PINKSTER 2013 DEEL 1

Tema: Beeld van God

 

Skrif: Genesis 1: 26-27; Johannes 1:14

 

Waar kom u regtig vandaan? Wat was die motivering agter u bestaan? Het u geweet dat u nie bestaan buite-om die droom wat die lewende God voor die skepping reeds aangaande u gehad het nie?

 

Wat weet ons van hierdie verre, verre begin? Die tyd voordat daar iets soos tyd was?

 

Wel, toe was slegs Vader/Seun/HeiligeGees daar. Tyd bestaan in Hom en Hy het tyd geskep. Voordat tyd daar was, was Hy dus daar. Ál wat daar was, was Sy absolute volheid. Volheid wat net ontplof in méér volheid. Vreugde en selflose liefde wat net eskalleer tot méér vreugde en liefde.

 

Want dit is die wese van die ware God. Hy is nie alleen nie, nie eensaam nie en is nie behoeftig nie. Hy is die volheid in homself. Hy is ‘n ONS! Hy is nie ‘n koue statiese wese nie. Hy is ‘n beweging. Binne-in Hom – tussen die Vader, Seun en Heilige Gees onderling – is daar ‘n vloei van oneindige lewe. En Hy soek na maniere om daaraan uiting te gee – nog voordat daar iets soos tyd was.

 

‘n Gee-ende wese soek altyd na maniere om uitdrukking te gee aan dit wat in hom/haar is, nie waar nie? “Hoe kan ek op ‘n dinamiese manier uitdrukking gee aan wie ek is? Hoe kan ek aan myself uitdrukking gee buitekant myself en verder as ekself?” ‘n Selfsugtige wese sal nie hierdie drang hê nie, maar ‘n selflose, op-die-ander-gerigte wese wél.

 

God het net een enkele begeerte: om te géé. Om oor te loop, oor te vloei. Hy wil nie hê nie, Hy wil gee.

 

Dit is hoe dit gekom het dat Hy daarvan begin droom het om iets soos tyd te skep en ‘n heelal en ‘n aarde en mense – wat soos Hy lyk en Sy beeld is – in wie Hy Homself kon uitdruk/gee. In wie Hy hierdie gee-ende léwe kon uitstort. Kolossense 2:9 > Die volheid van die Godheid vind sy volste uitdrukking in…. ‘n menslike liggaam! Dink daaraan! Verstommend!

 

Vader/Seun/HeiligeGees het nie mense geskep omdat Hy ‘n behoefte gehad het aan enigiets nie – of omdat Hy minderwaardig gevoel het en ‘n klompie mense wou hê wat vir Hom heeldag en aldag kan vertel hoe wonderlik Hy is nie!

 

Sy motief was om Homself te géé. Dit is die konteks van die hele bybelse verhaal: God – wat in Homself vol is, oorlopend en oorvloeiend is – en slegs een begeerte het: om te géé, om oor te loop in iemand buite Homself, maar wat Sy beeld is – wat verenigbaar is met Homself.

 

Dit is presies hier waar die hele gedagte van ú bestaan vandaan gekom het! U is geskep en spesiaal ontwerp as ‘n wese in/deur wie die Drieënige God op ‘n unieke manier Homsélf kon wees. Beeld en gelykenis van God. In die BEGIN (voor tyd) was die Woord (logos) daar (Joh 1:1) – die droom/visie/idee…

 

Gaan kyk maar net na die hele skeppingsverhaal in Genesis 1-2. Elke keer wanneer God iets geskep het, praat Hy met ‘n substansie vanwaaruit Hy iets anders wil maak: Byvoorbeeld: Gen 1:11 > “Laat daar uit die aarde bome en plante voortkom”. Hy praat met die see óm vis voort te bring (vers 20) ensovoorts.

 

Maar, wanneer Hy die MENS skep, dan praat Hy met Homsélf. Hý is sélf die substansie uit wie die mens voortkom! “Laat ONS mense maak na ONS beeld en gelykenis..” (vers 26) Hoor u dit? Die meervoud: ONS. Die dinamika wat tussen Vader/Seun/HGees bestaan, is die substansie waaruit die mens voortkom. Dit moet oorvloei na die mens. Toe Adam sy oë oopmaak, het hy in die bewonderende oë gekyk van die God wat oor hom kniel en hom seën (Gen 1:28). “Seën” beteken in Hebreeus: “kniel oor” (barak=knie). Dit is hoe die mens sy eerste lewenslig gesien het – die liefdevolle gesig van God wat oor hom kniel. Die mens kan dít nie uit sy gestel kry nie. Die mens bly soekende/rusteloos totdat hy weer in daardie oë gekyk het! Want dit is hoe alles begin het!

 

Daar is iets in uself wat in God begin het. Geen wonder dat die Heilige Gees in Prediker 3:11 sê dat God “die ewigheid” (letterlik: die toekomstige eeu) in die mens se hart geplaas het! Daar is iets in u & my wat maak dat ons in staat is om verder as die natuurlike realm te reik – sodat ons die tyd van die verre toekoms kan beleef.

 

Die menswording (inkarnasie) van die Here Jesus maak vir ons finaal duidelik wat die betekenis daarvan is dat ons “beeld en gelykenis” van God is. Johannes 1:14 is eintlik ‘n verduideliking van Genesis 1:26.

 

Christus se menswording het nie vir God verras nie. Nog voordat Hy vir Adam geskep het, het God reeds geweet dat Hy self méns sal word en mens sal bly. Dít het bepaal hoe Hy vir Adam sou ontwerp! Dat Jesus méns sou word, was nie God se noodplan (Plan B) om die opgemorsde skepping (Plan A wat misluk het) te red nie. Kyk maar na Kolos 1:17 > Nog voordat daar ‘n skepping was, was Jesus reeds daar!

 

1 Éérs (voor alles) was daar die besluit in God se hart dat Hy nie wou God wees op enige ander manier as vír mense en ás ‘n mens nie – in die Persoon van Christus. Hy wou nie God wees sónder mense nie. Dis ook waarom die mens nie kan mens wees sonder Hom nie!

 

2 Tóé formeer Hy vir Adam op die patroon wat Christus mens sou wees!

 

Hy het dus die mens geformeer sodat die mens die mees akkurate uitdrukking van Sy eie wese en natuur sou wees. Hy doen dit met die wete dat Hyself uiteindelik – in die Persoon van Christus – vir ewig as ‘n mens sal bestaan.

 

Toe die Here Jesus dus uiteindelik vir 33 jaar op aarde was, het Hy nie gesug en gesteun omdat Hy verplig was om MENS te wees nie – met ‘n verligting om uiteindelik te kon vertrek terug na die Vader toe nie! Sy lyding & vernedering was nié dáárin geleë om méns te wees nie! Nee, met Sy opstanding uit die dood het Hy spesiaal teruggekom om weer Sy mens-wees te kom haal! Filippense 2:7> Hy het Homself ontledig in menswees. Hy het Homself bankrot gemaak juis óm méns te kon wees! Alles wat God gehad het, het Hy in die mensdom belê. Alles wat Hy is, het Hy in ú belê. Hy het geen ander belangstelling of belegging nie. Die enormiteit van hierdie “commitment” (verbintenis tot) is onpeilbaar.

 

Dit is waarom Hy – ná die sondeval – nie die mens van die aardbol afgevee en oor begin het nie, maar aangehou het met die mens. Omdat Hy alles in die mens belê het (Homsélf in die mens belê het) en omdat Hy self as mens sou bestaan in Christus. Menswees is Sy gunsteling vorm van bestaan! Daar is nie ‘n manier hoe Hy sal opgee met Adam se nageslag nie!

 

Die menswording van Christus was God se verklaring: “Ek wil nie God wees net vir Myself en ter wille van Myself nie. Ek wil God wees mét die mens en vír die mens en ás ‘n mens – dís hoe Ek God wil wees.

 

2 Timoteus 1: 9-10 > Die uiteindelike gebeurtenis van Jesus se menswording in Betlehem was die historiese uitvloeisel van iets wat in die hart van Vader/Seun/HeiligeGees gebeur het voordat tyd bestaan het en voordat Adam geformeer is. Maar toe Adam geformeer word, toe formeer God vir Adam volgens die beeld van die mens wat Jesus in Betlehem sou word.

 

Kan ons enigsins ‘n begrip vorm van hoeveel waarde ons vir God het? Toe Jesus aan die kruis sterf, toe verlos Hy daardie oneindige waarde wat in ons is – Hy herstel dit tot die maksimum.

 

Sien u hoe die Blye Boodskap oor veel meer gaan as net sonde & verlossing. Lánk voordat sonde bestaan het, het ú in die hart en gedagtes van God begin. U moet uself dáár ontdek. Dit is die enigste konteks waar u nodig het om u ware identiteit te ontdek.

 

Die Here het u geken nog voordat Hy u geformeer het (Jer 1:25, Psalm 139). Dit wat God tóé van u geken het, is nog steeds Sy enigste verwysingspunt van wie u regtig is. U aardse lewe het Hom nog nooit verwar nie. Hy ken u voordat Hy u gevorm het. Dit is dáárdie kennis van jou & my wat Hy in Christus verlos en herstel het. Daar is ‘n waarde in jou & my, wat in Sy oë die moeite werd was om te verlos/herstel.

 

Moenie u identiteit net wil bou op hoe die duiwel u beetgehad het nie. Wanneer ‘n dief jou ring steel, word die ring nóóit syne nie! Dit kan 100jaar in sy besit wees.

 

Moenie dink die duiwel of sonde het eienaarskap van u lewe nie. Hy besit absoluut niks, want hy is ‘n dief en rower (Joh 10:1,10). God het Sý beeld & gelykenis op u afgedruk en dit met Christus se bloed verlos. Hý bepaal jou waarde en Hý bepaal wie jou eienaar is. Ú is al wat Hy belangstel om te hê. Hy het alles verkoop om daardie grond te koop waar die pêrel begrawe is. Hy is opgewonde oor u. As u nie opgewonde oor uself is nie, het u nog nie gesien wat Hy sien nie.

 

Ons moet begin om dit wat ons van onsself dink (self-identiteit) te bou op wat God van ons van voor die skepping weet en niks anders nie, niks van ons verlede nie, niks wat ons tevore beleef het nie, geen prestasie nie, nie op nasionaliteit, taal, kultuur, rykdom of armoede nie. Niks wat ons bereik het of op geen teleurstelling nie.

 

Daar is slegs één ding wat u definieër: Toe Vader/Seun/HGees gesê het: “Laat ons uitdrukking aan Onsself gee in … Koos Sadie, Sannie de Lange, Klasie Swanepoel. Hy/sy sal beeld & gelykenis van ons wees.” Dis God se kniel oor u en u kyk in Sy bewonderende oë, wat bepaal wie/wat u is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00