TAFELBERG GEMEENTE
LEWENDE PAASGELOOF
JOHANNES 20: 1-10
Ek wonder of ons regtig besef: Paasfees/Fisiese opstanding van Christus, het die groot wending in die wêreldgeskiedenis gebring. Kon dit slegs maar ‘n storie wees wat die dissipels uitgedink het?? ‘n Fiksieverhaal? Kan ‘n wolhaarstorie die wêreld se geskiedenis onderstebo draai en ná 2000jr steeds totale wedergeboorte in mense se lewens bewerk?? Kán ‘n wolhaarstorie/ feeverhaal dit doen? Nee, gewis, met Jesus se opstanding het die Nuwe Bedeling in beginsel al deurgebreek met ontsaglike sekerheid en hoop vir elke ware gelowige. DIT mag ons vandag herdenk.
MAAR: Baie interessant: Indien Jesus se volgelinge Sy opstanding as wolhaarstorie sou uitgedink het, sou hulle beslis nie ‘n VROU as eerste getuie van die leë graf kies nie. En daarby ‘n slegte vrou: Maria Magdalena! Jesus het vantevore 7 demone uit haar gedryf! (Mark 16:9). In die ou tyd het ‘n vrou GEEN STATUS gehad nie. ‘n Mens sou jou saak verswak deur ‘n VROU ‘n getuie van iets te maak. Maar, hier sien ons juis ‘n merkteken van die egtheid van hierdie verhaal, dat Johannes, Matteus, Markus en Lukas uitdruklik sê: MARIA MAGDALENA was die eerste getuie.
Nog meer merkwaardig: Hierdie grootse gebeurtenis was nie met trompetgeskal en vuurwerkvertonings aangekondig nie. Só strydig met die menslike logika. Om die waarheid te sê: Daar was GEEN getuies teenwoordig nie. HOE dit plaasgevind het, is/bly ‘n absolute geheimenis/misterie. In die Bybel val die klem nie op HOE die opstanding plaasgevind het nie, maar op die FEIT van die opstanding EN hoe mense op grond daarvan tot geloof gekom het. Groot vraag in Bybel is: HOE sal ‘n mens ooit aan die Opstanding ‘n plek kan gee in sy/haar hart – Iets wat jy nog nooit gesien het nie. Jý as mens wat vol doodsgedagtes is, met horisonne kan niks verder as die graf kyk nie. Hoe verander só ‘n mens tot ‘n mens wat lewende Paasgeloof het??
KYK maar hoe werk die lewende God: Hy neem 2 manne, Petrus en Johannes, en lei hulle op ‘n stelselmatige wyse tot by die ontdekking van die Opstanding van Jesus. Geensins iets wat plotseling plaasvind nie. Dis asof Petrus en Johannes op ‘n ontdekkingsreis geneem word. Aanvanklik VOL ONSEKERHEID. Soek en tas in die duister. Asof hulle deur dikke newels rondtas om hoop te vind by die graf waar Jesus begrawe is.
Die Here laat toe dat hierdie 2 getuies ‘n lang tyd soekende bly. Eers veg en worstel hulle. Aanvanklik loop hulle met vrae waarop geen antwoorde te vinde is nie. Ons lees van geen trompetgeskal en feesvieringe nie. Ons lees wél van 2 soekende manne wat hulle tromp-op vasloop in grafdoeke. Petrus en Johannes bevind hulself voor die finaliteit vd dood by Jesus se graf. O, weë, die finale einde het aangebreek. Kyk net: Die grafdoeke en speserye. SOOS KIS EN BLOMME VANDAG. Spreek van finaliteit. Kan onmoontlik enige lewe vind by ‘n doodskis en blomme. Die laaste eerbewys wat ‘n mens aan die oorledene kan gee.
Daarom sê vers 7: Johannes sien die doeke en tree terug. Maar, hy snap niks. Die grafdoeke sê mos alles: die dood spreek die finale woord. Maar, toe Petrus gaan kyk, sien hy die kopdoek opgerol, eenkant lê. Maar ook hy snap aanvanklik niks. Daar sien hulle tog met hul eie oë die laaste eerbetoon aan die Ontslapene. Finaliteit vd dood. Asof die grafdoeke en kopdoek en speserye ‘n uitroepteken is agter die werklikheid van Jesus se dood. Die harde, onweerlegbare feit tref hulle tussen die oë. Al die oorblyfsels van die begrafnis lê daar oop en bloot. U sien, die heel tyd lei die Here hulle. Hulle moet nou ‘n ontdekking maak wat hulle hart sal verander. Maar, hulle moet EERS al soekende die finaliteit vd dood ontdek ALVORENS die Here die LIG laat deurbreek.
TUSSEN die dode gaan hulle nou leer glo in die LEWE.
En toe gebeur dit: PETRUS sien iets méér by die grafdoeke as wat Johannes gesien het. In die halfduister vang sy oog iets. Die kopdoek lê dan opgerol ‘n entjie apart van die lyfdoeke. Johannes sien net die grafdoeke. Maar PETRUS besef meteens die Liggaam self is weg!! Maria het gesê iemand het die liggaam weggeneem. MAAR, dan sou die doeke mos ook weg gewees het! Of die doeke sou almal opgefrommel op ‘n bondel gelê het! En kyk nou net hierna :: die doeke lê nog presies soos die liggaam gelê het. Selfs die kopdoek lê apart van die lyf-gedeelte. Die liggaam is weg EN die liggaam is nie deur iemand weggeneem nie. Die graf is nie net OOP nie, hy is ook definitief LEEG. Die liggaam het uit die doeke opgestaan, sonder dat die doeke geroer het. Die doeke lê nog daar soos ‘n kokon waaruit die vlinder reeds weg is. WAT ‘N ONTDEKKING. Kan u dink dat ‘n mensekind met beide voete in ‘n graf kan staan en terselftertyd begin GLO in die LEWE??! DIT is wat die Evangelieboodskap aan ‘n mens kom doen!! Vers 8:: Hulle het begin glo. Iets breek deur / los. LIG skyn in hul siele. VERS 8 sê LETTERLIK: “Gesien en BEGIN glo.” Vers 10: Gaan terug huistoe. Asof hulle iets ongeoorloof ontdek het wat nie uitgebasuin mag word nie.
WAAROM breek die VOLLE gloed dan nie deur nie?? Vers 9: Hulle het die SKRIFTE nog nie verstaan nie. Asof daar staan: Dit sou met hulle heel anders gegaan het indien hulle mét kennis vd Skrifte in die leë graf ingekyk het. Die SKRIF het immers vooruit gesê dat Jesus MOES opstaan volgens die Raad v God. Maar, hulle was soos ontdekkingsreisigers wat rondtas en soek na ‘n skat omdat hulle vergeet het om die KAART te raadpleeg wat die presiese plek aandui.
U sien: Dit is VANUIT DIE SKRIF wat ‘n mens die groot geheim van die Opstanding van Christus leer ken. DAAR het God Sy antwoord gegee. DAAR het Hy die kaart geteken nog lank voordat ons begin soek het. Verstaan u. Selfs die aanskoue vd leë graf + grafdoeke + kopdoek apart, bring nog geen heldere geloof nie. Geen uitbundige opgewondenheid nie. SLEGS die SKRIF bring die uiteindelike deurbraak. Is dit nie sielsaangrypend nie?
Daarom hoef ons nie jaloers te voel op die dissipels nie. Jaloers omdat HULLE so bevoorreg was om die leë graf te sien nie. Ons hoef nie éérs na Israel te reis om die plekke te gaan besigtig nie. NEEM NET DIE SKRIFTE TER HAND. Begin om die Bybel op u 2 knieë biddende te lees. En, u hart sal gaandeweg brandende word – o.l.v. Die Heilige Gees se onweerstaanbare werking. U sal Paasgeloof hê. Opstandingsgeloof. DAAR (in die Skrif) sal u leer verstaan hoe die lewende God se logika werk. Hoe Sy Raadsplan inmekaar steek. Hoedat die Verlosser heel eg DOOD moes wees, maar dat Hy nie daar kon BLY nie. Hy moes daaruit!!!! Dáár sal u sien hoe dit die manier is waarop die beloftes van God aan persoonlik vervul word.
Dit is met die Skrifte ter hand & hart, wat ons altyd weer goeie opstandings-moed mag hê. Lewenslus. Sekerheid – dat die NUWE BEDELING al klaar begin het. En, dat ons daarin meegeneem word deur die krag v God.
ONS is nie minder bevoorreg as die Johannes & Petrus wat die leë graf met hulle eie oë gesien het nie. Laat ons maar net die Skrifte ter harte neem, net soos Petrus en Johannes moes doen, al HET hulle met hul eie oë die leë grafdoeke gesien! Indien ons die SKRIFTE ter harte neem, soos hulle uiteindelik gedoen het, besit ons presies dieselfde lewende Opstandingsgeloof soos hulle gehad het – gewerk deur die Trooster Gees van God uit vrye genade alleen.
Aan HOM, die opgestane lewende Christus, kom al die eer en aanbidding toe – nou tot in ewigheid.
Amen.