'n;Klip-dooie godsdienstige se getuienis 

Dit was my heerlike voorreg om in ‘n huis groot te word waar albei ouers kinders van die HERE was. Van kleins af het my moeder ons van die Here Jesus vertel. Reeds as kind het ek geleer wat reg en verkeerd is. Een indruk wat op my as kind gemaak is en wat ek seker nooit sal vergeet nie, is die kere wat ek my moeder met betraande oë op haar knieë aangetref het. Dit het altyd iets in my kinderhart geroer. Haar gebede was nie tevergeefs nie, waarvoor ek die Here vir ewig dankbaar sal wees. As jong seun het ek reeds my hart aan die Here Jesus gegee en Hom as my persoonlike Saligmaker aangeneem.

 

Pas nadat ek die skool verlaat het, het ek ‘n AEB konferensie op Rustenburg bygewoon (dit was in 1950). By hierdie geleentheid het ek my behoefte aan ‘n rein hart besef. Ek het die HERE vir hierdie werk vertrou en Hy het dit gedoen. Na die konferensie het ek uit en uit vir die HERE gelewe.

 

Ongeveer tien maande na hierdie ondervinding, het ek na Johannesburg gekom waar ek as vakleerling in diamantslypery opgeneem is. Drie jaar het in hierdie ou groot stad met al sy aanloklikhede verbygegaan waarin ek totaal teruggeval en koud geword het.

 

In April 1954 het ek weer ‘n Paasnaweekkonferensie op Skandinawiëdrif bygewoon. By die eerste diens was ek onder vreeslike sonde-oortuiging en het ek die aangesig van die HERE gesoek. Ek het ook saam met een van die Pelgrims gaan bid, maar kon maar nie in my hart vrede kry nie. Die Maandag na die konferensie, by my ouers se huis op die plaas, het die HERE my weer na ‘n lang worsteling lieflik ontmoet en het ek weer Sy vrede en blydskap in my hart ondervind.

 

Terug by die werk het ek getuig van wat die HERE vir my gedoen het. Kort hierna het ek die drang in my hart gevoel om vir die HERE te gaan werk. Ek het die HERE hieroor in gebed geraadpleeg en deur Sy Woord (Eseg 33) het Hy my baie duidelik geantwoord. Daardie oggend het ek Hom belowe dat ek in Sy diens sou gaan. Ek het vorms gekry en ingevul om vir opleiding na Glenvar te gaan, want ek het gevoel dat dit die aangewese plek vir my was. Gedurende die maande wat hierna gevolg het, terwyl ek gewag het dat my aansoek goedgekeur moes word, het baie dinge gelyk gebeur. Ek is as diaken in die kerk voorgestel; ook gekies op die bestuur van die K.J.V. en ek het my vrou ontmoet. Almal het raad gegee en gaandeweg het ek na die baie opinies begin luister. Toe ek my weer kom kry, het ek verskoning begin soek om nie na die opleidingskool te gaan nie, terwyl ek geredeneer het dat al hierdie dinge oor my pad gestuur is sodat ek nie moes gaan nie – so het die duiwel te werk gegaan. Ek het die hoofkwartier in Potchefstroom laat wee tom my aansoek terug te trek. Ek het geweet ek doen verkeerd en dat ek uit die Heer se wil stap, maar ek het in hierdie dwaasheid Volhard.

 

Hierna het die haglikste elf jaar van my lewe gevolg en gedurigdeur het my gewete my daaraan herinner dat ek in voltydse diens moes wees. Nou het die duiwel ook dit gebruik om my te pyning, want as ek op my knieë gaan om te bid, dan het hy vir my gesê dat daar vir my geen genade is nie, want ek was aan die HERE ongehoorsaam. So het dit voortgegaan en by tye het dit gevoel asof ek van my versand wou raak. Intussen is ek getroud en het ek probeer om die lewe te lei wat die Here Jesus gesê het nie gelei kan word nie; dit is om ‘n dubbelhartige lewe te voer. O, as ek maar die haglikheid van hierdie lewe kon beskryf sodat ander nie in hierdie selfde strik sou val nie, dan sou ek dit doen, maar ek is bevrees dat dit nie moontlik is nie.

 

In Sy onverstaanbare liefde en genade het God dit so beskik dat Mnr. en Mev. Brandt na Pretoria hoofkwartier verplaas is (mev Brandt is my suster). Die Rand het destyds ook nog onder Noord-Oos Transvaal geval. As gevolg hiervan is ons gereeld in kennis gestel van die maandelikse konferensies en om hulle nie sleg te laat voel nie, het ons hulle maar bygewoon.

 

Gaandeweg die Here weer met my begin praat en by elke diens was ek onder sonde-oortuiging, maar as ‘n uitnodiging gegee word, het ek my hart verhard en uitgestap. In hierdie toestand het ek voortgegaan tot 13 September 1965, die begin van die jaarlikse konferensie. Daardie Maandagaand, onder die eerste boodskap, het die HERE my baie duidelik gewys dat ek besig was om Hom met ‘n verdeelde hart te volg en ek het besef dat ek nie langer so kon voortgaan nie. Na die diens is ek huis toe en langs die pad het ek my sigarette by die kar se venster uitgegooi. By die huis gekom, het ek op my knieë gegaan, my sonde bely en die HERE om genade gesmeek. Ek het egter nie dadelik vrede in my hart gekry nie. Hierna het maande gevolg wat ek die HERE met my hele hart gesoek het en ek glo Hy het my kinderlike opregtheid gesien, want ek was moeg en sat van hierdie dubbelhartige lewe. Een oggend terwyl ek stil was voor die HERE, het Hy duidelik met my gepraat oor my swak kennis van Sy Woord. Hierna het ek baie vroeër opgestaan en ten minste ‘n uur met Sy Woord deurgebring. Ek het die Evangelie volgens Johannes ses keer deurgelees. Hoe lank dit my geneem het, weet ek nie, maar wat ek wel weet is dat, terwyl ek besig was om hierdie Evangelie biddend deur te lees en met verwagting in my hart na God op te sien vir vergifnis, Sy vrede daar in die stilte van die vroeë oggendure opnuut van my hart besit geneem het en Hy het my die onwrikbare versekering gegee dat Hy my weer eens in genade aangesien en my ongehoorsaamheid vergewe het. O, groot is die genade van God! Vir my is dit te wonderbaar om te begryp of te verstaan.

 

Sedertdien dien ek Hom met ‘n onverdeelde hart deur Sy onuitspreeklike genade. Ek sou graag al die verspilde jare wou oorleef in onderwerping en toewyding aan Sy wil, maar ek wil die dinge wat agter is vergeet en my uitstrek na wat voor is. Elke dag word Hy vir my dierbaarder en deel ek in Sy onuitspreeklike rykdomme.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00