JOHANNES-REEKS NO 43

Tema: Van hartseer tot blydskap

 

Skrif: Johannes 16: 16-33

 

Dit is die Donderdagaand – slegs enkele ure voor die Here Jesus se ingehegtenisneming & kruisiging die Vrydagoggend. Die Here is in ‘n gesprek met Sy 11 oorblywende dissipels – wat hoogs verontrus & ontsteld is omdat hulle besef dat hulle Hom gaan verloor. Eintlik verstaan hulle nie kop of stert van wat aangaan nie. En vrees skiet wortel in hulle harte.

 

Aangrypend om te sien hoe die Here Jesus totaal vergeet van die bittere lyding wat binne ure op Homself wag en hoe Hy (sedert hfst 13 reeds) heeltemal infokus op Sy mense se hartseer & hulle met troos bedien. Die troos van te weet dat hulle hartseer slegs tydelik van aard is. Dit sal in blydskap omskep word. Die skeiding tussen hulle & Hom sal van korte duur wees. Wat ‘n troos! Selflose liefde. Jesus is nie ingestel op Sy eie probleme en komende pyn en lyding nie. Dit gee vir ‘n mens sekerheid dat die Here jou werklik liefhet en dat jy hoop het. Hy dink werklik nie aan Homself nie. Hy is in ‘n onophoudelike proses van om Homself te verloën ter wille van Sy mense. Só lyk die hartklop van God.

 

Die Here se belofte klink egter effens verwarrend. Hy sê: “Nog ‘n klein rukkie dan sien julle My nie. En weer ‘n klein rukkie dan sal julle my weer sien want ek gaan na die Vader toe.” Klink lekker deurmekaar & onlogies. “Julle sal my sien omdat ek weggaan.” ‘n “Klein rukkie” dan sal hulle Hom sien omdat Hy weggaan na die Vader! Hoe is dit moontlik? Dit maak nie sin nie!

 

Hier is egter iets baie groot! Jesus verwys nie hier na die wederkoms wanneer almal Hom sal sien OF na Sy opstanding uit die dood nie (dit sou net enkele weke wees dan vertrek Hy weer).

 

Hy verwys na Sy permanente terugkom deur die bediening van die Heilige Gees – vanaf Pinksterdag tot in hierdie oomblik. Juis ómdat Hy na die Vader gaan, sal hulle Hom weer sien – deur die Heilige Gees se koms. In/deur die Gees, is dit die werklike Christus wat teenwoordig is en wat IN jou (lewe) permanent bly.

 

Juan Carlos Ortis: “Toe die Gees in jou lewe gekom het, het Hy nie net kom kuier nie. Hy het met al Sy bagasie gekom.” Geen tydelike verblyf!! Hy is die “Gees van Christus” (Rom 8:9). Hy is ‘n “wonende” Persoon, want dit is waarom Hy jou (voor die skepping reeds) uitgedink (uitgedroom) het – om iemand te wees in wie Hy Sy eie lewe kan uitstort 24 uur van elke dag. Hy het nie vir u geskep sodat U Hom kan dien of sodat U heeldag Sy lof moet besing nie. U is Sy handewerk sodat U elke dag, heeldag, in Sy lewe kan deel. Hy het u lief en ware liefde wil hê die ander persoon moet in alles deel wat jy besit en het.

 

Wat Jesus dus sê is: “Byt vas – dis net ‘n klein rukkie – dan kom ek permanent terug deur die Heilige Gees en Ek sal in jou lewe teenwoordig wees dwarsdeur die hele ewigheid. Jy sal nóóit weer sonder My wees nie, want Ek gaan nie liggaamlik op aarde wees sodat ek plekgebonde is nie. Ek kom na jou toe deur die Heilige Gees, want die Vader gaan die H Gees gee omdat Hy Sy stempel van goedkeuring sal plaas op my lyding & sterwe môre-oggend op Golgota. Die kruisoffer wat julle eens en vir altyd van sonde en alle skeiding tussen julle en My sal skoonmaak. Ons sal nooit weer geskei wees nie.”

 

‘n Mens kan verstaan dat die Here se woorde vir daardie dissipels baie deurmekaar moes klink. Hulle weet nie wat Hy bedoel nie (v 18). Na hulle gevoel, praat die Here in beeldspraak. Dis te verstane, want hulle staan op daardie oomblik nog in die tydsfase vóórdat alles gebeur waarvan Jesus praat. Dis soos ons voel oor die wederkoms van Christus. Ons verstaan min omdat ons nog aan die duskant staan. Ons dink maar daaroor in simbole/beelde.

 

Maar kyk na die Here se onbeskryflike omgee vir hierdie mense. Hy bestraf nie hulle onbegrip nie. Hy wil nie vir hulle korrekte teologie leer nie. Hy wil hulle vertroos. Hy wil hulle blydskap sien. Hy wil vir hulle hoop gee.

 

Die troos wat die Here in ons lewens gee, is Sy omgee/besorgdheid – nie dat ons alles soos ‘n wiskundesom moet kan verstaan nie. Hy is nie ‘n onverskillige Here nie. Hy is besorgd.

 

“Julle droefheid gaan in blydskap verander word. Nes ‘n vrou wat geboorte gegee het, onmiddelik van haar pyn vergeet en só bly is oor ‘n mensie wat in die wêreld gekom het.”

 

“Julle droefheid sal nie vervang word met blydskap nie. Nee, die droefheid sélf sal blydskap word. Dieselfde omstandighede wat julle droefheid veroorsaak het, sal die bron van julle blydskap word. Nes ek die water self wyn laat word het. My lyding & kruisdood – wat die bron van julle droefheid is – sal julle bron van julle blydskap word.”

 

Ja, dink maar hoe die twee mans op pad na die dorpie Emmaus, se harte brandende van blydskap geword het, toe Jesus vir hulle die betekenis van Sy kruisdood verduidelik het (Lukas 24). Die hele boek Handelinge is ook ‘n fontein van blydskap – selfs al word die gelowiges gestenig en vervolg en verguis ter wille van die Naam wat hulle bely. Dis ‘n blydskap wat nie van ‘n mens weggeneem kan word nie. Omdat die Here nie van jou weggeneem kan word nie. En omdat dít wat Sy kruis in jou lewe gedoen het, nie omgekeer kan word nie. En omdat die blydskap Sý blydskap is – vlgs Nehemia 8:10: “Die blydskap VAN DIE HERE, sal julle beskutting wees.” Dis nie emosies wat ons uit onsself opdiep en in stand moet hou nie. Die Here leef Sý blydskap in ons uit – deur Sy Gees se bediening.

 

Die bediening van die Heilige Gees – wat Jesus Christus op ‘n 24/7-basis binne-in ‘n mens se lewe teenwoordig stel – is ‘n wonderlike lewe. Dis ‘n lewe waar jy direkte toegang tot God die Vader self het – alle tye, alle omstandighede. Daar is géén skeiding meer nie. Alle afstand is vernietig. Die innerlike blydskap het baie juis hiermee te doen.

 

Die ou bedeling waar die dissipels na die fisiese Jesus toe moes gaan en met Hom praat en vir Hom goed sê/vra, is vir goed verby! Dit is wat die Here bedoel as Hy sê: “Ék hoef nie verder julle voorspraak by die Vader te wees nie.”

 

“In daardie dag” (v 23) – verwysende na die dag van koms van die Heilige Gees – sal ons direk met die Vader praat en Hy sal vir ons met graagte gee, want ons bid in Jesus se Naam. Dit beteken nie om Sy Naam aan die einde van jou gebed te noem nie.

 

Om met die Vader in Jesus se Naam te praat, beteken 2 dinge:

 

1 “Ek bid dit-en-dit, omdat dit is wat Christus sal bid. Dit is wat op Sy hart sou wees.” IN SY NAAM beteken om op Sy gesag te bid.

 

2 “In Sy Naam” beteken dat jy verstaan wat Sy Naam beteken en waarvoor Sy Naam staan – naamlik dat dit wys wat jou eie identiteit regtig is! Sy Naam is ‘n spieëlbeeld van jou naam. Deur die eenmalige offer wat Hy eens-en-vir-altyd gebring het, is jy volkome gemaak. Jou naam is by Sy Naam ingesluit. So kan jy jou waarde in God se oë begin verstaan.

 

Met gebed probeer ons nie om ‘n trae God oor te haal vir ons saak nie (en nog 50 te kry om saam te bid!). Nee, Sy passievolle aandag is al die pad by ons. Sy gedagtes is vol van ons.

 

Nou kan mens verstaan waarom die Here die hele ding van innerlike blydskap aan gebed verbind! Dit is eenvoudig ‘n ánder dimensie as wat die gelowiges vóór Pinkster geken het. Die Here Jesus self woon in my lewe 24/7 en ek het direkte toegang tot die Vader en ek word verhoor, want Jesus ís self my verhoring! En Hy is self die blydskap. En absoluut níks kan ‘n wig tussen my en Hom indryf nie. Nie nou nie. Nie môre nie. Nooit nie. Ek weet presies waar ek 1000jr van vandag af sal wees!

 

Ek vra myself af of die rusteloosheid van die mensdom nie dalk daarmee verband hou dat die mens-as-sulks soekende is na só ‘n tipe kwaliteit lewe nie.

 

U sien die mens is oorspronklik in die fabriek gemaak om liefgehê te word, om in iets te glo en om iets te hoop. Is desperaat hiervoor. Die mens wil weet dat hy waardevol is – en nie maar net deel is van ‘n massiewe kosmiese masjien nie. Soek desperaat na ‘n sekerheid om op te vertrou, na die sekerheid van liefde en na toekomshoop. Daar moet tog ‘n rede wees vir my aardse lewe! Iets wat my bestaan betekenisvol & permanent & waardevol maak.

 

U sien, as die mens nie só iets konkreet vind nie – niks wat permanent en betekenisvol is nie, dan het die mens ook nie ware vrede nie. Hy leef eintlik maar net in ‘n onophoudelike staat van trauma en rustelose soeke!

 

Dis presies op hierdie punt waar die Seun v God, Jesus Christus praat. En sê: jy as mens IS omdat God IS. Jy is uit Sy oorspronklike droom/logika gebore. Nog voordat jy in moederskoot gevorm is, het Hy jou geken. Nog voordat jy in Adam tot ‘n val gekom het, het Hy jou gevind. Hy is nie vir ‘n oomblik verward wat jou lewe betref nie. Jy is Sy soort. Sy beeld & gelykenis. En EK – Jesus – het daardie beeld & gelykenis in jou herstel toe Ek presies die mens geword het wat jy is – en Ek is nog steeds jou plaasvervangende mens. Ek het dit vir jou teruggegee! Ék het vir jou die liefde, geloof & hoop teruggegee en as jy begin om my daarvoor te glo, sal jy vrede hê.

 

Jy hét waarde. Baie waarde. Al was die seun/muntstuk/skaap verlore (Luk 15) – het hulle steeds waarde gehad! En al was hulle verlore, het hulle nog steeds behoort! Jy kan nie verlore wees, as jy nie behóórt nie! Ja, selfs in die woord “verlore” sit daar ‘n stuk goeie nuus!

 

Verse 25-33 van Johannes 16 : liefde, geloof, hoop en vrede waarna die mensdom so soek. Kyk net mooi: Vers 27: LIEFDE: Die Vader self het julle lief. Vers 27: GELOOF: Julle glo dat Ek van God gekom het. Vers 33: HOOP: Al het julle dit hoe moeilik in die wêreld, hou moed, Ek het die wêreld klaar oorwin. Vers 33: VREDE: Julle vrede in My kan hê.

 

Liefde is altyd eerste. Vandaaruit ontstaan geloof, hoop & vrede. Daarom sê die Apostel in 1 Kor 13:13 dat liefde die belangrikste van geloof/hoop/liefde is, want uit liefde ontspring die ander. Wanneer jy ontdek hoe lief God jou het, kom die vertroue en die sekerheid en die toekomshoop byna vanself. As jy die liefde van God vir jou persoonlik ontdek, ontdek jy jou eie waarde en die negatiewe gevoelens & komplekse kry kans om te verdwyn.

 

Die ontdekking van hierdie liefde is die ruimte waarbinne jy die Here kan begin glo vir wat Hy sê. Selfs al kry jou glo baie teenstand in die wêreld, bly Hý getrou. Die dinge wat soms alle geloof uit ons wil uitwurg, is alreeds deur Christus oorwin. Hy word nie daardeur bedreig of geïntimideer nie.

 

Dit is en bly darem maar net wonderlik: dat ‘n mens te alle tye na die HERE mag gaan. Jy hoef nooit kopsku te wees of te dink dat jou droogmakery ‘n afstand geskep het nie. Jy hoef nooit van Hom wég te beweeg omdat jý so koud/lou voel nie. Jou sondes & ongeloof & afvalligheid kan hoegenaamd nie die trou van God en die realiteit van wat op die kruis eens-en-vir-altyd gebeur het, tot niet maak nie.

 

Jesaja 55:8 > Ek spreek graag vry, want Mý gedagtes werk nie soos wat júlle gedagtes werk nie.

 

Prys Sy Naam vir altyd.

 

Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00