Die hemel en wat daar gebeur
Skrif: Openbaring 12

Een ding is seker: geen mens kan leef sonder hoop (toekoms) nie. Ons moet seker wees van “môre” anders kan ons nie VANDAG leef nie. Sommige moderne teoloë ontken die werklikheid van die hemel en die ewige lewe, en verwar die gelowiges. Daarmee ontneem hulle die gelowiges hul hoop. En wanneer ’n mens nie hoop het nie, maak jou lewe vandag nie sin nie.

Die Skrif se getuienis is egter helder duidelik. Die Here het die mens geskep met die doel om met Hóm saam te woon. Gen. 1-2. Die hele Bybel handel oor hierdie “saamwoon” (saamleef) tussen God en mens. DIT was tewens God se DOEL waarom HY mense gemaak het. Skeppingsdoel/fabrieksdoel. As ‘n mens dit nie verstaan nie, sukkel jy om die Bybel se boodskap te verstaan. Alhoewel die sondeval hierdie SAAMWOON verbreek het ( en die hemel toe ‘n plek geword het waar satan kon inkom en God se kinders aankla – sien JOB), het God onmiddelik (nog in die tuin) die moederbelofte gegee dat Hy die gebroke verhouding sal herstel. Gen.3:15. God wil m.a.w. nie Sy skeppingsdoel (SAAMWOON) prysgee nie. Dit moet vervul word. En Adam het hierdie moederbelofte GEGLO en sy vrou EVA (moeder v lewe) genoem. Adam het geglo God sal ’n plan maak. Hy het die Here op Sy Woord geneem. En so is die saamwoon tussen God en Adam weer herstel.

Die hele Skrif is nou hierop afgestem: die meesterplan wat God gemaak het om Sy saamwoon met die mens vir ewig te verseker. Die HEMEL (saamwoon) sal herstel word en IS reeds herstel. God het belowe. Dit loop soos ‘n refrein deur die Skrif. Jakob kry bv. reeds by Betel ‘n visioen waarin hy die hemel geopen sien. By die berg Sinai daal die Here neer na Sy volk en gee Hy vir Moses die plan van die Tabernakel, ‘n afbeelding van die hemel. In die Tabernakel sou Hy tussen Sy volk woon alhoewel die skeiding nie finaal afgebreek was nie. Die voorhangsel was steeds daar. Slegs een maal per jaar kon die Hoëpriester met offerbloed in die direkte teenwoordigheid van die Here gaan en bly lewe (Lev.16). So kon die volk weet: die hemel SAL weer vir ons oopgaan.

Dit was eers Christus se kruisdood wat dit wat die hemel en aarde van mekaar geskei het, ten volle weggeneem het. Daarom skeur die voorhangsel finaal – die oomblik toe Jesus sterf. Daarom vaar Jesus ook voor die oë van die dissipels op na die hemel. Want, die hemel is nie langer vir sondaars gesluit nie! Jesus het met ‘n werklike menslike liggaam daarheen gegaan, want daar is nou in die hemel weer plek vir ‘n mens. Die hemel is nie meer ‘n bedreiging vir ons nie.

Dit is die heerlike boodskap van Openb.12. In beeldende taal word die mees aangrypende boodskap verkondig. Die hele Bybel staan in Open 12. Die draak (satan) kon dit nie regkry om die Seun wat gebore is te verslind nie. Die Seun word weggeruk na die hemel. Dit dui op Jesus se hemelvaart. En, die oomblik toe Jesus die hemel betree, word die satan finaal uitgewerp (as aanklaer). Nou spits hy hom daarop toe om die vrou te vervolg. Die vrou is ’n beeld van die kerk. Maar, ook met hierdie planne kan hy nie veel uitrig nie, want die Here bewaar die vrou.

Ná die sondeval het die hemel vir die sondaarmens ‘n bedreiging geraak. Satan kon daar ingaan om die mens aan te kla. Maar, ná Jesus se hemelvaart word die aanklaer uitgegooi en ‘n Advokaat gaan sit aan die Vader se regterhand. Nou word die gelowiges in die hemel verdedig en nie meer aangekla nie! Daarom kan die draak se pogings om die gelowiges te vernietig niks uitrig nie! Die Skrifte leer dit so in Openb 12! Wanneer die draak die vrou agtervolg, word daar skielik aan die vrou arendsvlerke gegee sodat sy in die woestyn versorg word – buite bereik van die slang.

Dit wys op die geweldige wins wat die hemelvaart v Xp vir die gelowiges het. Die aanklaer het nie meer toegang tot die hemel nie, maar hy vervolg nou die gelowiges op aarde. Maar, daar is nou ‘n Advokaat in die hemel wat vir die gelowiges pleit en intree sodat die draak ook op aarde niks uitgerig kan kry nie. Daarom is ‘n Kind vd Here se lewe NIE aan toeval uitgelewer nie. In die hemel is daar ‘n Advokaat wat alles bestier. Soms voel ‘n mens alleen en Godverlate. Dan mag jy bid en weet dat jy verhoor word. Want daar is ‘n Advokaat aan die regterhand van die Vader. ‘n Mens se talle sorge kan na hierdie Advokaat gebring word.

U sien: die hemelvaart van Christus beteken nie dat Hy nou skielik ver van ons is nie. Asof Hy na ‘n vae en verre droomwêreld vertrek het wat niks met ons lewens te make het nie! Nee. Hy het met my menslike liggaam aan die regterhand vd Vader gaan sit. Dit waarborg vir my die feit dat MY plek in die hemel ook gereed gemaak word. En by elke Nagmaal onderstreep die Here juis weer DIT: Hy gee ons deel aan Sy menslike liggaam wat Hy steeds het by die Vader. By die Nagmaal gebeur daar veel meer as dat ons maar net terugdink aan Jesus se offer op Golgota. Nee, Hy verseker ons dat Hy ons werklik deel gee aan Sy liggaam. Die brood & wyn IS Sy liggaam & bloed. En omdat Hy ons deelgee aan Sy liggaam, het ons deel aan al Sy weldade. Wat Syne is is myne en wat myne is is Syne. Op hierdie wyse het die hemel reeds aangebreek. Hemel & aarde is reeds aan mekaar verbind.

U sien: wanneer ‘n mens so na die Skrif luister, kwel die liberale teoloë se twyfelvrae jou nie meer nie. Dan is dit nie meer nodig om te bewys dat daar ‘n plek hemel is nie. Ek is ook nie meer besorg oor die vraag WAAR die hemel is nie. Ek verstaan nou die Skrif se totale boodskap: Dat God van die begin af met mense wil SAAMWOON. Daarvoor het Christus gekom: Om hierdie saamwonery weer ‘n werklikheid te kom maak. Daarom het Hy na die hemel opgevaar: om aarde en hemel weer in verbinding met mekaar te bring. Om my plek gereed te gaan maak. En elke keer by die Nagmaal verseker Hy ons weer opnuut daarvan. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00