PAASKONFERENSIE 2013 DEEL 3

Tema: Magtelose magte

 

Skrif: Kolossense 1:12-23, 2: 9-10, 15

 

Ons het dit almal al gesien: iemand met ‘n kop groter as sy hele lyf. Of ore groter as sy kop. Ons lag daarvoor. Want ons weet dis maar net ‘n spotprent – ‘n karikatuur. In die werklike lewe is ’n mens gelukkig nie só uit proporsie nie.

 

Maar veronderstel ‘n mens weet niks van spotprente af nie. Dan lag jy nie oor die uit-proporsie mensie nie, maar jy skrik jou boeglam.

 

Dis wat die Kolossense-gemeente oorgekom het. Daar was sekere dwaalleraars wat dinge ANDERS laat lyk het as wat dit werklik is. Uit hulle plek – uit proporsie.

 

Hierdie dwaalleraars het gesê dat daar ‘n wêreld is van engele en bose magte tussen gelowiges en God. En dit is hierdie onsigbare magte wat eintlik dinge in die gelowige se lewe beheers en bepaal.

 

Om nou hierdie magte gelukkig te hou, moet ‘n mens sekere godsdienstige reëls nakom. Jy mag sekere dinge nie eet of drink nie, jy moet die Joodse vaste en feeste hou. Jy moet oppas om nie aan sekere dinge te raak of te proe nie.

 

Vir ons vandag mag dit ‘n bietjie vreemd klink. Of dalk ook nie? Weet u, ons ken ook hierdie magte, ons noem hulle net ander name. Dis dié goed wat ons aanvoel wat ons groot wêreld en ons persoonlike wêreld beheer. Dis dié dinge wat ons in die nagte laat wakker lê, waaroor ons besorg is, maar waarteenoor ons magteloos voel. Dis dié dinge wat ons agterkom dat dit ons bind, ons siek en dood maak, maar waarop ons terselfdertyd vertrou. Dis dié dinge wat ons aanvanklik dink óns dienaars is, maar later agterkom ons dien húlle. Dis dié dinge waaroor ons gewoonlik baie min praat, indien ooit… Dis díé dinge wat ons glo die verloop van ons lewe sal bepaal – sinistere blinde magte.

 

O, ja, aan die een kant glo ons vas in God die Vader en sy voorsienige sorg, maar sonder dat ons dit erken, vrees ons dinge — teenspoede, werkloosheid, werksverandering, siekte, ongelukke, rampe, toekoms. En ons praat van die “noodlot, die toeval”, wat dit & dit so & so wou hê… die “sameloop van omstandighede”.

 

Want sien, diep in ons harte glo ons dat ons lewens (en wêreldgeskiedenis en landsgeskiedenis) beheers word deur blinde magte. Wat vir my ongeluk kan bring. Of dalk geluk. Dalk die miljoen van die lotto of die casino. Die EINTLIKE ding wat my lewe in 2013/2014 sal bepaal – is sinistere magte – waarvoor ek bang is, maar waaraan ek ook verslaaf is. Die sinistere magte wat die ekonomie en politiek beheers.

 

Of sinistere magte wat jou daaglikse lewe beheer. Dit kan alkohol- of dwelmverslawing wees. Of : werkverslawing, materialisme, genotjagtery. Of geld, tabak, TV, sepies.. Dis ‘n lewenstyl waarin jy ‘n lewenstandaard handhaaf wat jou vasbind om meer en harder te werk om meer geld te maak, omdat jy meer en meer geld uitgee. Dis ‘n mag, ‘n bose kringloop waaruit ‘n mens wil wegkom wanneer jy agterkom tyd is nie net geld nie, maar tyd is lewe, en jy lewe nie meer nie. Maar jy is ook bevrees om uit hierdie spiraal te kom, want hoe langer jy in hom bly, hoe meer glo jy dit is die lewe.

 

En dis so maklik om in hierdie magte te glo – so vanselfsprekend. Want almal glo so, dink so, praat so. Dis die in-ding. Die gees van die tyd. Niemand waag dit om anders te praat nie, om daarteen te praat nie. Want gedurig word dit vir ons voorgehou dat hierdie magte mense uitred en vir hulle die hemelse saligheid gee. Daarom hou ons vol, offer ons al meer en meer vir hierdie magte. Maar in die nagte dan lê jy wakker, dan bekommer jy jou, en verwyt jy jouself. Dan besorg hierdie magte vir jou allerlei stresverwante siektes. Ja, ons ken ook die magte wat ons wêreld en ons lewens beheers. Hulle is regtig dáár.

 

Wanneer Paulus aan die gemeente in Kolosse skryf, ontken hy nie hierdie magte nie. Hulle is daar. Verseker. Mense ly onder hulle, sonder twyfel! Dit lyk regtig of hulle die wêreld beheers. Maar Paulus se boodskap is: dit lyk so, maar dit is nie so nie. Dit is nie meer so nie. Daar is Een wat magtiger en sterker is as al hierdie magte, Iemand bó al hierdie magte: Jesus Christus. Hy is die Heer — óók oor al die magte. Om te glo dat die magte regtig bewind voer, is om drogbeelde/spotprente vir die werklikheid aan te sien. En hulle te vrees. En jou aan hulle heerskappy te onderwerp.

 

Maar, sê Paulus, die Waarheid is: húlle is nie selfstandige magte, los van die Here, nie. Hulle het geen houvas meer op die gelowige nie. Want (1:13) “(God die Vader) het ons uit die mag van die duisternis weggeruk, en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet”.

 

Ons is nou nie meer onder die duister magte nie. Ons is onder Jesus. Deur dit wat GOD gedoen het – NIE deur ons geloof/toewyding/inspanning nie. En daarom… kan ons sing! Ja, inderdaad is 1:15 e.v. ‘n lied om Jesus te besing. Dis ‘n lied waardeur gelowiges bely wie Jesus is en wat Hy gedoen het.

 

Hierdie lied (v 19-20) vertel dat, nádat die magte amok begin saai het, God deur Christus die magte weer op hulle plek gesit het. In vers 20 staan daar: God het deur Christus, deur die bloed van sy Seun aan die kruis, alles (in die hemel en op die aarde) met Homself versoen. Jesus se sterwe op Golgota was God se manier om al die magte wat buite orde geraak het, weer op hulle plek te sit. Om dinge wat op hulle kop gekeer geraak het, weer reg te draai. Om die skewe beelde en drogbeelde weer in die regte perspektief te trek. Dit het God deur Christus gedoen. Daarom sing die gemeente hierdie lied oor hoe dinge nou is. Regtig is.

 

In 2:15 sê Paulus: Christus het met sy kruisiging en sy opstanding uit die dood die magte ontwapen en hulle in die openbaar belaglik gemaak. Openlik met hulle gespot. Vir hulle aan sy oorwinningswa vasgeketting, sodat hulle teen wil en dank, gestroop van al hulle mag, moet saamloop. Sodat almal sal weet Christus het hulle oorwin.

 

Maar, moenie ‘n fout maak nie, hierdie magte is kunstenaars in die spel van voorgee. As hulle ‘n kansie kry, spot hulle met Christus en sy oorwinning en máák hulle of hulle op vrye voet is. Daarvoor moet ons egter nooit val nie. Die feit is: die Here spot met húlle!! Hy lag hulle uit. Hy is hulle Heer, hulle meester

 

Dalk sou u wou vra: Wáárom is dit dan so bitter moeilik om los te kom uit die wurggreep van hierdie sinistere magte? Hoekom is dit so bitter moeilik om te lewe uit Christus se oorwinning? Hoekom so moeilik om perspektief te kry?

 

Paulus gee die antwoord in 3:3 “… Christus is verborge in God.” Dit beteken: Christus, wat die Heer is oor die magte, is tot op die oordeelsdag weggesteek, in God. Vir die gewone oog totaal onsigbaar.

 

Dit werk met ander woorde so: die magte wat aan Jesus se oorwinningswa vasgeketting is, is geweldig sigbaar. Maar vir Jesus sien ons nie. En hierdie krygsgevange magte maak heelpad asof Jesus se wa aan hulle vasgeketting is en of hulle dit aandryf en of hulle beheer het daaroor. Terwyl die werklike Drywer en Oorwinnaar en Heerser bo is, aan die regterhand van God. In die hemel. En sy oorwinning nog onsigbaar is van hier onder af.

 

Die enigste manier hoe ons die ware prentjie kan sien, is om “van bo af” te kyk. Daarom sê Paulus in 3:2-3: “bedink die dinge daarbó, strewe na die dinge daarbó, waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit” — bó die magte.

 

U sien: as ‘n mens van bo af kyk, is jou perspektief anders, veel beter, as wat jy hier van die grond af na dinge kyk. Hier van onder af kyk ons teen dinge vas wat ons uitsig heeltemal blokkeer en ‘n spotprentjie van die werklikheid maak

 

Maar wat beteken dit vir ons prakties?

 

Daar is ‘n stelreël wat lui: Soos jy glo, so bid jy, so leef jy.

 

Om te glo is om op ‘n sekere manier na iets te kyk. Dit vanuit ‘n sekere hoek raak te sien. Die evangeliewoord sê vir ons daar is net een regte geloof, een regte perspektief op die waarheid, en dit is Jesus Christus. Dat die sinistere blinde magte aan Sy oorwinningswa vasgeketting is – deur ‘n magsdaad van God. Maak nie saak of die res van die wêreld anders glo en die lewe anders beoordeel en anders interpreteer en anders sien en ‘n strewe het nie.

 

Daarom bemoedig Paulus die gemeente in 1:23: “… julle moet vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie.” Met ander woorde, bly perspektief behou op die werklikheid dat Jesus Heer is oor alles. Moenie die verdraaide beelde glo nie, al word die spotprente hoe lank en hoe baie voor jou gehou.

 

Mag die Here self ons oë oopmaak vir die werklike bose magte en die werklikheid dat Hy hulle op hulle plek gesit het — onder Hom.

 

Soos ‘n mens deur die oë van geloof sien, so bid jy, en so leef jy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00