TAFELBERG GEMEENTE

Glo dit of nie: die satan ís gebind!
Openbaring 20: 1-3 , Matteus 12:29

Openbaring 20 is (deur alle eeue) een van die mees omstrede hoofstukke in die hele Bybel. Hoe op aarde kan ‘n mens vandag glo dat die satan GEBIND is? Ons totale leefwêreld weerspreek dit immers. Dit lyk boonop of die Bybel sélf dit weerspreek ( 1 Petr 5:8 – duiwel loop rond soos ’n brullende leeu). Daarom meen sommige dat hierdie “binding” iets is wat eers NA die wederkoms sal plaasvind. Dan sal satan vir ‘n letterlike 1000jr. totaal gebind wees. Dit sal ‘n Vrederyk wees, waar hy niemand (in enige opsig) sal pla nie. ‘n Utopia op aarde, waar Jesus sigbaar sal regeer en die satan uitgeskakel is.

Probleem is: Die res vd Skrif weet nie van só ‘n aardse Vrederyk ná die wederkoms nie. Wanneer Open 20:1-3 binne die konteks van die hele Openbaring verstaan word, beteken dit iets anders. Hou net in gedagte: In Openbaring word die hele tydperk tussen Jesus se eerste & tweede koms (huidige tyd) telkemale belig vanuit verskillende hoeke – minstens 7 keer. Dit kan vergelyk word met 7 videos wat ná mekaar vertoon word. Elke video beskryf presies dieselfde tydperk, maar elke keer vanuit ’n ander hoek en met ’n ander fokuspunt.

By Hfst 19 EINDIG juis een só ‘n video/oorsig (die 6de) met ’n beskrywing van die wederkoms van Christus en ‘n beskrywing van die val van die valse profeet en die antichris. By hfst 20 begin weer ‘n nuwe rolprent/video/beskrywing, waar gefokus word spesifiek op die satan se val. Die hele huidige bedeling (nie net die wederkoms nie) word dus wéér in hfst 20 belig (want dit is die 7de video). Die binding van satan is dus iets wat betrekking het op die hele huidige periode vanaf Jesus se Opstanding tot by wederkoms – nou reeds 2000 jaar!

Die groot bedoeling van die Gees (met die 7 videos) is om gelowiges-deur-alle-eeue – wat swaarkry – te troos. Geen bevrediging vir nuuskierigheid oor die toekoms nie. Die Gees wil hê dat die gelowige te alle tye moet WEET wat die posisie van die satan is gedurende die hele Nuwe Testamentiese bedeling. Ons moenie rondom ons kyk om af te lei wat die posisie van die bose is nie! Jy sal ’n verkeerde afleiding maak! Kyk na wat die HERE sê! Die waarheid lê in die Woord (Joh 17:17).

In Openbaring 20 (vv1-3) word simboliese taal gebruik, tog gaan dit om werklike FEITE. Simboliek beteken nie dat dit fiksie/storietjies is nie. Die simbole deel nog steeds FEITE mee! Die satan IS dus gebind (feit), maar nie met ‘n regtige ketting (simbool) nie en hy is ook nie regtig in ’n verseëlde onderaardse diepte nie! Die ketting is ‘n simboliese beeld om vir ons daarop te wys dat dié vyand só gedug is dat hy nie maklik aan bande gelê word nie. Dit sit in elk geval nie in enige SKEPSEL se vermoë om hom te bind nie. Kyk na die opeenstapeling van name: Draak (monsteragtige wese), Ou Slang (geslepe teenstander, nie te onderskat), Duiwel (beskuldiger met vyandige bedoelinge) en Satan (teenstander wat hindernisse plaas). Slegs Christus is sterker. Hy hét hom geklop met Sy dood en opstanding. Daarom moet HY die engel stuur om die bindwerk te doen. Die engel self beskik oor geen mag nie. Christus is die Sleuteldraer wat oopsluit en toesluit. Hierdie bindingswerk het plaasgevind met Christus se opstanding. In Openb 12 sien ons die parallelle gedeelte. Die satan het uit die hemel geval (12:9) toe Christus opgevaar het. Sien ook Kolossense 2:15. Johannes 12: 31-32.

Hoe moet ‘n mens hierdie binding verstaan indien die satan oral waar ons kyk so duidelik “los rondloop” en ons sy aanslae so intens in ons eie lewe beleef? Kan dit ‘n werklikheid wees? Indien ons hierdie Skrifgedeelte met die res vd Bybel vergelyk, moet ons die gevolgtrekking maak dat hierdie “binding” van satan nie in ‘n absolute sin verstaan moet word nie. Dit beteken nie dat die satan tans totaal ingeperk en magteloos is nie. Tewens, hy loop inderdaad rond soos ’n brullende leeu ( 1 Pet 5:8).

Let mooi op wat daar staan: “sodat hy die nasies nie meer sou verlei nie.” Dit is die leidraad. Hierdie “binding” beteken ‘n inperking op een spesifieke gebied. In die lig van verse 7-8 moet hierdie “nasies” gesien word as die nie-christelike groeperinge van mense. Binding beteken: Die satan word nie toegelaat om die nie-christelike groeperinge teen die kerk van Christus aan te hits sodat die kerk en evangelie vernietig word nie. Dit is immers die satan se groot oogmerk: om die kerk en sy boodskap te vernietig. Hy wil die nasies versamel vir oorlog teen God. Maar, hy kan nie. Want hy is gearresteer. Hy is geboei.

Toe die Here Jesus op aarde was, het Hy by geleentheid in één kort gelykenissie presies verduidelik wat later in Openb 20 sou staan. Díé gelykenissie is opgetken in Matteus 12:29. Hoe sal ’n mens in ’n sterk man se huis kan binnegaan om sy goed te vat, as jy hom nie eers vooraf boei nie? Presies dieselfde Griekse woordjie word vir BOEI gebruik as in Openb 20 vir BIND. Jesus het die sterk man geboei sódat sy goed afgevat kan word! Die doel van die boeiery is om sy goed af te vat. Dit is presies wat die afgelope 2000jr plaasvind. Met Sy opstanding het Jesus die satan geboei, sodat hy nie die kerk kan vernietig nie en ménse uit alle nasies gered kan word. Die uitverkorenes uit elke volk kan/sal gered word. Die kerk kan/sal gevestig word. Die waarheid kan/sal die leuen vervang. Die Woord mag seëvier. Die satan is nie by magte om die kerk te vernietig nie.

Vlak voor die wederkoms gaan die saak egter verander, want dan gaan satan volle ruimte van God ontvang om vir ’n baie kort tydjie vrye kans te kry om die nasies te mobiliseer teen die evangelie. Wanneer hierdie “kort tydjie” sal begin, weet ons nie. Dit sal begin wanneer Christus klaar is met Sy werk om Sy kerk te vergader. Dit sal die Groot Verdrukking wees (Mat 24). Dit gaan gelukkig ingekort word ( ‘n “klein rukkie” – 20:3), anders sal selfs die uitverkorenes vergaan (Mat 24:22). Daaroor ’n verdere boodskap in hierdie reeks.

Die huidige gebondenheid van die duiwel hou egter bepaalde voordele vir die gelowiges in 2006 in:

a) ‘n Gerustheid, geen vrees. Vrees ook nie “toeval” en “noodlot” en “sameloop van omstandighede” nie. Ons gemoedstoestand mag nie bepaal word deur die koerant en TV nie. Ons weet dat die Here se gemeente op oorwinningsgrond staan en die satan nie kan maak wat hy wil nie. Hy is ingeperk.

b) Geleenthede vir die koninkryk van God wat benut kan/moet word. NOU is die tyd van geleenthede wat benut moet word. Die binding van satan gee ons tyd om te werk! En ons mag werk met die sekerheid dát die Here resultate en vrug sál gee. Want onthou: Satan is geboei sodat sy goed geroof kan word. Mense word uit sy vangstrikke bevry. Daarom kan ons byvoorbeeld weet dat ons beoogde CD-veldtog resultate SAL oplewer. Wanneer ons ons geleenthede benut en sorg dat die Woord by elke mens in Vredehoek se ore kom, SAL daar vrug wees. Satan is nie by magte om dit te verongeluk nie.

c) ‘n Veilige ruimte tussen alle godlose mensegroeperinge. Die satan is NIE by magte om goddelose nasies teen die kerk aan te hits om die kerk te vernietig nie. Hy is geboei. Dít gee aan gelowiges ’n veilige ruimte om te kan diensbaar wees.

e) die sekerheid dat HY ons ‘n blywende plek in Sy kerk gegee het – wat HY waarborg en instandhou. Die mens wat in Christus glo DEEL VOLUIT HIERIN, geen EKSTRA kwalifikasies is nodig nie. Geen bewyse is nodig nie. Die Woord is genoeg versekering.

Volgende Sondag: Die toestand waarin gelowiges ná hul dood verkeer

Dr. Chris Saayman

Tafelberg Gemeente

021- 551 6704

saay@isales.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00