Bekeer jou deur Pieter Scholtz

· “BEKEER JOU …!”

 

· Ja, jy het reg gehoor! Dit is vir jóú wat die lewende, heilige en liefdevolle God, die Skepper van hemel en aarde, nie net aanraai om jou te bekeer nie, maar dringend beveel om dit onmiddellik te doen! Menigtes glo bekering is nie vir húlle nie want hulle is voorgesê hulle is verbondskinders van God, al bewys hulle lewe en handelwyse die teendeel. Ander probeer hulleself oortuig dat hulle eens op ʼn tyd die regte besluit geneem het om ʼn Christen te word. Ander weer troos hulleself by die gedagte dat God ʼn ‘God van liefde’ is, daarom sal Hy mos nooit sal toelaat dat húlle as verlorenes hel toe gaan nie! Al hierdie mense moet egter wéét dat die Bybel sê: “dit is die mens bestemd om eenmaal te sterwe en daarná die oordeel.” Ook dat God sê, Hy het “… ʼn DAG bepaal waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ʼn Man wat Hy aangestel het en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek!”

 

· My vriend, dit maak nie saak wat ander jou voorsê, wat jy jouself mag verbeel of wat jy dink ʼn ‘God van liefde’ oor jou sal besluit nie. Wat saak maak is nie soseer wat jy ‘besluit’ het nie, maar of jy al jouself onvoorwaardelik aan God ‘oorgegee’ het! Of is jy werklik ook mislei om te meen dat bekering net op alle ‘gruwelike’ sondaars van toepassing is en glad nie ook op die goeie, godsdienstige en ‘gelowige’ mens wat jy meen jý is nie? Moontlik is jý wat dit nou lees, ten spyte van al jou eie ‘dink-en-doen-en-probeer’ godsdiens wat jou uiterlik aanvaarbaar maak en so fatsoenlik laat voorkom, juis voor God daardie gruwelike, goddelose en onverskillige rebel wat aanstoot neem aan Sy bevel tot bekering! Jy hoop maar alles is nie waar van die ewigheid en van God se oordeel en straf op elke sondaar wat in die gruwelike sonde van ongeloof bly voortleef nie. Wéét jy dat bloot ʼn geloof ‘aan’ ʼn historiese Christus nooit die plek kan neem van reddende en werkende geloof ‘in’ ʼn lewende Christus nie? Dan is hierdie skrywe nie vir jou ʼn toevallige waarskuwing en uitnodiging nie, maar ʼn ernstige en tydige rooi lig wat jou die heel laaste waarskuwing mag bied om te besin, dat jy jou betyds van jou dwaasheid en selfgerustheid tot God kan BEKEER!

 

· Die Bybelse gebruik in die oorspronklike taal van die woorde, ‘kom dan tot inkeer …’ in Handelinge 3:19 beteken: verander jou denkpatroon of kry ʼn ander denkwyse, ‘… en bekeer julle …’ beteken: draai weg van of verander van rigting. Dit beteken om ernstig te besin en dan daarvolgens ’n totale regsomkeer te maak en koers te kry in die regte rigting! Só ’n drastiese ervaring ten goede kan sekerlik nie met ’n sondaar gebeur sonder dat hy of sy self daarvan bewus is of besef dat God hom deur Sy Gees daartoe beweeg het nie!

 

· Die boodskap van bekering is nie nuut nie. Dit was reeds God se boodskap deur die profete, asook die van Johannes die Doper, die voorloper van die Verlosser van die wêreld. Dit was die boodskap van die Here Jesus self en van al sy dissipels! Tot vandag toe bly dit dieselfde; die kernboodskap van die Bybel, gerig aan verlore sondaars wat na ʼn Verlosser smag wat hulle van sondebande, onsekerheid en vrees kan verlos!

 

· Al was die boodskap van bekering nog nooit ’n populêre boodskap nie, was dit nog altyd God se basuin van waarskuwing en ook Sy wekroep van hoop aan ontelbare menigtes verdwaalde, verslaafde, misleide en verlore mense! Die positiewe uitwerking wat dit gehad het op elkeen wat dit gehoor en daarop gereageer het, was keer op keer verstommend: ewige lewe, blywende vrede en hemelse vreugde! Dit wat elke ware kind van God reeds op aarde van alle ander mense onderskei. Die wedergeboorte wat God bewerk in die hart van die berouvolle sondaar wat hom van sy aaklige sonde bekeer; dit wat hom so diep ongelukkig en vreesbevange maak, is sy enigste hoop om waarlik verlos, gereinig en ’n nuwe skepsel in Christus gemaak te word!

 

· God maak die sondaar wat hom – soos die verlore seun – van die vuil varke en hulle aaklige, vuil gewoontes en kos afkeer, tot homself laat inkeer om hom tot sy hemelse Vader te bekeer, só splinternuut, skoon en waardig, dat daar absoluut ‘geen veroordeling’ meer is vir sy sondeskuld nie. Dan volg daar ʼn salige verkeer in sy Vader se lieflike huis met nooit ‘geen skeiding’ meer van sy Hemelse Vader, of van Sy koninklike, wedergebore familie nie (Rom.8:1,2,38,39)! Hy waarborg dit alles in Sy onfeilbare Woord en Jesus Christus se ongelooflike uitnodiging en belofte is duidelik: “Ek sal hom wat na My toe KOM, NOOIT uitwerp nie …” (Johannes 6:37). Miljoene mense het die waarheid en werklikheid hiervan reeds oor en oor beproef. Menigtes doen dit nog daagliks en sal hul hemelse vrede en blydskap vir niks anders wil verruil nie.

 

· Soos die wedergeboorte en vryspraak God se deel is wat Hý alleen kan en wil doen, is bekering die mens se deel wat bestaan uit berouvolle belydenis van sonde én ʼn eerlike erkenning deur die soeker, van sy verlore toestand. In een oomblik van genade doen God Sy werk van vergifnis en redding en dan wéét die sondaar hy is totaal in ʼn nuwe skepsel verander – die ou dinge het verby gegaan en KYK, alles het nuut geword! God se TYD van genade is altyd NOU, maar niemand weet hoe lank genadetyd sal duur nie. Daarom is God se liefdestem wat roep so dringend en duidelik: “BEKEER JOU!” Om net te ‘kies’ of te ‘besluit’ is nie genoeg nie, maar om te kies om jouself volkome en onvoorwaardelik aan Christus OOR TE GEE en om seker te maak dat God jou vergewe het, uit genade gered het en as Sy kind aangeneem het, sal jou ankers van GELOOF vir ewig vas maak aan die beloftes van Sy onfeilbare Woord!

 

· Dit is miskien NOU jou LAASTE geleentheid en daar is geen beter tyd as NOU nie! GRYP dit aan!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00