TAFELBERG GEMEENTENoodhulp vir vrese (Noodhulpreeks no. 3)
Romeine 8: 18-30, Matteus 25:25
Agorafobie. Fonofobie. Dorofobie. Brontofobie. Eritrofobie. Cherofobie. Ergofobie. Nee, dit is nie vreemdetale spreek nie. Dit is banghede waarmee mense daagliks te kampe het: Bang vir ooptes, bang vir sekere klanke, bang vir vat-aan-diere-pelse, bang vir donderweer, bang dat dit te goed gaan, bang vir werk (skoliere en studente)… Die grootste innerlike teistering wat mense daagliks beleef is VRESE. En die ergste is: dit is haas onmoontlik om daarvan ontslae te raak. BANG!!! Bang vir verandering. Bang my kanse is verby. Bang ek word uitgelag. Bang ek word verwerp. Bang die druk word te erg. Bang my geld raak op. Bang ek maak dit nie. Bang om ‘n fout te erken. Bang “iets gebeur dalk”. Bang vir mense. Bang vir misdaad. Bang ‘n inbreker oorval my. Bang vir kanker. Bang die strop trek nouer. Bang vir die onbekende. Bang vir wat kan gebeur. Bang vir ouderdom & dood. Bang vir God.
Daar is min mense – en óók ware gelowiges – wat nie met banghede te kampe het nie. Soms is vrese so déél van ons, dat ons nie meer besef dit is dáár nie! Terselftertyd wéét ons presies wat die Here in Sy Woord daaroor sê. Dink maar aan die HONDERDE kere – dwarsdeur die Bybel – waar die Gees met deernis sê: “Moenie vrees nie.” Ons ken hierdie vertroostinge. Ons ken ook die oorwinning. Ons weet dat Jesus in ons plek (plaasvervangend) angsbevange was in Getsemané en ons sodoende dáár bevry het van ons vrese. Ons weet dis onteenseglik waar. Ons glo dit. Ons vertrou daarop. Maar, ons slaag net nie daarin om ons innerlike bewerasies tot bedaring te bring nie. En dan voel ons daaroor skuldig. Ons voel ons stel die Here teleur. Op die ou einde sit ons nog met skuldgevoelens bo en behalwe ons vrese. Wat ‘n ellende!
Maar moenie vir een oomblik dink dít vang die Here God onkant nie. Die Here se Woord praat op só ‘n manier oor ons banghede, dat dit vir ons baie bevrydend word. Kyk of u dit saam met my kan raaksien. Kyk of u kan sien hoe realisties die Bybel is. Dát feitlik alle gelowiges met tientalle fobies & vrese sit, word 100% in die Bybel erken. En dan verban die Here nie die bange mensies uit die koninkryk nie, maar wys hoe die evangeliese noodhulpbeginsel werk. ‘n Mens kan na talle Skrifgedeeltes kyk om dit te sien, maar ek het Romeine 8 gekies, wat só realisties is oor ons belewenisse van elke dag.
Aan die een kant sê Paulus: God is VIR ons. Klaar. Punt. Hy is aan ons kant. Ons weet dit, want Hy het Sy Seun vir ons oorgelewer. Indien Hy Sy grootste/beste gegee het, SAL Hy ook ál die ander dinge gee wat ons nodig het. Niemand/niks kan ons voor God aankla nie. Ook nie veroordeel nie. Daar sit immers ‘n Advokaat aan Gods regterhand – Jesus ons Here! Rotsvaste versekeringe! Dít aan die een kant.
Skielik hoor ons dan ‘n ander taal. Dis asof die Gees presies weet hoe ons voel. Hoe ons voel dat ons nog steeds bang is terwyl ons die evangelie glo! Daarom noem hy ‘n lysie sake waarvoor ons bang is: Lyding, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar, swaard, dood, lewe, engele, bose magte, teenswoordige dinge, toekomstige dinge, kragte, hoogte, diepte… Kyk baie mooi: Hierdie lys staan MIDDE-IN die oorwinningslied van Romeine 8. U sien: Die Skrif ontken nie dat ons vrese dikwels goed gegrond is nie. Tewens, volgens Psalm 46 kán “die aarde padgee en berge skud”. Die oplossing is nie om van al jou banghede te probeer vergeet, dit te onderdruk en “positiewe denke” te probeer beoefen nie! Klop dit nie 100% met ons daaglikse ervaring nie? Aan die een kant glo ons hartstogtelik die evangelieboodskap. Aan die ander kant voel ons ons glo seker nie werklik die evangelie nie, want waarom is ons dan nog bang? Waarom is ek bang terwyl ek éíntlik vertrou? Waarom kan ek nie só hard vertrou dat die vrese kan padgee nie? Ek probeer hard, maar die vrees vir lyding, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar, swaard, dood, lewe, engele, bose magte, teenswoordige dinge, toekomstige dinge, kragte, hoogte, diepte – sit nog in my diepste innerlike vas – Dit kleef soos ‘n neet.
Ken ú ook iets hiervan? Die dowwe bangheid vir swaarkry & lyding. Vir die lewe met sy suur – díé soort suur waarvan ons skouerophalend sê: “só is die lewe nou maar eenmaal.” Vir engele, magte en kragte. Die blinde sinistere magte wat ons glo die lewe beheer en “goed laat gebeur.” Vir hoogte en diepte – dat dit dalk té goed/hoog sal gaan. Of dat dit dalk te sleg/diep sal gaan. Die begrippe “hoogte en diepte” wat Paulus gebruik hou eintlik verband met die astrologie – die bygeloof dat die sterre jou lewe kan beïnvloed. Dit is ‘n bose bygeloof wat uit die antieke tyd kom en waarteen Jesaja al waarsku in Jesaja 47:13 en sê dat díé mense wat die sterre bekyk en wat maand vir maand vir jou vertel wat met jou gaan gebeur, sal soos stoppels word wat verbrand word. Wanneer jou ster op sy laagste punt (diepte) is, moet jy oppas. Dan wag daar moeilikheid. Of dalk ken u die dowwe bangheid sommer vir die teenswoordige dinge: die dinge wat ons in die koerante lees wat ons benoud maak. Bang vir verandering. Of dalk die toekoms: “Sê nou maar net..”
Kom ons ontgin nou die noodhulpterapie wat die Here self vir ons in Sy Woord laat opteken het. ‘n Mens sou verwag dat die Gees (deur Paulus) aan die einde van Romeine 8 iets sou sê soos: “Laat staan dan nou julle vrese. Aangesien Christus julle verlos het. Raak daarvan ontslae. Kom daaruit! Anders gaan julle nie ‘n oorwinningslewe ervaar nie!”
Die groot verrassing is: Die oorwinning is daar nog voordat jy van enige vrees ontslae kan raak. Hy sê: “IN ál hierdie banghede, is julle meer as oorwinnaars.” (vers 37). Die groot geheim lê by die woordjie IN. Nie UIT nie. Nie: “Julle sal meer as oorwinnaars wees indien julle UIT julle vrese kom nie”. Maar: IN. Met ander woorde: “TERWYL julle nog steeds daarin is, IS julle meer as oorwinnaars. Indien julle dan nie van die banghede kan ontslae raak nie, wel, BEHOU dit dan. Maar terwyl julle dit hou, sal Ek daarvan iets maak” – sê die Here.
Sien u wat sê die Gees? Geloof beteken om te WAAG/DOEN te midde van/ten spyte van die aanwesigheid van vrees. Geloof is WAAGMOED om áán te hou ten spyte van die banghede wat nog lewensgroot daar sit. Geloof beteken níé om op jou tande te kners en hard genoeg te probeer glo totdat jy met jou vrome inspanning die vrese wegdryf nie! Geloof beteken om te sê: “Kyk, daar is nie ‘n manier hoe ek van hierdie vrese ontslae kan raak nie. Maar, ek sal HANDEL in Sy Naam. Terwyl ek bang is, IS ek meer as ‘n oorwinnaar, want God is vír my. Hy sê so.”
Dit was die probleem met die man wat die één geldstuk ontvang het in Matteus 25 – en wat dit gaan begrawe het. Hy was BANG. Hy sê dit self. Hy vrees mislukking. Hy vrees die risiko. Hy vrees “die harde man”. Hy was BANG vir sy heer. Maar, pleks van om iets te DOEN / WAAG ten spyte van sy vrees, gaan doen hy niks. Sy vrees verlam hom. Daarom begrawe hy, pleks van om te waag op grond van sy heer se woord.
Byna soos in die geval van die Israeliete wat in die vol Jordaanrivier begin instap het ASOF die rivier kurkdroog is – net omdat die Here gesê het Hy sal hulle deur die rivier neem. Hulle kon geen teken dáárvan sien nie, maar het net eenvoudig in die rivier ingestap. En, toe die Leviete, wat voorgeloop het met die Ark, se voete in die water is, TOE het die Here die water laat opdam (Josua 3:13). Dieselfde geld vir Abraham wat die opdrag kry om sy land en mense te verlaat en te vertrek na ‘n plek wat hy nie weet wáár dit is nie. Dit was ‘n waagstuk. As daar ooit iemand was wat rede gehad het om bang te word, was dit hy. Hy kon met reg wonder of die Here weet wat Hy doen. En tog het hy gehandel! Geloof is waagmoed! Die Bybel sê Abraham was daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. Dit is hierdie soort waagmoed – aangesteek deur die Heilige Gees – wat vrees/bangheid se rug breek. Want, wie kan stry dat God VIR ons is? Dat Hy aan ons kant staan? Dit kan nie verander nie, want Hy het dit bewys. Hy het Sy Seun gegee. En Jesus is ons Voorspraak by die Vader. Geen aanklag teen ons, kan slaag nie. En Hy is ten volle by magte om vir ons te sorg – enduit. Watter soort vrees kan hierteen opweeg? Daarom Psalm 46:11: “Bedaar en erken dat Ek God is…”
Die Here skenk aan u die waagmoed om – al is u bang – nie u gawes te begrawe nie, maar daarmee te gaan woeker en werk, vanuit die oorwinning wat reeds in Christus Jesus u deel is.
Dr. Chris Saayman
Tafelberg Gemeente, Buitenkantstraat 39, Kaapstad
021- 551 6704
saay@isales.co.za