Matt 14: 22-26
Inleiding
Ek was oor die afgelope paar jaar bevoorreg om tydens besoeke aan Israel in die Voetspore van ons Here te stap. By een van daardie geleenthede het ons aanboord van ’n houtboot by Kapernaum gegaan om op die See van Galilea te seil vir ’n uur van stille oordenking.
Toe ons uit die hawe seil, het ’n ligte briesie opgesteek en teen die tyd dat ons die middel van die See bereik het, het die wind baie sterk gewaai. Ons het heeltemal wind-op geseil en omdat die wind so sterk was, het dit ’n storm in die kleine veroorsaak. Die golwe en deinings het bykans twee meter hoog geword. Die water het in die boot ingespoel en nodeloos om te sê, ons was papnat. Met die wete dat ons nie sou kon stop om stiltetyd te hou nie, het ek die ervaring om in ’n storm op die See van Galilea te wees, geniet en begin dink aan die twee storms op die See van Galilea en oor die lesse wat ons daaruit kan leer. Verskeie dinge het in my gedagtes opgekom. Ek het gedink aan die storms van die lewe of die gebeurtenisse en uitdagings wat oor ons pad kom en wat ons as Christene vandag ervaar en beleef as ‘n storm. Dinge wat stres en spanning veroorsaak en selfs lei tot onnodige bekommernisse, moegheid, en selfs uitputting en depressie. Dit kan wees agv gesondheidsprobleme, die afsterwe van ‘n geliefde, eensaamheid, werksdruk en spanning, finansiële probleme ens. As ons die Bybel lees, kom ons agter dat ons al die ‘storms’ wat ons ervaar kan indeel in twee tipe storms.
Die Storm van Teregwysing, wanneer God ons dissiplineer. Jona was in ’n storm omdat hy ongehoorsaam was aan God en moes tereggewys word. Jona het nie van die opdrag gehou wat God hom gegee het nie. God het hom beveel om sy tuisland te verlaat en na die stad Nineve te gaan – ’n vyandige en bose sentrum van afgodsaanbidding. Daar moes Jona die mense waarsku oor God se komende oordeel en hulle oorreed om te bely. Die Hebreeuse mense het die mense van Nineve gehaat, dus het die rebelse profeet in die teenoorgestelde rigting gevlug met die hoop dat God vir hom ’n ander opdrag sou gee wat meer in sy smaak sou val. Jona is deur die storms rondgegooi en het selfs in die maag van ’n vis gereis vir drie dae. Alles wat met hom gebeur het kon vermy gewees het as hy maar net geluister en op God se bevel gereageer het. God het Sy opdrag herhaal en Jona het dit uitgevoer. God het vir Jona tereggewys omdat die Woord van God nie leeg sal terugkeer nie (Jes 55).
Ervaar jy tans ‘n storm van teregwysing? Is daar dalk ‘n opdrag van God wat jy weet waaraan jy nog nie gehoorsaam was nie of selfs doelbewus geїgnoreer het.
Besef dat jy buite die wil van God is en dat HY jou dissiplineer
Erken jou huidige posisie en probleem
Doen opregte belydenis
Verkry en ervaar Sy Vergifnis
Keer terug na die vorige of laaste opdrag van die Here
Gehoorsaamheid aan Sy wil en opdrag
Herstel jou posisie
Die Storm van Vervolmaking, is wanneer God ons help om te groei in ons geloof, vertroue en verhouding met Hom. Jesus het sy dissipels tweekeer op die See van Galilea in ’n storm getoets. By een geleentheid (Matt 8) was Hy by hulle in die boot tydens die storm en tydens die ander geleentheid (Matt 14) het Hy hulle van die kruin van die berg af dopgehou en vir hulle gebid. Ons almal gaan deur tye waar dit lyk of net mooi niks reg loop nie en ervaar stres, spanning en druk. Hou goeie moed en moenie vrees nie (Matt 14: 27) en wees bemoedig in die feit dat:
HY het my hier gebring
Dissipels:
Die dissipels was in die boot en in ’n storm omdat hulle die Here en sy opdrag gehoorsaam het om oor te vaar na die anderkant. Het Jesus geweet die storm was oppad? Natuurlik! Het Hy hulle met opset in die storm ingestuur? Ja! Hulle was veiliger in die storm terwyl hulle aan Hom gehoorsaam was as om saam met die skare op die strand te wees buite Sy wil.
Ons:
Die huidige ekonomiese, politiese, sosio en maatskaplike omstandighede en probleme wat druk op ons uitoefen en ons belewenis daarvan is nie onbekend vir die Here nie. Het Hy geweet dat daar ‘n resessie gaan kom in SA en in die wêreld? Weet Hy van al die inbrake, gewapende rooftogte en onregverdighede in ons land? Weet Hy van die toename in ongeregtigheid en bedrog met finansies? Weet hy van die swaarkry, vervolging en verdrukkinge wat ons ervaar? Natuurlik! Het Hy dit toegelaat en is deel van Sy plan? Ja!
Alles is deel van God se plan om die weg voor te berei vir die koms van Sy Seun omdat in die laaste dae die ongeregtigheid sal vermeerder en die afval van God se Waarheid al groter word en dan sal Hy kom.
Matt 24: 12: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel”
Terselfdertyd gebruik Hy dit om ons te vorm in ons geloofsverhouding met Hom en ons te gebruik as Sy instrumente in ‘n vervalle wêreld waar Hy vir ons geplaas het?
Maar wees verseker daarvan dat Hy jou tot hier gebring het en dat Hy jou daardeur sal dra en dit bereik in jou en my lewe wat Hy ingedagte het.
HY sien my en hou my dop
Dissipels:
Die Here Jesus was fisies saam met hulle in die boot tydens die eerste storm op die See alhoewel Hy geslaap het (Matt 8: 23-27/Mk 4: 35-41). Tydens die tweede storm was Hy nie by hulle nie, maar op die kruin van die berg besig om te bid, maar Hy het ook gesien dat hulle swaarkry (Matt 14:22-26/Mk 6: 45-56).
Ons:
Jesus is nie fisies in ligaamlike gedaante meer by ons nie, maar is deur Sy Heilige Gees in ons, langs ons en by ons elke oomblik van die dag. Wat ons ookal mag ervaar of deurgaan, Hy is met ons.
Matt 28: 19-20: “Gaan dan heen… en kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”.
Joh 14: 16 -18: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die warheid wat die wêreld nie ken ontvang nie omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie”.
Jesus sien ons en hou ons dop.
2 Kro 16:9: “ want die Here-sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is”.
Psalm 33: 13-14: “Die Here kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit Sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde”.
Jer 32:19: “groot van raad en magtig van daad, wie se oë oop is oor al die weë van die mensekinders om aan elkeen te gee volgens sy weë en die vrug van sy handelinge”.
He 4:13: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het”.
HY bid vir my
Dissipels:
Jesus is nie by hulle nie, maar Hy bid vir hulle (Matt 14:22-26/Mk 6: 45-56)
Ons:
Jesus is nie fisies by ons nie, maar Hy tree vir ons in as Hoëpriester (He 4: 14-16).
Rom 8: 34: “Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree”
Verdere skrifgedeeltes: Rom 8: 37, He 7:25, He 9:24, 1 Jo 2:1, Jo 17
Hy sien ons nood, verstaan ons vrese en is in beheer van elke omstandigheid.
HY kom na my toe
Soms voel dit asof Hy ons verlaat het en nie regtig omgee nie. Dawid en Paulus het ook per geleentheid so gevoel ( 2 Kor 1: 8). Hy kom altyd na ons toe as ons deur die storms van die lewe gaan en sal ook nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek sal word nie.
Jes 43:2: “ As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere- hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie”.
1 Kor 10:13: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie, maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra”.
Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand ( Jes 41:10)
Hy kom nie altyd wanneer ons dink Hy behoort te kom nie. Hy weet presies hoe lank ons kan uithou en wanneer ons Hom die nodigste het. Terwyl ons wag is Hy besig om alle menslike steunpilare te verwyder soos wat Hy gewag het dat die dissipels in die middel van die see is, weg van die hawe en strand af en ook nie meer kon omdraai nie.
Jesus stap op die water om vir hulle te wys hulle probleem is bloot ‘n stepping stone vir Hom en sodat hulle kan besef Hy is die Heer oor alles en dat hy hulle probleem net gebruik om hulle te groei en nader te bring na Hom toe.
Hulle het Hom nie herken nie omdat hulle nie regtig vir Hom gesoek het nie en net gefokus was op hulle omstandighede en probleme.
Elia het God se Stem in die storM gehoor. Ons moet tyd neem om na die storms te kyk en te luister wat die Here vir ons daardeur wil sê.
Geloof open die oë van die hart en vrees sluit die oë van die hart.
Hy versterk ons geloof
Dissipels:
Die doel van die storm is om hulle geloof te versterk sodat hulle kan leer om Hom te glo, vertrou en te weet Hy is met hulle al kan hulle Hom nie sien nie. Tydens die eerste storm was Jesus by hulle en tydens die tweede storm was Hy nie saam met hulle nie. Dit was alles voorbereiding vir die storms wat hulle nog sal deurgaan in die toekoms.
Dissipels:
Matt: 8: 23-27: Jesus is in die boot saam met hulle. Waarom is julle bang? Wat vir ‘n mens is Hy?
Matt 14:22-36: Jesus is nie in die boot saam met hulle nie. Hy kom na hulle toe. Hulle dink eers dit is ‘n spook en is bang. Hou goeie moed, dit is EK. Waarlik Hy is die seun van God.
Ons:
Die storms is nie altyd maklik nie in ons lewe nie, maar dit is bitter nodig om ons te vorm en te verander na Sy beeld. Hy wil dat ons verander word van ‘n termometer na ‘n termostaat.
Termometer: Reageer op en word beïnvloed deur temperatuursveranderinge van buite. Die meter verander soos wat dit hitte of koue wys. Termostaat: Beheer die temperatuur van ‘n vertrek. As dit warm is verander die termostaat dit na koud en omgekeerd.
Petrus op die see. Waarom het hy op die see geloop? Jesus het Hom uitgenooi om te kom. Hy het ook gedink dat as Jesus op die see kan loop dan kan hy ook. Waarom het hy gesink? Hy het sy oë van Jesus afgeaal en na die golwe gekyk.
HY sal my deurhelp
Die woord van God kom nooit ledig terug nie. Jesus het die opdrag gegee om na die oorkant te vaar omdat daar mense is wat aangeraak moes word. Hy voltooi alles en bereik dit wat Hy begin het.
Hierdie ervaring van die dissipels kan vir ons ’n groot bemoediging wees wanneer ons deur die storms van die lewe gaan. As ons besef dat ons in ’n storm van teregwysing is, is dit tyd om te bely en terug te keer na die vorige opdrag wat God ons gegee het en die storm sal verander na ’n storm van vervolmaking. As ons onsself midde in ’n storm van teregwysing of van vervolmaking bevind, kan ons gerus wees dat:
Hy dit toegelaat het en my op hierdie plek gebring het
Hy deur Sy Gees met my is (net soos Hy in die boot was)
Hy my bewaar
Hy vir my bid
Hy na my toe sal kom op die regte tyd
Hy in my dit sal bereik waarvoor hy die storm bedoel het (teregwysing/vervolmaking)
Hy my sal deurhelp
Hy Sy doel en einddoel sal bereik
Dus my vriend, soms is die golwe en storms van die lewe bo-oor ons, of dit voel ten minste so. Onthou, as die uitsig swak is … probeer opkyk en besef dat Hy nog daar is en dit in ’n oomblik kan verander … net sodra Hy sy doelwitte bereik het