No. 2: Paasfees 2010
Tema: Judas Iskariot
Skrif: Matteus 26: 14-25, 47
’n Mens moet daarteen waak om nie Matteus 26 te sien as net ’n blote vertelling van ’n stukkie geskiedenis nie. Hier vind ’n stuk verrassende openbaring plaas – naamlik dat, al lyk/voel dit hóé, slegs die Here God in beheer is. Dit is die verrassing van Jesus se hele lyding: Die hele situasie was al die tyd in SY hande. Hy was nie ’n slagoffer nie. Sy lyding/dood het van begin tot einde volgens die Skrifte/ in gehoorsaamheid aan God verloop. Gód gebruik oor & oor bóse mense om die Waarheid oor Jesus uit te spreek terwyl hulle bedoel om kwaad te spreek. Byvoorbeeld: die spotters wat lag & spot oor wie/wat Jesus is – alles wat hulle oor Hom sê is die reine waarheid! Ook Pilatus (Hy is die regverdige – Joh 19:4) en Judas (Onskuldig – Mat 27:4). Ja, ook Judas het – onwetende – God se plan tot uitvoer gebring. En Jesus weet dit die heeltyd en tog kry Hy nie vir Judas voor stok nie. Hy laat nie vir Judas verstaan dat Hý groter as Judas is nie. Hy laat vir Judas dink dat hý in beheer is.
Vanoggend gaan ons fokus op die onbeskryflike goddelike manier waarop die Heiland Sy eie verraaier hanteer het. Hoe Jesus met Judas gewerk het. Ons gaan nie fokus op hoe Judas vir Jesus hanteer het nie, maar hoe Jesus vir Judas hanteer het. Daarin vind ons die diepte en rykdom van die hartklop van God.
Voordat ons dáárna kyk – eers net vir interessantheid ’n bietjie inligting oor Judas. Ons lees in die NT van 6 Judasse. 1. Die fisiese broer van Jesus = die skrywer van die NT-brief. 2. Die Galileër – Hand 5:37. 3. Die Judas by wie Paulus tuis was ná sy Damaskuspadondervinding – Hand 9:11. 4. Die Judas wat saam met Silas die Sinodebesluite gaan oordra het – Hand 15:27. 5. Die seun van Jakobus = groter dissipelkring – Joh 14:22. 6. Judas wat van die dorpie Kariot gekom het. Die verraaier-dissipel.
Waarskynlik het Jesus hierdie seun van Kariot gekies vanweë sy gawe om met finansies te werk. Hy was die dissipelkring se geldman. En Judas was waarskynlik gewillig om Jesus te volg omdat hy gehoop het dat Jesus politieke uitkoms sal bring en die Jode bevry van die Romeinse oorheersing. Maar, hy het gaandeweg al hoe meer teleurgesteld geraak. Want Jesus het nie in sý skema ingepas nie. Judas was ontnugter met Jesus. Hy het vermoed dat Jesus se sending misluk het. Wáárom het Jesus byvoorbeeld nie vir Johannes die Doper gehelp nie – en hom onskuldig laat sterf onder Herodes? Wáárom trek hy hom terug wanneer daar geleenthede opduik vir publieke aansien? Wáárom doen Hy niks wanneer mense tekens vra nie? Wáárom raai Hy mense áf om Hom te volg? Wáárom wil Hy soos ’n koringkorrel in die grond val en sterf? Sien u? Ontnugter met God: Hy werk nie soos ék gedink het Hy sal werk nie. Hy pas nie in by mý denkskema nie.
Die grootste skok tref egter vir Judas in Matt 26 toe Jesus ekplisiet sê dat Hy oor 2 dae doodgemaak gaan word. “Wat??? Gaan Hy stérf?? Dan hét Hy mos misluk!! Wat ’n teleurstelling!! Die Verlosser gaan sterf!!” Judas het heeltemal geknak. Verder mag ons nie vergeet van die geldsug wat hom gedryf het nie. Dit het hom totaal onbetroubaar gemaak. Dit was juis hierdie geldsug wat hom na die owerpriesters laat gaan het: “Wat gee julle my…??” Vlgs Luk. 22:3 het die satan het in hom ingevaar.
Natuurlik was dit nie Judas wat die 30 Silwerstukke op Jesus se kop geplaas het nie. Die owerpriesters het op die bedrag besluit. En dit was nie sommer toeval nie. Hierdie owerpriesters het die OT geken. Hulle het geweet dat – volgens Eks. 21:32 – Dertig Sikkels silwer die bedrag is wat ’n slaaf, wat deur ’n bees doodgemaak is, werd was. En vlgs Sag. 11:12 was dít die bedrag loon wat die volk gedink het God self – as Herder – vir hulle werd was. Dit is waarom 30 Silwerstukke vir die owerpriesters ’n gepaste prys vir Jesus was – Hy was nikswerd in hulle oë.
En nou soek Judas net vir ’n geskikte tyd om Jesus uit te lewer – onverwags – wanneer die ander dissipels Hom nie sal verdedig en daar dalk ’n groot oproer ontstaan nie. MAAR: Hy was nie van plan om dit die aand van die pasgamaal te doen nie. Die rede waarom hy dit wél tóé gedoen het, was omdat Jesus op ’n liefdevolle manier die net om Judas toegetrek het en hom sodoende forseer het om dit te doen. Want onthou: Op Gód se kalender, moes Jesus sterf tydens die Pasgafees toe die paaslammers geslag was. Hy was die Paaslam na wie al die lammers – wat deur die eeue op die Pasgafees geslag was – heengewys het.
Die pasgamaal was elke jaar – vanaf die tyd van die uittog uit Egipte – op die Donderdagaand geëet en daarná het nog 7 dae Fees vd Ongesuurde Brode gevolg. Groot bevrydingsfees – God het immers Sy volk gered uit Egipte. Jesus en Sy dissipels het dus op die Donderdagaand die paaslam geëet en net daarná is Hy oorgelewer en op die Vrydag gekruisig. Dit was die eintlike bevrydingsfees! Die bevryding uit Egipte was maar net ’n vooruitwysing na die bevryding uit sondeverlorenheid wat Jesus sou bewerkstellig.
Dit is interessant om te sien hoe geheimsinnig & omslagtig die plek waar Jesus en sy dissipels die Pasgamaaltyd sou eet, gesoek en voorberei word. Dit is duidelik dat Jesus nie wou hê Judas moes vooruit weet wáár hulle sou eet nie. Vir oulaas wou Hy dit privaat en veilig hou en wou Hy intiem met hulle praat. Net Petrus & Johannes moes die vertrek gaan voorberei. Hulle sal ’n man raakloop wat ’n waterkruik dra – lig Lukas (22) ons in. Dit was ongehoord vir ’n mán om ’n kruik te dra, want dit was die vroue se werk. Daarom sou hulle hom dadelik raaksien en weet dat dit die regte man is. ’n Mens moet fyn kyk om nie die wonder wat hier plaasvind, mis te kyk nie. Die wonder dat Jesus alles vooruit weet én dat Hý alles bestuur. Luister wat sê Hy: My tyd het nou gekom. M.a.w.: Met hierdie pasgamaaltyd wat ons nou gaan eet vervul Ek die pasga se diepste bedoeling. EK is die eintlike paaslam wat geslag word. Sien u die wonder van Jesus wat hier vir ons oopgemaak word?
En toe sit Jesus daardie Donderdagaand saam met die twaalf aan tafel en eet die pasgamaal – wat bestaan het uit die eet van geroosterde paaslam, ongesuurde brood – te same met bitter kruie en ’n vrugtemoes asook die drink van rooiwyn en soutwater. Dit was herinneringe aan die verlossing van die volk uit Egipte.
Skielik wip die dissipels van die skrik. “Een van julle gaan My verraai”. Jesus begin nou om vir Judas in ’n rigting te stuur. Want God se program moet volgens skedule verloop. Maar, Hy hanteer vir Judas só goddelik. ’n Mens wil koue rillings kry wanneer jy raaksien hoe Hy vir Judas hanteer. Hóé boos Judas se hart was en dat satan in hom ingevaar het, het Jesus geweet. En Hy begin die wêreld vir Judas warm maak, maar nie op ’n aggressiewe manier nie, maar só dat Judas die heeltyd nog die kans het om tot inkeer te kom. Hy sê: “Een van julle gaan My verraai.” Dit kon enigeen gewees het. Hy kom nie direk op Judas af nie.
Die wonderlikste van alles is dat al die dissipels stom van verbasing was dat een van húlle Jesus sou verraai. M.a.w. – vir al die jare het Jesus nooit vir Judas aan hulle blootgestel nie. Hy het al die tyd geweet wie/wat Judas is, maar Hy het nooit vir Judas sleggemaak voor die ander nie. Hy het hom altyd beskerm teen die ander. Jesus het Judas se boosheid vir hulle toegehou. Hy steek Judas se bose plan weg vir die ander. Soveel so, dat nie een van hulle die vaagste benul gehad het wié die verraaier sou wees nie. Selfs toe Jesus vir hulle sê wie dit is, sê Hy dit op só ’n manier dat niemand steeds weet nie – net Judas alleen. Die Heiland sê: “Dit is die een wat sy hand saam met My in die skottel steek.” Maar, almal se hande was saam in die skottel, want almal het hulle brood in die vrugtemoes gedoop!! Selfs toe Judas sê: “Is dit dalk ék, Rabbi?”, antwoord Jesus: “Jý sê dit.” Hy sê nie: “Ja, dis jý” nie. Sien u hoe beskerm Jesus hom voor/teen die ander elf? Sien u hoe goddelik Jesus met Judas werk? Hy stel nie vir Judas-as-persoon bloot nie, maar Hy openbaar wat Judas gaan doen. Sien u hoe Jesus vir Judas insluit by die bevrydingsmaaltyd? Hy vier mét Judas die verlossingsfees. Dit is en bly een van die grootste wonders: Dat Jesus vir Judas ingesluit het by die laaste maal – terwyl Hy die implikasies van sy sonde aan hom bekend maak: “Weë díé een deur wie Ek verraai word..” Maar Hy sê dit só dat slegs Judas die boodskap kry!! Slegs Judas begin sweet afvee: “Wéét Hy régtig wat ek beplan?”
Indien ons dink hoe óns met ander mense omgaan en ander mense eerder benadeel as beskerm – dan besef ons net: Hier het ons met die Seun v God in Sy majesteit te doen. In Sy vurige liefde vir Sy eie verraaier. Hy wat weet dat Judas Sy moord beplan, maar hom steeds insluit. Hy stoot hom nie weg nie. Hy behou hom so lank as moontlik. Hy bevoorreg hom tot die einde toe. Hy het ook sý voete gewas (Joh 13).
Dit bring ons by die sielsdeursoekende vraag: HOE VER GAAN DIE LIEFDE VAN GOD MET ’N MENS REGTIG?? ‘n Mens wat: aanhoudend struikel en val/ wie se hart ver van Hom is/ wat Hom soveel hartseer besorg/ so aanhou met sondig? Antwoord is: Hy hou aan & aan & aan & aan. Hy gee weer & weer die brood en wyn. Daar is mos nie ’n manier hoe hierdie verregaande liefde nie jou hart sal breek nie? En tog breek baie mense se harte nie. Judas s’n het nie. Tot die bitter einde nie. Selfs toe hy Jesus kom soen, wil hy sy bose hart nog altyd wegsteek/kamoefleer: Kamstig liefdevol. “Goeie Môre Rabbi!” Maar, sy woorde gee hom weg. Net diegene buite Jesus se intieme dissipelkring het Hom “Rabbi” genoem. Ja, ’n mens se ware lewensinhoud kom na vore in die leegheid van jou woorde – dit wat jy SÊ verklap alles wat binnekant is.
Vraag: Het dit iets verander aan Jesus se liefde vir hom? En wat sê Hebreers 13:8? Jesus is gister en vandag dieselfde tot in ewigheid. Soos Hy was teenoor Sy verraaier, is Hy op 2 April 2010 steeds teenoor u en my. Sal Sy liefde dan nie ú hart finaal oorwin nie?