TAFELBERG GEMEENTE KERSDIENS 2013

Tema: God se bekering tot sondaars

 

Skrif: Johannes 1:14

 

Met die Here Jesus se koms na die aarde, het God die Vader homself tot sondaars toegekeer. Hy het onherroeplike woonplek by sondaars kom maak. Hy het na sondaars toe gedraai. Hy het in homself die ommekeer gemaak.

 

Want wanneer die Here Jesus méns word, is dit nie sommer net ‘n gewone baba wat daar in die krip lê nie. Dis Gód self wat Hom na sondaars draai. Na álle sondaars. Na die mensdom as geheel.

 

Die geestelike probleem waarmee die mens sit & die oplossing vir daardie probleem, wat ons tot vervelens toe hoor klink só:

 

Jy is ver van God af (probleem) en jy moet jou tot God toekeer (oplossing). En dan sal Hy jou positiwiteit teenoor Hom sien en daarvan hou en sal Hy ook positief teenoor jou word.

 

Dit is die probleem en oplossing wat altyd weer aan ons voorgehou word – waar ons ookal na predikers luister.

 

In Johannes Evangelie vind ons egter glad nie só ‘n skema nie. Ons vind in Johannes ‘n totaal ánder probleem en totaal ánder oplossing – wat eintlik as ‘n totale verrassing na ons toe kom.

 

Die probleem & oplossing is nie dat jy ver van die Here af leef en jou tot Hom moet toekeer sodat Hy Hom na jou kan toekeer nie.

 

Die wérklike probleem waarmee die mens sit, is dat ál die werke van die Wet wat jy probeer doen om vry te raak uit jou sondemoerras, jou nie ‘n breukdeel van ‘n millimeter help om by God aanvaarbaar te word nie, maar dat dit jou net des te meer veroordeeld laat voel.

 

Daarom sê Jesus: Ek het nie gekom om julle te veroordeel nie, want julle is klaar veroordeel deur die Wet en géén omkering en toekering wat julle maak kan dít regdraai nie – omdat al die omkerings en toekerings wat julle probeer maak niks anders is as ekstra Wetswerke nie – en só draai julle julself net vaster en vaster. Julle kan nie vir God met julle toekeer-tot-Hom omgedraai kry na julle toe nie!

 

Dís die mensdom se ware probleem. Dis ‘n penarie. ‘n Baie groot dilemma. As die mens nie die oplossing (wat ons nou gaan sien) ontdek nie, is daar nie ‘n manier hoe hy uit hierdie moerras kan uitkom nie!

 

Dit is dus die vraag:

 

Moet óns die Here gedraai kry?

 

Mens hoor dikwels dat mense dit sê. “Jy moet so berou hê en so jammer wees en so opreg wees dat jy die Here na jou toe omgedraai kry. Jy moet Sy hart sagmaak met hoe pateties jy is. Jy moet jou hart Sy woonplek maak. Jy moet vir Hom ‘n woning in jouself skep. Die oomblik as jy vir Hom sê dat Hy nou maar by jou kan kom woon, dan kom Hy aangehardloop na jou toe. Jy draai Hom om met jou draai na Hom. Jy het die mag in jou hand”.

 

Regtig? Is dit die leer van die Skrif?

 

Wel, kyk na Johannes evangelie. Wie maak van wie ‘n woonplek in Johannes evangelie? Is dit die mens wat vir die Here ‘n woonplek maak? Inteendeel. Die VADER maak van CHRISTUS die woning en draai sodoende na ons en woon by ons – en Hy doen dit terwyl ons nog niks met Hom te doen wil hê nie! (vgl Rom 5:10). Hy wag nie vir ons uitnodigings nie. Uit eie vrye inisiatief kom máák Hy in Christus woning by sondaars.

 

Dis al die tyd nie ons wat vir Hom ‘n woning binne-in ons maak nie. Ons draai nie vir Hom na ons toe sodat Hy Hom kan kom tuis maak in ons hart nie. Ons liefde en berou is nié om die Here te draai nie, maar om Hom te eer vir die feit dat Hý die omkeer gemaak het!

 

Die oplossing en antwoord van die Evangelieboodskap op die geestelike probleem waarin die mensdom sit, is ‘n totale verrassing op dit wat ons altyd dink (en gewoonlik hoor) dit is.

 

Eers moet jy weet: Ek kan Hom nie na my toe gedraai kry met my draai-na-Hom nie, want my bekerings volgens die Wet laat my net meer en meer veroordeeld – want dit is nooit goed genoeg volgens Gods standaard nie. Dit dop altyd die toets.

 

Dan kom die verrassing: Die Woord het méns geword en onder óns (wat onsself in veroordeling vasdraai met ons Wetswerke en wat níks daaraan kan doen met énige bekering volgens die Wet nie) kom woon.

 

Dis die Kersverrassing: Christus Jesus is die Woord. Christus is die Een deur wie God die Vader hemel en aarde gemaak het. God het nie weggeloop uit Sy wêreld as gevolg van die sonde nie. Híérdie Skepper het mens/vlees/vleis geword. Hy het nie binne-in ‘n liggaam kom bly nie. Hy het mens GEWORD.

 

Watse tipe mens? Sonder sonde MAAR Hy kom deel volledig óns sondes. Hy word so as sondaar deur Sy Vader behandel. Hy wóón onder ons. Hy slaan tent op onder ons. Tabernakel (tent) in die OT = Sigbaar gesien: God bly by ons en deel genade met ons. Nog lánk voordat jy kan dink om Hom te nooi om by jou woning te maak het Hy al klaar by jou woning kom maak!

 

Wat het God in Christus Jesus gedoen? Hy het gekom om te blý. Betlehem = God wat Homself toekeer tot sondaars. En nie meer wegdraai in oordeel nie. Nóóit weer wegdraai in oordeel nie. Wóón by: nie net blý. Voorsien alles. Ouers woon nie net by kinders nie. Hulle deel alles met hulle.

 

Christus woon (tabernakel) nou by die mens en deel genade en waarheid aan ons mee. Hy het élke mens ingesluit by Waarheid en genade! Hy het vir jóú ingesluit by Waarheid en Genade!

 

Hoe klink die Waarheid waarby Hy my ingesluit het = ek sien ek is ingesluit by Christus se sterwe en ek gaan nie meer gestraf word vir my sondes nie – nóóit weer nie. Ek sien wie ek bedoel is om te wees: ek is bedoel om God se onskuldige blaamlose kind te wees. Want Christus woon by my en ek is ingesluit by hierdie inwoning. Ek is Sy heilige en toegewyde kind wie se liefde vir God rég is. In Sy kruis sien ek ek mág Hom liefhê. Want Hy is die tabernakel. “Ek is God-saam-met-jou op só ‘n wyse dat jý God mag liefhê.” Ek is met jou ín jou sonde – jou sonde tel nie meer nie.

 

Dit is die Waarheid aangaande my. Dis my ware identiteit. Dis die Waarheid wat Christus met jou deel terwýl jy dink dat jy veroordeel is en dat jy God aan jou kant moet kry met jou bekerings vlgs die Wet. Terwýl jy Hom probeer sag maak met jou bekerings, besit jy alreeds ‘n totaal nuwe identiteit waarvan jy heeltemal onbewus is! Dis die ironie.

 

Dís die Waarheid wat Christus aan ons meedeel.

 

En dan is daar ook “genade” wat Hy meedeel.

 

Genade = As ek my sonde erken, is daar géén veroordeling nie. Dis verruklik. As ek ‘n misdaad by die polisie gaan erken, gaan ek gestraf word. As ek my sondeskuld erken, is daar géén veroordeling nie. As Christus mens word, dan breek Hy die krag van ons sonde. Omdat Hy mens geword hét, IS die krag van die sonde gebreek. Alles afgehandelde verlede tyd.

 

Hoe kan ons ons sondes goedpraat indien Hy by ons kom woon het en as ons sien Hy moes vir daardie sondes sterf? Hoe kan jy iets goedpraat waarvoor Christus moes gesterf het? So breek Hy die krag van sonde. Ons kan nie meer goedpraat en aanhou doen dít waarvoor Hy sterf nie. Die Waarheid is dat Hy – terwyl Hy Skepper is – sonde geword het. Ek hoef daarom nie langer in die leuen te leef dat ek my eie sondes moet glo nie. Ek kan die waarheid van wie/wat ek is begin glo.

 

Waarheid en genade.

 

Wat moet ons doen wanneer ons hierdie ontdekking maak? Hoe moet ons hierop reageer? Stem u saam dat die ontdekking van so iets regtig ‘n spontane reaksie by enige mens tot gevolg sal hê? Nie ‘n gedwonge reaksie nie. Nie: “reageer of jy gaan hel toe” nie. Maar ‘n spontane reaksie. ‘n WOW-reaksie.

 

Stel jouself net die volgende scenario voor:

 

Hier is ‘n denkbeeldige iemand – kom ons sê dis Saartjie.

 

Saartjie voel ver van God af. Sy vermoed dat sy ‘n redelike groot sondaar is. Sy dink sy moet ‘n omkeer na God toe maak om haar saak met Hom reggestel te kry. Dan sal Hy na haar kant toe begin kyk. Maar hoe meer sy probeer bekeer, hoe meer veroordeeld voel sy omdat sy nooit seker is of sy dit nou reg & goed genoeg gedoen het nie. Die sekerheid wil maar net nie kom nie. Sy hoor oor en oor dat sy vir die Here ‘n woonplek in haar hart moet maak, maar hoe meer sy dit probeer, hoe meer twyfel sy, want hóé kan ‘n mensekind só iets regkry? Mag en kan die wese van die mens regtig met die wese van God vervang word? En binne hierdie bose spiraal sit sy vir 40 jaar vasgevang.

 

En dan gebeur dit. Eendag sit sy in die kerk en die prediker verkondig iets wat haar tussen haar oë tref. Hy verkondig ware góéie nuus – wat sy nog nie voorheen gehoor het nie. Vir die eerste keer hoor sy ‘n boodskap van bevryding. Die God waarvan die prediker praat is ‘n totaal ánder God as die een aan wie sy tot nou toe geglo het. Die God waarvan hy praat het haar opgetel binne-in haar sonde. Hy het haar opgetel toe sy niks van Hom wou weet nie. Hy het haar onvoorwaardelik lief. Hy het haar binne-in haar sondes gered toe Hy in haar plek gesterf het. Hy het haar volkome en volmaak gered. Hy het by haar kom woning maak.

 

Toe sy dít hoor, toe reageer haar hart outomaties daarop. Voor sy haarself kon help gló sy dit. Sy glo Hom. Sy glo Hom dat Hy haar gered het. Sy glo Hom dat Hy haar Verlosser is. Dat Hy haar sondes uitgewis het. Vir die eerste keer kón sy regtig omdraai na God toe, want haar omdraai het nie meer iets bewérk nie, dit het nie meer die Here laat draai nie. Haar omdraai was uit spontane verwondering vir wat Hý reeds met haar gedoen het.

 

Terug by die vraag: Wat moet ons dus doen wanneer ons God-se-ommekeer-tot-ons ontdek?

 

Antwoord: Aanvaar dit. Glo dit. Glo wat? Gód het gedraai. Hý het Hom toegekeer. In Christus het Hý die draai gemaak om by jóú as sondaar te bly. Hy het in homself rééds die draai gemaak. Die mens-wees van die Here Jesus as my plaasvervanger in my plek is die manier waarop God na my toe gekom het en by my kom woon het – vir ewig en altyd.

 

Ongeloof is om van bekering ‘n werk volgens die wet te maak om vir God gedraai te kry. Ongeloof is om met my eie bekerings te wil maak dat God na my sal toekeer. Terwyl dit al die tyd Hý is wat na mý toegekeer het. Wáre geloof ontdek dít en omhels dit. En die spontane gevolg van hierdie omhelsing is…. bekering! Ek draai na Hom toe – soos Saartjie gedoen het. Ek kan gewoon nie anders nie. Na só ‘n asemrowende beeldskone mooi Vader/Seun/HG wíl ek draai. Nie om Hom gedraai te kry nie, maar uit oopmond verwondering dat Hý die draai gemaak het!

 

Miskien is u ook iemand wat in u gemoed al baie stryd rondom hierdie saak gehad het. Dalk het u al moed opgegee om óóit sekerheid te kry.

 

Doen dan soos Saartjie. Pleks van om te dóén, kýk liewer. Síén wat klaar gedoen is. En kom tot rus. Kom tot rus in Hom wat vir u by Homself ingesluit het toe Hy vir u uit die modderslyk van sonde gered het deur middel van Sy geboorte, Sy lyding, Sy dood, Sy opstanding.

 

Hier is ‘n gebed wat u sou kon bid om dit vir Hom te sê:

 

“Vader ek weet dat U my liefgehad het voor die skepping reeds en dat U my tóé al geken en gekies het. Here Jesus ek glo dat U in my plek op die kruis gesterf en my sodoende reggestel het. Ek glo dat U bloed my van alle sondeskuld gereinig het. Ek glo dat U uit die dood opgestaan het en dat U lewe. U is my Here en Verlosser vir ewig. Op grond van U klaargemaakte werk op die kruis ís ek U geliefde kind. Dankie dat ek in U die ewige lewe het. Vervul my met vrede en blydskap. Amen”.

 

  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00