1 THESSALONISENSE (P Scholtz)
· Paulus se briewe aan die jong gemeente in Thessalonika (moderne Salonika), was van sy heel eerstes en is geskrywe in die jaar 50 A.D. vanaf Korinthe. Ná die besoek van sy geselskap aan Filippi, waar hy en Silas tydens sy tweede sendingreis die bekende tronkervaring gehad het, het Lukas as leraar in Filippi agtergebly, terwyl Paulus, Silas en Timotheüs verder na Thessalonika, die hoofstad van Masedonië (Griekeland) gereis het. Ons kan verstaan dat Paulus daarheen koers gekies het, want dit was ’n baie groot en strategiese stad wat geleë was langs die beroemde Romeinse Egnisiaanse grootpad wat die Ooste met die Weste verbind het.
·
· Toe Masedonië in 146 V.C. as een van die provinsies van Rome ingedeel was, het hulle Thessalonika die setel van hul provinsiale regering gemaak. Dit het vir Paulus en sy geselskap na ’n baie strategiese sentrum vir die stigting van ’n gemeente gelyk, waarvandaan die boodskap verder – na alle kante toe – uitgedra kon word (vgl 1:8). Die besonderhede van Paulus en sy metgeselle se besoek word volledig deur Lukas in Handelinge 17 beskrywe. Let asseblief daarop!
·
· Dit word bereken dat daar in daardie tyd min of meer 200,000 mense in Thessalonika gewoon het. Daar woon vandag nog min of meer 250,000 mense en dit is een van die min stede van Bybelse tye wat nog bestaan. Dit was ’n groot handelstad; gevolglik het baie Jode hulle ook daar by die oorheersend Griekse en Romeinse bevolkings gaan vestig. Hulle het ook ’n Joodse sinagoge gebou, waar Paulus hulle, by geleentheid van drie agtereenvolgende sabbatte, toegespreek en die evangelie, dat Jesus die Christus is, aan hulle verkondig het.
·
· Dit is duidelik dat ’n aantal Jode en baie meer van die Grieke, wat ook die sinagoge besoek het, sowel as ’n groot aantal van die aansienlikste vroue – waarskynlik die vroue van leidende persone – gelowig geword het. Die feit dat die meerderheid wat gelowig geword het, nie-Jode was, word gestaaf deur die feit dat Paulus in sy brief melding maak van hoe dat die jong bekeerlinge in Thessalonika hulle van die afgode bekeer het tot die lewende God (1:9). Ons weet dat geen Jode ná die Assiriese en Babiloniese ballingskap meer afgode gedien het nie, en dat min of meer alle Jode van toe af streng aanhangers van die Judaïstiese leer was.
· Dit wil voorkom asof almal in die sinagoge geduldig na Paulus geluister het, tot by die derde geleentheid, toe die waarheid blykbaar baie sterk deur hom gestel was en daar toe ’n groot deurbraak gekom het. Op daardie dag het daar ’n groot menigte tot geloof gekom. Dat hulle daarná begin het om hierdie jong bekeerlinge intensief te leer en te onderrig, is logies, want hulle sou staande moes bly te midde van afgodediens, morele losbandigheid en selfs vervolging van hulle eertydse vriende en veral van die Jode wat nie die geloof in Christus aanvaar het nie.
· Dat hulle moontlik langer as net die drie weke waarvan Lukas melding maak daar kon vertoef het, word gesterk deur die volgende feite: dat hulle hande-arbeid verrig het om hulle verblyfkoste te dek (1:9; 2 Thes.3:8); dat die gemeente in Filippi ‘meer as een maal’ donasies vir hulle behoeftes na Thessalonika gestuur het (Fil.4:16); verder ook dat Paulus en sy geselskap tyd geneem het om elkeen van hierdie groot aantal persoonlik en afsonderlik te vermaan, te bemoedig en te onderrig (vgl. 2:11).
· Die ongelowige Jode wat nie die boodskap wou aanvaar nie, het blykbaar jaloers geword oor hulle verlies aan ‘gemeentelede’ en die geld wat hulle van hulle ontvang het. Hulle was ook geweldig ontsteld oor hulle ‘Judaïstiese’ leer wat in onguns en onbruik begin raak het. Briesend kwaad, het hulle almal wat met hulle wou saamdraf, opgesweep teen Paulus en Kie. Hulle het die huis van Jason, Paulus se gasheer, aangeval en ’n paar van die bekeerlinge (‘broeders’ Hand.17:6) na die stadsowerhede ‘gesleep’ (vgl.16:19), terwyl hulle uitroep: “Die mense wat die wêreld in opstand bring (‘turn the world upside down’), hulle het hier ook gekom!”
· Die gelowiges het daarop vir Paulus en Silas in die nag na Berea weggestuur, waar hulle weer eens die evangelie met krag verkondig het. Die Jode van Thessalonika was só verbitterd dat hulle hul tot daar in Berea, omtrent 60 kilometers verder, agtervolg en ook daar die skare teen hulle opgesweep het, waarop Paulus toe na Athéne vertrek het (Handelinge17:15-34). Dit was vanaf Athéne dat Paulus, wat baie begaan was oor die welsyn en lot van hierdie jong gemeente, vir Timotheüs na hulle toe gestuur het om na hulle welstand te verneem en hulle verder te onderrig. Toe hy terugkeer met die goeie nuus van hulle standvastige geloof, hulle liefdesarbeid en die lydsaamheid van hulle geloof (1:3), sowel as die krag van hulle getuienis (1:7,8), het Paulus hierdie eerste brief vanaf Korinthé aan hulle geskryf. Desnieteenstaande al die bemoedigende tekens in Thessalonika, was daar sake waaraan daar dringend aandag gegee moes word, om hierdie bekeerlinge verder te onderrig en raad te gee.
– 2 –
· Eerstens was hulle onder kwaai druk van vervolging en hulle moes geleer word dat dit normaal en algemeen van alle Christene se ondervinding is (2:14; 3:3); dat dit dikwels van oorde kom waarvan jy dit die minste verwag (2:14-16) en dat hulle geensins daardeur verontrus of ontmoedig moes word nie (3:1-4).
· Tweedens was daar blykbaar ’n onderstroom van ’n kritiek- en haat-veldtog teen Paulus wat nie alleen sy gedrag in Thessalonika bevraagteken het nie, maar selfs ook sy motiewe. Paulus reageer daarop in 2:1-12.
· Derdens was dit nodig vir gelowiges, wat so onlangs uit heidendom tot geloof gekom het, waar baie lae morele waardes gehandhaaf was, weer te vermaan om die standaard van heiligheid na te jaag en te handhaaf wat by Christus en die bekering pas (4:1-8; 5:22-24).
· Vierdens het die dood van sommige gemeentelede vrae laat ontstaan – of dit gebeur het omdat hulle sonde gedoen het (want uit onkunde mag hulle gemeen het dat ’n gelowige slegs kon sterf as hy weer gesondig het). Hulle moes ook geleer word wat intussen van die siele van hulle ontslape geliefdes geword het en wat van hulle self sou word by die wederkoms van Christus (4:13-18).
· Vyfdens het daar ’n neiging ontstaan om rusteloos en verward te raak in hulle té spoedige verwagting van die wederkoms en dan die pligte van hulle dagtaak te verwaarloos, en op te hou om te werk. Hierdie saak word aangespreek in hoofstuk 4:11,12. Ook in die tweede brief verwys Paulus daarna as hy dit aan hulle stel dat vóór die wederkoms kan plaasvind, daar vooraf sekere tekens moes plaasvind (vgl. 2 Thes.2:1-8).
· RAAMWERK: 1 THESSALONISENSE
· GROETE (1:1) DANKSEGGING (1:2-4).
· 1. HANDHAAF HERLEWING (1:5-2:12). 4. HEELHARTIG EN HEILIG (4:1-12)
· 2. HOU MOED DAAR IS HOOP (2:13-20) 5. HANTEER JULLE HARTSEER (4:13-5:25)).
· 3. HERHAALDELIK HULP (3:1-13) 6. GROETE EN SEËNWENSE: (5:26-28)
·
· Inleiding: GROETE EN DANKSEGGING: (1:1-4)
· Die kenmerk van ’n ware, getroue sielewenner is dat hy nie net mense na Jesus toe lei nie, maar daarop uit is om volgens die bevel van die Here Jesus, van elke bekeerling ’n ‘dissipel’ te maak. Daarom is daar naas die goeie nuus dat mense gered word, die nog beter nuus wanneer sulke mense vas bly staan en geestelik groei. Die ware geroepene doen sy werk deeglik, sonder om die koste vir homself te bereken en as hy sukses behaal in die Naam van die Here, volg hy daardie sukses op en maak seker dat dit van so ’n aard is dat dit al die toetse, ook die van die ‘regterstoel-oordeel’ tydens die koms van Christus sal deurstaan.
· (v.3,4): Paulus dank God innig en opreg toe Timotheüs, wat hy weer na hulle toe gestuur het, vir hom die goeie nuus bring dat hierdie jong gemeente se ‘werk van hulle geloof … die arbeid van hulle liefde … en lydsaamheid van hulle hoop, op die Here Jesus Christus’ so sterk deurkom en duidelik sigbaar is (v.3), dat hy met gesag kan verklaar dat dít ’n bewys is van hulle verkiesing – dié verkiesing waardeur dit God behaag het om ook vir hulle, as heidene, te bemin en nou – omdat die Jode dit verwerp het – ook vir húlle die geleentheid te gee om gebruik te maak van die seëninge wat deur Christus aan die hele wêreld gebied word (v.4). Hierdie kosbare, openbarende waarheid wat God aan Paulus bekend gemaak het, bespreek hy breedvoerig in sy briewe aan die Romeine, die Galasiërs en die Efesiërs.
· Soos God die Jode verkies het, só verkies God nou in hulle plek die Heidene omdat die Jode, weens hulle hardnekkige ongeloof, dit verwerp het. Daar is hier egter geen sprake van onvoorwaardelike, ongekwalifiseerde of persoonlike uitverkiesing, óf tot ewige saligheid, óf tot ewige verlorenheid nie. Dat dié seëninge ook deur hulle, as sogenaamde heidene misbruik en verbeur kon word, is bewys deur die Jode wat dit misbruik en verbeur het (vgl. 2:14-16).
·
· Let hier op die aanwesigheid van al drie die vernaamste eienskappe van ware Christenskap: geloof wat ontvang, liefde wat gee, en hoop wat verwag.
· 1. HANDHAAF HERLEWING (1:5 -2:12).
· 1.1 Hulle boodskap (v.5-8): Hierdie verse handel oor “ons evangelie” (vgl.Efes 3:1-12). Dit wat tot hierdie Thessalonisense: “Gekom het …./”
– 3 –
·
· ‘Gekom’ het – “nie in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid …” Dit is duidelik dat die geweldige vervolging en marteling wat Paulus en Kie in Filippi verduur het, net voordat hulle na Thessalonika gegaan het, geensins hierdie manne van stryk gebring het nie. Dit het ook nie hulle vertroue in die ware evangelie en die krag daarvan, benadeel of ondermyn nie. Dit het hulle eerder met meer vasberadenheid en vrymoedigheid vervul, sodat die Thessalonisense hierdie heerlike, vrymakende boodskap te midde van baie verdrukking, maar met groot blydskap ‘ontvang’ het:
· ‘Ontvang’ het – die Griekse woord dui op ’n aanvaarding wat dit aanneem en stewig vasvat, met die doel om dit vas te hou. Dit beteken ook om die toegang daarvan tot hulle harte nie te weier nie. Die woord vir die ‘teëstand’ wat die Jode gebied het, dui in Handelinge 18:6 op ’n aggressiewe houding wat daarop uit is om oorlog te maak. Die oorsaak én uitwerking van só ’n houding en gesindheid, is haat en bitterheid! Die wonder van die evangelie, is dat dit mense wat dit “van harte …” (vgl. Rom.8:17) aanvaar, onmiddellik met hemelse vreugde vervul, soos met hierdie mense, uit wie die blye boodskap ook aan ander:
·
· ‘Weerklink’ het – nie alleen in Masedonië en Acháje (die res van Griekeland) nie, maar ook op elke ander plek. Werklike goeie nuus kan niemand mos vir homself hou nie; veral nie as hyself ondervind het hoé heerlik dit in homself en ander mense se lewe werk nie! By hierdie Thessalonisense het dit só ’n radikale omwenteling bewerk dat die gevolg daarvan, ’n totale ‘regsomkeer’ was. Dit het hulle só heerlik verlos dat dit hulle, as dienaars van dooie afgode, in één oomblik van genade die lewende God se liefdeslawe laat word het, met ’n hoopvolle en lewende verwagting van sy wederkoms! (v.8-10). Elke hoofstuk van hierdie kosbare Sendbrief eindig inderdaad met die wederkoms, wat een van die hooftemas van die brief is.
·
· Só was hierdie gemeente dan ’n gelowige gemeente (v.6); ’n voorbeeldige gemeente (v.7); ’n sendingbewuste gemeente (v.8); ’n deeglik bekeerde gemeente (v.9) en ’n wederkoms afwagtende gemeente (v.10). Só ’n ideale modelgemeente sou enige leraar vuriglik kon begeer!
· 1.2 Hulle motivering: (dié van die apostels): Dit was eerstens aan hulle bewys deur die sewe dinge wat hulle as gesante van die lewende God NIE gedoen het nie, omdat sulke dinge absoluut géén plek mag kry in die bediening van die evangelie nie. Hierdie ‘sewe van Satan’ is só gevaarlik omdat die Satan, deur elkeen of net één daarvan, sy ‘voet’ probeer inkry om daardeur die evangelie van sy krag te beroof; om sodoende ‘die evangelie’ van Jesus Christus as pateties en ook as ’n belaglike dwaasheid vir die wêreld voor te hou!
·
· Hier is die sewe in ’n neutedop: “Nie uit dwaling, of uit onsuiwerheid, of bedrog nie … nie om mense te behaag nie … nooit met vleitaal opgehou nie of met bedekte hebsug nie … ook het ons nie die eer van mense gesoek nie … “ (2:3-6).
·
· Paulus roep God in as sy getuie – dié God wat mense se harte beproef, maar wat juis vir húlle waardig geag het om die evangelie aan hulle toe te vertrou. In elke opsig was hulle dus ‘anders’ as die menigte ‘straatpredikers’ van hulle dag wat in daardie dae volop en in elke stad baie bedrywig was; mense deur gierige hebsug gedrywe om proseliete te maak en enige denkbare dwase idee verkondig het aan almal wat na húlle wou luister.
· 1.3 Hulle voorbeeld:
· Liefde wat vriendelik en koesterend is, soos van ’n pleegmoeder (v.7).
· Liefde wat mededeelsaam en opofferend is, soos vir eie familie (v.8).
· Liefde wat bedagsaam en getrou is, soos rentmeesters aan God (v.9).
· Liefde wat voorbeeldig, versigtig en bedagsaam is en niemand laat struikel nie (v.10; vgl Fil.1:10).
· Liefde wat verstandig, versorgend, beskermend en hulpvaardig optree, soos ’n vader sy kinders bemoedig (v.11) en hulle leer hoe om waardig te wandel (v.12).
·
· Dít was die voorbeeld van Paulus en sy makkers. Let veral op 2:10, op die heilige en voorbeeldige lewenswandel van die apostels waarmee Paulus dié heiligmaking aan hulle voorstel en hulle nederig uitdaag!
· 2. HOU MOED DAAR IS HOOP (2:13-20).
·
·
·
· – 4 –
·
· Die woord ‘Bemoedig’ kom telkens voor: 2:11; 3:2; 4:18; 5:11,14. God se werktuig – Paulus – ‘bemoedig’ hierdie jong gemeente deur DRIE van die bronne van goddelike krag en genade wat tot hulle beskikking is, aan hulle uit te wys:
·
· 2.1 God se Woord in hulle (v.13): Let op die oorsprong daarvan – dat dit die Woord van God is en nie die van mense nie; só het hulle dit ook ontvang. Christus is die ‘lewende Woord’ (Joh.1:1,14) en die Bybel is die ‘geskrewe Woord’, maar in werklikheid is hulle een. Beide die lewende Woord en die geskrewe Woord is ‘brood’ (Joh.6:48; Mat.4:4); ‘lig’ (Joh.8:12; Ps.119:105) en ‘waarheid’ (Joh.14:6; 17:17).
· Let ook op die hantering daarvan – hulle het dit ‘ontvang’ en ‘aangeneem’. Die woord wat Paulus vir ‘ontvang’ gebruik, beteken net: om ‘iets van iemand aan te neem’, terwyl ‘aangeneem’ beteken om dit te ‘verwelkom’. Die eerste beteken: ‘om met die oor te hoor’, terwyl die 2de beteken: ‘om met die hart te hoor’.
· Let ook op die krag daarvan – dit ‘werk’ in hulle wat dit aanneem en glo. Hulle het onverskrokke gereageer op God se liefde wat Paulus, in die krag van die Heilige Gees, deur die evangelie aan hulle meegedeel het. God se boodskappers het dit ook prakties deur hulle voorbeeld aan hulle ten toon gestel (v.13-14). Die uitwerking op die wat ‘geglo’ het was dramaties, maar wat was die uitwerking daarvan op diegene wat ‘nié geglo’ het nie? Nadat die Jode in Jerusalem en Judea vir Christus verwerp en daardeur die ‘maat van hulle sondes’ (2:16) vol gemaak het, soos beide Daniël en Jesus voorspel het (Dan.9:24; Mat.23:32), het ook die Jode in die ‘verstrooiing’, nou deur die bediening van Paulus die kans gekry om vir Christus as hulle Messias te aanvaar. ’n Klein minderheid van hulle (vgl. Rom.9:27;11:5) het wel gelowig geword, maar hulle algemene, amptelike reaksie as volk, was dieselfde as dié van hulle stamgenote in Jerusalem wat vir Christus verwerp en gekruisig en selfs die Heilige Gees ‘weerstaan’ het (Hand.7:51). Hierdie is só ’n ernstige saak, dat dit dus nie vreemd is dat Paulus in hierdie drie verse (2:14-16) die sterkste taal gebruik om die Jode se dwase optrede en die rampspoedige gevolge daarvan vir hulle, ook as ’n ernstige waarskuwing aan die Thessalonisense uit te wys nie! Dit is ook om aan hulle uit te wys wáárom die hewigste vervolging teen God se gesante en teen hulle juis van die Jode, uit wie die Christus gebore is, gekom het.
· 2.2 God se mense rondom hulle (v.14-16): Nie alleen het hulle ’navolgers’ (letterlik ’na-apers’) van Paulus en sy makkers en die Here geword nie (1:6), maar ook van die gemeentes van God wat in Judea is. Gelowiges moet altyd let op die “groot wolk van getuies rondom ons” (Heb.12:1), want ’n eensame en alleenlopende Christen wat hom afskei van die ‘boesem van ander gelowiges’ is makliker prooi vir die dief, die moordenaar en die rower.
·
· 2.3 God se heerlikheid voor hulle (v.17-20): Paulus se motivering was liefde en nie loon nie. Hy weet dat God uit genade ook vir die getroue sielewenner – wat nie sy sukses aan uiterlike resultate meet nie, maar aan getrouheid wat God by die regterstoel-oordeel sal verwag – die ‘kroon van roem’ in die teenwoordigheid van Christus by sy wederkoms sal gee. Hy sê nie dat God hom ’n kroon sal gee nie, maar dat húlle – die geestelike kinders van die geestelike ‘vader’ (v.11) en ‘moeder’ (v.7) – sélf daardie ‘kroon’ sal wees. Christus se wederkoms en die blydskap daarvan, is dié één waarheid wat elke Christen bemoedig en inspireer om te volhard en nooit, maar NOOIT moed op te gee nie!
· 3. HERHAALDELIK HULP (3:1-13).
· Dit is so, dat liefde dit verwelkom as dit wederkerig is, maar ware liefde styg uit in hierdie één opsig: dit kan nie wag om eers te ontvang voordat dit begin om onkeerbaar en onbeperk te GEE nie! Paulus se tere liefde vir hulle en sy belang by hulle, dring en dwing hom om nog altyd – al is hy ver van hulle af verwyder – tenminste DRIE dinge vir hulle te doen:
· 3.1 Hy stuur na hulle ’n helper (3:1-6): Paulus stuur vir Timotheüs, een van sy getrouste en beproefde metgeselle na hulle terug om hulle te bemoedig en hulle aangaande sekere belangrike dinge te onderrig. Hy keer terug met die goeie nuus dat hierdie mense getrou is aan die Here en lojaal aan Paulus, na wie hulle verlang en aan wie hulle gedurig dink.
· 3.2 Hy skryf aan hulle ’n brief (3:7-9): Dit was nie vir Paulus genoeg dat hy gehoor het dat dit goed met hulle gaan nie. Sy skrywe aan hulle was juis ná die koms van Timotheüs, want hy het nog etlike baie belangrike sake op sy hart waaraan hy hulle wil herinner. Hy sou hulle baie graag self wou besoek omdat hy
· – 5 –
·
· voel dat, alhoewel hulle in die geloof vasstaan, daar ‘voltooi’ moes word wat nog aan hulle ‘geloof ontbreek’ het (v.10). Was hierdie gebrek miskien aan die begrip en ondervinding van die ‘heiligmaking’ van Hoofstuk 4 en 5:23 wat hy sommer nou dadelik aansny? Of was dit miskien ook oor hulle hartseer oor hulle dierbares wat ontslaap het en hulle verwarring in verband met hul gebrekkige kennis van die dood, die hiernámaals en die wederkoms?
· 3.3 Hy smeek God namens hulle (3:10-13): ’n Baie belangrike woord in hierdie gedeelte is ‘vasstaan’ (v.8). Die geestelike babas moet eers leer ‘staan’, dan ‘wandel’ (4:1,12). Dan moet hulle die borswapen aantrek en leer en bereid wees om te ‘veg’ (5:8) – alles om ‘volkome heilig’ en ‘gereed’ te kan wees vir Sy wederkoms (5:23). Staan – stap – stry…!
· Paulus het hulle verseker dat hulle vir al die bekeerlinge in Thessalonika bid (1:2), maar hier (3:10-13) het ons die inhoud van een van die twee baie duidelike, besliste gebede vir hulle. Wat van groot belang is, is dat hy hier die las van sy hart namens hulle voor die Troon van genade openbaar en dit daar voor God lê, as hy spesifiek vir twee dinge bid: Vir die rykdom van oorvloedige liefde en vir innerlike krag vir onberispelikheid in heiligheid. Hierdie twee dinge gaan altyd hand aan hand, want goddelike liefde ís heiligheid, en heiligheid ís goddelike liefde.
· Die feit dat hy bid dat hulle wat reeds iets van God se liefde ervaar en beleef (vgl.1:3; 3:6; 4:9,10), ook nou die rykdom en oorvloed van God se liefde deelagtig moet word, wys vir ons die één area uit waarin die Christen – vanaf die dag van sy redding, tot en met sy ondervinding in die krisis van heiligmaking en die proses daarná en totdat hy sy God ontmoet – nooit mag ophou om in die kwaliteit en kwantiteit van die liefde te groei nie. Dit is logies dat God se liefde in ons en veral ons liefde vir Hom, selfs deur die oneindigheid van die ewigheid, toenemend sal skitter! In 4:9,10 vermaan hy hulle juis weer om in hierdie opsig – van die liefde – ‘oorvloediger’ te wees. Dít sou kan beteken dat die kind van God in die oseaan van sy volheid wat liggaamlik in Christus Jesus woon (Kolossense 2:9) kan bly en dit al hoe meer ervaar, in plaas daarvan dat hy keer op keer met ’n dikwels lekkende beker moet hardloop om weer ’n ‘bietjie’ daarvan te gaan skep.
· Paulus bid ook vir hulle vir krag – daardie soort krag wat beskou kan word as die skoonste, veiligste, maar ook die seldsaamste van alle soorte krag – dit wat in hulle innerlike wese (‘harte’) werk en uit hulle harte voortspruit. Daardie soort krag wat hulle in staat sou stel om ‘onberispelik in heiligheid’ te wandel en self ook so te wees, met die oog op daardie ‘groot’ dag wanneer Christus kom! Kan enige iemand wat vir ons bid, vir iets beters en kosbaarder bid as dit?
· 4. HEELHARTIG EN HEILIG (4:1-12)
· 4.1 Oproep tot heiligheid (4:1-8): Terwyl Paulus baie dankbaar is vir wat die Here vir hulle gedoen het, is hy gedring, nie om hulle oor enige iets te bestraf nie, maar hulle te ‘vermaan’ om so te ‘wandel’ om God te behaag (4:1): volgens die bevele van God (4:2), die wil van God (4:3), die roeping van God (4:7) en om weer eens deur hulle ‘wandel’ ook die eer van God teenoor ‘hulle wat buite is’, hoog te hou en te handhaaf (4:12).
· 4.2 Onderrig tot hegter eenheid en liefde (4:9-10): Die las van die Heilige Gees – ‘wat God ook aan ons gegee het’ (4:8) – is dat die band van liefde wat hulle aan mekaar en aan God verbind, nog baie meer versterk sal word en vaster gemaak sal word. Die vrug hiervan sou wees dat heiligheid prakties in alles sou uitwerk, en veral dat niemand sy broer ‘in hierdie saak’ – wat verwys na die getrouheid en die kuisheid van die huwelik – sou ‘bedrieg en benadeel nie’ (4:6). Dit beteken dat die Christelike huwelik die één duidelike voorbeeld vir alle mense moet wees van die hegte en rein verhouding tussen Christus en sy Kerk. Dit moet ook die uiters belangrike verskil aandui tussen geredde en ongeredde mense – dat die Christen nie soos die heidene van hulle dag – sy naaste se vrou enige aanleiding tot ontrou mag gee nie. Die een wat só iets doen, ontdek die wraak van God (4:6), want die huwelik is dié hoogste tipe van die standaard en verhouding van die hemelse Bruidegom en sy bruid. Die sedelike en morele lewenswyse van die Grieke en Romeine was juis op so ’n lae vlak dat dit met reg as ‘die groot gemors’ beskryf kon word!
·
· 4.3 Ordelike, waardige wandel (4:11-12): Die saak wat Paulus hier aanspreek, is dat diegene wat daarop aanspraak maak dat hulle gered is, maar om die een of ander rede werkloos is, moet onthou dat dit noodsaaklik en eervol is om hande-arbeid te doen. By mense wat opsetlik werkloos is en op ander se goedheid en arbeid teer, is daar geen sprake van ’n ‘welvoeglike wandel teenoor die wat buite is’ nie. Hulle is
· – 6 –
·
· gevaarlike kwaadstigters! Heel moontlik het sommige van die Thessalonisense van hulle goed ontslae geraak en opgehou om te werk weens die dwaling dat hulle hulleself op só ’n manier gereed kon maak vir Christus se wederkoms.
·
· 5. HANTEER JULLE HARTSEER (4:13-5:25)
· 5.1 Treur nie – Hy kom! (4:13-18): Hierdie Christene het nie geweet wat met hulle ontslape dierbares gebeur nie, en hulle was geneig om oor hulle te treur ‘soos die wat geen hoop het nie’, dus verduidelik Paulus: By die ‘wederkoms’ (‘parousia’ beteken: teenwoordigheid, koms, aankoms – vgl. 2 Thes.2:8; Mat.24:27; 1 Kor.16:17; 2 Kor.7:6; Joh.5:7,8; 2 Pet.3:4) van Jesus, wanneer “Hy self van die hemel sal neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en die geklank (letterlik ‘harde geklank’) van die basuin van God”, sal almal wat ontslaap het, ‘eerste’ opstaan – voordat die wat op daardie oomblik nog sal lewe, skielik weggevoer sal word – die Here tegemoet in die lug. Die siele van die ontslape heiliges sal dus met hulle opstandingsliggame verenig word, net voordat hulle saam met die wat dan nog lewe, die Here tegemoet sal gaan in die lug. Met hierdie waarhede moes hulle mekaar ‘bemoedig’.
· 5.2 Tyd van sy koms: 5:1- 4: Paulus gebruik die dag en die nag, en die lig en die duisternis as teenstellings om die kinders van die lig en die kinders van die duisternis van mekaar te onderskei. Dit is nie te sê dat as Christus kom, Hy letterlik in die ‘nag’ (v.2b) sal kom nie, maar só skielik en onverwags soos ’n dief in die nag. Dit is wanneer die kinders van duisternis agter slot en grendel ‘slaap’, veilig voel en sê: “vrede en veiligheid” dat die werklike en wesenlike gevaar en die skielike verderf hulle sal oorval! Diegene wat in daardie ‘dief-nag’ nog in geestelike doodsheid ‘slaap’ en ‘dronk’ is, sê hy is kinders van die duisternis. Hierdie Thessalonisense is egter ‘kinders van die lig en nie van die duisternis nie’. Vir so iemand sal daardie ‘dag’ (vgl.v.4 met 2 Thes.1:10) nie ’n dag van verderf, oordeel en ’n aaklige verskrikking wees nie maar van ongekende vreugde – daarom eindig vers 11 weer met ons welbekende woord: ‘bemoedig’ mekaar …en bou die een die ander op … (met die waarheid van die wederkoms en gereedheid vir sy koms!).
· 5.3 Toekoms saam met Hom (4:9-11): As daar geen ‘toorn’ is nie, maar alleen sprake van ‘die saligheid te verkry deur ons Here Jesus Christus’ (v.9), dan is daar ook geen oordeel vir die wat in Christus Jesus is nie (Rom.8:1).
· “Vir altyd by die Here” (4:17b) en “sodat ons … saam met Hom kan lewe” (v.10) dui aan ons ewige, geluksalige verbintenis met Hom en ons verbondenheid aan Hom.
· 5.4. Toesig teenoor mekaar (5:12 -21): Verse 12 en 13 is duidelik goeie raad vir gewone lidmate in hulle houding en gesindheid teenoor hulle voorgangers. As Petrus in 1 Petrus 2:13, en Paulus in Romeine 13:1 Christene vermaan tot wetsgehoorsaamheid en onderdanigheid aan owerhede wat, al is hulle self ongelowig, deur God se beskikking ingestel is – hoeveel te méér moet die Christen dan nie onderdanig wees aan voorgangers en mense met gesag in die ware kerk van God nie! Verse 14 en 15 is riglyne vir alle voorgangers. Die vereistes is: getroue vermaning; gereelde bemoediging; gereed om te ondersteun en geredelike verdraagsaamheid. Die volgende verse tot die einde is algemeen, vir almal. Tot by vers 21 is Paulus se raad kort, saaklik, waarskuwend, uitdagend en bevelend.
·
· 5.6 Toestand van sy heiliges as Hy kom (5:22-24): Hierdie paar verse is van die heel belangrikste in die hele sendbrief. Dit is saam met en naas 3:11-13, weer eens ’n Heilige Gees geïnspireerde gebed vir hulle. Dít is die standaard wat Paulus hulle deur die inspirasie en werking van die Heilige Gees toebid vir gereedheid vir die wederkoms. Hierdie standaard vir hierdie modelgemeente en vir elke Christen wat vir Christus se wederkoms gereed wil wees, is God se standaard en dít is ook God se vereiste vir gereedheid!
·
· “Die God van die vrede” wat die bruid van Christus heilig moet maak, verwys in vers 23 blykbaar na die Heilige Gees want dit is Hy – God die Heilige Gees – wat in ons werk “om te wil, sowel as om te werk na sy welbehae.” (Fil.2:13). Dit is Hy wat as die “vriend van die bruidegom” vooruit na die gelowige kom om hom of haar as ’n deel van sy ‘vriend’ se ‘bruid’ – volgens die smaak en welbehae van sy ‘vriend’ – te kom voorberei. Dit was die gebruik dat die bruidegom se beste vriend vooruit moes gaan om die bruid voor te berei, omdat hý die smaak en vereistes van sy vriend die beste ken! Die Heilige Gees is die Een wat spesiaal, in die werk van heiligmaking, deur God aan ons ‘gegee’ is (vgl 4:7,8). Sy oogmerk, opdrag en doel is om die bruid ‘volkome heilig’ te maak in elke aspek van haar lewe – gees, siel en liggaam.
·
·
·
· – 7 –
·
· Heilig beteken afgesonder en toegewy. In die Ou Bedeling was die woord gebruik ten opsigte van ’n plek, ’n berg, ’n altaar, ’n dag, klere, of ’n persoon wat – soos ’n priester – afgesonder en toegewy was aan God se diens. Hierdie heiliging was meestal seremonieël en meer uiterlik en tydelik van aard deur die toepassing van offerbloed, water en salfolie. Vir die gesondgeworde melaatse het dit dan beteken dat hy seremonieël dan nog gereinig moes word. In sommige gevalle, soos by Dawid (Ps.51) en Jesaja (Jes.6), was dit ook moreel en dieper van aard. Onder die Nuwe Bedeling kry die woord ‘heilig’ ’n dieper betekenis en is die negatiewe kant van afsondering deur die bloed van Christus wat van toepassing is op mense, meer blywend van aard en gelyk aan ’n diep innerlike reiniging van die mens se hart. Die positiewe kant van toewyding behels dan terselfdertyd ’n volkome oorgawe aan God; ’n doelbewuste afteken van die reg op jouself en ’n vrywillige, gemotiveerde beskikbaarstelling van jou hele lewe en ál jou lede as werktuie van geregtigheid aan God. Ook die positiewe kant van toewyding is nou veel sterker, en die gereinigde word dan ook deur die geloof met die Heilige Gees vervul (Hand.15:8,9; 1 Joh.1:9).
·
· Die kind van God se heiligmaking geskied in hierdie lewe en volgens ons teks terwyl al drie – sy gees, sy siel en sy liggaam – nog op aarde verenig is. Let ook asseblief daarop dat God Heilige Gees jou nie net heilig (afgesonderd – rein, en toegewy – Geesvervuld) wil ‘maak’ nie, maar ook so wil ‘bewaar’! As Hy jou ‘onberispelik’ wil en moet bewaar, dan is dit logies dat Hy jou eers heilig moet maak; dat jy wel onberispelik is. Hý doen dit met die oog op Christus se koms – dink daaraan!
·
· Een van die heel belangrikste woorde in hierdie vers, is die woord ‘volkome’ (Gr. Holoteles – hol-ot-el-ace). Dit is een van die moeilikste woorde om te verklaar, juis omdat die Grieks vir volkome of volmaak hier in die oortreffende trap is! Volgens Strongs beteken dit volmaak en perfek in elke aspek. Adam Clarke sê as God jou volkome heilig maak, beteken dit Hy kan geen boosheid in jou hart toelaat wat sy gebod in jou gedrag mag verbied nie. Hy sê dit beteken presies dieselfde as ‘tot alle voornemens en doeleindes’ (‘to all intents and purposes’). Ook dat dit beteken, tot die einde van jou behoefte en tot die uiterste van intensiteit. Moffat vertaal dit met: deur en deur … en deur en deur … Vines sê, dit beteken volmaak; heel en gesond in elke deel. In die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) word die woord gebruik om ’n volle week te beskryf (Lev.23:15); ’n altaar van ongekapte, ongerepte klip (Deut.27:6; Jos.8:31) of, die gesonde toestand van ’n skaap (Sag.11:16). Die werkwoord – “holokleria” – word in Hand. 3:16 vertaal met ‘volkome gesondheid gegee’, waar Petrus die volmaakte genesing van die verlamde man aan die Joodse Raad beskryf. In sy geval het die genesing in een oomblik geskied.
·
· ’n Baie belangrike feit om op te let, is ook dat die werkwoorde ‘maak’ en ‘bewaar’ albei in die Griekse Aoristus tyd is; d.w.s. dit word heeltemal voltooi en volmaak afgehandel in ’n goddelike daad van genade! In Christus is hierdie daad van genade alreeds aan die kruis klaar afgehandel, dus hoef niemand wat Hom daarvoor wil vra en vertrou, één oomblik langer daaroor te twyfel, of daarvoor te wag nie!
· Onberispelik beteken nie volmaak in kennis en sonder enige menslike swakheid, gebreke of foute nie. Dit beteken wel om VERLOS te wees van die sonde, die indringer wat jou besoedel en oorheers het, totdat jy met die krag van die bloed van die kruis kennis gemaak en God vertrou het om jou te reinig en wáárlik VRY te maak! Vry van oordeel, besoedeling, hoogmoed, opstand, hardheid en die ‘bose hart van ongeloof’! Dit beteken ‘afgesonder van’ hierdie dinge, wat ‘uit die hart uit kom en die mens onrein maak’ (Mark.7:21-23).
·
· Paulus sluit sy gebed af met vers 23 en stel dan ’n feit wat geen bewyse meer as dit nodig het nie: “Hy wat julle roep (tot heiligmaking en tot hierdie standaard van lewe) is getrou; Hý sal dit ook doen!” Dit is nie nodig om self en dikwels tevergeefs, te ‘probeer’ nie – laat dit aan Hóm oor; Hy is nie net daartoe in staat nie, maar ook gewillig om dit sonder uitsondering te doen vir die wat desperaat genoeg is om Hom alleen te GLO en daarvoor te vertrou!
· God doen hierdie heerlike dieper werk van genade vir elkeen wat by geleentheid van sy volkome oorgawe ook die reg op homself vir eens en vir altyd afteken en aan God oorgee sodat die groot en bose SELF saam met Christus gekruisig kan word en Christus dan volle beheer oorneem!