Efésiërs 3:14-21

Ons het laas keer met die tweede bede begin. Eintlik was die frase waarna ons gekyk het – synde in liefde gewortel en gegrond – net ‘n brug tussen die eerste twee bedes, maar ons het dit wel as deel van die tweede bede beskou. Nou gaan ons voort met die volwaardige tweede bede.

   Paulus bid dat die Efesiërs – as die liefdesinwonining van Christus in hulle harte dan ‘n gewortelheid en ‘n gegrondheid in hulle lewens meegebring het, en hulle dienooreenkomstig vrug dra en standvastig is – in staat sal wees om te begryp en om te ken. Ons sal by ‘n volgende geleentheid kyk na dit wat hy wil hê hulle moet begryp en ken. Vandag gaan ons net na hierdie twee begrippe, “begryp” en “ken”, kyk.


OM TE BEGRYP

Die woord wat Paulus hier gebruik (Gr. katalambano), asook die vorm waarin hy dit giet (Aoristus Medium Infinitief), beteken om iets vas te vat sodat dit jou eie word – om dit toe te eien.

   Om die betekenis van die woord duidelik te kry, kom ons kyk na 3 ander plekke waar dit voorkom:

1Kor 9:24: “Hardloop dan só dat julle die prys kan wen.” Letterlik staan hier dat ons só in die Christelike wedloop moet hardloop dat ons die loon wat die Here vir Sy kinders het, sal vasvat, in die hande sal kry, ons eie sal maak.

Mrk 9:18: Hier word gepraat van ‘n demoon wat ‘n kind vasgegryp het.

Jhn 8:3-4: Hier word ‘n vrou deur die Fariseërs en skrifgeleerdes op owerspel betrap. Hulle het, sê die werkwoord vir ons, haar dit nie net sien doen nie, maar haar vasgegryp en na Jesus toe gesleep.

Hier in ons teks bid die apostel dus dat die Efesiërs in staat sal wees om die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde (waarby ons nog moet kom) met hulle verstand vas te vat, om greep daarop te kry, om dit hulle eie te maak.

   In Han 10:34 sê Petrus, na aanleiding van sy laken-ervaring, dat hy vir die eerste keer “begryp (Gr. katalambano) … dat God nie onderskeid maak nie, maar uit enige volk … mense aanneem.” Kan jy dit glo! Sekerlik moes hy dit al by die Here Jesus self gehoor het. Hy het dit trouens al gepreek. Op die pinksterdag verseker hy met groot stelligheid die skare dat die belofte van die Heilige Gees nie net vir die Jode wat na hom luister, is nie, maar ook vir hulle nageslag – asook vir “almal wat daar ver is” (Han 2:39). Laasgenoemde uitdrukking was destyds ‘n alombekende term vir die heidene. Jesaja verwys reeds só na die nasies (43:6-7; 49:1, 12; 57:19). En in Efe 2:13,17 (sien OAV) gebruik Paulus die uitdrukking baie duidelik om die heidene te beskryf.

   Wat gebeur dus hier in Han 10? Vir die eerste keer dring dit régtig Petrus se harspan binne dat God ook héídene red. Vantevore sou hy gesê het: “Ja, ja, natuurlik …!” Maar nou tref dit hom soos ‘n muilskop – en hy sou dit nooit weer vergeet nie.

Nou kan ons verstaan waarvoor Paulus hier bid: 

   Sy versugting is dat die Efesiërs diep sal insien in die volle omvang en diepgang van Christus se liefde vir hulle – in dit wat Hy vir hulle gedoen het, steeds doen, en tot in ewigheid sal doen.

   Hulle moet Hom ken as God se groot Profeet – dat Hy die finale hoogtepunt en afronding van God se selfopenbaring aan die mens is. Hulle moet verstaan dat Sy lering, opdragte en voorbeeld die volkome verduideliking van God se wet is.

   Hulle moet Hom ken as God se groot Priester wat die Ou Testamentiese offerdiens tot volmaakte kulminering gevoer het toe Hy Homself as die Lam van God geoffer het. Hulle moet verstaan dat Hy die vertolking en vervulling van die voorafgaande eeue se geloof en godsdiensbeoefening was.

   Hulle moet Hom ken as God se groot Koning wat al Sy vyande onderwerp en vir altyd as die Prins van vrede sal heers. Hulle moet verstaan dat Hy as soewereine regeerder tot in die fynste besonderhede in hulle lewens regeer.

   Hulle moet diep insien in hierdie dinge – steeds dieper en dieper. Dit moet werklik hulle eie word – blywend, allesbeheersend, lewensveranderend! Dit moet hulle fassineer. En die uitdra van hierdie waarhede moet aan die hart lê van hulle lewenshartstog – enduit tot die einde toe.

Hoor ek ‘n beswaar? As mens, sê jy, die gebed verder lees, gaan dit vir Paulus net oor kennis van Christus se liefde, nie oor al die dinge wat hierbo genoem is nie! Laat ons nie kortsigtig wees nie. Wat is daar wat Jesus Christus as Profeet, Priester en Koning doen, wat nie ‘n uiting van Sy liefde is nie? Anders gestel, ons kan alles wat Hy vir ons is en doen, in ‘n enkele begrip saamvat: Sy liefde!

Dit bring ons by ‘n noodwendige vraag. Waarom is dit so belangrik vir Paulus dat die Efesiërs in diepte en omvang moet verstaan wie en wat Christus is? Die antwoord is eenvoudig. Dis omdat hy self die vervulling van dit wat hy hier vir die gemeente bid, oorweldigend ervaar. En elkeen van ons wat maar ‘n fraksie hiervan ken, sal weet dat dit ‘n verterende begeerte in jou word dat ander – baie, baie ander – ook sal sien wat jy sien.

   Waarom wil jy hê ander moet dit ook sien? Het jy al by die Victoriawaterval gestaan? Het jy al ‘n sonsondergang in die Karoo beleef? Onthou jy hoe jy elke keer gewens het jy kan dit met jou geliefdes deel? Liefde maak mos so. Jy wil hê hulle wat jy liefhet moet jou gevoelens met jou deel. Paulus word hier gedring deur sy liefde vir die Efesiërs.

   Maar daar is ‘n nóg belangriker rede. Die passie dat Christus verheerlik sal word, lê dag en nag soos ‘n kool vuur in Paulus se gemoed. Die gedagte dat mense hulleself Christene noem, maar die Here Jesus nie waardeer vir wie en wat Hy is nie, is vir hom ondraaglik. Nee, met alles in hom wil hy hê dat daar uit meer en meer lewens – dag en nag – ‘n aangename geur van bewonderende aanbidding hemel toe moet opstyg. Ontelbaar baie mense, tot aan die uiteindes van die aarde, moet die Here Jesus aanbid, vertrou, liefhê, dien en verkondig!

OM TE KEN

Hier gebruik die apostel ‘n baie ryk en vol Bybelse idee (Gr. ginosko). Anders as die vorige woord – wat op diep verstandelike insig dui – is hierdie woord ‘n verhoudings-en belewingsbegrip.

   Op die vraag, “Ken jy Mnr. Mandela?”, sal die meeste van ons “Nee!” moet antwoord. Tog kan jy dalk baie oor hom weet. Jy het bes moontlik al sy dik biografie gelees. Maar van ‘n persoonlike verhouding met hom is daar geen sprake nie.

Dis egter vir laasgenoemde wat Paulus nóú bid.

Hoe beleef ek ‘n verhouding met Christus? My wandel met Hom (en dus ook met die Vader en die Heilige Gees, want die drie Persone van die Drieeenheid werk nooit los van mekaar nie) kom op minstens twee maniere tot uitdrukking:

   Eerstens sal ek Sy liefdesbetrokkenheid by my ganse lewe gelowig herken, en dan ook dankbaar en vererend erken. Ek sal dus gelowig deur die bril van die Woord na my lewe kyk – en in my omstandighede en lewensvoortgang Sy intieme betrokkenheid by my raaksien.

   Tweedens sal ek myself in geloofsvertroue aan Christus toewy en Hom lewenslank in liefde en dankbare gehoorsaamheid dien. Ek sal in alle integriteit poog om die praktiese implikasies van Sy roeping uit te leef. Ons praat dus hier van ‘n lewensbeheersende respons op Christus se reddende inisiatiewe, Sy voortgaande liefdestrou en Sy soewereine regering in my lewe.

   Luther het gesê: “Godsdiens en dissipelskap is ‘n saak van persoonlike voornaamwoorde.” Dit word pragtig geïllustreer in Dawid se lewe – veral in sy Psalms. Neem byvoorbeeld Psm 139. Dawid skryf oor die Here se verhewe karaktertrekke – Sy alwetenheid, alomteenwoordigheid en almag. Maar hy doen dit nie in abstrakte terme soos mens dalk sou verwag nie; hy doen dit aan die hand van sy persoonlike ervaringe daarvan.

   Die Naam van die Here word 6 maal genoem; en persoonlike voornaamwoorde wat na Hom verwys ongeveer 30 keer. En na homself verwys Dawid ‘n stuk of 50 keer.

   Dus, in Dawid se diepste godsdiensbelewinge is daar eintlik net twee betrokkenes – hyself, en die Here. Daarom praat hy nie van “Hy” nie, maar van “U”; nie van “mense” nie, maar van “ek”.

OM OP TE SOM

Die apostel bid hier vir twee soorte kennis:

   Enersyds bid hy vir ‘n meer rasionele en objektiewe insig in die wondere van Christus se liefde. Hy bid vir insig in die Skrifopenbaring oor die Seun, vir ‘n greep op die leerstuk oor Christus.

   Andersyds bid hy vir ‘n praktiese en subjektiewe ervaring van hierdie liefde, en vir ‘n radikale uitlewing van die implikasies daarvan.

Twee woorde vat dit saam: begrip en belewing!

Kan jy voorts sien hoe innig en onlosmaaklik verbonde hierdie twee soorte kennis van Christus en Sy liefde is? Dis soos ‘n Siamese tweeling.

   Enersyds, sonder behoorlike begrip van Christus se persoon en werk, verval ons in ‘n subjektivistiese, selfs mistieke ervaringsbeheptheid. Die gevolg is meermale ‘n Godonterende emosionalisme en selfmisleiding. Ons maak onsself allerlei dinge wys wat gewoon nie Bybels en waar is nie. Nee, ons belewinge – en ons hoef nie vir emosie op sigself bang te wees nie, inteendeel – moet altyd gewortel wees in ‘n waarheidsbegrip van God se Woord. Dis waarom Paulus bid vir ‘n deeglike verstaan van Christus se liefde.

   Andersyds, sonder die praktiese en emosionele belewing van ‘n mens se geloof, verval jy gou in ‘n koue intellektualisme, ‘n dooie regsinnigheid en ‘n hooghartige hiperortodoksie. Dis waarom Paulusbid vir ‘n kennis wat méér as serebraal is.

In die najaging van hierdie twee soorte kennis van Christus – begrip en belewing – moet ons altyd ‘n paar dinge onthou:

   Eerstens is ons groei daarin ‘n genadewerk van ons hemelse Vader. Dis waarom Paulus hier bíd, en nie bloot die Efesiërs beveel om dit te beoefen nie. En as ons ernstig en opreg hiervoor bid, kan ons met stelligheid verwag om dit al hoe meer te kry – want niks behaag die Vader méér as dat Sy Seun in die lewens van Sy kinders verheerlik word nie.

   Tweedens is dit die Heilige Gees wat dit in ons bewerkstellig. Laat ons Hom nie hierin misken nie.

   Derdens openbaar die Here Homself net aan nederige, kinderlike en diep afhanklike geloof (Mat 11:25-30). Hooghartige beterweterigheid sal niks vorder nie. Kieskeurigheid is tot mislukking gedoem.

   Vierdens is die kennis van die Here nie vir terloopse en dubbelhartige soekers nie. Dis iets wat mens doelgerig, gedissiplineerd en volhardend moet “najaag” (Hos 6:3, OAV). Só stel Jeremia dit: “En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart” (29:13, OAV).

Ten slotte ‘n fundamentele Bybelse beginsel wat ons altyd voor oë moet hou: Nooit beskou die Bybel ‘n waarheid as geken, voordat dit nie die leerling se lewe beheers nie. En van niks geld dit méér as van die kennis van die Here en Sy liefde nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00