Hoofstuk 1: Inleiding

As kind het ek groot geword in ‘n huis waarin ons genoeg gehad het

 – soms was daar gebrek, maar nie tot ons skade nie.  Ons kon nog buite speel en net kinders wees.  Ons kon die vryheid geniet van plaas kinders; boom klim, beesmisgevegte, kleilat gooi, perdry, swem, ystervarke jag, veldbrande doodslaan, bergklim, ensovoorts.  Die Woord van God is elke aand gelees.  Daar is gebid en gesing, maar vir my was dit “vorm en tradisie”.  My hart het dood gebly.

Ons was blootgestel aan verskillende soorte mense van verskillende agtergronde en omstandighede.  Bedelaars kon deur mooi-praat ‘n plekkie kry om te oornag en ons het ook professore, dokters, aptekers, sielkundiges, boere, onderwysers en baie ander persone uit verskeie professies ontmoet.  Verskeie mense was ook deel van ons ruiterklub. 

As ‘n jong dogtertjie het ek dikwels na die berge gegaan en op my knieë geroep tot die God na wie ek verlang het, maar wie ek nie verstaan het nie.  Ek kon Hom nie vertrou nie en het dikwels getwyfel aan Hom, my Here en God, omdat daar ‘n kloof in die verhouding tussen my en my ouers was.

In my hoërskoolloopbaan het ek my versterk bo die teleurstellings, pyn, skokke en misverstande tussen my en my ouers, maar die Here het my gestop toe my rug op sewentien jarige ouderdom ingegee het.  Wat ‘n genade.  Sy Almagtige Hand kon my ruk vanuit Satan se mag tot in sy Koninkryk van liefde en lig…

Die eerste skans wat Hy kon afbreek was die swak verhouding met my ouers.  In die Lig van sy onmeetbare liefde, genade en vergifnis kon ek vergewe en vergifnis kry.  Hy self het my hart deursoek en my gereinig en genees van baie diep rebellie, weerstand en haat.  Hy het my en my ouers se harte bymekaar gebring deur sy Gees van liefde en versoening.  Toe kon ek in Christus begin bou op al die positiewe en regte dinge wat my ouers my geleer het en ek het vinnig ondervind dat ek Jesus makliker kon liefhê, vertrou en gehoorsaam… genade onbeskryflik groot.

Hoe ouer ek geword het, hoe meer het ek besef dat ouers die Hande van God is wat hulle kinders (die klei) vorm tot eer, of tot oneer, van sy Naam.

Hoofstuk 2: “Hy sal die harte van die vaders/ouers terugbring tot die harte van die kinders.” (Mal. 4:6)

Die dieptes van wat in ons bedrieglike harte aangaan, ken net God (Jer. 17:9-10).  Die Here kan dit net vir ons wys as ons gewillig is om ons te verbly in sy Lig wat skyn deur sy Woord en sy Gees (Ps. 36:10).  Alhoewel ek nog altyd lief was vir die waarhede van God se Woord, moes ek bid vir ‘n liefde vir die waarheid oor my eie hart en lewe.  Dit is ‘n worstelstryd, nie teen vlees en bloed nie, maar daar het ‘n dag gekom wat ek besef het dit is ‘n voorreg om te wandel in sy Lig en om met jou gedagtes en woorde voor Hom te staan.  Dan is dit nie meer belangrik wat mense van jou dink nie; jy wil nie meer iets wees in die oë van mense nie; jy wil nie meer werk vir God se genade of jouself bewys nie; jy soek nie meer eer of aanvaarding by mense nie en jou visie en hele lewe kry een groot begeerte: om jou God te behaag en te word soos Jesus.  Dan weet jy dit is genade as jou “eie ek” kan sterf en jy jou eie planne daagliks aan Jesus kan gee, want Hy weet altyd die beste.

Die Here moes my deur diep dale en soms donker nagte laat gaan om my te leer om Hom kinderlik te vertrou en heelhartig lief te hê.  Ek was ‘n onderwyseres en het skool gehou in verbeteringskole en kliniekskole.  In die een skool het ek gewerk met jongmense wat gewissel het tussen die ouderdomme van dertien en een en twintag jaar.  Hulle was oor die algemeen intelligente kinders.  Hulle het gekom uit verskillende agtergronde: prostitute se kinders, besigheidsmanne se kinders, predikante se kinders, ensovoorts.  Tog het hulle een ding in gemeen gehad; hulle het hulle harte vir hulle ouers toegemaak.  Uit vergelding teen hulle ouers en teen God, vir wie hulle nie verstaan het nie, het hulle ontvlug in dwelms, dagga, drank, hoerery, rooftogte en sommiges het selfs moord gepleeg.  Die predikant se kind het dikwels vir my gesê, “Juffrou, ek móés twee keer op ‘n Sondag kerk toe gaan, maar weet juffrou wat?  In die kerk was my pa soos ‘n engel, maar by die huis was hy soos ‘n duiwel!”  Die besigheidsman se kind het gesê, “You know, ma’am, my father and mother gave me money, money, money, but they never gave me love; they never had time to play or do something with me!  I don’t believe that God cares for me.”

Ander het gesê, “Ons ouers verwag dat ons altyd die beste presteerders moet wees, sodat hulle roem en eer kan kry.”  Ander het hulle ouers verag oor drankmisbruik, skeltaal en seksuele misdade.  Ander het die woord ‘Christen’ geminag en ‘n spot daarvan gemaak omdat hulle ouers ‘n voorgee lewe geleef het: ‘n vloekende en skellende ma en pa wat gewelddadig was by die huis, maar ‘n ‘lamgesiggie’ pa en ma was voor ander! 

Meeste jongmense uit gebroke huise het God verwerp en het gesê, “Dit is onmoontlik om te glo: ‘n God van liefde, maar wat toelaat dat my ouers skei .”  Baie het God gevloek, verkwalik en verwyt vir al die skokke, teleustellings, pyn en verwarring in hul lewens.  Hulle het nie geglo dat God lewend is, almagtig is en ‘n liefhebber van hulle siele is nie.

Deur baie trane, in liefde en met wysheid het ek probeer, en selfs gepleit by hulle, om te vergeef soos Jesus vergewe het, anders bly dit dood in ‘n mens se hart (Luk. 23:34 en Mar.11:25-26).  Ek het gepleit by verskillendes om hulle ouers nie te verag nie (Deut. 27:16).  Ek het gepleit teen haat (1 Joh. 3:15 en 1 Joh. 4:20-21).  Ek het gepleit en gewaarsku teen rebellie (1 Sam 15:23 en Hebr. 3:15) en tog het my woorde te min krag gedra asof die Vyand die saadjies opgepik het nog voordat dit enigsins kon begin groei.

Aan die einde het ek maar net verslae voor my Heiland gesit en toe het Hy my gevra of ek bereid is om soos ‘n koringkorrel in die grond te val en te sterf.  Ek was bereid en tog het ek nie besef hoe diep die sterfproses sou gaan nie, maar wat ‘n genade as ons die kruis van selfverloëning (Luk. 9:23) daagliks kan verstaan.  Dit is die kern tot geestelike oorwinning en groei, ook in die opvoeding van ons kinders.  Dit is deur ons sterwe dat Christus lewe kan gee.

Hoofstuk 3: “Kinders is ‘n erfenis van die Here; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning” (Ps. 127:3).

Ek onthou die wonderlike vreugde, opgewondenheid en vrede in my hart toe ek ons eersteling verwag het.  Deur sy genade kan ek sê dat dieselfde vreugde en opgewondenheid ook in my hart geheers het met die volgende vier. 

Ek het besef wat ‘n voorreg dit is dat die Here aan my as ‘n moeder ‘n brokkie van sy erfenis toevertrou en dat die Here my beloon met ‘n kind wat geweef word in die moederskoot met sy Goddelike Hand (Ps. 139: 13-17).  Eintlik kry ons net ‘n erfporsie as iemand gesterf het; so ek het met my hele hart die pad gekies van die sterwe van die vlees dat sy lewe kon vloei na elke kind.  Ek het besef, en besef nog dieper, die kosbare voorreg wat ons het om Jesus elke dag in alle omstandighede te kan aanroep vir hulp.  Hy het alles wat ons kortkom: wysheid (Jak. 1:5), genade en liefde (Ef. 2:4-5) en raad en outoritiet (Jes. 9:5).

Die Here het weer en weer my gedagtes teruggeneem na daardie diep beskadigde jongmense en kinders in die verbeteringskole.  Ek het besef dat die wortel van rebellie en weerstand teen God en die lewe by meeste van hulle reeds in die moederskoot begin het, deurdat hulle moeders in ‘n rebellie en opstand was teen die lewe wat God geskep het.  Baie moeders koester wraak en haatgedagtes en dra dit oor aan hul klein, ongebore babas (Heb. 12:14-15).  Baie ouers raadpleeg fortuinvertellers, toordokters en werkers van ongeregtigheid en bring ‘n vloek op hulle kinders (Ex. 20:5-6 en Open. 21:8).  Ouers dien hulle vlees en die wêreld voluit en verwag God moet die kinders seën; dit is onmoontlik (Jak. 4:4-5).  ‘n Verworpe kind verwerp maklik sy ouers sowel as sy God en Formeerder.

Baie moeders en selfs vaders skroom nie eens om aborsie te oorweeg en te doen nie.  Ouers vermoor hulle ongebore kinders!  Roep dit nie tot God se troon van genade en regverdigheid nie?  God is ‘n wreker van hierdie dinge en ons moet dit weet en verstaan.

As ons kinders probleme het, of die wêreld kies en gebind word deur die vyand, behoort ons as ouers die knieë te buig voor die Here.  “Laat ons ons bekeer tot God met ons hele hart; met vas en geween en rouklag; laat ons ons harte skeur, want Hy is genadig en barmartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en een wat berou het oor die onheil” (Joël 2:12-13).  Dit behaag die Here as ons as ouers gebrokenheid en berou soek.  Die hoop in Hom sal nooit beskaamd word nie, want dit is sy verlange om gebreekte mure te herbou en te herstel (Jes. 58:12), om elke dal op te vul en elke berg en heuwel klein te maak (Jes. 40:4).  Die Here is ‘n Rots wat vas staan; die storms kan woed, die winde en hael kan ons geestelike huise probeer vernietig, maar in Jesus Christus sal ons oorwin as ons volhard tot die einde toe.

Hoofstuk 4: “Oefen die kind volgens die eis van sy weg, dan sal hy ook as hy oud word daar nie van afwyk nie” (Spr. 22:6)

a. As wedergebore kinders van God weet ons dat die sleutel na die hemel gehoorsaamheid is:

As wedergebore kinders van God weet ons dat die sleutel na die hemel gehoorsaamheid is.  Dit is een van die moeilikste en onmoonlikste dinge om aan ons kinders oor te dra, as ons dit nie self leef of verstaan nie.  Deur die kruise in ons lewens leer ons ons hemelse Vader ken as die Een wat ons tug en kasty omdat Hy ons liefhet en ons aangeneem het as egte kinders (Heb. 12:5-8).  Deur moeilike omstandighede, probleme, teleurstellings, skokke, seer dinge, verskille, en wat ookal gebeur het, of nog sal gebeur in ons lewens, leer ons Vader ons dat alles ten goede meewerk. 

Deur dit alles leer Hy ons die verborge wandel van: nie deur krag of geweld nie, maar deur sy Gees.  As ons nie iets van dit verstaan as ouers nie, is die tugtiging van ons kinders moeilik en verwarrend, want die raamwerk waarin alle tug moet geskied is binne die raamwerk van sy liefde, genade, waarheid en hemelse outoriteit.  Kom ons deel die Woord van God.

b. ‘n Ouer is ‘n ouer, 24 uur uit 24 uur:

Deuternómium 6:4-9 sê, “Hoor Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.  Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.  En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as hy opstaan.  Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees.  En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.”  Deuternómium 11:13-23 sê ook, “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die Here julle God lief te hê met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel.  En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee, en jy sal eet en versadig word.  Neem julle in ag dat julle hart nie verlei word nie, sodat julle afwyk en ander gode dien en voor hulle neerbuig, en die toorn van die Here teen julle ontvlam en Hy die hemel toesluit, sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie, en julle gou uit die goeie land omkom wat die Here julle gee.  Lê dan hierdie woorde van my weg in julle siel, en bind dit as ‘n teken op julle hand en laat dit as ‘n voorhoofsband tussen julle oë wees, en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan; en skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte, sodat julle dae en die dae van julle kinders in die land wat die Here aan julle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee, kan vermenigvuldig soos die dae van die hemel bo-oor die aarde.  Want as julle ywerig al hierdie gebooie hou wat ek julle beveel, om dit te doen deur die Here julle God lief te hê, in al sy weë te wandel en Hom aan te hang, dan sal die Here al hierdie nasies voor julle verdrywe, en julle sal groter en magtiger nasies as julle uit hulle besitting verdrywe.”

‘n Alghele oorgawe aan die Here beteken dat ek Hom ten alle tye dien; of ek loop, sit, werk of ontspan.  Op ‘n natuurlike manier word dit ‘n mens se diepste verlange om meer en meer te word soos Jesus: om lief te hê en te vergewe soos Hy.  Hy verander ons as ons handelende Christene is. 

Toe ons eersteling nog maar ‘n paar maande oud was, het ek reeds besef dat sy ten volle afhanklik van my is.  My oë, my hande en my lippe kan vir haar ‘n wegwyser na Christus toe wees, of vir haar die deur toemaak.  Ek was lief om van kleins af vir haar te sing en te bid en ek het besef dat my lewe en my handelinge vir haar die voorbeeld sou wees van Jesus.  Opvoeding en tug loop hand aan hand en met Christus vorm dit ‘n hemelse grondslag waarop kinders kan bou as hulle Jesus wil dien.  Sonder Christus is daar nie ‘n fondament nie.

Dit is hartseer dat ons in ‘n tyd leef waarin ouers vanweë baie redes hulle los skeur van hierdie verantwoordelikheid en dit oorgee in ander se hande.  Mag die Heilige Gees dit in elke opregte ouer se hart skrywe dat die opvoeding en tug van ons kinders nie met geld gekoop kan word of met geleerdheid verdien kan word nie.  ‘n Hartsverhouding met ons kinders kan die Here alleen bewerk deur ‘n wandel met Jesus en ‘n liefde vir gebed.

c. Tug is ‘n handeling, nie net ‘n gedagte of ‘n droom nie:

“Die roede en die bestraffing gee wyshed; maar ‘n kind wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande” (Sp. 29:15).  Daar is baie maniere om ons kinders te tug – deur lyfstraf toe te dien; ons kan hulle van voorregte onthou; ons kan vir hulle ekstra skoffelwerk gee of meer geleenthede gee om skottelgoed te was; ons kan hulle in die badkamer laat sit, ensovoorts.  As ouers moet ons egter waak dat ons nie ons kinders tug omdat hulle ons irriteer nie (eintlik aandag soek), of te veel is vir ons ‘moegheid’ of emosionele woelinge nie.  Ons moet hulle tug omdat hulle getug moet word, soos God dit sien.  ‘n Natuurlike vleeslike reaksie by ons as ouers is om ‘n kind oor te laat aan sy rebellie, eiesinnigheid en weerstand, want dissipline vir ons kinders beteken selfdissipline vir ons as ouers.  Die grootste fout wat baie ouers maak is om ‘n tiener oor te laat aan homself, dan verloor jy jou kind vinnig en hy dien die wêreld.  Dit is ‘n daaglikse stryd en ‘n daaglikse oefening om met Jesus te praat en leiding te soek vir ons tieners, maar ons kan ryk word in Christus as ons verstaan dat deur ons sterwe, vloei lewe tot ons kinders.

Spreuke 19:18 sê, “Tugtig jou kind, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie en  Spreuke 13:24 sê, “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” Spreuke 15:10 sê ook, “ ‘n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat sal sterwe.”  Omdat ons nog lief is vir die vryheid van ons eie vleeslike wil, en ons nie altyd lus het om daagliks die kruise in ons eie lewens te dra nie, mag jy jou eendag bevind in ‘n situasie waarin jy jou kind wil doodmaak.  Al die vleeslike reaksies wat ons onderdruk lei tot woede en die begeerte om  moreel of fisies dood te maak, maar die genade van die Here is daar en is genoeg om ons te help.

“Hou die tug nie terug van die kind nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red. ” (Spr. 23:13-14).  Ware liefde het een verlange en doel: dat ons kinders eendag die hemelpoorte mag binnegaan en God se plan op aarde mag vind vir hulle lewens.  In 1 Samuel 3:11-14, lees ons van Eli wat God nie behaag het nie omdat hy sy seuns nie wou teregwys nie; laat ons dit in ag neem.

Die Here moes my eie hart baie diep verlig deur sy Woord en Gees en vir my wys hoe al my vrome menslike karaktertrekke in vyandskap is teen Hom.  Die vleeslike dele in ons karakters kry ons kinders verkeerd jammer en maak dat ons ons kinders eerder behaag as vir God (of eerder meer lojaal is aan ons kinders se sondes omdat ons dit so maklik en goed verstaan).  Sy Woord was en is ‘n skerp swaard, (Heb. 4:12) wat diep in my vlees gesny het en nog steeds sny in die proses van kinders grootmaak.

Galasiers 1:10 sê, “Soek ek dan nou die guns van mense (ons kinders), of van God? Of probeer ek om mense te behaag?  As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.”  Ons menslike liefde hou net tot op ‘n punt, maar sy hemelse liefde faal nooit nie.  Sy hemelse liefde kan net in en deur ons werk as ons in sy wil staan en wandel.  Die vrugte van die vlees werk teen God se Gees en dit vernietig.  Christus alleen kan ‘n siel (ons kind) red!

d. Agter elke kruis is daar heerlikheid:

‘n Christen moeder sê die volgende, “ ‘Then He took a little child…’  Christian children are a gift from Thee, only borrowed for a time.  Between all their laughter, tears, their wants’ and wills’ they cross your will, desires and longings for them daily!  How deep they cut, these little crosses, for they are beloved so deep…  Help me to embrace these crosses and not push them aside or break them in half, for at the end of our lives I do believe that You will make of all these crosses One Big Cross to enable us to enter heaven’s door.

Mag ons as ouers ag wat die Woord van God sê in Galasiers 6:7-8, “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” 

Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”  Kom ons vra die Here om ons harte en die harte van ons kinders te besny om Hom lief te hê met ons hele hart en ons hele siel, sodat ons kan lewe. (Deut. 30:6). 

Die kere in my lewe waar die liefde van Christus my die diepste getref het, was die kere toe ek dit die minste verdien het.  Laat ons dit onthou in die opvoeding en tug van ons kinders.

God gebruik die lewens van ouers wat gedurigdeur die Here vereer en dank om ‘n verlange in hul kinders se harte op te wek om Jesus te soek en te dien.

Hoofstuk 5: Godsdienstigheid in ons kinderopvoeding.

a. “En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën. (Markus 10:13-16):

Reeds as ‘n jong moeder het ek besef dat ek een van twee godsdienste aan my kinders kan oordra: ‘n kennis godsdiens waarin ons hulle van kleins af leer oor al die ‘moets’ en al die ‘moenies’ en dat saligheid verdien word deur goeie werke.  ‘n Godsdiens waarin jy jou God kan dien net soos dit jou pas; een voet op die nou pad en een voet op die breë pad!  ‘n Godsdiens waarin ek besluit en leiding neem en Jesus moet volg.  ‘n Godsdiens wat ons kinders leer om Sondae kerk toe te gaan en die ander dae vleeslik te leef, want ons is self ‘Sondag Christene’.   ‘n ‘Fariseers’ godsdiens wat die kleed van godsaligheid dra, maar die krag daarvan verloën.” (2 Tim. 3:5).  Hierdie godsdiens is dood en bewerk die ewige dood.

Die ander godsdiens is waar ek deur my lewe, my wandel, my woorde en my gesindheid my kinders daagliks voor kan stel aan Jesus ons Meester. ‘n Godsdiens  waarin ons hulle daagliks aan God kan gee om met hulle te handel volgens sy wil en hulle te seën met sy liefde en lig.  Dit is ‘n Godsdiens waarin ons weet ons kinders is nie ons eiendom nie.   Volgens 1 Petrus 1:18-19 het Jesus ons gekoop met sy kosbare bloed sodat ons nie aan onsself behoort nie; ook ons kinders is ‘n hemelse geskenk wat maar net aan ons geleen word. 

In hirdie godsdiens kan ons ons kinders wen sonder woorde, want ons lewens getuig van Jesus Christus wat leef.  Deur ons lewe leer hulle Jesus ken as ‘n Herder wat sy lewe gegee het vir sy skape en wat omgee.  Deur ons godvresendheid leer hulle om God se Woord te eer en te respekteer.  Deur ons oorgegewe lewe leer hulle Jesus se liefde ken as onvoorwaardelik, onpartydig en vol van genade en waarheid.  Hulle weet hulle kan God vertrou, want hulle ouers se kinderlike geloof en vertroue is vir hulle ‘n wegwyser na hulle Hemelse Vader.

‘n Tienerkind het die volgende geskrywe:

‘n Gedig vir Ma

Die hand wat die krip gewieg het

Is voorwaar die hand wat my wêreld regeer.

Hierdie hande kan raakvat en help, of vertroos.

Hierdie selfde hande wat ook verweer is.

Oë vertel so baie, het ma se oë geleer.

Hulle kan lag of vermaan

En kry so seer as ek rebels is,

Maar hulle belangrikste boodskap is vertel van liefhê.

Woorde het geleidelik waarde gekry

Omdat Ma ma se woorde weeg

En ‘n paar enkel sinnetjies

Kan baie diep, diep tref.

Deur Ma se hartsgesindheid

Het ek Jesus leer ken.

Ma se eerbiedige woorde

Het my respek vir God gegee.

Dankie dat Mamma altyd daar is vir my…

b. “Maar Hy het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword.” (Fil. 2:6-8):

Godsdiens beteken om God te dien.  As ouers moet ons seker maak dat ons ‘n liefde het om te dien, anders moet ons eers vir ons eie harte bid voordat ons vir ons kinders wil bid.  Het ons ‘n liefde om mekaar te dien, ons kinders te dien, ons mede-Christene te dien en ons vyande te dien? 

Die Here gee mens wysheid, leiding en outoriteit om van kleins af ons kinders te lei om diensbaar te wees.  Ware liefde en ‘n ware diens begin eers in jou huis.  Deur praktiese pligte en praktiese verantwoordelikhede leer kinders van kleins af hierdie gesindheid aan. Dit is ‘n voorreg om ‘n dienskneg of diensmaagd te wees en om ander te dien.  Ons Meester, die Koning van konings het ‘n dienskneg op aarde geword en ons gedien uit liefde.

Van kleins af kan mens dit in hulle harte inprent en afbid om ander mense, buite hulle eie huis, te gaan help.  Dit is deur onsself volkome te gee dat Jesus ons ryk maak in sy hemelse seëninge. 

Bedorwe kinders wat alles kry wat hulle begeer, sal nie maklik die nou pad van die Woord, (Matt. 7:13-14), loop nie, want hulle het van kleins af geleer om te leef vir die vryheid van hulle vlees.  Buig die boompie terwyl hy nog jonk is.

c. Die krag van liefde, eenheid en gebed tussen ‘n vader en ‘n moeder:

1. Liefde:

Jesus sal ons leer om lief te hê, te dien en te vergewe soos Hy as ons die pad kies van die kruis.  “To give, and not to count the cost; to labour, and to seek for no reward.” 

Liefde wat ongeveinds is, onvoorwaardelik is, verdra en vergewe sal staan tot in alle ewigheid.  Die stempel van hierdie hemelse liefde op ons kinders se siele, sal nooit uitgewis kan word nie.  Hemelse liefde word nooit geskei van die wil van God nie en ‘n mens kan altyd weer terugval op, “Nou bly geloof, hoop en liefde.  Maar die grootste hiervan is die Liefde.” (1 Kor. 13).

Ons weet dat ons daagliks ons kinders moet reghelp, moet tug en vermaan, maar mag ons ook besef dat ons hulle daagliks moet bemoedig en prys vir die opregtheid en die mooi sodat ons wegwysers kan wees na die Lam van God.

2. Eenheid:

Die Here het bedoel dat ons as man en vrou ‘n hulp vir mekaar moet wees, (Gen. 2:18).  Die Here verlang ‘n hartsverhouding en hemelse samewerking tussen vader en moeder.  Die kruis is die krag van God, (1 Kor. 1:18), en in Christus leer ons as man en vrou dat dit nie gaan om wat ons wil nie, maar wat die Here wil.  Die doel is nie om mensbehaers te wees nie, maar Godbehaers.  Dit gaan nie om ‘n selflewe of vleeslike begeertes nie. Nee, as ouers behoort ons visie te wees om eerste die koninkryk van God te soek en Sy geregtigheid; dan sal alle ander dinge vir ons bygevoeg word, (Matt. 6:33). 

By die kruis kan ons mekaar liefhê en aanvaar soos wat ons is, want ons het almal genade nodig.  Ons kan selfs verskil en vir mekaar bid in liefde.  Ons kan die vrede najaag en mekaar vurig liefhê uit rein harte.  Die hemelse hartseenheid tussen ons as ouers gebruik God as die eerste stene in ons kinders se harte om die fondament in hulle harte te vorm in Christus.  Dit is ‘n innerlike sekuriteit en hawe vir ons kinders en word vir hulle die wegwyser na hulle Hemelse Vader wat hulle dan blindelings kan vertrou en glo.  Hulle ervaar God as ‘n onwankelbare Rots.

3. Gebed:

“Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid tot jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.” (Matt. 6:6).  As ons as ouers hierdie verborge plek in Christus soek en liefhet, sal die seën daarvan vermenigvuldig, ook in ons kinders se lewens.  Ons binnekamers is een van die kosbaarste plekke wat God gebruik om ons vlees te laat sterf.

Dit is daar waar ons dieper en dieper onder die besef kom dat ons niks is nie, en ons God is GROOT, ALMAGTIG, ALOMTEENWOORDIG, GENADIG, BARMHARTIG, REGVERDIG en HEILIG…  In die lig van sy aangesig kan ons hoop en wag op die beloftes van sy Woord, want hulle is ja en amen!

Dit is daar waar ons leer om berou en gebrokenheid te koester, want gebede uit sulke harte laat die Hand van God in beweging kom.  (Jes. 55:15).  Dit is die plek by Jesus se voete wat Maria Magdalena gekies het; wat nooit van ons weggeneem kan word nie.  Daar vul Jesus ons met sy Gees van genade en smeking.  Hy leer ons om Hom in gees en waarhied te aanbid.

Beloftes wat begin leef het in ons harte vir ons kinders toe hulle nog klein was is: Psalms 127:3, “Kyk, seuns is ‘n erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning.”  Spreuke 22:6, “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”  Psalms 112:2, “Gimel.  Sy nageslag sal geweldig wees op die aarde; Dalet.  Die geslag van die opregtes sal geseën word.”  Klaagliedere 2:19, “Kof.  Staan op, skreeu in die nag by die begin van die nagwake, stort jou hart uit soos water voor die aangesig van die Here, hef jou hande op na Hom, ter wille van die lewe van jou kinders wat versmag van honger by die hoek van al die strate.”  Handelinge 2:17, “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.”  Matthéüs 9:18, “Terwyl Hy vir hulle dit sê, kom daar ‘n sekere owerste en val voor Hom neer en sê, ‘My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê U hand op haar, en sy sal lewe.’”  Deuternómium 5:29, “Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.”  Psalms 102:27-28, “Hulle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn.  Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.”  Psalms 103:17, “Maar die goedertierneheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders.” ; Jesaja 54:13, “En al jou kinders dal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.”  Psalms 22:27, “Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die Here prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe!”  Maleági 4:6, “En Hy sal die harte van die vaders terugbring tot die kinders, en die harte van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.”  Psalms 115:13, “Hy sal diegene seën wat die Here vrees, die kleintjies saam met die grotes.”  Jesaja 48:18-19, “Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ‘n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see; dan sou jou nakomelinge gewees het soos die sand, en die wat uit jou liggaam voortkom, soos die korreltjies daarvan; sy naam sou nie uitgeroei of verdelg word voor my aangesig nie!”  Job 8:4-6, “As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hul oortreding oorgegee.  As jy na God soek en die Almagtige om genade smeek, as jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid.”  Spreuke 14:26, “In die vrees van die Here lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees.”  Psalms 78:5-7, “Hy tog het ‘n getuienis opgerig in Jakob en ‘n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het – om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar.”

Hoofstuk 6: “Ek het jou by die naam geroep; jy is myne.” (Jes. 43:1).

a. As een uit die twee ouers ‘n koringkorrel wil wees wat sterf, sal daar deur die een koringkorrel lewe kom vir die kinders:

Timótheüs is vir ons een van die grootste bemoedigings uit die Woord. Hy was die seun van ‘n ongelowige Griekse vader, maar sy moeder was ‘n gelowige Joodse vrou.  Hy was ‘n jongman wat ‘n ongeveinsde geloof gehad het, wat eers gewoon het by sy grootmoeder, Loïs en ook saam met sy moeder, Eunice. (2 Tim. 1:5).  Die seën wat gekom het deur die lewe van sy ouma en moeder was sterker as die vloek deur sy vader se lewe.

Paulus het ook aan die Korinthiërs die raad gegee om nie te skei nie, maar eerder die stryd in Christus op te neem en hy het gesê, “Want die ongelowige vrou is geheilig deur die man, want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.”  (1 Kor. 7:14).

‘n Enkel ouer wat hom/haar verbly en versterk in die Woord van God, se lewe kan ‘n wegwyser na Christus toe wees.  Deur die praktiese weg van selfverloëning, volharding en heiligmaking, gee Christus strome van Lewende Waters.

b. “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die Here sal my aanneem.” (Ps. 27:10):

In ons moderne tyd het baie nie die voorreg om deur hulle ouers grootgemaak te word nie, en wat ‘n onpeilbare seer is dit nie; maar daar is Iemand wat jou ken van voor geboorte af; daar is Iemand wat voor jou staan en sy hand na jou toe uitsteek en vir jou sy vaderhart wil wys; daar is Iemand wat jou beter ken as wat jy jouself ken; daar is Iemand wat vir jou in hierdie lewe ‘n doel, ‘n visie en ‘n hoop wil gee; daar is Iemand wat jou wil laat besef dat ons lewe op aarde net tydelik is en vir jou die pad na die ewigheid verniet aanbied.  Daar is Iemand wat jou wil help om te vergewe en jou diepste sere wil genees.  Hy is Jesus Christus, die Seun van God, wat self deur die seer gegaan het van’ “My Vader, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46).  Hy sê, “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”  Jesus sê, “Volg My.  Ek het My lewe vir jou gegee uit liefde; eet My Woord en jy sal lewe…”  Jesus herinner ons aan oorvloedige beloftes wat ons vertel van die Vaderhart van ons God en ons Heiland.  Die Woord van God is vir jou die wegwyser na jou Hemelse Vader.  Hosea 14:4 sê, “Want by U vind die wees ontferming.”  Psalm 10:14 sê, “U is ‘n helper van die wees”, en Psalm 146:6 sê “Hy rig die wees weer op.”  Jesus Christus is die Middellaar deur wie ons kan sê, “Abba Vader”, (Rom. 8).

Hoofstuk 7: Opsieners van God.

“Want ‘n opsiener moet as ‘n rentmeester van God onberispelik wees, die man van een vrou en gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie.” (Tit.1:6-7)

“…een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou.  (1 Tim. 3:4)

“My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis: omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hos. 4:6).

Hoe langer ons Jesus ken en met ‘n onverdeelde hart dien, hoe meer verborgenhede maak Hy vir ons lewend deur sy Gees en hoe meer besef ons dat as ons in trane saai sal ons met gejubel maai.  Mens weet dit is ‘n voorreg om altyddeur te ween en die saadkoring te dra… eendag sal Hy die laaste oes kom maai.

As ons nie geleer het om in en deur sy genade die harte van ons kinders te wen vir Christus nie, moet ons iewers bo-oor ‘n leemte spring en gedeeltelik ander siele wen vir Christus met insig en kennis in stede van geestelike leiding.  As ons nie as man en vrou ‘n hartsverhouding in Christus het nie, moet ons gedeeltelik in ‘n bedrog vir siele vertel van die krag wat daar is in hemelse eenheid.  ‘n Opsiener (watter amp hy ookal wil beklee in God se koninkryk) se eerste skaap is sy vrou en ‘n opsienersegpaar (wat hulle roeping ookal is) se eerste skapies is hulle kinders.  Geen ouer op aarde kan sy kind se siel red nie, maar daar is te veel beloftes in sy Woord wat sê God sal ons kinders red, as ons gewillig is om net koringkorrels te bly wat lief word vir die daaglikse sterwensproses.  Hemelse liefde sal uit ons sterwe uitvloei.

Dit het Jesus Christus net ses ure aan die kruis geneem om te sterwe in sy vlees.  Drie dae was Hy in die dood; en nou dien ons die Opgestane Heiland wat leef!  Halleluja!  Dit neem ons ‘n leeftyd om te sterf aan ons vlees (afhangende van hoe gewillig ons waarlik is), maar met die begin van die sterwe in ons vleeslike ‘ek’, begin die lewe van sy opstandingskrag reeds in ons werk.  Die Here wil vereer word en ons kinders en die wêreld moet kan sien dat ons nie Christene is wat dood is en in grafte lê nie, maar dat hulle die lewe van ons Verlosser in ons kan sien, wat ookal die omstandighede mag wees.

As opsieners het ons dalk nodig om weer stil te word voor God en onsself die vraag af te vra: werk die dood in ons en die lewe in ons kinders en in kosbare siele?  (2 Kor. 4:12).  Paulus wat nie ‘n aardse vader was nie het dit so goed verstaan.  Deur sy gewilligheid, oorgawe en gehoorsaamheid kon God hom ‘n kragtige instrument maak tot sy lof en sy eer.  Dieselfde Paulus sê vir ons is 1 Korinthiërs 1:18, “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.”  Paulus së ook in 1 Korinthiërs 1:26-29, “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” 

Mag die Here gewillige ‘opsieners’ vind in ons tyd.  Hy roep vaders en moeders wat gewillig is om geestelike mure te bou deur hulle lewens en gebede; mure van gebed om hulle huise en kinders en om kosbare siele.  Hy, die Rots, het nie en sal nooit verander nie.  Sy genade en vrede is daar vir elkeen van ons, verniet.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00