Skriflesing: 2 Kronieke 3:9
Titel: Spykers in diens van die koninkryk

Die Here se gedagtes is nie óns gedagtes nie (Jes 55:8). Wie van óns sal – indien ons ’n verslag sou skryf van die oprigting van ’n gebou – melding maak van die SPYKERS wat gebruik is? Ons sal dit nie noemenswaardig ag nie en dit gewoon weglaat. Nie eens daaraan dink nie.

Die HERE is so anders. Wanneer die Heilige Gees – deur die pen van die Kroniekskrywer – ’n verslag gee vd bou vd tempel, versuim Hy nie om selfs die SPYKERS wat gebruik is, te vermeld nie. Selfs ook die spykers se gewig. Hoogs interessant dat die H Gees – wat vlgs 2 Tim 3:16 die Skrif geïnspireer het – nie die spykers vergeet nie. Die spykers het ’n belangrike rol gespeel in die bou van die Here se tempel. Die spykers was dus belangrike instrumente in diens van die koninkryk.

Geweldig interessant om ’n studie van spykers in die Bybel te maak. Dit word dikwels as beeldspraak gebruik om te verwys na diensbaarheid in God se koninkryk. Byvoorbeeld Jes 22: Die Here se kneg Eliakim – word ’n spyker genoem. In Sagaria 10:4 Leier wat uit Juda sal voortkom: HOEKPEN. In die Skrif: ’n Spyker wat styf ingeslaan is, is ’n Goddelike simbool van stewigheid/vastigheid. Dit blyk dus dat God spykers gebruik vir die bou van Sy geestelike tempel. Pragtige beeld in die heilige Skrif.

’n Spyker is oënskynlik so nietig/ klein/ swak/ gering. Tóg hou spykers magtige bouwerke in stand. Die tempel van Salomo kon glad nie voltooi word sonder spykers nie. Hoe aangrypend dat die Here werklik groot dinge doen deur swak middele/ brose kragte/ eenvoudige besoeke/ stamelende gebede. Met ménse wat glad nie buitengewoon is nie. Dit is die Here se metode deur alle eeue heen.

Ja, natuurlik druis hierdie metode in teen alle menslike logika. Maar, GOD werk so. Eenmaal in Wallis – tydens die groot herlewing daar – het ’n hakelende ouderling stamelend ’n preek afgelees uit ’n boek – en die Gees het magtiglik onder die mense gewerk. Dit is ’n eer wanneer daar buite-op jou lewensboek die titel SPYKER geskryf word. Dit is in totale teenstelling met die gees van die wêreld waar status/mag/geld aanbid word. Iemand wat Jesus Christus ken, leef en dink nie meer volgens die wêreld se maatstawwe nie. Groot dinge tel nie meer soveel punte nie. Leef uit ’n ander bron/ deur ’n ander mag/ volgens ander beginsels/ met ’n ander doel.

Kosbaar om in 1 Kor 1: 26-28 te sien hoe Paulus uitspel volgens watter maatstawwe God Sý spyker-instrumente kies: Volgens wêreldse maatstawwe nie slim nie/ Volgens politieke/militêre/finansiële maatstawwe nie magtig nie/ Volgens hooggeplaastes nie edel nie/ mense wat nie in tel is nie/ geen noemenswaardige naam en invloed. SO lyk God se spykers.

Dalk het u ookal gebewe en gewonder: Here, hoe is dit enigsins moontlik dat U óóit ’n klein spykertjie soos ek kan gebruik in ’n grootse bouwerk? Géé dan maar net uself – sodat die Bouer u kan inkap in Sy bouwerk.

Tweede verbysterende waarheid: In die Bybel is klein/nietige spykers ’n simbool van onwrikbare standvastigheid. Die spyker bring stewigheid en behoud voort. Wanneer ’n spyker oorgegee is aan die bouer, bring die bouer iets ongeloofliks tot stand. ’n Werk van God self. JESAJA 22:23 >> Ek sal Eljakim inslaan soos ’n spyker in ’n vaste plek. Dit beteken: As Eljakim in Gód se hand is, sal HY hom standvastig maak. ESRA 9:8 >> Die Here sal aan die ballinge wat vryraak ’n spyker (PEN: OAV) in Sy heilige plek gee. Dit beteken: ’n Vastigheid in Sy heiligdom. ’n Vaste woonplek in Sion. ’n Spyker dui dus op stewigheid en vastigheid.

Kan dit wees dat daar iemand in hierdie kerkgebou kan wees wat nie hierdie betekenis van ’n spyker broodnodig het nie. Nie net u wat vanoggend as kerkraadslede in Christus se gemeente bevestig word nie, maar ALMAL van ons. Veral in die moderne wêreld/lewe/kerk waar NIKS meer seker/vas/waar is nie. Ons leef in ’n wêreld waar daar bitter min sekuriteite is. Selfs die mees welvarendste mens kan alles verloor (Sag 9: 3-4). Daar is geen werklike hoop in rykdom en vaardighede nie. Dikwels voel ’n gelowige soos ’n nietige spykertjie voor al die uitdagings… Dan kom die Bybel met die verrassende antwoord: Dit is JUIS die SPYKER wat die sekerheid en standvastigheid het.

Weer eens: Dit maak geen sin vir ons logika nie. Maar, regdeur die Bybel klink dit soos ’n refrein: ALLES wat met ’n kind vd Here te make het is vas en seker soos ’n rots. Waarom?? Juis omdat dit NIE oor die spyker opsigself gaan nie, maar oor die Bouer. Dit het alles met die lewende God te make. Al probeer die wêreld hoe hard – al sý werke is en bly net mensewerke en dus NIETIG. Maar, die oomblik wanneer dit gaan oor die spykertjies in diens van die koninkryk….. het ons met God self te make.

Rom 4:10> Beloftes staan vas. 2 Petr 1:19> Woord v God staan vas. Hebr 10:28> Hoop is veilig en vas. Numeri 24:21> Woonplek is vas. Psalm 93:2> Troon van God staan vas. 2 Tim 2:19> Fondament van God staan vas.

Die kind vd Here, wat as spyker in diens is van Sy bouwerk, het met die Almagtige te make. Dit maak die wêreldse verskil. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00