Geskryf deur THEUNIS,

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

BEPLAN VIR DIE TOEKOMS.

 

Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie”. Spr. 27: 1

 

Elke verantwoordelike mens beplan deeglik vir die toekoms. As jy nie daarin slaag om te beplan nie, beplan jy jou eie mislukking. Ons moet beplan vir ‘n beter lewe, ‘n beter toekoms, ‘n beter wêreld.

 

Nogtans doen dit nie afbreuk aan die belangrikheid van VANDAG nie – inteendeel: die verlede is geskiedenis en die toekoms ‘n ongebore droom. Al wat ons besit, is vandag!

 

 

As ons op môre roem terwyl ons vandag verwaarloos, maak ons ons skuldig aan dwaasheid en leef ons in ‘n gekkeparadys.

 

Al wat ons moet doen, is om vandag ons veiligheid te verseker deur ons NOU aan Christus oor te gee – om ons harte, lewens, wil en begeertes onvoorwaardelik en sonder uitstel aan die Oorwinnaar – Chridtus, oor te gee.

 

Hy hou ‘n groot lig brandende: die lig van die evangelie wat aangesteek is met die hout van die kruis en wat opvlam teen die donker nag van ons sonde en nood.

 

As dié lig uitgebrand is, is daar geen hoop op redding meer nie! Om uit te stel, omdat jy op môre roem, is dwaasheid in die oortreffende trap.

 

Moenie tot môre uitstel wat jy vandag moet doen nie. Môre gaan dalk nooit vir jou op nie. Van uitstel kom afstel – en in die lig van die eweigheid gesien, is dit ‘n kortstondige, fatale fout.

 

Terwyl jy hier lees, vra net eenvoudig vir Hom om beheer oor te neem oor jou lewe en dit te vul met Sy Heilige Gees. Maak jou oorgawe onvoorwaardelik. Bely alles aan Hom wat jou neerdruk en bedroef. Doen dit skaamteloos en weet dat Hy sal verstaan, dat Hy omgee en dat Hy jou innig liefhet.

 

Aanvaar dan gelowig die “nuwe lewe”. Hy wis die verlede volkome uit en dink nooit weer daaraan terug nie. Volg Hom terwyl Hy jou uitlei in die lig van ‘n nuwe lewe van liefde en geestelike groei.

 

Hy wag vir jou by die vertrekpunt tot ‘n nuwe, betekenisvolle en vreugdevolle lewe. Loof Sy Naam!                                                         OORSPRONG ONBEKEND

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00