasies daarvan.

   Hoe bedreigend sou dit nie gewees het, as God Homself nie aan ons geopenbaar het as die Algoeie nie. Maar ons kan Hom vertrou, deur en deur. Veral dié van ons wat in Christus is, kan vir seker weet dat Hy alles wat met ons gebeur laat heenwerk na die goeie toe – naamlik gelykvormigheid aan die beeld van Christus (Rom 8:28-30).

   Dit neem egter niks weg van die feit dat ek en jy aan Hom aanspreeklik is nie. Ons sal aan Hom moet verantwoording doen. As ek immers uit Hom voortgekom het, is ek alles aan Hom verskuldig!

   Dit laat natuurlik dadelik die brandende vraag in mens se gemoed ontstaan: hoe kan ek as sondige dan sonder blaam voor Hom gaan staan? (Job 4:17; 9:2). Kan iemand ‘n belangriker vraag as dit vra?

  Laat dié van ons wat in Christus is, ons sonder ophou daarin verbly dat ons in Hom ‘n volmaakte Plaasvervanger en Middelaar het – dat ons dus inderdaad eendag sonder blaam voor ons Skepper sal staan.

Afhanklikheid.

   God is nie net my Skepper nie, maar ook my Instandhouer – liggaamlik, emosioneel, geestelik. Sal Hy iemand skep en hom of haar dan verwaarloos of vergeet?

   Laat ons dus met die allergrootste vrymoedigheid bid en vra en vertrou en dank. Gaan met elke behoefte na Hom toe; dit behaag en verheerlik Hom.

   Om vir jouself en vanuit jouself te probeer leef, is om jou Skepper te vergeet. Om blymoedig afstand te doen van jou sogenaamde selfstandigheid, en jouself in rustige vertroue in Sy sorg te laat, is om jou Skepper te onthou.

  Wat ‘n onuitspreeklike vertroosting: ek het ‘n Vader in Christus wat na my omsien en my altyd versorg!

Dankbaarheid.

   Sien jou Skepper se goedheid raak. Erken dit. Bepeins dit. Oefen jou in die dankbaarheid. Wat is daar in jou lewe wat jy nie van Hom ontvang het nie?

   En vergeet dit nie, dis alles te danke aan die voortgaande middelaarswerk en voorspraak van die Here Jesus Christus

Toewyding.

   As jy dan alles wat jy is en het aan jou Skepper te danke het, is daar net één gepaste respons: ongekwalifiseerde liefdesgehoorsaamheid. Laat dit die enkelhartige Sin en hartstog van jou lewe wees, en jy sal jou Skepper onthou soos Hy dit wil hê.

  En onthou, jy kan jou nie aan jou Skepper toewy, sonder om jou aan aan die Seun, Jesus Christus, toe te wy nie. En dit kom prakties tot uitdrukking in ‘n lewe van volgehoue dissipelskap.

DIE ESSENSIE VAN DIE LEWE VAN ‘N SKEPSEL

Daar kan geen dieper en meer fundamentele oortreding voor God wees as om bloot vir jouself te leef nie. Om jou nie met alles waaroor jy beskik aan jou Skepper toe te wy in erkenning, onderwerping, afhanklikheid, dankbaarheid en toewyding nie, is krimineel in die heel ergste graad. Om jou Skepper te ignoreer en in gewaande selfstandigheid jou eie ding te doen, is die moeder van alle Sonde.

   Die essensie van wat God van ons vereis, is om met Hom te wandel. En die hart daarvan is om in erkentlikheid, onderwerping, afhanklikheid, dankbaarheid en toewyding Hom te ken in al jou weë (Spr 3:6). Dít is die kinderlike lewensgeloof waarop die Bybel so sterk by ons aandring.

ONMOONTLIK VIR DIE NATUURLIKE MENS

Om sy Skepper te onthou, is alles behalwe die natuurlike neiging van die gevalle mens; inteendeel. Sedert die sondeval vlug hy vir sy Skepper soos ‘n kokkerot vir die lig. In gewaande selfstandigheid klop hy homself op die skouer dat hy self sal regkom en sy heil uitwerk. Hy vervang sy Skepper met allerlei gode wat hy na sy eie beeld optower. Of hy kruip weg in godsdienstige formalisme.

Kyk om jou. As jy ‘n man of vrou of kind sien wat in Skrifgetroue opregtheid sy of haar Skepper onthou – wie se lewe van A tot Z daardeur beheers word – dan sien jy ‘n mens op wie die herskeppende vingerafdrukke van die Heilige Gees sit. Dan sien jy iemand vir wie die Christus met Sy soendood losgekoop het van die vloek van die sondeval. Dan sien jy ‘n begenadigde wat voor die skepping reeds deur die Vader in liefde uitverkies is.

Of jy jonk of oud is, dink jý aan jou Skepper?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00