Wedergeboorte deur Pieter Scholtz

Wedergeboorte

 

Het jy nog nooit geweet dat elke mens wedergebore móét wees om die ewige lewe te kan hê nie? Die goeie nuus is dat ook JY daarvan verséker kan wees, as jy net met ʼn oop gemoed na God se onfeilbare Woord wil luister! Deur Sy Woord wil God dit graag vir jou doen want dit is Sy wil dat mense gered moet word. As dit gebeur, hoef jy nooit weer net so te hoop of te dink nie. Sonder enige twyfel sal jy kan WEET!

Neem eers net deeglik kennis van die vals fondamente waarop baie mense bou: Géén werke – hoe goed of verdienstelik ook al, geen natuurlike geboorte in ʼn godsdienstige familie – hoe voortreflik ook al en géén godsdienstige opvoeding of blote kerklidmaatskap red mense nie, alhoewel dit daartoe kan bydra. Die Skrif sê almal hét gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God; almal hét gedwaal soos skape en élkeen het sy eie pad geloop … in eiewil en in opstand teen God se heerskappy.

Die verklaring van Jesus Christus self is dat as iemand nie WEDERGEBORE word nie, hy die koninkryk van God NIE kan sien of daar kan ingaan nie! Op grond van hierdie feite is dit duidelik dat die wedergeboorte, of om ‘uit God gebore’ te word, beslis die enigste paspoort by die hemelpoort is! ʼn Ernstige, eerlike en diep godsdienstige jong man in ʼn Bolandse dorp het, toe hy bogenoemde waarheid ontdek het, uitgeroep: “Dit baat my NIKS om soos ʼn Christen te lewe voordat ek nie eers een IS nie!” Soortgelyke voorbeelde is legio en sommige ontdek dit ongelukkig en helaas, te laat!

Die Skrif waarsku ons dringend! Die tien maagde het uiterlik presies eners gelyk, maar die toets was innerlik, of hulle lampe middernag kon brand en skyn. Die ryk jongman het sy rug op Jesus se uitnodiging gedraai, terwyl hy tevergeefs op die dryfsand van die onderhouding van gebooie probeer pleit het. Jesus het gesê dat in daardie dag, wanneer Hy sal kom, sommige verbaas en vreesbevange sal sê: “Ons het in U Naam geprofeteer, in U Naam duiwels uitgedryf en in U Naam baie kragte gedoen.” Ander sal sê: “Ons het in teenwoordigheid geëet en gedrink en U het op ons strate geleer.” Die Here sal antwoord: “Ek het julle nooit geken nie … gaan WEG van My, al julle werkers van die ongeregtigheid …!” (Mat.7:21-23; Luk. 13:26).

Om net te vertrou op God se genade en liefde sonder om rekening te hou met Sy heiligheid, geregtigheid en Sy gloeiende toorn teen sonde, sal jou beskaamd laat staan! Te laat sal jy uitvind daar is geen ander weg as die een wat Jesus Self aan die hoof rabbi van Israel, Nikodémus, voorgeskryf en verduidelik het nie!

Daar is net EEN manier om gered te word; die mens moet sy verlorenheid, sy skuld en sy sondigheid voor God deeglik besef, dit eerlik erken en bely, met God versoen en deur Hom vergewe en gereinig word. Bekering beteken net dit – dat jy en ek, net soos ons is, as verlore en helverdiende sondaars, met hartgrondige en eerlike berou by die kruis van Jesus Christus moet neerkniel. Dáár moet ons om genade en vergifnis pleit en dáár mag ons Hom in die geloof as persoonlike Plaasvervanger, Verlosser en Erekoning aanneem. Op daardie voorwaarde verséker God jou dat Hy jou die mag gee om ʼn kind van God te word (Johannes 1;12).

God beloof om AL jou sondes te vergewe as jy dit bely (1 Joh.1:7,9). Ook dat Hy die een wat na Hom toe kom, nooit sal uitwerp nie (Joh.6:37). Deur die wonderwerk van die wedergeboorte, wat Hý vir jou doen, laat Hý die helder lig van die waarheid vir jou oopgaan, dat Hy jou red en ook verlos van ʼn sondige bestaan. Dan begin ʼn splinternuwe lewe en kan jy uitroep: “Ek was blind, maar nou sien ek!”

Deur die wedergeboorte word jy Sy kind, ‘uit God gebore’ en deel Hy Sy Gees aan jou mee. Hy maak jou ʼn deelgenoot van die goddelike natuur. Deur Sy nuwe skepping stroop God die ou lewe met al sy bande van sonde, vrese en twyfel van jou af en beklee jou met die kleed van geregtigheid en heiligheid in Christus. Jesus Christus het vryspraak vir jou en my verdien weens die feit dat Hý, die Onskuldige in die plek van jou, die skuldige sondaar, gesterf het. Wanneer God ons vergewe kyk Hy op ons asof ons NOOIT gesondig het nie en druk ons vas aan Sy hart van liefde! Wanneer dit gebeur sal jy dit verséker weet, omdat God plegtig Sy redding beloof het en dit ook waarborg deur Sy onfeilbare Woord (1Joh.5:12,13).

 

Bekyk hierdie heerlike werk van genade wat die almagtige God vir jou doen van DRIE kante.

 

1. DIE KANT VAN GELOOF:

 

Geloof is ʼn genadegawe van God, gegrond op onfeilbare feite en beloftes van Sy Woord (Romeine 10:17). Dit sê so duidelik in 1 Petrus 1:23: “Julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly!” Dit begin met geloofsopenbaring, lei tot geloofsoortuiging en dan tot geloofsversekering.

Geloofsopenbaring kom wanneer die Heilige Gees van God die Woord met lewenskrag ‘bevrug’ en Hy dit lewend, vol van die lig en waarheid van goddelike openbaring vir jou laat opgaan. Dan sien, verstaan en begryp jy hoekom ʼn heilige God, vir Wie dit na regte onmoontlik is om sonde te verdra, te verskoon of dit goedsmoeds te vergewe, tóg al die sondaar se skuld wil en sál vergewe en hom ook van die smet van sonde reinig. Hierdie geregtelike daad van ‘regverdigmaking’ is ʼn genadewerk van God waardeur Hy die skuldige en verlore sondaar volkome vryspreek, ‘soos in ʼn geregshof’, slegs op grond van wat Jesus Christus deur Sy kruisdood namens jou en my, klaar vir óns sondeskuld betaal en afgehandel het.

Dit beteken egter nie net vryspraak van sondeskuld nie, maar ook vrymaking van sondemag ‘soos op ʼn slawemark’ waar die verdienste van Jesus Christus se dood kláár die losprys betaal het om die ‘slaaf’ van sonde nie net los te koop nie, maar ook waarlik VRY te maak! Die prys vir ons vryspraak én vrymaking was baie duur: Jesus Christus het vir ons ‘sonde geword’ toe Hy met bloedsweet die beker se volle inhoud geledig, dit sy eie gemaak en die Vader op Hóm gekyk het asof Hý die skuldige, veroordeelde was en op Hóm die volle oordeel laat neerkom het. Die oomblik wanneer JÝ dít sien, berouvol waardeer en GLO dat Hy dit namens JÓÚ gedoen het, vergewe God jou en kyk dan op jou neer asof jy nóóit gesondig het nie! Ongelooflik, maar waar!

 

Geloofsoortuiging kom na jou die oomblik wanneer hierdie feite van Christus se kruisdood jou in die hart ‘gryp’ en jy GLO dat Sy heerlike verlossing vir alle verlore sondaars en dus ook vir jóú bedoel is. Feite het geen verdere bewyse nodig nie, dit is klaar bewys! Ook vir JOU!

 

Geloofsversekering kom wanneer jy sien dat God se genadige vergifnis en verlossing vir jou persoonlik en altyd in die teenwoordige tyd is; dat dit ʼn stap van GELOOF is wat aan feite geanker is; daarom hang dit nie af van enige gevoel, of te wag vir ‘tekens’ nie. Daarom kan hierdie stap van geloof en volkome oorgawe aan Hom nóú deur jou of enige sondaar geneem word. Geloof word gegrond op die feit wat God aan jou openbaar; wat jy wéét, naamlik, dat Jesus Christus deur die volmaakte offer van Sy gestorte bloed en Sy gebroke liggaam aan die Kruis, vir jóú volkome versoening met God en vergifnis en verlossing van sonde bewerk het. Alles op grond van die Skrif waardeur God dit openbaar en waarborg.

 

2. DIE KANT VAN ‘N GEBEURTENIS:

 

Hierdie groot gebeurtenis is duidelik en selfs net so drasties as ʼn fisiese geboorte en word met ʼn opstanding uit die dood vergelyk (2 Kor.5:17). Net soos Christus drie mense uit die dood opgewek het as voorbeelde van ons progressiewe deelname en betrokkenheid by óns ‘dood in sonde en misdade’: Die twaalfjarige dogtertjie wat so pas dood was, die seun van die weduwee wat reeds op pad was na die graf, en Lasarus wat al vier dae IN die graf was (Joh.5:25; Ef.2:1; Kol.2:13).

Wanneer die Heilige Gees die ‘onverganklike saad’ van die Woord (1 Petrus 1:23) met goddelike lewenskrag ‘bevrug’ en op ʼn voorbereide akker van die sondaar se hart inplant, lei dit tot die hoogtepunt van die Heilige Gees gewerkte wonder van die wedergeboorte. Net soos by ʼn fisiese geboorte, is ʼn geestelike wedergeboorte beslis ʼn opspraakwekkende gebeurtenis en die uitwerking dramaties! Jesus het gesê, ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ʼn uur en dit is NOU, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe” (Johannes 5:25).

 

3. DIE KANT VAN GETUIENIS:

 

Die getuienis van die Heilige Gees met my gees dat ek ʼn wedergebore kind van God is (Romeine 8:16).

Die goeie getuienis van ander wat daarvan sal weet en die verandering dadelik sal raaksien.

Die getuienis van die wedergeborene wat self getuig – spontaan, duidelik en met blydskap (1 Pet.3:15)

Die getuienis deur die dra van die vrug van die Heilige Gees, want aan sy vrug word elke boom geken.

 

KENMERKE VAN DIE WEDERGEBORENE:

 

Versekering van vergifnis by die kruis en getuienis vd Heilige Gees dat God jóú aangeneem het.

Verlossing van sondebande en ʼn afsku van en vlug van sonde en dit wat Hom mag bedroef.

Liefde (brandend) vir God en ander mense, lei tot diensbaarheid met die gesindheid van Jesus.

ʼn Eerbiedige vrees en eerbied vir ʼn heilige God tot wie jy graag nader in ʼn gewyde atmosfeer.

ʼn Honger en dors na die Woord. Dis ʼn nuwe boek, vol lig en waarheid en God praat met jou.

ʼn Passievolle drang na meer heiligheid, gelykvormigheid aan Christus en om Hóm na te volg.

ʼn Intieme verhouding met die Here Jesus deur gebed en ʼn las vir die redding van ander siele.

 

Siende dat jy GLO dat Jesus Christus vir jóú as verlore sondaar en in jou plek aan die Kruis gesterf en KLAAR vir jou skuld en sonde betaal het, sal jy dwaas wees om langer die NEEM van die ‘kwitansie’ van die ‘skuldbrief’ uit te stel wat Hy aan die Kruis vasgenael het toe Hý, deur Sý dood, die volle prys vir jou redding betaal het! (Johannes 6:37). Ken die feite met jou verstand, glo dit met jou hart en kies met jou wil tot ʼn heelhartige oorgawe aan Hom! Vertrou God dan sonder enige gevoel en net op grond van Sy woord en karakter dat Hy dit ook vir jou uit genade DOEN! Dank Hom sonder ophou, want dit is die grootse wonder van Sy genade, dat Hy jou kan VERGEWE!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00