Vier Ligte deur Pieter Scholtz

· VIER LIGTE IS ROOI … STOP! … OF DIE DOOD EIS SY PROOI!

 

· Pieter Scholtz (021-9397133)

· *******************************

 

Het jy miskien al die prent van die besigheidsman by sy lessenaar gesien by wie die Here Jesus kom staan en hom vyf minute vra om met hom oor sy kosbare siel en sy ewige bestemming te praat? Terwyl hy skaars omkyk, was sy antwoord: “Ek het géén tyd nie … los my uit!” Dan sal jy weet dat die ander kant van die prent dieselfde man wys waar die DOOD hom aan sy keel vasgryp en hy met ontsettende verskrikking smeek dat die Dood hom tog net vyf minute moet gee om sy saak met God reg te maak. Toe antwoord die Dood: “Ek het nie nou tyd nie … jóú dwaas!”

 

· Gebrek aan Godsvrees het generaal Booth van die Heilsleër se voorspelling bewaarheid toe hy gesê het: “Die dag sal aanbreek dat ons godsdiens sal hê sonder die Heilige Gees, Christenskap sonder Christus, sondebelydenis sonder skuldbesef, vergifnis sonder berou, redding sonder wedergeboorte en ’n hemel sonder ’n hel.” Om net aan Christus te glo, sonder om berou te hê oor ’n sondige verlede, of ’n afsku van ’n sondige hede, het geen verandering in jou lewe gebring nie. Talle mense sal minder stryd en neerlaag met die sonde probleem ondervind as hulle met ware Bybelse berou hulle sondes bely en daarvan afstand doen (Vgl. Spreuke 28:13). Geloofsversekering kan slegs voortspruit uit ’n berouvolle bekering. Berou is ’n eerlike, diepgaande gemoedsverandering; ’n smartlike skuldbesef dat my sonde my Verlosser kruisig, ja vermoor het!

 

· As dit vir jóú is vir wie God, soos vir Biléam, wil sê: “Jou pad loop gevaarlik steil in MY oog!” en jy hoor dit nie eens nie, kan jy gerus wakker skrik, regop sit en ’n slag vorentoe kyk! Jou grootste gevaar is nie soseer die verskriklike, gewisse en gevaarlike afgrond waarop dit afstuur nie, maar die feit dat ’n heilige God jou voor inwag. “Dit is die mens bestemd om eenmaal te sterwe en daarna … die oordeel!” (Heb.9:27; Hand. 17:31).

 

· Omdat Jesus jou liefhet en wil red, laat Hy meer as een ROOI LIG voor jou skyn. Hy het SELF in Matteüs 7:13,14 baie treffend gepraat van nét 2 paaie wat na net 2 plekke lei, deur net 2 poorte. Die “gevaarlike steil” pad in Sy oog (Numeri 22:32), is díé een waarop die Satan as die vaardigste dief, die wreedste rower en die koelbloedigste moordenaar oortyd bedrywig is. Weerlose, onkundige en verdwaalde “skape” sonder hoop en sonder God dryf hy met geweld af na die slagplek … sý slagplekke van smart op aarde en in die ewigheid … die bodemlose afgrond!

 

· Dank God vir die NOU pad waarop die Goeie Herder vóór Sy skape uit gaan – waar Hy hulle in en uit, na groen weivelde lei en na waters waar RUS is – waar Hy Self die Goeie Herder is wat die verlore, siek, swak, kreupel en verdwaalde EEN, die enkeling, selfs in die donkerste nag gaan soek “… totdat Hy hom kry”; die een vir wie Hy reeds gesterf het! Sondaar, die Goeie Herder luister na die één uitroep wat Hy nooit onbeantwoord laat nie, naamlik: “O God, wees my arme sondaar genadig!” ’n Ontnugterde jong man het gesê: “Ek het ontdek dat dit my niks help om soos ‘n Christen te lewe voordat ek nie een IS nie!’ Dank God! Hy verbied die Satan om Sy “VIER ROOI LIGTE” by jou steil afdraande pad af te skakel, tensy jy self toestem dat die Satan jou geestelike sintuie só verblind dat jy nie eens meer die werklike gevaar, of God se rooi waarskuwingsligte kan raaksien nie!

 

· 1. JOU GEWETE is jou eerste wonderlike, Godgegewe rooi lig – die eerlike en vriendelike “poliesman” van jou hart! God se ligstroom in jou siel laat hierdie rooi lig helder skyn! Dit openbaar sonde in sy ware wese as ʼn gevaarlike adder in eie boesem wat mense selfs daartoe beweeg om hulle Skepper te kruisig! In die lig van die Kruis sien ons met verbasing wat God van sonde dink! Dan besef ons die afskuwelike aakligheid en die gevaar van die vernietigende ‘vuur’ in eie boesem. “Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?” (Spreuke 6:27).

 

· Dr. Andrew Murray praat van ‘n teer gewete as die mens se grootste skat, maar waarsku ook dat sonde altyd klein begin, maar namate ons daarmee volhard, raak ons gewete al hoe meer onsensitief. Sonde word dan makliker, totdat die gruwel daarvan jou nie meer ontstel of hinder nie! Jy mag nog rustig slaap terwyl jy stewig vasgeknoop raak met sondebande. “Hy wat die sonde doen, is ’n slaaf van die sonde!” ’n Seker teken van verharding van jou hart is die harde kors en harnas wat dit vorm teen die waarheid as jy die lig van die Evangelie weerstaan! In jouself pleeg jy dan ʼn tragiese soort selfmoord – jy vermoor en verkrag iets heiligs wat jy van God ontvang het – Sy rooi Lig – jou gewete!

 

· My vriend, wanneer laas het sonde jou gehinder? Het jy al ooit ’n traan daaroor gestort? Sny dit soos MES deur jou siel as mense in jou teenwoordigheid vloek, lieg, bedrieg, vuil grappe vertel, heilige dinge misbruik – selfs moedswillig teen GOD sondig deur sy Naam ydellik te gebruik, Hom buite rekening laat en ignoreer? Selfs as hulle die rug op Hom draai en Sy BLOED onder hulle voete vertrap! Dryf jy al slapende, rustig en gerieflik voort, soos die man wat in sy skuitjie bokant die waterval aan die slaap geraak het? Sy anker het ongemerk LOS geraak en toe hy skielik deur die geruis van die waterval gewek word, het mense gesien hoe hy sy hande in lug opgooi en oor die afgrond stort!

 

· 2. GOD SE WOORD is Sy tweede rooi lig! Die duidelikste, mees beproefde padkaart na die ewigheid; die spieël wat die helder lig van die “Son van geregtigheid” weerkaats en niks wegsteek, toemaak, verskoon, of verdoesel nie! Dit wys die swart en donker kant én selfs die grys kolle waar die kwaad skuil, duidelik uit! Dit is die tweesnydende swaard wat oopvlek; wat lewend, kragtig en skerp is en deurdring tot die skeiding van siel en gees en gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart! Dit is God se hamer wat die harde ‘rotshart’ vermorsel – dank God! Maar helaas! Die ‘rubberhart’ gooi elke hou terug en wys net ’n vaal kol waar die hamer tref! Dit is God se vuur wat harde harte smelt! Gee God se Woord ’n kans! Vee af die stof en laat dit werk! As dit eers seermaak is dit daardie soort ‘seer’ wat eers wond, om dan deeglik te heel en vrede te bring! Ontdek daarin God se ware wese; dat Hy liefde is, maar eers LIG en dan liefde! Jesus het gesê mense het die duisternis liewer gehad as die lig! Die Skrif sê Jesus Christus is vol van genade, maar ook vol van waarheid! Dit is duidelik dat Hy die sondaar liefhet maar sy sonde, haat Hy! Géén mens het enige hoop om ooit weg te kom met sy sonde, of met sonde en al by die Hemel in te gaan nie, want “…dáár sal nie inkom iets wat verontreinig of gruwelikheid of leuens doen nie!” (Op.21:27).

 

· Die moderne mens beskou die Woord van God as dwaasheid. Die natuurlike mens kan die dinge van die Gees van God nie verstaan nie. Geestelike waarhede is vir hulle droog, dood en oninteressant. Hulle vind dit maklik om dit te verag, verkleineer en te verwerp! Sommige kan die gesonde leer nie verdra nie en glo net daarvan wat hulle pas, maar wie hierdie ROOI LIG probeer uitblus maak soos die wag van lank gelede op ʼn pad by ʼn spoorweg kruising. Terwyl hy ingesluimer het, het die olie in sy lamp opgeraak. Toe hy deur die geraas van ʼn aankomende trein gewek word, sy lamp gryp en dit voor ’n aankomende bus vol mense swaai om hulle te waarsku, jaag hulle verby en teen die trein vas! Sy lig was dood!

 

· 3. GEBEURTENISSE is die derde rooi lig! Bileam het gespeel met God se vyande en omdat hy die loon van ongeregtigheid liefgehad het, het hy ook gespeel met genade en probeer om God om te koop! Toe vertrek hy op ’n pad wat vir hóm voordelig en goed gelyk het, maar waarteen God hom uitdruklik gewaarsku het. Van díé pad het God gesê, dit is “gevaarlik steil in My oog!”

 

· Die eerste keer het hy nog maklik verby gekom. Wanneer sonde nog ‘lekker’ is, mag dit wel ‘n bietjie ongerief veroorsaak as die ‘esel’ by die pad uitdraai, maar jy kan dit nog verwerk want die prys vir die sonde is aanvanklik darem nog nie te hoog nie! Jy WIL dit nog graag gaan doen en stel nie daarin belang om daarvan verlos te wees nie!

 

· Later, wanneer die pad nouer word en ʼn voet teen die muur gedruk word, begin jy ‘seerkry’ en gewaar jy die leegheid in jou eie siel; hoe diep teleurgesteld en ongelukkig jy voel na elke besoek aan die gebarste reënbakke van sonde. Jy sien hoe dit ander en al meer ook jou eie dierbares affekteer en hulle bitter seermaak! Maar sonde stel elke keer sy ‘dwarslat’ ’n bietjie hoër en die prys wat jy daarvoor moet betaal is elke keer hoër, totdat dit onbekostigbaar duur begin te word. Dan eers begin jy uitvind dat die slawerny van die Satan geen genade ken nie! Saam met elke rekening stuur dit dan ook ’n dagvaarding en jy skrik as jy begin besef dat dit waar is wat die Skrif sê: “Die loon van die sonde is die dood!”

 

· As jy uitvind jy kan die spoor van verwoesting in jou eie liggaam, siel en gees glad nie meer bekostig, en sy aansteeklike virusse wat jy oral op die pad van ander strooi nie beheer nie, moet jy werklik ’n ‘klip’ wees as jy nie sal begin om diep ongelukkig te voel nie! Wanneer jou sogenaamde vriende jou reeds verlaat het en jy moet die gevolglike skande en skade van sonde wat al te seker uitgevind sal word alleen dra, beland dit jou in geldelike verknorsing, huislike probleme, selfs siekte of ’n ernstige ongeluk! ‘Gebeurtenisse’ is nie toevallig nie, soos ons dit mos reeds weet! Biléam het nogtans daarin geslaag om weer eens by God se rooi lig verby te glip. Al het die esel sy voet teen die muur geskuur, het hy haar weer geslaan om haar op sy dwase pad terug te dwing … maar … ! Die derde keer kon hy nie by God verby kom nie! Die esel het gaan lê, want voor hom was die Engel met die ontblote swaard in sy hand! Daar kom ‘n dag wanneer God vir die laaste keer in genade met mense praat! Die probleem is dat niemand presies weet wanneer genadetyd verby is, of wanneer dit die laaste keer is wat God in genade met jou praat nie – dit mag NOU wees!

 

4. GOLGOTA is die vierde en laaste rooi lig. Jy kan die afdraaipad, die plek waar die twee paaie weg van mekaar af beweeg maklik en met sekerheid onderskei, want dáár staan God se helderste rooi lig – die KRUIS – reg voor in jou pad geplant! Dáár praat God ’n taal wat niemand kan misverstaan nie; die eenvoudige, duidelike taal van goddelike LIEFDE. Sy liefde wat Hy aan ons bewys het deur vir ons te sterf toe ons nog sondaars was; ʼn liefde wat elke toets deurstaan het! Die Een wat daar vir jou, in jóu plek sterf, is Jesus Christus … God Self! Dáár het Hy Sy liefde geopenbaar én bewys, ingeval jy dit nie kon of wou GLO nie! Volgens Romeine 5:6-10 sterf Hy juis vir die swakkeling, die sondaar, die rebel, die dief en moordenaar! Maar miskien “verag jy nog die rykdom van Sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie!” (Romeine 2:4).

 

Iets wat vir Jesus seerder maak as al die geselslae, die spykers en die dorings, is die SPOT as jy Sy liefde verwerp, vir Hom teruggooi en dit onder jou voete vertrap! Dít het sy hart gebreek! Jy kan op baie heilige dinge trap – die trane, gebede en die gebroke hart van ʼn ouer wat jou liefhet en vir jou bid; selfs op die reinheid en geluk van ander, maar as jy Sý liefde vertrap, Hom wil vergeet deur jou rug op Hom te draai, vir God met jou vuis in die lug te terg, met jou voete op die breë pad, is jy nou besig om die teerste liefdehart van jou God weer eens te deurboor! Daar is egter een ding wat God uitgehou het, waarop niemand durf trap nie, want as jy dit ooit doen, roep dit ten hemele na regverdige oordeel en die woede van die hemel! Dit is Christus se kosbare en onskuldige bloed (Hebreërs 10:29) en dit is nou – hierdie oomblik – óf aan jou hart, óf onder jou voete! (Spreuke 29:1). Skop jou remme vas, buig voor die Kruis en val daar op jou knieë – God sál jou genadig wees! Jy sal daar opstaan, nuut gemaak en met hemelse vrede en vreugde in jou siel (2 Korintiërs 5:17)! Probeer dit gerus en doen dit NOU!

 

Indien u gebed of raad verlang, skakel gerus die bogenoemde nommer:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00