'n Wonderlike Waarborg - Charles Spurgeon
Ek sal jou versterk. (Jesaja 41:10)
Wanneer ons geroep word om te dien of te ly, neem ons ons krag in oënskou, en vind dat dit minder is as wat ons gedink het, en minder as wat ons nodig het.
Maar laat ons harte nie sink terwyl ons so ’n woord het om op terug te val nie, want dit waarborg ons alles wat ons ooit kan nodig hê.
God het almagtige krag; daardie krag kan Hy aan ons gee; en Sy belofte is dat Hy dit sal doen.
Hy sal die voedsel van ons siele wees en die gesondheid van ons harte; en so sal Hy ons krag gee.
Daar is geen manier om te bepaal hoeveel krag God in ‘n mens kan plaas nie.
Wanneer goddelike krag kom, is menslike swakheid nie meer ‘n hindernis nie.
Onthou ons nie tye van werk en beproewing waarin ons so ’n besondere krag ontvang het dat ons ons oor onsself verwonder het nie?
Te midde van gevaar was ons kalm, onder verlies was ons berustend, onder laster was ons selfbeheersd, en in siekte was ons geduldig.
Die waarheid is dat God onverwags krag gee wanneer ongewone beproewings oor ons kom.
Ons styg bo ons brose self uit.
Lafaards tree dapper op, dwase kry wysheid, en die stil mense ontvang in dieselfde uur wat hulle moet sê.
My eie swakheid laat my huiwer, maar God se belofte maak my dapper.
Here, versterk my “volgens U woord.”
Charles Spurgeon