‘N NAAM IN DIE NAG
Sy snik,
die vrou
wat oor Jesus rou
‘n naam
word sag
genoem in die nag
sy hoor,
die een
wat soekend ween…
Hy spreek:
‘Maria, vrou
dis Ek wat roep na jou’
mý naam
in die nag?
Hy ken my! …en sy lag
sy val
voor Hom
wat uit die dood uit kom
Trane
en vreug!
– weg haar ly, haar leeg!
my Jesus,
wondersoet
is my U nagtelike groet
sy haas,
– en snel! –
om Sy broers te vertel
Hy’s weg –
net linne
dit is al, daar binne…
Verrys!
― die kreet
van dissipels wat weet
hemelse
jubeling!
léwe na die kruisiging!
oorwin
is jy, dood
‘n tyding wondergroot
almal,
luister nou:
‘Ek leef – Ek leef vir jou’
vir Maria,
maar ook jou
herleef Ek; roep Ek nou
jou naam
in die nag:
‘Volg My in ‘n nuwe dag’
‘n naam;
ook joue
in jou kille nag van koue
— Ds. Jasper Schellingerhout