TAFELBERG GEMEENTE

Tema: Die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees
Skrif: Matteus 12: 22-31

As daar een saak is waaroor Christene soms verward is, is dit hierdie een: Die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees. Van tyd tot tyd kom jy in bediening mense teë wat een of ander tyd hiermee geworstel het. Soms erge wanhoop. Ek dink aan ‘n man – uit ‘n vorige gemeente – wat in ‘n groot stryd was, want hy het op ‘n baie gereelde basis allerlei godslasterlike gedagtes beleef wat deur sy brein flits – wat hy nie gekies het nie, tewens hy het dit gehaat. Hy kon dit moeilik beheer. Maar sy beangste vraag was: was hy nie dalk besig om die onvergeeflike sonde teen die Gees te pleeg nie? Sy worsteling: “KAN/SAL ek enigsins nog vergewe kan word. Is daar nog hoop vir my?”


En so sukkel ons mense. Ons raak baie moeilik van die ANGS in die godsdiens ontslae. Selfs die angs wat Jesus in ons plek in Getsemané deurstaan het, oortuig ons nie dat dat daar nou geen angs meer is nie. Mense is veral ook geneig om die saak van die “onvergeeflike sonde” aan seksuele sondes wat tot vervelens gedoen word, te koppel. Dan dink hulle: dis klaarpraat. “Het ek nie dalk die sonde teen die HG gepleeg nie?? Sê nou maar net ek glo in vergifnis en al die tyd was ek nooit vergewe nie!! Lewe ek nie dalk in die illusie dat ek in ‘n lewende verhouding met Here leef nie?

Ander stryd: Hoe moet ek ooit weet wat presies hierdie sonde is? Sê nou net ek trap onwetende daarin? Hoe moet ‘n mens Jesus se woorde verstaan in vergelyking met die res van die Skrif wat so fantasties oor VOLLE vergifnis praat? Beteken Jesus se woorde dat daar darem tog wel íéwers ‘n slang in die gras is? Soveel so: dat ek iewers tussen Sy vingers kan deurglip?? Dink byvoorbeeld aan Skrifgedeeltes soos: Jes. 1:18, Miga 7:18, Psalm 103:3! Hoe moet ‘n mens die sonde-wat-nie-vergewe-kan-word-nie verstaan?? Is daar dalk iewers ‘n kans om uitgevang te word? Is daar dalk tóg iewers ‘n GRENS? Is die Here se goedertierenheid dalk nie hemelhoog soos Ps 36:6 verklaar nie? En, indien daar ‘n beperking op Sy genade is, wat presies is dan die kwaad wat ‘n mens kan doen? Waarom is daar vergifnis vir Godslastering, maar nie vir laster teen die Gees nie? Waarom is daar vergifnis vir iemand wat teen die SEUN praat, maar nie vir iemand wat teen die Heilige Gees praat nie? Is die Heilige Gees dan groter en hoër as die Seun? Wat is die laster teen die Gees dan nou presies?


‘n Mens moet mooi gaan oplet binne watter konteks Jesus hierdie woorde uitgespreek het. Onthou: Hy rig hierdie woorde aan die Fariseërs. Wat het dan gebeur? Eintlik het die Fariseers se verset teen Christus hier ‘n soort hoogtepunt bereik. Wat het gebeur? Eers het ons Here Jesus die verlamde man se sonde vergewe. Toe brom die vrome Fariseers al reeds: “Dis godslastering” . Toe verlos Jesus ‘n doofstomme en duiwelbesete man van die mag van die duiwel. Toe sê die Fariseërs: “Dis deur die duiwel self wat Hy die duiwel uitdryf.” Afskuwelike suggestie: Jesus en duiwel is kop-in-een-mus. Tot húlle rig Jesus dan die waarskuwing van die sonde teen die Heilige Gees.


‘n Mens kan dus duidelik sien wat hier gebeur: Die Fariseërs is besig om Jesus doelbewus te verwerp! En, buite om Jésus, bestaan daar geen vergifnis nie. Dit is dus nie Gód wat hulle uitsluit nie. Hulle sluit hulleself uit! Wanneer die Fariseërs die Here Jesus en die duiwel met mekaar gelykstel, wat doen hulle anders as om JESUS SELF te verwerp? Maar, God se vergifnis is dan juis in JESUS te vinde!! Dit gaan met ander woorde glad nie daaroor dat daar vir álle sondes vergifnis is, behalwe vir één uitsondering, nie. En nou moet ons speurwerk gaan doen om uit te vind WAT daardie EEN is nie! Nee, dit gaan hier oor die ENIGSTE ENKELE POORT waardeur enige mens vir enige sonde vergifnis mag kry, naamlik JESUS CHRISTUS, wat nou verwerp word deur die Fariseërs. Dáárvoor kan daar nie vergifnis wees nie, want vergifnis is net in JESUS en nou word Hy verwerp. Jesus se bedoeling is NIE om ons almal ONRUSTIG te gaan maak nie, maar juis om ons aan te spoor om in HOM tot rus te kom. Om te aanvaar dat HY ons redding is.


Maar nou moet ons nóg iets raaksien:: Jesus sê ook nog iets meer. Hy sê iets meer as dat Hyself die enigste pad na vergifnis is. Hy maak ‘n onderskeid duidelik tussen twee soorte lasteringe. Lastering teen die Seun van die Mens en lastering teen die Heilige Gees. Waarom is dit só dat daar vergewing vir ALLE lasteringe is, selfs lastering teen die Seun van die Mens, MAAR nie lastering teen die Gees nie?


‘n Mens moet raaksien hoe Jesus Homself hier noem: “Seun vd Mens”. Dis ‘n Titel wat Hy gehad het slegs vir die tyd van Sy menswees op aarde toe Hy nog baie meer onherkenbaar was as ná Sy opstanding. Ná die opstanding is Hy nie meer “Seun van die Mens” nie. Maar, in die tyd wat Hy op aarde was VOOR die kruisiging, kon ‘n mens nog maklik ‘n fout oor Hom maak – Hom nie so goed herken nie. Uit onkunde dus. Hy kon nog heel geredelik misken word. Tóé kon Hy nog verwerp word, want Sy heerlikheid was nog nie só sigbaar nie. Sy heerlikheid was nog verberg agter Sy mensheid. Tóé kon ‘n mens nog teen Hom draai en steeds vergewe word. MAAR: en dit is die waarskuwing : daar sal ‘n tyd kom wanneer alle sluiers weggeneem sal word – ná die opstanding – wanneer Sy volle heerlikheid gesien sal word. DAN: Geen verskonings meer nie. Dan : die tyd van die Heilige Gees. En die Géés sal van Hom (Jesus) getuig (Joh 16:14). Wie DAN teen Jesus praat, praat teen die Gees. Dink aan Jesus se woorde: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dit is uitgespreek in die tyd vóór Pinkster. U sien: in die tyd vóór die opstanding kon mense Jesus nog uit onkunde verwerp het. Dalk nie met opset nie. Dalk omdat daar nie van beter geweet is nie. Die Fariseërs het inderdaad nie werklik besef met Wie hulle te doen het nie. MAAR: Ná die opstanding, ná Pinkster: geen verskoning meer nie.


Verstaan u wat die sonde teen die Heilige Gees is? Dit is om NOU, in hierdie tyd ná Jesus se opstanding en hemelvaart en koms van die Heilige Gees, nog steeds die Here Jesus te verwerp! Want, indien jy Hom verwerp, is daar geen ander poort na die hemel nie. En, hoe kan jy Hom verwerp noudat Hy verheerlik is?? Geen verskonings is nou meer moontlik nie. Die Heilige Gees verheerlik Hom dan.


Dit beteken dat geen ware Christen ooit hierdie sonde kan doen nie, want ‘n ware Christen het Jesus dan JUIS aanvaar en vertrou Hom. Dit is die blye boodskap wat ek ook aan daardie man met die lastergedagtes kon verkondig. Net die blote feit dat hy bekommerd was en kom hulp soek het, was reeds die bewys van die Gees se werk in sy lewe. Geen mens wat op Jesus Christus vertrou vir saligheid en Hom liefhet het ooit die sonde teen die Gees gedoen nie en sal dit ooit doen nie. Want, die sonde teen die Gees is 100% sinoniem met ongeloof – om jou te verhard teen die evangelieboodskap. Maar die gelowige doen juis die teenoorgestelde!


Maar, hierdie saak is ‘n baie ernstige waarskuwing aan die adres van alle mense wat kat en muis speel met die lewende Christus. Wat nie reageer op Evangelie nie. Wat uitstel. Mense wat nóú, ná Sy opstanding, nádat die Gees Hom verheerlik het, nog steeds ongelowig bly. Sulke mense is besig om die Gees te laster, want Hy verheerlik vir Jesus, maar hulle vertrou Hom nie vir saligheid nie. Wat ‘n ontsettende toestand. Mense wat soos die Fariseërs dink dat hulle reg is met God omdat hullsélf hulle saak met die Here reggemaak het – en nog daarop trots voel. Sodoende maak hulle Jesus se reddingswerk oorbodig, want hulle het mos sélf hulle saak beredder. Daar moet baie ernstig gebid word vir sulke mense. Ook vir teoloë & geleerdes wat die Christus van die Bybel verwerp en mense verwar en in twyfel dompel.


‘n Mens besef nou in watter doodsgevaar die onverskillige mense is !! ( jou familie en vriende ). Hulle is besig om teen die Heilige Gees te sondig. Díé Gees wat Jesus verheerlik sodat niemand meer enige verskoning het nie!! Jesus is nie meer onherkenbaar nie, want die Gees het Hom verheerlik. Die evangelieboodskap is nie onverstaanbaar nie, maar oop en bloot, want die Géés maak dit duidelik.


Laat ons in alle ootmoed voorbidding doen vir alle mense wat ons ken, wat in ongeloof weerstand bied teen Christus en Sy Woord.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00